Ena Murray Keur 3. Ena Murray
bedoel u, Vader? U gaan tog nie net so bly staan dat daardie … man ons aan flenters skiet nie? Waarom wil u nie veg nie? Hy is duidelik van plan …”
Net ’n oomblik kyk kaptein Pierre na haar. Sy stem is beslis. “Ek het gesê daar sal nie geveg word nie.” Dan keer sy blik terug na haar en hy vervolg: “Jy hoef nie bang te wees nie. As hy ons aanval, sal ons ons verdedig. Maar hy moet die eerste skoot skiet.”
Zonika is oorgehaal om hom te vertel hoe dwaas sy optrede is, maar sy stem was so beslis dat sy weet dit sal nie help om hom tot ander insigte te probeer bring nie. Sy voel skielik onrustig. Hercule Cordier het geen geheim daarvan gemaak dat hy agter haar vader se bloed aan is nie. Ná wat twee jaar gelede gebeur het, sal hy beslis op háár ook wraak wil neem. En hier staan haar vader sonder ’n enkele woord en toekyk hoe hul dood ongehinderd nader seil! Sy gryp hom desperaat aan die arm. Sy weet dat sy haar vader nie weer moet aanspreek nadat hy in daardie stemtoon gepraat het nie, maar sy kan nie stilbly nie.
“Mon père, asseblief, daardie man gaan ons doodmaak! Hy sal nie aan ons dieselfde genade betoon wat u aan hom betoon het nie. Ons …”
“Zonika, ék is die kaptein van hierdie skip en ék gee die bevele. Ek het klaar gepraat!”
Dan kry haar humeur die oorhand oor haar. Hoe durf haar vader hulle almal se lewe só in gevaar stel? Wat hy nie weet nie, is dat daardie man haar gedreig het voordat hy twee jaar gelede afskeid van hulle geneem het. Sy gaan beslis nie met gevoude hande staan en toekyk hoe sy in sy kloue beland en hy sy dreigement ten uitvoer bring nie!
Sy draai om, gereed om die bevel te gee dat die skip in gereedheid gebring moet word, toe die woorde op haar lippe verstil en sy verskrik terugswaai na die reling. ’n Paar skote uit die Hercule se kanonne het skielik deur die stilte gedreun! Maar dan frons sy. Dit was beslis nie gevegskote daardie nie. Haar oë rek wyd toe sy na die dek van die ander skip kyk. Die hele bemanning hang oor die reling en waai vriendelik vir hulle. En daar, op die voorpunt, groot en fier, staan die kaptein. Ook sy arm is omhoog in ’n vriendelike groet. Dit was saluutskote wat afgevuur is.
Die eerste keer ontspan kaptein Pierre se gesig en laggend kyk hy na sy dogter se verbysterde gesig.
“Wat het ek jou gesê? Daar sal nie geveg word nie.” Dan waai hy sy arm opgewonde in die lug rond en skree so hard as hy kan: “Hercule!”
Zonika sien hoe die sonverbrande gelaat van die jonger man verhelder in ’n breë glimlag en sy hoor hom terugskree. Haar oë vernou. Êrens is ’n skroef los. Sy vertrou hierdie man nie, maar sy is magteloos. Stilswyend staan sy en toekyk hoe die twee houtrompe uiteindelik teen mekaar stamp soos twee ou vriende wat mekaar innig groet ná jare van skeiding. Sy stap nie nader toe die kaptein van die Hercule ligvoets oor die reling spring en op die dek van die Seekat te lande kom nie. Daar is openlike vreugde in sy oë toe kaptein Pierre sy hand uitsteek.
“Hercule! Dis ’n aangename verrassing! Ek is bly om jou weer te sien.”
Hercule neem die hand en druk dit stewig. Daar is iets onpeilbaars in sy oë toe hy antwoord: “En dis aangenaam om weer die Seekat se dek onder my voete te voel, kaptein.” Dan blik hy oor die ouer man se skouer en glimlag. “A, mam’selle!”
Zonika verstyf merkbaar en sy wil wegdraai, maar hy spring haar voor. “Ek het ook daarna uitgesien om jou weer te ontmoet, mam’selle. Ek was bang jy sou nie op die skip wees nie.” Sy oë glinster vriendelik, en daar is geen sprake van die voorheen so uiters formele houding en aanspreekwyse nie.
“Ek is bevrees dat ek nie jou ekstase oor ons herontmoeting deel nie, kaptein Cordier. Sal jy asseblief my hand los?” Sy kyk hom kil aan.
Hy kyk af op die fyn handjie wat hy nog stewig in syne vashou en glimlag. Net soos hy verwag het. Dis nie van die skoonste nie! Zonika het beslis nie in die afgelope twee jaar verander nie! Haar vingers rem weg van syne, maar hy bring hulle doelbewus na sy mond en ’n oomblik lank rus sy lippe op haar pols. Daar is ’n effens verdwaasde uitdrukking op Zonika se gesig toe hy haar hand los. Dis die eerste keer in haar lewe dat ’n man haar pols soen en sy is ’n oomblik te uit die veld geslaan om te weet hoe om op te tree. Die glimlag het ook nou van sy gesig af verdwyn en hy kyk haar ernstig aan. Haar mond gaan oop om hom nog ’n afjak te gee, maar dis of sy nie iets kan vind om te sê nie. Eindelik kan sy haarself sover bring om hom die rug toe te keer en weg te stap.
Kaptein Pierre se geamuseerde laggie klink agter Hercule op.
“Dis die eerste keer in my lewe dat ek my dogter na woorde sien soek!”
Hercule glimlag skrams, maar sy oë bly op die trap gerig waar sy verdwyn het.
“Sy is beeldskoon. Sy is werklik beeldskoon,” prewel hy, meer tot homself as die ander man.
Kaptein Pierre se glimlag verdwyn.
“Ja, sy is. En sy is ’n goeie kind as ’n mens haar net reg hanteer.” Daar brand ’n vonkie hoop in hom. Verlede keer het dit gelyk asof sy dogter en hierdie man mekaar nie kon vind nie. Maar nou … miskien …
“Kom ons gaan klink ’n glasie wyn, Hercule. Ons moet ons ontmoeting vier,” nooi kaptein Pierre gul en Hercule volg hom woordeloos met ’n laaste blik na die trap.
Onderwyl die twee mans in die kaptein se kajuit vrolik oor ’n glasie wyn gesels soos twee ou boesemvriende, staar Zonika in haar eie kajuit by die patryspoort uit. Watter mag het hierdie man om haar so te ontstig elke keer dat hulle mekaar sien? Waarom laat hy haar altyd minderwaardig voel? Soos netnou toe hy haar pols gesoen het. Sy het die gevoel gekry dat hy met haar die spot dryf … en tog was sy oë ernstig.
Wat voer hierdie man in die skild? Haar frons verdiep. Veronderstel hy voer nié iets in die skild nie. Veronderstel sy gevoelens teenoor haar en haar vader het verander in die twee jaar wat verby is. Sal dit dan nie beter wees om liewer van hom ’n vriend te maak as ’n vyand nie? Maar hoe kan sy seker wees dat sy hom kan vertrou?
Weer tas haar vingerpunte liggies oor haar pols waar sy lippe gerus het. Hercule het met hierdie gebaar van hom die vrou wat sy so diep in haar weggesteek het, aangeraak. Ten spyte van haar ergernis, wil haar hart nie sy normale klopping hervat nie. Dit fladder in haar kuiltjie en haar bors dein onrustig. Dit is met iets soos wanhoop dat sy aan haarself moet erken dat Hercule Cordier baie aantreklik is – en beslis die enigste en eerste man wat aan haar doen wat hy aan haar doen. Maar daar is één ding waarvoor sy hom nooit sal vergewe nie … Sy sal nooit, ooit vergeet dat hy gesê het sy is vuil en vol kieme nie! Sy voel vandag nog moorddadig as sy net aan daardie dag terugdink.
Sy neem plaas voor die lang spieël. Haar blik dwaal krities oor die beeld wat na haar terugkaats. Vuil en vol kieme, nè? Haar lippe sluit ferm saam. ’n Barbaar, nè? Kaptein Cordier, jy sal nog jou woorde een vir een terugsluk, jou verwyfde Franse hofknaap! Daar is ’n lig in haar oë wat niks goeds voorspel nie toe sy die deksel van ’n swaar kis oplig en daarin begin rondkrap.
Onderwyl daar allerhande duistere dinge in Zonika se gedagtes aangaan, sit die twee mans elk met ’n glasie in die hand. Die geselskap wil ná die eerste ontmoeting meteens nie vlot nie. Daar is ’n stremming tussen hulle waarvan albei intens bewus is. Albei weet ook waaroor dit gaan. Kaptein Pierre beskou die jonger man stip oor die rand van sy glasie. Twee jaar gelede het hierdie man hom belowe dat hulle mekaar weer sal raakloop en dat hy hom dan sal doodmaak as dit moet. Wel, hier is hulle nou weer bymekaar, maar pleks van ’n bloedige geveg, sit hulle nou soos ou vriende saam en drink. Wat is hierdie man se planne?
Hercule staar oor sy glasie se rand terug in die oë wat hom so ernstig aankyk en hy frons innerlik. As hy net hierdie ongemaklike gevoel – so asof hy ’n verraaier is – van hom kan afskud! Die man hier reg voor hom is sy vyand en hy behoort hom geen genade te betoon nie. Hy wéét tog dat kaptein Pierre nie die man is wat hy voorgee om te wees nie. Hy wéét dat hierdie man ’n roekelose, gewetenlose moordenaar is, ’n dief, ’n skurk deur en deur. Daarom te meer laat hierdie vreemde vriendskap wat van die eerste oomblik van hul ontmoeting af tussen hulle ontstaan het hom elke keer verbyster as hy net daaraan dink. Hoe is dit moontlik dat hy, ná alles wat hy van hierdie man af weet, ook van hom kan hou? En dan ook soveel dat hy huiwer om teen hom