Ena Murray Keur 3. Ena Murray
op haar reguit manier. “Jy weet nie waarvan jy praat nie! Al slaag jy ook daarin om met haar weg te kom, sal hy nooit rus voordat hy jou opgespoor en laat boet het nie. Hy weet van jou en wat tussen jou en Juliette gebeur het. Hy haat jou, Emile. Hy haat jou met ’n ontsettende haat. Asseblief, vergeet daarvan en gaan weg … voordat …”
Sy breek haar sin skielik af en gryp na haar keel onderwyl sy snak na asem. Hy sien hoe haar oë in naakte vrees langs sy skouer verbystaar en hy swaai om. Ook hy versteen toe hy vaskyk teen die loop van ’n pistool wat sekuur en roerloos op sy hart gemik is. Dan gly sy blik hoër totdat hy die oë van die man agter die pistool ontmoet … en dis of sy hartklop ’n oomblik verstil. Nog nooit tevore het hy soveel haat in een paar oë gesien nie. Niemand hoef hom te vertel dat dit Juliette se man is wat hier voor hom staan nie. Hy besef ook dat ’n gewisse dood hom in die gesig staar.
“Emile Pierre! Dan het jy eindelik gekom!” Dis of die man werklik bly is om hom te sien. “Ek wag al tien jaar op hierdie oomblik!” vervolg hy met soveel sataniese genot in sy stem dat Margot openlik sidder en Emile se kake krampagtig op mekaar klem.
Skielik verdwyn die man se glimlag.
Emile word van agter af stewig vasgevat en hy hoor die bevel: “Kerker toe met hom!”
Elke dag het Juliette se man hom daar kom besoek en hom verlustig in die wete dat die gehate Emile Pierre eindelik in sy mag is, die man wat nog ná soveel jare so helder in sy vrou se hart lewe dat hy haar nog nooit werklik kon besit nie. Maar toe, nadat dit vir Emile al begin voel het of hy heeltemal van sy verstand gedryf word deur die uittarting en sadisme van sy daaglikse besoeker, het daar uitkoms gekom …
Hy het nog geslaap toe twee vroue skielik oor hom buk.
“Moenie ’n geluid maak nie. Kan jy loop?” fluister Margot dringend. Woordeloos knik hy.
“Kom dan.” Hulle help hom op en beweeg struikelend deur die groot kelder na ’n halfmaanvormige kliptrap. Daar is ’n dringende haas by die twee vroue wat sy arms aan weerskante beethet en hy doen sy bes om met sy verswakte liggaam by te hou. Sy verstand werk nie meer nugter nie, maar tog dring dit tot hom deur dat hierdie twee vroue besig is om hom na vryheid te lei.
Dis soos ’n ewigheid voordat hulle hande-viervoet deur ’n valdeur na buite klouter tussen die bosse en rankplante deur wat die hele opening toegegroei het. Hulle help hom weer op sy voete en dis toe hy regop kom en die vars naglug met diep teue in sy longe intrek dat die waas van sy verstand wegskuif.
“Dankie. Baie dankie, Margot.” Toe hy na die ander gestalte draai, laat dié haar swaar mantel val en in die flou lig van ’n sekelmaan herken hy die gesig. Ou Maria! Sy was ook ’n kneg van die D’Arcy-familie toe Emile se ouers nog gelewe het. Daar is egter geen glimlag by haar te bespeur nie. Maar dan trek Margot hom weer angstig aan die arm in die rigting van die donker bosse en net toe hulle in die skaduwees wegsmelt, skuif die sekelmaan agter ’n drywende miswolk weg.
Nog so ’n paar tree en dan runnik ’n perd saggies in die donkerte voor hulle. ’n Kombers en water is aan die saal vasgemaak. Emile draai na Margot en druk haar ’n oomblik innig teen hom vas.
“Dankie, Margot,” fluister hy hees. “Wil jy … wil jy nie maar saam met my kom nie? Jy het gesê jou lewe is in gevaar …”
“Nee, Emile. Ek kan Juliette nie alleen laat nie, selfs al moet ek met my lewe daarvoor boet. Maar …” Sy aarsel en haar stem is skielik opgewonde. “Wag ’n oomblik. Ek kom nou terug.”
Sy verdwyn haastig in die rigting van die kasteel en Emile volg haar met angstige oë. Dis ou Maria wat die stilte verbreek.
“Jy moet ry. Ry voordat Margot terugkeer.”
Hy draai na die ou vrou en spreek haar die eerste keer direk aan.
“Ek kan nie. Ek moet wag totdat Margot terugkeer. Wat gaan aan? Ons was in die verlede vriende. Dit lyk amper asof … asof jy my haat. Wat het ek gedoen …?”
“Hoe durf jy nog so iets vra? Dis deur jou dat my arme klein Juliette die afgelope tien jaar in ’n hel moet lewe. As jy jou plek geken het …”
Hy maak haar met ’n handgebaar stil.
“Ja, ek weet. Jy is natuurlik reg,” sê hy sag en die selfverwyt klink rou in sy stem. “Wat sal dit help om te sê dat ek my bloed sal tap as ek net alles kon terugroep? Mon Dieu, kon daar uit so ’n mooi liefde soveel smart gebore word?”
Die ou vrou kyk hom strak aan.
“Emile Pierre, ek gee nie om om jou reguit te sê dat ek jou haat nie. Ja, ek haat jou weens al die ellende wat jy oor my klein Juliette gebring het. Maar ek haat ook die man met wie sy getroud is – selfs meer as wat ek jóú haat. Daarom gee ek jou hierdie sleutel. Bewaar dit soos jy jou eie lewe sal bewaar, want hierin lê die geheim van baie dinge.”
“Wat …?” Hy kyk verbaas af na die sleutel wat sy in sy handpalm geplaas het. “Wat beteken dit? Van watter geheim praat jy?”
“Jy sal eendag verstaan. Nou kan ek jou niks meer sê nie. Bewaar net daardie sleutel. Dit is die voortbestaan van die D’Arcy-geslag. Steek dit weg. Margot moenie daarvan weet nie. Niemand moet weet nie. Net ek en jy.”
Emile gehoorsaam en vra dan stil: “Margot sê jy was by …
by Juliette toe … ons kind gebore is. Wat het van my kind geword?”
“Die kind is dood ’n paar uur ná die geboorte,” antwoord sy dadelik en Emile se kop sak op sy bors.
Die vrou se oë is kliphard. Dan begin sy wegskuif. “Ek gaan nou. En onthou, bewaar daardie sleutel soos jou eie lewe.”
“Maar vertel my wat die geheim van daardie sleutel is …” begin hy en swyg dan. Die nag het die krom ou gestalte reeds ingesluk. Daar is ’n geritsel in die bosse aan die oorkant en die volgende oomblik sluit Margot haar weer by hom aan.
“Waar is ou Maria?”
“Sy het eenvoudig verdwyn. Ek verstaan haar glad nie. Sy is vreeslik geheimsinnig. Het jy my dan nie vertel dat sy verdwyn het pas nadat Juliette …”
“Ja, sy het. Ek kon op my rug val toe sy vanaand skielik in my kamer verskyn het. Hoe sy van jou te wete gekom het, weet ek nie. Sy maak my bang. Sy het ’n vermoë om te verskyn en te verdwyn soos dit haar pas. Sy het my net beveel om saam met haar te kom sodat ons jou kan gaan bevry. Die ou heks ken die kasteel soos die palm van haar hand. Sy het my deur ondergrondse gangetjies en geheime deure gelei waarvan ek nie eens bewus was nie totdat ons by jou uitgekom het. Kon sy jou niks van … van jou kind vertel nie?”
“Nee.” Hy sug diep. “Ook maar net dat hy of sy dood is ná die geboorte. Margot …” Hy neem haar aan die skouers. “Jy sê jy vrees vir jou en jou kind se lewe. Kom saam met my.”
“Hoe kan ek, Emile? Wat van Juliette? Hoe kan ek haar nou alleen laat? Ek is nog al wat sy oorhet.”
“Dis waar. Maar is daar dan niks wat ek kan doen nie?”
“Nee, niks. Ry nou. Ek het vir jou ’n mandjie padkos gebring. Gaan dadelik, asseblief!”
Kaptein Pierre staan weer stadig uit die stoel op en beweeg terug na die kajuitvenster. Sy een hand vryf langsaam oor sy middellyf waar hy die vorm van ’n sleutel duidelik onder sy klere kan voel. Sy oë raak peinsend.
Waarom sal Hercule Cordier die D’Arcy-skat by hom kom soek? Hoe het hy geweet van hom, van sy verlede en sy verbintenis met die D’Arcy-familie? Wie ís Hercule Cordier? En weer die vraag: waarom word die D’Arcy-skat duisende myle ver van die landgoed af gesoek? Sou die skat dan verdwyn het?
Sy oë vernou toe sy vingerpunte weer aan die sleutel raak. Ou Maria … sy wou nie die geheim van die sleutel bekend maak nie. Hy moes dit net soos sy eie lewe bewaar. Sou hierdie sleutel iets te doen hê met die D’Arcy-skat wat blykbaar vermis word? Wat het in Frankryk gebeur ná daardie nag toe hy die donkerte in verdwyn het? Sou Margot en Juliette nog lewe? En ou Maria? Het sy iets te doen met die verdwyning van die D’Arcy-skat