Ena Murray Keur 3. Ena Murray
u dink Hercule Cordier is die aangewese man vir daardie taak?” vra sy koel, effens smalend.
“Ja, vreemd genoeg. Hy is die enigste man wat ek ken aan wie ek jou sal toevertrou. Hy is nie ’n man wat ooit op sy woord sal teruggaan nie.”
“Vader, u verbaas my!” roep sy uit. “Hoe kan u so seker wees? U ken hom nie. Wie is hy? Wat is hy? Wat wil hy van u hê?”
“Die D’Arcy-skat.”
“Die … Maar ons het nie so iets nie … of het ons? Is dit miskien onder die buit wat ons deur die jare vergaar het?” vra sy verward.
“Nee, my kind. Ons het nie. Ek het nie die vaagste benul waar die goed is nie. Ek het nie eens geweet dat dit gesteel is nie, nie voordat Hercule my daarvan gesê het nie. Maar hy is onder die indruk dis in my besit.”
“Wat is die D’Arcy-skat en waarom dink hy Vader het dit?”
Emile Pierre se oë is afgewend. Dan kyk hy op en sug hardop. Die een of ander dag, het hy geweet, sal hierdie oomblik aanbreek. Dit het tyd geword om Zonika die waarheid te vertel.
“Dis ’n lang verhaal, my kind. ’n Baie tragiese verhaal en een waarvoor ek grotendeels verantwoordelik is. Maar … voordat ons daarby kom … waarom wou jy met Hercule trou?”
“Wou ek?” Dis nou haar beurt om haar oë af te wend en kaptein Pierre kyk haar skerp aan.
“Jy het vir my geknik, het jy nie? Dit was nie my verbeelding nie. Waarom, Zonika? Is hy die een man wat daarin geslaag het …?”
Sy spring op.
“Ja, hy is die een man wat daarin geslaag het om my te verneder, my te verkleineer.” Sy swaai reguit na haar geskokte vader. “Ek haat hom! Ek háát hom! Dis waarom ek met hom wou trou, ek wel met hom getrou het. Daar is ’n rekening wat hy moet vereffen – en hy sal die res van sy lewe daaraan afbetaal. As hy geweet het wat vir hom goed is, moes hy my liewer vanoggend gekielhaal het. Maar hy het nie, die … sot!”
“My kind, maar …”
“U sal nie verstaan nie, mon père. Hercule Cordier sal die dag berou dat hy besluit het om na die D’Arcy-skat te soek en my ontmoet het. Eendag sal hy ’n honderd skatte wil gee net om van my ontslae te raak … maar hy sal nie. Ek sweer hom voor …”
“Dit klink asof daar ’n baie interessante huwelikslewe op my wag,” sê ’n geamuseerde stem vanuit die deur. Hercule stap stadig nader. Hy kom reg voor Zonika tot stilstand, sy oë spottend, uitdagend. Dan buig hy asof hy aan die Franse hof is. “Madame, ek dink die opwinding van u huweliksdag was ’n bietjie te veel vir u. Ek is seker u wil u graag gaan gereed maak vir die nag. Ons sal u verskoon.” Voordat sy ’n woord kan uitkry, buig hy ook in die rigting van sy nuwe skoonvader. Sy stem is lig spottend: “En u ook, mon père. U lyk moeg.”
Zonika is blind van woede. Sy plant haar vierkant voor hom neer en kyk smalend op in sy gesig.
“Jou arme gek, jy dink jy het die oorwinning behaal. Maar jy het verloor – totaal verloor.” Sy lag skielik histeries. “Die D’Arcy-skat! Jy dink ons het dit en ons weet daar net so min van af soos jy!”
Hercule verbleek merkbaar en swaai na die ouer man. Emile Pierre beveel met ’n streng stem: “Gaan na jou kajuit, Zonika. Onmiddellik!”
Haar vader se kil, bevelende stem bring haar onmiddellik tot bedaring. Met ’n snik storm sy by die deur uit en die twee mans staan bewegingloos teenoor mekaar.
“Was dit ’n grap?”
“Nee, Hercule. Ek vrees dis die reine waarheid. Ek het nie die vaagste benul waar die D’Arcy-skat is nie. Ek weet daar werklik net so min van af soos jy.”
Hercule is wasbleek.
“Maar al die tyd gee jy voor jy het dit in jou besit! Jy móét dit hê!”
“Ek het dit nie. Ek gee jou my woord van eer.”
’n Lang oomblik staar hulle mekaar aan en Hercule weet meteens instinktief dat Emile Pierre nie vir hom lieg nie. Hy sak langs die tafel neer.
“Dan is ek net so ver as wat ek was. Alles verniet.” Hy trek die wynkraffie nader en ledig ’n glasie met een sluk. “Waarom het jy my belieg? Waarom het jy toegelaat dat ek vandag met jou dogter trou? Toemaar, jy hoef nie te antwoord nie. Ek weet.” Hy staan op, die bitterheid van sy groot teleurstelling soos edik in sy stem. “Omdat jy op geen ander manier ’n man vir daardie helleveeg sou kry nie. En ek het reg in jou val ingestap. Maar sy is verkeerd. Ek het nog nie verloor nie. Van hierdie oomblik af is jy en jou dogter saam met my in hierdie soektog. Van hierdie oomblik af sal julle saam met my soek na die D’Arcy-skat, verstaan jy, ou man?”
“Hercule, waarom is jy so gretig om daardie skat, juis dié van die D’Arcy-familie, in die hande te kry? Wie is jy?”
’n Bitter hoonlag volg op sy woorde.
“ ’n Goeie vraag, monsieur. Ek sal dit beantwoord die dag wanneer ons die skat gevind het. Herinner my daardie dag weer aan dié vraag.”
Hy stap met lang treë by die deur uit en ’n oomblik later hoor Emile die bulderende bevel oor die dek opklink: “Verander koers! Terug na Frankryk!”
6
In die maande wat volg op die terugvaart na Frankryk heers daar oënskynlik ’n wapenstilstand tussen die Pierre’s en die kaptein van die Hercule. Veral tussen Emile Pierre en Hercule breek daar selfs oomblikke aan dat hulle albei vergeet dat hulle eintlik vyande is. Dan kan hulle ure sit en gesels soos watter twee boesemvriende, tot Zonika se grootste ergernis en ontevredenheid met haar vader. Hoe kan hy so vriendelik met hierdie man wees terwyl hy weet die skurk is sonder ’n greintjie gewete?
Maar vir Emile Pierre is hierdie maande van die aangenaamste die afgelope jare. Hy geniet dit om Hercule en Jac te vermaak met sy wedervaringe as seerower.
“Dit klink amper asof jy trots is op die feit dat jy ’n seerower was!” laat Hercule eendag verbaas hoor.
Emile Pierre se oë word peinsend.
“Ek was daartoe gedwing. Daar was geen ander heenkome vir my toe ek verplig was om Frankryk te verlaat nie.”
“Wat het dan gebeur?” wil Jac belangstellend weet.
“Ek het ’n meisie van adellike afkoms liefgekry – een van die grootste sondes wat jy in Frankryk kan pleeg.” Kaptein Pierre se oë is op Hercule gerig.
Hercule se gesig verstrak.
“Dat jy haar liefgekry het, is in my oë nie ’n sonde nie. Maar jy het haar in die steek gelaat toe sy jou kind verwag het. Dít was onvergeeflik.”
Jac lyk ongemaklik, maar dis of die ander twee van sy teenwoordigheid vergeet het. Emile Pierre het ’n weemoedige glimlag op sy lippe.
“Dis so maklik om ’n ander se handelswyse te kritiseer as jy nie self in sy skoene staan nie, my jong vriend. Ek moes vlug vir my lewe toe die waarheid uitgekom het. Dit sou dwaas gewees het om te bly. My plan was om later in die geheim terug te keer en haar en die kind te ontvoer, indien nodig. Toe ek egter weer daar kom, moes ek vasstel dat haar vader haar gedwing het om met ’n ander man te trou. Sy was vir my vir altyd verlore.”
“En die … kind?” vra Jac aarselend, maar met opregte belangstelling. “Wat het van die kind geword?”
“Die kind het gesterf.”
Emile Pierre se stem is so deurdrenk van dié ou smart wat nog steeds binne-in hom lewe dat die saghartige Jac sy kop laat sak en prewel: “Ek is jammer.”
“Jammer! Waarvoor?” Hercule se kil stem val hard in die amper gewyde stilte neer en Jac kyk hom aan asof hy van sy verstand af is.
“Hemel, Hercule …”
“Jy sal altyd dat jou hart jou verstand beheer, mon ami. Daar kon niks beters met daardie kind gebeur het as dat