Ena Murray Keur 3. Ena Murray
volg ’n stilte. Zonika kyk fronsend na haar vader, dan na die ander strak gesigte. Daar heers ’n gespanne afwagting op die dek wat jy met ’n mes kan sny.
Uiteindelik praat kaptein Pierre, sy stem dun van spanning.
“Jy sal haar nie werklik kielhaal nie, Hercule.”
’n Oomblik lank keer Hercule sy yskoue blik van Zonika af na die ouer man langs hom. Sy stem klink sissend, onheilspellend.
“Jy ken my swak, kaptein Pierre.”
Emile leun terug teen die leuning en kyk die jong man waterpas in die oë.
“Nee, ek dink nie so nie.”
“Daag jy my uit, kaptein Pierre?”
“Ja. Ek daag jou uit.”
Dis of Jac Dumont ’n afwerende beweging wil maak, maar dan hyg almal hoorbaar na asem toe die jong kaptein met ’n vloek op sy lippe omswaai en die lus oor Zonika se kop en skouers laat gly. Doelbewus, met ’n soort sataniese genot trek hy dit styf totdat hy die pyn in haar oë sien flits. ’n Oomblik staan almal versteen. Selfs kaptein Pierre het die laaste bietjie kleur in sy wange verloor. Wasbleek, maar sonder enige verdere teken van vrees, staar Zonika se groot oë na Hercule op. Dis vreemd dat sy op hierdie oomblik werklik geen vrees ervaar nie. Dis of sy dieselfde instinktiewe gevoel as haar vader het: Hercule Cordier sal sy dreigement nie uitvoer nie.
Die gesig hier digby hare is so hard soos graniet en sy oë is meedoënloos, maar Zonika glimlag skielik en sê sag, sodat net Hercule kan hoor: “Jy sal van ander middele gebruik moet maak om ’n Pierre te buig, kaptein Cordier. Soos jy sien, laat ons ons nie bluf nie.”
“Wat laat jou so seker voel dat ek jou nie sal kielhaal nie?” Dis of die woorde swaar deur sy lippe kom.
Haar glimlag is tergend en onwetend teer toe sy fluisterend antwoord: “Miskien het … voorverlede nag iets daarmee te doen.”
Tot almal se verbasing, haar vader s’n inkluis, leun sy skielik vorentoe, trek haar op tot op die punte van haar tone en soen hom baie liggies op die lippe. “Daar wag nog baie sulke nagte op ons, Hercule. Hoekom sal ons hulle vir die haaie voer?”
’n Oomblik kyk hy haar strak aan. Dan raak sy oë peinsend, opsommend. Die volgende oomblik tas sy vingers na die knoop van die lus.
“Ek sal haar laat gaan op een voorwaarde: dat ons onmiddellik in die huwelik verbind word. Wat is jou antwoord hierdie keer, kaptein Pierre?”
Jac Dumont kyk sy vriend beangs aan. Dat Hercule weer die een of ander duiwelse plan in die skild voer met hierdie skielike frontverandering van hom, is duidelik. Ook Emile Pierre se oë vernou en hy staar Hercule aan asof hy sy gedagtes wil lees. Zonika het ook ’n oomblik verstyf, maar nou kyk sy dringend na haar vader en toe sy sy oë ontmoet, knik sy skaars merkbaar maar met ’n bevel in haar oë.
Dan knik kaptein Pierre ook.
“Goed. Ek sal my dogter aan jou gee in die huwelik.”
Die bemanning bars in ’n verligte gejuig los. Net die jong graaf Dumont deel nie in die toejuiging nie. Daar is ’n frons op sy gesig en met ’n gedempte verskoning stap hy weg.
Dan sê Hercule saaklik: “Nou goed. Die plegtigheid sal vanmiddag plaasvind. Kry alles solank in gereedheid.” Die lus val op die dek en sonder ’n terugblik stap hy weg in die rigting waarin Jac verdwyn. Hy tref hom op die agterstewe aan. “Wat pla jou nou, Jac? Is daar niks meer wat ek in jou oë reg doen nie? As ek die vroumens wil kielhaal, is dit nie goed nie. As ek met haar wil trou, is dit ook nie goed nie.”
Jac draai ’n bleek gesig na sy vriend.
“Dis nie nodig om mooi broodjies by my te bak nie, Hercule. Jy voer die een of ander plan in die skild met hierdie trouery.”
“Ek ontken dit nie. Maar tot tyd en wyl ek my doel bereik, kan ek sekerlik die tydjie geniet.”
“Parbleu! Ek verstaan jou glad nie meer nie, Hercule. Jy was ’n man wat jou nog nooit veel aan vroue gesteur het nie. Moenie my kom vertel dat jy skielik besef het dat jy ’n geweldige belangstelling in Zonika Pierre ontwikkel het in die paar minute voordat jy haar oor die reling wou gooi nie!”
“Ek kon Emile Pierre nie knak met my toneelspel nie. Ek het geen ander keuse as om met sy dogter te trou nie.”
Jac kyk hom verbyster, ongelowig aan.
“Jy … jy bedoel jy was nooit van plan om Zonika te kielhaal nie?”
Hercule se antwoord is gedemp.
“Jy behoort beter te geweet het as om een oomblik te kon dink dat ek werklik so iets sou doen. Ek wou maar net kyk of ek kaptein Pierre kon dwing om my te vertel wat ek wil weet. Die man het durf en moed, Jac. Hy is heel besonders. Ek begin al meer agting vir hom kry. ”
“Die man het durf, ja – en sy dogter is mooi!”
Hercule kyk sy vriend skerp aan.
“Sy is – maar onthou dat sy binne ’n paar uur my vrou sal wees.”
Jac lyk eers verward, dan skater hy dit uit.
“Hercule! Verbeel ek my of hoor ek jaloesie in jou stem?”
“Tiens! Moenie verspot wees nie. Sy beteken niks vir my nie, behalwe dat ek deur haar ’n houvas op haar vader het en as sy eers my vrou is, is die greep des te sterker.” Hercule frons dreigend.
“Ek verstaan.” Jac knik peinsend. “As Emile Pierre wel die D’Arcy-skat in sy besit het, sal sy dogter vanselfsprekend die erfgenaam daarvan wees … en deur haar, jy. En ’n man verklap geheime makliker aan sy skoonseun, nie waar nie?”
Hercule glimlag.
“Jy begin regkom, mon ami.” Hy frons. “Daar is net een ding wat my hinder.”
“Wat is dit?”
“Dat Emile Pierre so maklik sy toestemming tot die huwelik gegee het …”
“Ja, terwyl jy dit noem … En Zonika het ook nie geprotesteer nie.”
“Hm … Vader en dogter het blykbaar ook planne van hul eie. Wel, dit maak die situasie net interessanter.”
Die huweliksplegtigheid vind op die dek plaas toe die laaste strale van die son wegsak. Kaptein Pierre, in sy hoedanigheid as skeepskaptein, neem self die bevestiging waar. Daar het ’n murmeling van bewondering onder die geledere van die bemanning opgestyg toe Zonika haar verskyning maak. Jac het met openlike bewondering na haar gestaar, maar as Hercule opgemerk het dat sy bruid asemrowend daar uitsien, het hy dit hoegenaamd nie laat blyk nie en teen wil en dank moes Zonika haar teleurstelling onderdruk. Dit kon net sowel ’n pop vol saagsels gewees het wat hier langs hom gestaan het, het sy gedink onderwyl haar vader die kort formulier voorlees.
Nadat dit afgehandel is, word hulle na die kaptein se kajuit gelei waar ’n feesmaal op hulle wag, met Jac die enigste gas. Gedurende die dag het vader en dogter mekaar nie te siene gekry nie, aangesien hulle ná die drama op die dek die oggend in hul kajuite toegesluit is. Hercule wou geen kanse waag nie.
Dis ná afloop van die eetmaal dat Hercule en Jac om verskoning vra en die kajuit verlaat om ’n bietjie voggies aan die bemanning uit te deel. Die eerste keer sedert sake so ’n dramatiese wending geneem het, is vader en dogter alleen bymekaar.
“Mon père, hoe het u geweet dat Hercule my nie werklik sal kielhaal nie?” is haar eerste vraag.
“Ek weet nie, ma chérie. Instink, sal ek sê. Hercule is nie ’n moordenaar nie – en beslis nie ’n moordenaar van vroue nie.”
Zonika frons. Hierdie vreemde aanvoeling wat haar vader aangaande Hercule het, was nog altyd vir haar onverklaarbaar. Haar tweede vraag kom aarselend, versigtig: “Waarom het u u toestemming tot ons huwelik gegee?”
Emile Pierre staan op en dwaal rusteloos om die tafel.
“Dis ’n moeilike vraag. Ek sal so eerlik