Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman


Скачать книгу
het hierdie argument al holrug gery,” herinner Aralie hom. “Net omdat ek nie ’n baard en Tarzan-spiere het nie, beteken nie ek is onbevoeg nie. Ek is Niel se locum en kry dieselfde salaris, dus moet ek dieselfde werk doen as wat hy sou gedoen het. Ek is gewoond daaraan. By die praktyk het ek gereeld met bek-en-klouseer onder beeste gewerk.”

      Dit druis teen Franco se beginsels in om ’n fyn meisiekind na die ruwe veld te stuur, tussen ’n trop siek diere in. “Daar moet bloedmonsters geneem word en alles …” skerm hy.

      “Ek weet,” antwoord sy. “Dit het ons al in ons eerste semester by Onderstepoort geleer.”

      “Die teorie en die praktyk verskil.”

      “Dit het ek op laerskool al geleer.”

      Franco kyk op na die tent se dak, vanwaar hy geen inspirasie kry nie. “Weet jy van ’n doofpistool, hoe om die pyltjies te laai en te skiet?”

      “ ’n Telinject Vario-pistool? Wat dink jy van my? Natuurlik. Nie net wéét daarvan nie, ook hoe om dit te hanteer.”

      “Van doofmiddels soos Versed en Ketamien?”

      Aralie bly geduldig. “Ek het vanoggend daarmee gewerk – die spuitnaald met ’n vloeibare mengsel van Versed en Ketamien gevul toe ek die vlakvark moes ver­doof.”

      Ook ’n antwoord op als … Franco rol weer sy oë boontoe en sug. Hoekom kon sy nie ’n dom blondine gewees het nie? Dit sou soveel makliker gewees het. Lekkerder ook.

      “Hou op karring en skep daai kos in, vroumens,” gee hy brommerig bes. “Voor my ore tuit en daardie mossels ’n pappery word.”

      Sy bly staan, hande op die heupe. “Wie is die sjef, ek of jy?”

      “En wie is die baas?” daag hy haar. “Ek of jy?”

      Sy het die belangrikste ronde gewen, hy kan dié een maar kry, besluit Aralie. Sonder om te kibbel skep sy in: ’n groot bord vol vir hom, ’n medium een vir haar.

      Franco skuif die rekenaar weg. Hy snuif waarderend en proe ’n mond vol. “Nie te sleg nie,” gee hy toe. “Waar het jy leer kook? Ook op Onderstepoort?”

      Omdat sy oor die buffels haar sin gekry het, kan Aralie dit bekostig om sy opmerking af te lag. Sy gee nie om as Franco moeilik is nie – nie as dit uit sorgsaamheid spruit nie. Dis deel van sy oorheersende manlikheid, en dit amuseer haar dat hy dit blykbaar geniet om met haar te stry.

      Buite is dit donker en roerloos stil – sonder straatligte, toeters of radio’s wat lawaai. Net die dikkop, ’n uil af en toe, en die paddakoor in die riete by die rivier. En hulle twee in die soelwarm knusheid van die tent … Soos op ’n eiland, met die buitewêreld ver weg en uitgesluit.

      Sy gaan sit oorkant Franco en neem ’n sluk rooiwyn terwyl sy onder haar wimpers deur na hom kyk. Hul oë raak vasgevang oor die rand van die glas en sy gee hom ’n stadige, soet glimlag.

      Die rooiwyn glinster nat op haar onderlip. Franco se binnegoed ruk en hy is skielik kortasem, asof hy die Comrades gehardloop het. ’n Vroumens moet van beter weet as om só te kyk en te lyk … Dis moeilikheid soek.

      Hy skeur sy blik van haar weg en skep ’n hap kos. Ja, dis beter, Conradie, betig hy homself. Kyk liewer op jou bord en konsentreer op die kos, dis veiliger. Sy is nie beskikbaar nie en behoort aan ’n ander man. Jy het self gehoor die egskeiding was nie finaal nie. Sy twyfel nog en daar is kans op ’n versoening.

      Die mond vol kos smaak soos semels en hy sluk werktuiglik, soos ’n outomaat. Maar met die volgende hap begin hy proe. Hy weet nie of hy besonder honger is en of dit is omdat ’n vrouehand die kos gemaak het nie, maar die gereg is heerlik. Verstommend geurig.

      Toe sy bord leeg is, gaan loer hy in die kastrol en skep nog ’n bord vol in. Teen sy beterwete kyk hy vlugtig op na Aralie. “Miskien nie so ’n slegte ding gewees nie,” mompel hy, “hierdie omruilery van veeartse.”

      Sy hou haar dom. “Bedoel jy die kos?”

      “Dis nie wat ek bedoel het nie,” erken hy. “Ek het na … ander bates verwys as slegs dié by die kospotte.”

      Haar blik is versluier. “Bates? Soos wat?”

      Aralie van Dyk was ’n getroude vrou en kan nie so on­skuldig wees soos sy voorgee nie, redeneer Franco. Veral nie ’n vrou soos sy met súlke kurwes nie, wat selfs van onder die bonkige T-hemp sy rewolusies opjaag elke keer wanneer hy haar sien. Sy moet mos weet wat sy aan ’n man doen …

      “Soos dat ek ’n doofpistool kan hanteer?” terg sy hom.

      Nou goed, as sy dan speletjies wil speel, besluit hy. Sý het dit begin, nie hy nie. Hy was nog heeltyd oorbewus van die plofbare situasie wat maklik kan handuit ruk en versigtig om nie misbruik te maak van sy posisie nie. Maar ’n man is nie ’n klip nie. In plaas van yswater vloei daar ’n sterk dosis testosteroon deur sy bloed, en partykeer is sy wilskrag gevaarlik minder as ander kere. Selfs al weet hy dis speel met vuur en hy gaan agterna spyt wees.

      Daar skyn ’n glinstering in sy goue leeu-oë wat Aralie nog nie voorheen gesien het nie. Slegs een of twee keer ’n suggestie daarvan, wanneer sy onverwags opgekyk het voor hy weggedraai het.

      Franco huiwer ’n oomblik, dan kom sy stem effe skor: “Soos ’n nat lyf in ’n handdoek toegevou en ’n paar welgevormde bene wat reg onder my neus ten toon gestel word.”

      Raaltjie-meisie, waarmee is jy besig? waarsku die helfte van haar brein. Weet jy wat jy doen? So nie, is dit nou die tyd om van die treinspoor af te klim.

      Maar Aralie hou haar doof en luister na die ander helfte van haar brein – die duiweltjie wat haar aanhits.

      “So, jy is nie óók bysiende nie? Jy kon genoeg sien tussen die stoom en seepborrels deur?”

      “Genoeg?” ’n Vreemde nuanse kruip in sy stem en Franco skud sy kop. “Nee, nie genoeg nie. Ek sou graag meer wou sien. En ervaar …”

      Hy staan op en plaas sy bord in die opwasskottel. Sy vurk val, maar hy tel dit nie op nie en loop bo-oor, om die punt van die tafel. Hy kom staan voor Aralie, buig vorentoe en plaas sy hande weerskante op die stoel se armleunings, sodat sy vasgevang sit. Hy kyk haar vol in die oë en leun vooroor. Dan, baie stadig en asof hy die oomblik so lank moontlik wil uitrek, buk sy kop nader totdat sy mond ’n paar sentimeter van hare af is.

      Aralie sit asof gehipnotiseer, soos ’n mot in ’n spinne­kop se web. Haar maag voel hol en sy lek met die punt van haar tong oor haar droë lippe. Iets woel diep binne-in haar, iets wat sy nie verstaan of herken nie. En wat haar bang maak.

      Sy beur agteruit tot sy die leuning van die stoel teen haar rug voel. Dan wriemel sy laag af, krimp haar klein en glip behendig onder sy arm deur. In dieselfde beweging mik sy agter om die tafel, in die rigting van die woonwa. Sy het gedink sy gaan ontsnap, maar Franco is vinniger as sy. In ’n refleksreaksie skiet sy hand uit en sluit gebiedend om haar pols.

      “O nee, so maklik gaan jy nie wegkom nie,” fluister hy.

      Wegrem en spartel help nie. Hy trek haar meedoënloos nader – styf teen hom vas, sodat sy sy harde borsbeen teen haar voel aandruk. Van naderby, hier vas teen haar, is hy groter as wat sy verwag het. Sterk, lenig en oorweldigend gespierd.

      Sy asem blaas rukkerig teen haar wang en sy sien hoe hy afkyk na haar mond. Haar hart mis ’n paar slae. Hy gaan haar soen … Sy word verwar deur die mengelmoes van emosies wat in haar opstu – skrik, paniek, benoudheid. Maar ook ’n onverwagte sensasie van dringende afwagting …

      Franco se vingers gly om haar skouer en volg die kon­toere van haar sleutelbeen tot by die kuiltjie in haar nek, waar haar pols onstuimig bons. Sy duim sak in die holte weg, verken die diepte daarvan so ver as wat hy kan, voor dit aanbeweeg, voel-voel teen haar keel op. Sy hand masseer haar nek met meesleurende sirkelbewegings wat deur haar hele lyf uitkring om haar ledemate in warm, vloeibare sjokolade te verander.

      Sy palm vee liefkosend oor haar wang terwyl hy haar gesig na syne oplig. Sy mond vind hare,


Скачать книгу