Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman


Скачать книгу
haar mond onder syne oopgaan in gewillige en volkome oor­gawe. Sy soen hom terug met al die stomende passie wat in haar opstoot en alle logiese denke verswelg.

      ’n Oomblik lank voel sy sy mond reageer. Dwingend, eisend … Dan opeens, sonder waarskuwing, trek hy sy mond weg. Sy arm agter om haar rug verslap en hy laat haar gaan.

      Ná die warm nabyheid van sy lyf kry Aralie skielik koud. Sy ondervind ’n gevoel van teleurstelling, asof iemand die Kersboom se liggies afgeskakel en haar in die donker gelaat het. Sy is bewus van Franco se vinnige asemhaling en die onreëlmatige deining van sy borskas.

      Hy kners op sy tande, sodat ’n spiertjie rukkerig teen sy kakebeen trek. Sy blik boor in hare. “Moenie my uitlok nie,” waarsku hy afgemete. “En moenie iets begin wat jy nie kan klaarmaak nie.”

      Dan draai hy om en stap uit.

      Aralie bly bewend staan, albei hande teen haar mond gedruk en haar oë donker en onstuimig. Sy staar na die tentopening terwyl Franco se voetstappe wegsterf. ’n Hië­na tjank buite en dit bring haar in beweging. Sy vlug by die woonwa in.

      Wat het in haar gevaar? Wat op aarde het haar besiel om hom uit te lok? Sy weet nie wat sy wou bereik nie. Uitvind of hy haar as vrou raaksien en tot haar aangetrokke is? As dít die geval is, het sy haar antwoord in hoofletters gekry: Franco Conradie is nie ’n man om mee speletjies te speel nie.

      Wat sou gebeur het as hy die uitnodiging aanvaar en haar behoorlik vasgedruk en gesoen het? Sou sy hom toegelaat het? Om haar te soen en dalk selfs verder te gaan?

      Sy sidder van skaamte. Wat moet hy van haar dink? Hom skaars ontmoet en sy trek by hom in. Flankeer met hom, bied haarself gewillig aan om mee te doen wat hy wil …

      Sy kan nie gló dat sy so skaamteloos was nie. Dis nie hoe sy is nie. Niel het altyd gekla sy is skugter en kuis. Selfs toe hulle al getroud was, was sy vol inhibisies en was hý die een wat altyd die aanvoorwerk moes doen.

      Sy val op die bed neer en druk haar gesig in die kussing. Dis die wyn! Sy is nie gewoond aan wyn nie. Veral nie rooiwyn nie, en daardie laaste groot sluk het haar laat kop verloor. Sy kan nie stry dat sy aangetrokke is tot hom nie. Franco maak gewaarwordinge in haar wakker wat sy nie wil erken nie.

      Maar dis nie ’n verskoning vir haar uitlokkende gedrag nie. Sy het geweet sy speel met vuur. Daar is ’n onvoorspelbaarheid in hom, ’n smeulende sensualiteit net onder die oppervlakte. Sy moes hom nie uitgetart het nie … Nie as sy nie bereid is om die gevolge te dra nie.

      Aralie is skielik bang. Sy spring op en stoot die deur se skuif toe. Dan klim sy met klere en al onder die komberse in en lê oopoog na die naggeluide en luister. Luister of hy terugkom om klaar te maak wat sý begin het.

      7

      Aralie het heelnag rusteloos rondgerol, van die een sy na die ander, haar drome vol verwarrende beelde. Haar keel was droog, met ’n vrank smaak in haar mond, maar sy was te bang om op te staan en water te gaan drink.

      Die tent was egter doodstil en donker. Sy het onthou dat Franco ’n hut by die rivier het waar hy soms oorbly. Dalk is hy soontoe om haar te vermy. Sy het daardie selfde onverklaarbare gevoel van teleurstelling onderdruk en ergerlik op haar ander sy gedraai om te probeer slaap.

      Toe sy weer ’n keer onrustig wakker skrik, is dit ses­uur. Buite is dit skemer en sy hoor ’n voertuig se deur toeklap. Toe sy deur die venster loer, is sy net betyds om die Land Rover se agterliggies te sien verdwyn.

      Sef tjankblaf en hardloop agterna, maar draai stert tussen die bene om toe ’n kwaai stem met hom raas. Franco se stem … Dan het hy nie in die hut by die rivier gaan slaap nie. ’n Warm tevredenheid vou om haar hart. Sy klim uit die bed en trek aan.

      In die tent is alles netjies. Franco se slaapbank is opgemaak, gisteraand se skottelgoed gewas en die inkopielys wat sy op die rekenaar neergesit het, is weg. Hy is seker veld toe, na die buffelkamp en die olifante, en daarvandaan dorp toe. Daar is nie weer ’n briefie nie, maar daar is vars koffie in die termosfles en langsaan staan ’n boks beskuit. So, hy is darem nie té kwaad vir haar nie. Of ly hy aan ’n oordrewe pligsbesef?

      Sy is besig om water te kook toe iemand buite teen die tentseil tik. ’n Vaak gesig met deurmekaar hare loer om die flap.

      “Nok-nok? Enigiemand tuis? Ek soek ’n popsie met koperrooi hare en paradysbene.” Hy beskou haar op en af. “Lyk my ek het haar gekry.”

      “Wie het so gesê?” vra sy agterdogtig.

      “Franco. En hy’t belowe jy sal vir my koffie en be­skuit gee.”

      “Wanneer het hy so gesê?”

      “Van die koffie?” frons hy.

      “Nee, van die … e … hare en so aan.”

      “Vanoggend, toe hy in die badkamer besig was om te skeer.” Die nuwe aankomeling vryf verskonend oor sy hare sodat hulle in tien ekstra rigtings staan. “Sorry, ek wil nie pla nie. As jy nog wil slaap, kan ek later terugkom.”

      Dus ná gisteraand se fiasko, werk Aralie uit. As Franco steeds iets moois van haar gesê het, beteken dit hy het haar darem nie afgeskryf nie. Van blydskap wil sy in die lug spring en hande klap. Maar sy bedwing haar. Hierdie ou dink seker klaar haar varkies loop los.

      “Jy pla nie.” Sy vee haar gekreukelde klere plat. “Skies dat ek so deur die blare is. Ek het sleg geslaap. Kom in, kom sit. Ek haal bekers uit.”

      Hy glimlag en tree binnetoe. “Ek is Phillip Fourie. Ek bly in daardie blou slangtentjie.”

      Sy lag terwyl sy melk en suiker regsit. “Omdat die enigste manier in en uit is om soos ’n slang op jou maag te seil?” raai sy.

      “Ditsem. Ek kom vir julle ’n tuin teken.”

      Hy soek deur die boks na die grootste beskuit, doop dit en neem ’n hap. Dan kyk hy vraend op. “En wie’s jy? Mevrou Conradie?”

      Sy stik byna in ’n mond vol koffie. “Nee!”

      “Wat dan? Sy cherry?”

      “Sy plakker,” spot sy, maar die tuinman verstaan nie. “Sy veearts,” voeg sy verduidelikend by.

      Hy lyk verstom. “Maar hier’s mos nie vee nie?”

      Vreemde wese, met sy onderbaadjie en kraletjiesarmbande, besluit Aralie. Kunstenaarstipe. Tog is hy eintlik reg: “diere-arts” sou meer korrek gewees het.

      “Sy inwónende veearts?”

      “Dis nie soos jy dink nie,” protesteer Aralie. “Hier was nie ander geskikte slaapplek nie, behalwe by hom.” Dit klink al hoe erger. “Ek bedoel: ek kon nie by ’n ander man slaap nie, toe … e …”

      “Toe slaap jy maar by hom?” help hy haar uit.

      “Ja. Nee! Dis nie … slááp soos jy dit verstaan nie. Dis sommer net …”

      “Vir die lekker?”

      “Nee!”

      Is die man dom of moedswillig? Aralie trap klei en is dankbaar toe sy ’n stem buitekant hoor roep.

      “Hallo, Franco? Is jy hier?” vra Tian en buk by die tent­opening in.

      “Hy’s nie hier nie, hy’s dorp toe,” antwoord Aralie. “Ek en Phillip drink koffie. Kan ek vir jou ook skink?”

      “Nee dankie,” keer hy vinnig.

      Sy het al van haar dreigement vergeet, maar Tian blykbaar nie. Aralie is geamuseerd en besluit om hom nog ’n rukkie te treiter, dan sal hy nie gou weer skoorsoek nie.

      Sy hou hom ongemerk van onder haar wimpers dop. “Dis nie moeite nie, ek doen dit met graagte.”

      Hy trap-trap agteruit. “Ek wil nie hê nie.”

      “Ek sal self eers ’n sluk neem, nadat ek dit geroer het,” bied sy sedig aan.

      Hy gluur haar aan.

      “Of


Скачать книгу