Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman
kom, sit Franco afgetrokke by die vuur, arms gevou en sy voete op ’n boomstomp gestut. Hy kyk nie op toe sy verbystap nie.
Sy vryf haar hare droog en hang die handdoek uit. Dan kyk sy besluiteloos deur die tent. Die tafel staan vol inkopiesakke en daar is twee bokse mediese voorrade. Maar niks is uitgepak nie en dit lyk nie of Franco beplan om te braai nie. Die doel van die vuur is blykbaar nie vir kos maak nie.
Sy haal ’n kastrol uit en begin soek in die koskas wat om te kook.
“Ek’s nie honger nie!” roep Franco kortaf oor sy skouer.
Sy bêre die kastrol en neem ’n appel. Dan gaan sy na die woonwa en maak die deur agter haar toe. In hierdie luim is dit beter om uit Franco se pad te bly, voor sy in ’n eie oorlog met hom beland.
“Wil jy wyn hê?” roep hy ná ’n halfuur se afsydige stilte.
Sodat hulle ’n herhaling van gisteraand se fiasko kan hê? “Nee dankie,” roep sy terug.
Hy bied nie weer aan nie. Seker tevrede dat hy sy plig nagekom het en hom nie verder aan haar hoef te steur nie.
Aralie trek haar slaapklere aan, klim in die bed en skakel die lig af. Dit was ’n vermoeiende dag, fisiek sowel as geestelik.
Sy het al ingesluimer toe ’n klop aan die deur opklink. Sy skrik regop. “Wat is dit? Wat’s verkeerd?”
“Niks nie,” antwoord Franco. “Sal jy oopmaak, asseblief?”
“Ek het my pajamas aan.”
“Dit maak nie saak nie.”
Natuurlik maak dit saak. Sy het drukkend warm Novembernagte voorsien en haar dunste, ylste pajamas ingepak.
“Net ’n oomblik …”
Sy pluk ’n sweetpaktop bo-oor aan. As dit enige ander man was, het sy gesê hy moet gaan doppies blaas, gevra wat hy dié tyd van die nag by haar soek. Franco Conradie is egter nie enige ander man nie. Vir hom sal sy nie net die deur oopmaak nie, maar ook haar hart.
Sy kam haar vingers deur haar hare en draai die deurknop.
“Wát, geen toegegrendelde skuifie nie?” vra hy met geligte wenkbroue.
Aralie bloos. Ná haar gedrag gisteraand is dit seker wat hy verwag het: ’n oop deur en ’n ope uitnodiging om in te kom wanneer hy wil.
“Hoe laat is dit?” vra sy, nog half deur die slaap.
“Elfuur.”
Sy het gedink dis later, naby middernag. Franco het nog dieselfde klere aan en sy let nou eers die twee bekers op wat hy vashou.
“Ek het vir jou koffie gebring.”
“Dankie.”
Hy oorhandig die koffie en buk af om die twee borde te neem wat op die trap staan. “En toebroodjies. Jy kan nie met ’n leë maag gaan slaap nie.”
“Dankie.”
Hy wag, maar sy bly staan en nooi hom nie in nie.
“Daar’s ’n paar lêers in die kas wat ek wil kry,” sê hy verskonend.
So, dís wat hy soek – lêers, nie haar geselskap nie. Wat het ek verwag? dink Aralie, ergerlik oor haar verspotte hart wat skielik sulke wilde spronge gemaak het.
“Natuurlik,” antwoord sy en staan tru sodat hy kan verbykom. “Dis jou woonwa, help jouself.”
“Ek wil net gou iets nagaan.”
Hy sit die borde neer, maak die kas oop en blaai deur die voorste lêer op die rak. Hy vind blykbaar wat hy gesoek het, lees hier en daar iets en plaas die lêer terug. Dan draai hy om, neem sy koffie en maak hom tuis op die voetenent van die bed.
“Ek was netnou weer by die koedoe. Die bloeding het nie weer begin nie en hy is so uit soos ’n kers.”
“Sal so bly tot môreoggend,” bevestig Aralie.
Wat moet sy doen? Daar is nie stoele nie. Ook maar op die bed sit en saamgesels, asof dit normaal is?
“Ek sal nie byt nie,” sê Franco rustig. “Sit gerus, en drink jou koffie voor dit koud word.”
Sy gaan sit op die verste punt by die koppenent, maar dit voel steeds te naby – in mekaar se persoonlike ruimte, waar albei ontuis is. Sy neem ’n hap brood. Dik skaapwagtersnye, met dik botter en polonie op. Tipiese man-toebroodjies, maar vullend.
“Kom jy reg met die werk? Is dit nie te veeleisend nie?” vra hy.
“Glad nie. Ek kom reg en ek geniet dit. Balelapa is ’n inspirerende omgewing.”
“Ek het alles op jou lys by die apteek en koöperasie gekry, behalwe ’n klompie handelsname wat hulle nie ken nie. Hulle sal dit vir jou bestel.”
“Ek het die bokse gesien. Dankie.”
“Ek het ook vir jou sonroom gekoop. En ’n hoed. En handskoene.”
Sy moet seker bly wees, maar Aralie wens hy het dit nie gedoen nie. Sy wil nie in die skuld by hom wees nie.
“Dit was nie nodig nie,” antwoord sy styf. “Dit was nie op my lys nie.”
“Ek weet. Maar jy verwaarloos jou. ’n Vrou moet haarself versorg.”
Dink hy sy is onversorg? Niel het ook gekla dat sy haarself afskeep en in die proses haar vroulikheid prysgee; vir haar ’n bottel parfuum gegee om die Lysol-reuk te verbloem. Parfuum wat agter in haar kas bly staan het omdat sy te jammer was om dit te gebruik, en te besig was vir fieterjasies en pamperlang. Sy weet die fout lê by haar, maar dis hoe sy is. Sy het ander prioriteite. Sy wens mense wil dit so verstaan en haar in vrede los.
“Jy betaal my ’n ruim salaris, Franco, meer as wat ek in die praktyk of met ander los werk verdien het,” praat sy reguit. “Ek is dankbaar daarvoor en jy hoef jou nie verder oor my te ontferm nie.”
“Ek doen dit omdat ek wil, omdat jy dit werd is.”
Taktvol van hom om dit so te stel. Sy weet die diere wat hy verloor het, raak hom diep. Sy wens sy kan haar hand uitsteek en die diep lyne om sy mond wegstreel. Franco Conradie is ’n besondere man en dit sal maklik wees om vir hom lief te raak.
Maar sy moet objektief bly en nie toegee aan haar emosies nie. Soos gisteraand … Sy is skaam oor wat gebeur het, en as sy nog bykans vyf weke hier gaan wees, is dit nodig dat die lug tussen hulle gesuiwer word.
“Op Windhoek se lughawe het ons koppe gestamp omdat jy gedink het ek sal nie die werk baasraak nie, en ek kan insien dat jy rede gehad het,” bely sy. “Jy het belangriker werk as om met ’n lastige vroumens opgeskeep te sit. Ek het jou in ’n ongemaklike posisie geplaas.”
Hy frons. “Hoe bedoel jy?”
Sy lig haar ken en kyk hom vas in die oë. “Gisteraand se … insident, dis wat ek bedoel.” Sy wens sy kan terugklim in die bed en haar kop onder die kussing indruk, maar sy sluk droog en druk deur: “Ek kan nie hier bly nie, ek gaan uittrek.”
“Uittrek?” Hy sit sy toebroodjie neer. “Waarheen?”
“Ek sal iewers ’n plek kry. Dalk by Phillip, hy sal nie omgee nie.”
Hy kyk haar aan asof sy yl. “In dáárdie klein tentjie? ’n Vent wat jy van geen kant af ken nie?”
“Ek glo nie hy hou van vrouens nie. Ek glo nie hy sal weet wat om met een te doen nie.”
Sy mond vertrek in ’n grimmige lyn. “Moenie die ou onderskat nie. Hy mag effe verwyf voorkom, maar hy sal goed weet. Aanvaar my woord daarvoor.”
“Dalk is daar by die konstruksiewerkers iewers ’n gaatjie …”
Franco raak ergerlik. “Hou op bog praat! Die saak is nie oop vir bespreking nie. Jy bly hier, uit en gedaan.”
“Nee,” hou sy vol.