Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman
dadelik my stort inwy,” sê sy half kortasem.
Hy glimlag lui. “Tussen die bosveldstof darem nog ’n vroulike blomgeur wat deurkom … Katjiepiering?”
Tot haar ergernis voel Aralie hoe sy bloos. Die kruis waarmee rooikoppe opgesaal is … Sy het gehoop dis ’n gewoonte wat mens in volwassenheid afsterf, soos hakkel of naels byt. Ook maar goed hy was nie vanoggend hier nie, want as hy nou nog haar parfuum kan ruik, het sy te veel aangewend. Hy sou gedink het dis spesiaal vir hom.
Aralie is uit haar vaarwater. Voor sy in dieper water beland, skoert sy liewer en gaan kry ’n handdoek en skoon klere.
Waar sou hy die ligpienk flentertjie op die dak gekry het? Dit lyk na ’n dun, syerige tipe materiaal. Sy sidder om te dink wat dit mag wees, of waar dit vandaan kom.
In haar haas het sy ingedagte een van haar kortbroeke uit die kas geneem. Sy bekyk dit en wonder dan: Hoekom nie? Dis nie styfpassend nie en hang net bokant haar knieë, met nuttige kantsakke. Dis wat sy in die praktyk gedra het en wat die meeste mans hier rond dra. Niemand sal snaaks dink nie.
Op pad terug van die ablusieblok kom sy die Duitser teë. Hy het nie sy bril op nie en loop haar amper onderstebo. Hy mompel ’n verskoning en staar bysiende in haar rigting. “Tian?”
“Ja,” bevestig sy met ’n diep stem.
“Guten Abend,” groet hy en stap aan.
Amper lag sy hardop. Ekskuus, Franco, vra sy onhoorbaar verskoning. Dis die tweede keer dat ek jou van ’n lieg verdink het, en die tweede keer dat ek verkeerd was.
Dis haar beurt om aandete te maak, maar Aralie voel ontuis in die tent met Franco se kombuisgoed en voorrade. “Wil jy braai of uiteet?” vra sy.
Hy kyk op van sy rekenaar. “Uiteet?”
“Uit blikkies of uit ’n kastrol uit?”
“Net wat die maklikste is. Ek het nie fiemies nie. Sê as ek ’n vuur moet aansteek of met iets kan help.”
Hy het reeds genoeg vure in haar aangesteek, dink sy. Vure wat dreig om ’n weghol-veldbrand te word.
Sy ontdek ’n pak spaghetti onder in ’n kas. Altyd ’n nuttige staatmaker wanneer jou brein nie wil aanskakel nie. Sy kom agter Franco Conradie is ’n man met meer fasette as net ’n fris arm wat ’n meisie kan vasvat. In die kas spoor sy luukshede op soos geblikte mossels, songedroogde tamaties en knoffelvlokkies. Sy kerf uie en sampioene by en raak so besig met haar pruttende pot op die gasstoof dat sy skaars die glas rooiwyn oplet wat hy langs haar kom neersit.
Franco het ’n pyp gestop en lyk self ook verdiep in dit wat voor hom op die rekenaarskerm staan. Maar terwyl sy haar brousel roer en toevallig in sy rigting kyk, betrap sy sy blik op haar kortbroek en lang, kaal bene. Hy lyk min gepla omdat hy betrap is dat hy staar.
“Sag op die oog,” merk hy op, met ’n goedkeurende glimlag om die pypsteel. “ ’n Sonde om sulke bene in ’n langbroek weg te steek. Pla die pyprook jou?”
“Glad nie. My pa het dit altyd gerook. Rum & maple. ’n Aangename, huislike geur.”
“Waar is jou ouers?”
Hulle gesels ’n rukkie oor haar pa-hulle se plaas, die droogte en ander boerderyprobleme, terwyl sy ’n groenslaai maak en borde uithaal.
“Het jy die ablusieblok gebou?” wil sy weet.
Hy trek groot oë. “Skuldig, ja. Hoekom? Is die mure skeef?”
“Nee, perfek reguit. Die krane, die slot, alles werk.”
Sy weet nie hoekom sy dit gevra het nie. Wat maak dit saak of hy een van die bouers opdrag gegee het of self die moeite vir haar gedoen het?
“Ek het my inkopielys vir môre gemaak – mediese voorrade, en ook kos. Ek kan nie gratis by jou plak nie, ek moet my kant bring.”
“Dis nie nodig nie. Jou posbeskrywing sluit huisvesting en etes in.”
“Dit was nie ons ooreenkoms nie.”
“Ek is die baas, ek maak die reëls. Ek voeg voorwaardes en byvoordele by na goeddunke.”
Haar wenkbroue lig. “Jy reken?”
Hy sit rustig agteroor en vou sy arms. “Ek reken, ja,” bevestig hy.
Aralie wil teëpraat, maar die kyk in sy oë laat haar die draad van die argument verloor. Nie droë sjerrie of ougoud nie, besluit sy. Hulle het dieselfde kleur as daardie kraagmannetjie s’n vanoggend. Leeu-oë.
“Dis beter,” knik hy tevrede toe sy stilbly. “Ek dag jy gaan weer die lang messe uithaal.”
Gister sou sy haar vervies het vir sy outokratiese houding, al weet sy hy terg. Gister sou sy selfs die lang messe geslyp het, maar gister is lank terug. Aralie gee oor. Al wat sy uithaal, is messe en vurke om mee te eet.
“As jy daarop aandring om jou kant te bring, kan jy van nou af die amptelike sjef in hierdie huishouding wees,” stel hy voor. “Ek voorsien die voorrade, jy verskaf die arbeid.”
“En wie was die skottelgoed?”
’n Oomblik lank oorweeg Franco dit om ’n skewe antwoord te gee, sodat hy die prentjie kan geniet as sy haar opruk. Maar die vrede tussen hulle is nog ietwat broos en hy besluit om dit liewer te bewaar. “Ons doen dit saam-saam.”
Aralie is wantrouig. “Wie was en wie droog af?”
“Jy kan kies.”
Sy dink na. “Ek sal was, jy kan afdroog en wegpak.”
“Akkoord.” Hy trek weer ’n paar skywe aan sy pyp en luister skewekop na ’n dikkop wat in die verte roep. “Hoor daar! Die reën is op pad.”
“As kinders het ons ook altyd geglo ’n dikkop is ’n weervoorspeller. Hy en die piet-my-vrou. Sý roep roep die reën.” Dit herinner haar aan iets anders wat ook op pad is. “Nog geen nuus van jou nuwe baba nie?”
“Niks. Net die wagtende kring vroedvroue. Hulle, en die filmspan, is op radiobystand. Jy het seker al agtergekom Balelapa het nie selfoonontvangs nie. Dit sal kom, oor ses maande wanneer die reservaat vir toeriste open. Tot dan sal jy ongelukkig moet wag tot jy op die dorp kom as jy wil bel. In ’n krisis maak ons staat op radiokontak. Etosha het darem ontvangs. Vanoggend toe ek daar was, het ek Niel gebel om te sê jy het veilig hier aangekom.”
Sy is verras oor sy bedagsaamheid. “Dankie. Hoe gaan dit met hom?”
“Beter, behalwe dat hy jou mis.”
“Ek mis hom ook.”
“Hoe lank is julle geskei?”
“ ’n Jaar.” Sy wei nie uit nie.
Franco kantel sy glas teen die lanternlig en beskou die ryk, rooi weerkaatsing. Hy draai die steel om en om tussen sy vingers en vra versigtig: “Was dit finaal? Of is daar ’n moontlikheid van versoening tussen julle?”
Aralie hou haar besig met die houtlepel en roer die konkoksie, al weet sy dis nie die regte metode nie, dit sal die mossels laat opbreek.
“Jammer,” keer hy toe die stilte uitrek. “Ek wil nie my neus in jou privaat sake steek nie.”
“Ek weet nie. Ek het gedink dis oor en verby …”
Sy verduidelik nie verder nie, want sy weet nie wat om te sê nie. Weet nie wat in haar deurmekaar hart aangaan nie.
Franco verander die koers van die gesprek. “Jy het netnou na die buffels verwys, maar ek verwag nie dat jy die bek-en-klouseer moet hanteer nie.”
“Niel sou.”
“Jy is nie Niel nie.”
“Wat is die verskil?”
Asof sy nie goed weet nie … Geniet sy dit om dwars te wees? Die versoeking is groot om die verskille uit te spel, maar