Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux
houer pak. Tant Miems sê dit al van sy haar ken. Mens trou nie haastig nie, dis ’n lang pad wat jy saam moet stap. Julle moet mekaar goed ken. Sakke sout opeet. Maja moet glimlag toe sy hieraan dink. Een ou klein pakkie sout hou baie lank, selfs vir ’n kok. Om ’n hele sak sout saam op te eet, sal inderdaad ’n leeftyd vat.
Nie ses weke nie. Ses weke was te kort. Jy leer nie ’n mens ken in ses weke nie. Jy kan van hom hou, jy kan selfs vir hom lief word, maar jy ken hom nie.
Sy loer by die studeerkamer in ná sy die kombuis opgeruim het. “Ek gaan maar slaap,” sê sy.
Hy kyk op en glimlag. “Al weer pootuit?”
“Ja, ek is bevrees so.”
“Ek het nog soveel werk,” sug hy. “In die somer was almal weg en dit was stil. Nou sit ons boonop met hierdie moontlike samesmelting en ek is so toegegooi dat ek nie lig kan sien nie.”
“Ek weet,” sê sy en waai met haar vingers. “Lekker slaap.”
Alleen in die bed lê sy maar weer en dink. Die ding wat so aan haar krap, krap harder. Hy het nog nooit vir haar gesê hy is lief vir haar nie. Nog nooit, nie eers in daardie salige week by die see nie. Hy vertel haar hoe oulik sy is, hy vergelyk haar oë met alles van rotspoele tot spieëls, hy dink sy is mooi en kan liries raak oor elke afsonderlike liggaamsdeel, hy vind haar oorspronklik en snaaks, maar hy sê nie hy is lief vir haar nie.
“Mans is nie so nie,” onthou sy nóg een van haar tante se sêgoed. “Hulle sê dit nie heeldag nie, mens kan dit nie verwag nie. Maar hulle wys dit op honderde maniere.”
Sy probeer aan ’n paar dink, sonder veel sukses, en druk liewer die gedagtes dood. Dis alles deel van die gewoond raak, maan sy haarself. Hulle is besig om mekaar te leer ken en sy kan nie kla nie, hy is nooit naar met haar nie. En hy is nou baie besig. Dis waarom sy aand ná aand alleen kom slaap en hy nog moet werk.
Hoofstuk 9
Maandagoggende het Maja vry en doen sy gewoonlik haar inkope vir die huis. Sy werk versigtig met geld, soos haar tante haar geleer het, maar dis ’n probleem. Pieter dink nie aan geld nie. Voor hulle getroud is, het hy elke week vir Anna geld gegee om kos mee te koop, nou gee hy dit vir Maja en dis nie genoeg nie. Sy gebruik haar salaris vir die huishouding al weet sy sy moet met Pieter hieroor praat. Hy dink eenvoudig nie daaraan nie; in haar somberder oomblikke skryf sy dit toe aan die feit dat hy nog altyd nie aan homself dink as ’n getroude man nie. Dit was nie nodig om vir haar geld te gee in daardie eerste ses weke nie en in sy lewe het niks verander nie. Sy weet hy is nie suinig nie en sal seker ontstem wees as hy moet weet sy het nie genoeg nie, maar haar trots weerhou haar daarvan om iets te sê. Sy het nog nooit vir iemand vir geld gevra nie en sy gaan nie nou begin nie.
Ná ’n week van wind en reën is dit vanoggend nie net sonnig en windloos nie, maar behoorlik warm en sy slenter in die middestad rond, geniet die son op haar kaal arms en bene. Ná sy haar kruideniersware in die motor gebêre het, loop sy verder, koop nog hier en daar iets en besluit om vir Pieter te gaan hallo sê. Sy dink nie twee keer aan hoe sy lyk nie, hy het nog nooit kapsie gemaak teen haar uitgerafelde kortbroek en tekkies nie, maar die sekuriteitsbeampte by die deur van sy gebou dink anders.
“Ek is mevrou Louw,” sê sy vir hom en laat rus haar pakkies op sy toonbank. “Ek is hier om meneer Louw te sien.”
Dit word ’n lang argument. Hy kan nie sommer enigeen van die straat af toelaat nie, sê hy. Hy kan sy werk verloor en watse bewys het sy dat sy mevrou Louw is?
Daar is sy vas; sy het geen bewys nie. Haar ID-boekie is nog in haar eie naam, sy dra nie hulle huweliksertifikaat met haar saam nie.
“Bel hom,” stel sy voor. “Hy sal jou sê.”
Hy bel boontoe, maar soos te verwagte, is Pieter nie beskikbaar nie, soos Maja wel deeglik al agtergekom het. Sy kom nooit deur na Pieter as sy bel nie. Annemie tel altyd eerste op en sy het ’n dosyn verskonings. Pieter is in ’n vergadering, hy is nie in die gebou nie, hy is besig met ’n belangrike kliënt. Sy is altyd meer as gewillig om boodskappe te neem of vir Pieter te sê Maja het gebel.
Dis ook sy wat nou ondertoe kom om Maja te kry. Soos altyd kan sy model speel, so keurig is sy aangetrek en gegrimeer en langs haar voel Maja vuil, slordig en besweet.
“Hy wou my eenvoudig nie glo nie,” sê sy vir Annemie toe hulle in die hysbak boontoe ry. “Ek het mos nie ’n sertifikaat by my nie.”
“Ag, moet jou nie aan hom steur nie,” sê Annemie.
Maar toe hulle op Pieter se verdieping kom, is dit ’n ander storie. “Kan jy glo,” sê sy hard vir die eerste mens wat sy teëkom. “Die wag wou nie vir mevrou Louw inlaat nie. Dink sy is ’n boemelaar!”
Meer mense steek hulle kop uit of loer nuuskierig na die twee meisies.
“’n Boemelaar,” sê Annemie verontwaardig sodat nog ’n paar mense haar kan hoor. “Ek dink ons moet vra dat die man vervang word. Liewe aarde, hoe kan hy haar so beledig?”
Maja voel miserabel en verwens haarself dat sy ooit so ’n onsinnige plan bedink het. Almal wat noodgedwonge na Annemie se uitbarsting moet luister, kyk haar krities op en af, van haar verweerde kakiegroen tekkies tot haar rooi gesig.
“Wat gaan hier aan?” vra Pieter en kom uit iemand se kantoor uit. “Maja!” sê hy verras.
“Die wag wou haar nie inlaat nie,” sê Annemie vir die hoeveelste keer. “Kan jy meer? Wil vir my vertel hy kan nie sommer enigeen van die straat af toelaat nie. Dink sy is een of ander bedelaar of iets!”
Maja wil deur die mat sink en verdwyn. Enigeen met oë in sy of haar kop moet kan sien waarom die wag so gedink het. Sy lyk na ’n bedelaar of boemelaar, veral langs die mannekynagtige Annemie.
“Watse nonsens is dit?” grom Pieter, vat Maja aan die arm en neem haar na sy kantoor.
“Ek is so jammer,” sê sy oor en oor, haar gesig bloedrooi en nou eers besweet. “Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Ek wou sommer kom hallo sê en ek het nie gedink … Ek meen, ek is nie reg aangetrek en … moet asseblief nie iets doen aan die wag nie. Hy het net sy plig gedoen.”
“Jy’t ’n koppie tee nodig,” sê hy en tel die telefoon op.
Dis natuurlik Annemie wat dit bring, al behoort dit nie deel van haar pligte te wees nie.
“Ai tog, man,” sê sy simpatiek toe sy die koppie voor Maja neersit. “Ek is so jammer dat dit gebeur het. Voel jy nou beter?”
“Ja dankie,” fluister Maja. Sy sluk haar tee so haastig dat sy byna stik, gryp haar pakkies bymekaar en staan op. “Ek moet gaan. Jammer vir die onderbreking. Ek weet nie … ek sal nie …”
“Wag,” keer Pieter, maar sy is al by die deur uit en hardloop omtrent gangaf, verby al die nuuskierige of geamuseerde blikke van sy personeel.
Maar ’n veel erger insident gebeur ’n week later toe Pieter haar die middag bel, net toe sy by die huis kom, gedaan na die dag se staan op haar voete.
“Jy het nie van vanaand vergeet nie?” vra hy.
Haar kop spin soos sy probeer onthou. “Vanaand?” vra sy om tyd te wen.
“Die ete by die Van Schoors,” sê hy ongeduldig. “Ek het die uitnodiging twee weke gelede vir jou gewys. Dit lê op die portaaltafel.”
“E … ja,” sê sy, want sy onthou vaagweg so iets.
“Dis baie belangrik, Maja,” sê hy streng. “Hy gaan heel moontlik my nuwe vennoot word. Hoekom ek bel, behalwe om jou te herinner, is om te sê jy moet maar ’n taxi haal. Die adres is op die uitnodiging. Ek sit vas hier, daar gaan geen tyd wees om eers huis toe te kom nie. My klere was by die droogskoonmakers en is nou hier, dus verklee ek sommer op kantoor en ontmoet jou by die Van Schoors. Is dit reg so?”
“Ja,” sê sy en vryf een kaal voet teen die ander been. Sy is lus en huil toe sy die telefoon neersit.