Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux


Скачать книгу
sê hy. “Jy het tog genoeg tyd gehad om vir jou iets te koop. En dan nie eers genoeg geld om vir die taxi te betaal nie. Dit was regtig ’n verleentheid dat mevrou Van Schoor …”

      Sy lig haar vingerpunte en vryf sirkeltjies teen haar slape. Hy byt op sy lippe en sy kan sien dis ’n inspanning vir hom om nie meer te sê nie.

      By die huis gekom, stap sy voor hom uit en reguit na die trappe.

      “Gaan ons nie eers tee drink nie?” vra hy.

      Sy bly staan. “Nee dankie. Ek het ’n slegte hoofpyn. Ek sal in my ou kamer slaap as jy nie omgee nie. Ek wil jou nie hinder nie.”

      “Maja,” begin hy, maar sy stap aan, kry haar nagklere in sy kamer en loop na haar kamer waar sy die deur sluit.

      Sy slaap nie veel nie en toe sy wakker word, voel sy slegter as vantevore. Sy wag tot Pieter weg is en bel vir Vernon om te sê sy kan regtig nie inkom nie, sy is siek. Hy is so simpatiek dat sy byna begin huil.

      “En nou?” vra Anna toe Maja die kombuis inkom en die ketel aanskakel. Sy kyk na die opgefrommelde rok wat Maja in haar hand het.

      “Die rok!” sê sy woedend en smyt dit in die hoek van die kamer. “Ek wil dit nooit weer sien nie.”

      Anna kyk van die rok na Maja. “Jy beter maar vertel wat hier aangaan.”

      “Gisteraand se ete,” sê Maja en gaan sit by die toonbank, haar kop in haar hande. “Ek het vir Annemie gebel om te vra hoe formeel is formeel hier en sy het gesê dis min of meer ’n braai.”

      “Sy!” sê Anna minagtend. Sy het nog nooit ’n wag voor haar mond gehad nie en is nie van plan om nou te begin nie.

      “Toe trek ek maar sommerso aan en my enigste kouse skeur en ek dra sandale en daar is dit …” Maja waai haar hand. “So deftig jy kan daarvan …”

      “Silks and satins,” sê Anna.

      “Presies. Jy kan dink. Ek het gelyk soos ’n pot sop.”

      “Nee,” sê Anna lojaal. “Mevrou lyk altyd pragtig.”

      “Nie gisteraand nie. En meneer Louw was kwaad.”

      “Maar mevrou het seker nie tyd gehad vir shopping nie.”

      “Ek het nie geld gehad nie,” sê Maja moeg en vat die koffie wat Anna gemaak het.

      “Het meneer dan nie …?” Anna bly liewer stil.

      Maja skud net haar kop al weet sy sy behoort miskien nie so te praat nie. “Ek kon nie uit die kosgeld afknyp nie.”

      Anna hou haar by die wasbak besig. Toe meneer Louw die meisiekind so uit die bloute by die huis aangebring het, het sy ook gedink hy raak nou kinds, maar ’n dag of twee later het sy gedink dis die beste ding wat hy nog ooit gedoen het. Die groot dooie huis was skielik lewendig en ingekleur, meneer Louw was skielik ’n heel ander mens, knaend in die kombuis, altyd aan die gesels met die meisiekind. Toe hulle trou, het sy besluit daar is iets soos bewaarengele wat oor alleenlopers waak. En sy het ook gesien hoe Maja haar sprankel verloor. Hoekom dit was, kon Anna nie sê nie. Sy het net gesien die kind begin verlep.

      “Tja,” is al wat sy nou sê.

      Maja drink haar koffie klaar, skud haar kop toe Anna ontbyt wil maak en gaan sleepvoetend weer boontoe. In die medisynekassie in Pieter se badkamer kry sy hoofpynpille en drink een. Toe klim sy op ’n stoel, trek haar koffer bo uit die kas uit en pak haar besittings in. Sy hoor nie die deurklokkie lui nie en stap eers uit toe Anna na haar roep.

      “Weyers,” sê sy stom toe sy in die portaal kom. Teen haar sin is sy verlig om hom te sien.

      “Maja,” sê hy en sit sy arms om haar.

      Sy ruk los. “Moenie aan my vat nie. Wat maak jy hier?”

      “Ek het kom kyk hoe dit gaan.”

      “Kan jy my oplaai?” vra sy en kyk verby hom deur die oop voordeur na die straat. “Waar’s jou bakkie? Jy is tog nie al die maande hier in die Kaap nie, is jy? Wat van jou werk?”

      “Ek bly by my suster,” sê hy ongemaklik. “Ek help haar man in sy besigheid. Hy’t ook ’n garage.”

      “Hoekom?”

      Hy vryf oor sy ken. “Die plek staan my aan.”

      “My tas,” sê sy. “Kan jy dit vir my ondertoe bring? Kan jy my na die jeugherberg neem of na ’n hotel of na … nee, nie ’n hotel nie, dis te duur.” Sy vee oor haar oë, wat branderig voel.

      “Ek het met die bus gekom,” sê hy. “My bakkie …”

      “Ek het ’n motor,” sê sy asof sy dit nou eers onthou. “Kry net my tas vir my.”

      Hy volg haar boontoe en dra die swaar tas af. Die hele tyd kyk hy nuuskierig om hom rond. “Jis, dis ghrênd,” sê hy. “Ek kan sien hoekom jy my gelos het.”

      “Ek het jou nie gelos nie!” sê sy kwaad. “Jy’t my nooit gehad nie.”

      “Ek het dit geweet,” sê hy slim. “Ek het geweet dis net ’n bedrogspul dié. Niemand trou so vinnig nie. Moet ek hom vir jou bykom?”

      “Nee!” gil sy. “Los hom uit. Dit was net ’n fout en nou moet ek wegkom.” Sy haal haar motorsleutels uit die laai en beduie vir hom om haar tas na die motor te neem. “Ek moet net ’n briefie los en vir Anna groet.”

      Anna, wat alles gehoor het, maak asof sy baie besig is met die stoflap en kyk net op toe Maja haar aanspreek.

      “Ek gaan ’n bietjie weg,” sê Maja vir haar. “Ek is jammer, maar dis op die oomblik die beste.” Sy sluk, want sy wil weer huil. “Ek sal vir meneer Louw ’n brief los.”

      “Haai, mevrou,” sê Anna.

      “Ek moet,” sê Maja beslis. “Ek moet. Baie dankie vir alles. Ek gaan jou baie mis.” Sy draai vinnig weg.

      “Dan het sy gewen,” roep Anna agter haar aan. “Dis wat die feeks wou gehad het.”

      Sy huil te veel om te kan bestuur en Weyers skuif taktvol agter die stuurwiel in. “Waarnatoe nou?” vra hy. “Ek kan jou na my suster vat, sy sal nie omgee nie.”

      “Nee,” sê Maja. “Ry na jou garage. Ek sal jou daar aflaai. Die feit dat ek hier weg is, beteken nie dat ek en jy …” Sy haal ’n hand vol papiersakdoekies uit haar handsak en snuit haar neus. “Al is ek baie dankbaar vir jou hulp, Weyers.”

      Hoofstuk 10

      Pieter het ’n haglike dag op kantoor gehad. Hy het nie rustig geslaap nie; elke keer dat hy omgedraai het, het hy sy hand uitgesteek na Maja en net ’n stuk leë bed gevoel. Op een tydstip het hy opgestaan en na haar kamer gegaan, maar die deur was gesluit. Dit het hom geskok al was hy eerlik genoeg om te erken sy het rede om ongelukkig te wees. Hy moes haar nie so uitgetrap het nie, sy het klaar sleg gevoel. Dis net gebrek aan ondervinding, het hy hom wysgemaak, hy kan haar nie blameer dat sy verkeerd geklee was nie.

      Annemie was die ene simpatie toe sy sien hy voel nie lekker nie, het glase yswater, koppies tee en koffie aangedra.

      “Los my tog uit,” het hy geïrriteerd gesê. “Ek makeer niks nie.”

      “Sekerlik,” het sy gesê. “Hoe was gisteraand se ete toe? Het jy en Van Schoor kon praat?”

      “Nee, dit was ’n sosiale geleentheid.”

      “Het Maja dit darem geniet?”

      Hy het opgekyk, getref deur iets in haar stem. “Hoekom sou sy nie?”

      “Nee, ek het net gewonder. Sy is nog jonk, en …”

      “Het jy gister met haar gepraat?”

      “Ja,” het sy erken. “Sy wou maar oor dit en dat raad vra.”

      Hy


Скачать книгу