Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk
“Hopelik,” glimlag sy. “Baie dankie, Henk. Sal ek net Saterdae moet gaan?”
Hy knik en vroetel sy vuurhoutjies uit toe hy besef sy pyp het doodgegaan. “Dit was my voorwaarde, want ek weet die eindeksamen wag om die draai.” Hy steek sy pyp op, wag totdat dit goed trek en draai met ’n skalkse laggie na haar. “Verbeel ek my, of kom vriend Bruce deesdae minder kuier?”
“Ek het hom gewaarsku dat ek vir die eksamen blok,” antwoord sy gedemp en wonder ergerlik waarom dit haar altyd pla om Bruce met Henk te bespreek.
“Jy lyk nie baie gelukkig daaroor nie, ounooi. Is Bruce se besoeke dan so belangrik vir jou?” vra hy ernstig.
Sy lag eerlik op in sy oë en erken spontaan: “Dit was … maar is nie meer nie. Sien, ek het skielik besef dat ek nie bereid is om met ’n man te trou as ek hom nie werklik liefhet nie, al is hy dan ook skatryk.”
“Is dit waar?” Verwonderd kyk hy na haar gesiggie en glimlag tevrede. “Nee, die mooi meisie jok nie. Ek’s bly, ounooi, want ek … ons was almal so ’n klein bietjie bekommerd oor jou.”
“Ek weet, selfs Kobus het vanmiddag vir my ’n preek afgesteek. Ek glo nie ek sou ooit werklik met Bruce getrou het nie, maar die versoeking was soms groot – so ’n volmaakte oplossing vir al my probleme. Maar, nou ja, volgende jaar verdien ek geld, en dan kan ek vir Mamma help, en as die regte man opdaag –”
“Ryk of arm?” val hy haar in die rede.
“Hopelik ryk, of … Eintlik is ek self nie seker nie. Ek hoop net dat ek hom sal kan liefhê, soos Sonja vir Kobus liefhet – regtig lief. Hoe weet ’n meisie ooit vir seker dat sy ’n man liefhet, Henk?”
“Jy sal weet,” sê hy rustig en sy blik rus sag op haar.
’n Liggroen motor kom in die straat tot stilstand en die bestuurder druk die toeter aanhoudend.
“Ek kom! Ek kom!” roep Tanya agter hulle uit haar kamer. Die deur vlieg oop en sy storm uit. “Ilse, ag, sluit vir my my deur en los die sleutel sommer onder die matjie. Sien julle!” Sy vlieg op haar hoë platformskoene die trap af en hardloop oor die grasperk na die motorhek. Haar koel somerrokkie kleef soos ’n liggeel waas aan haar.
Henk skud sy kop. “Daar loop ’n meisiekind wat te veel van die lewe in een dag wil gryp, en miskien op die ou end met leë hande gaan sit.”
“Hoe weet jy, Henk?” vra Ilse en kyk beskuldigend na hom. “Hoe weet jy werklik wat ander mense voel en dink? Ek weet Tanya het net een man lief, en ek weet sy sal enigiets gee om hom te kry, maar as hy dan nie belangstel nie? Moet sy dag in en dag uit in haar kamer sit en oor hom treur?”
Henk se gesig verdonker en sy stem is koud toe hy praat. “ ’n Vrou wat werklik liefhet, stal nie haar ware op die markplein uit nie. Sy hou dit ongeskonde vir die man wat sy liefhet. Of stem jy nie daarmee saam nie?”
“Ek weet nie mooi wat jy bedoel nie,” antwoord sy fronsend. “Ek is op niemand verlief nie, maar ek glo ek sal iemand eendag werklik liefkry. Verwag daardie man wat ek eendag sal liefhê dat ek intussen elke aand tuis moet sit en oor hom droom? Dis tog wat jy van Tanya verwag, nie waar nie?”
“Nee, Ilse, maar daar is uitgaan én uitgaan, net soos daar meisies én meisies is, en ek sal jou nie graag met Tanya wil vergelyk nie. Of moontlik moet ek, want dis juis die verskil tussen julle wat so belangrik is. Hoe sê my ma altyd? Jy kan enigiets verloor, maar die dag as jy jou naam verloor het, het jy alles verloor. Ek sê nie Tanya het haar naam verloor nie, maar sy kies nie haar vriende versigtig genoeg nie, en sy gaan nog haar vingers brand as sy nie versigtig is nie. Begryp jy?”
“Ja,” antwoord sy sag en gaan pleitend voort: “Maar ons kan tog nie almal eenders wees nie, Henk, en daar is baie ander meisies soos Tanya. Ons leef in ’n moderne tyd waarin jong mense net anders dink en handel. Is dit reg om hulle te veroordeel?”
“O, ek gun elke mens sy vryheid, maar dan moet meisies soos Tanya nie later omdraai en huil as die lewe hulle ’n klap gee nie. Ek weet net dat as ek die dag ’n vrou kies, sy net die teenoorgestelde van Tanya sal wees.”
Sy sien die strengheid op sy gesig en in sy oë en sy ril merkbaar. “Arme vroumens … Ek kry haar nou al jammer. Ek dink persoonlik ou Tanya is nie ’n slegte mens nie, behalwe dat sy ’n man nodig het wat haar werklik liefhet. Nee wat, Henk, dis maar goed jy het nie op Tanya verlief geraak nie.”
“Hoekom?” vra hy onthuts. “Is ek so ’n monster?”
“Nee, maar jy sal aaklig teenoor jou vrou optree … soos ’n regte ou patriarg wat vreeslik besitlik en oorheersend sal wees. Ek hoop sy is groot en vet en so sterk soos ’n bees, sodat sy jou ’n blouoog kan gee as jy te gemeen raak.”
“Die groot vettes is nie vir my nie, dankie. Sy gaan klein en fyn wees sodat ek haar kan beskerm en bederf – en ’n pak slae gee as sy te astrant raak,” spot hy half ernstig.
“Sien, ek het mos gesê jy sal ’n aaklige man wees!” Sy kyk berekenend na hom en glimlag. “Maar jy is ’n dierbare vriend. Baie dankie dat jy vir my die werk gekry het. Jy weet net nie hoe graag ek daardie aandrok wil hê nie.”
“Vir die dans saam met Bruce?” vra hy kortaf.
“Saam met Bruce of enigiemand anders. Dis die rok wat saak maak, nie die man nie, verstaan?” Sy kyk ondersoekend na hom en skud haar kop. “Nee, jy sal natuurlik nie verstaan nie, want mans sal nooit so oor klere kan voel nie.”
“Jy kan probeer verduidelik,” por hy.
“Dis net … ek sal amper net so bly wees om my eerste dansrok te koop as wat ek sal wees as ek die dag my graad kry!”
“My meisiekind,” troetel sy stem haar en daar is ’n hulpelose lag in sy grysblou oë, “is klere so belangrik vir julle vroumensies? Ek wens amper ek kon –”
“Henk! Henk, telefoon vir jou! Jou pa wil met jou praat!” roep tant Truia uitasem en skommel vinnig om die hoek.
“Wie, tante? My pa of my oupa?” vra hy skerp en spring op. Daar is ’n strak uitdrukking op sy gesig.
“Jou pa, my kind. Ek was ook half verbaas, en toe vra ek hom weer. Hy het uitdruklik gesê hy wil met sy seun praat. Toe, maak gou, Henk!” hyg die bejaarde vrou en skommel tot stilstand.
“Dankie, tante,” sê hy stroef en stap met lang treë weg.
“Dis nou vir jou ’n ding!” sê tant Truia kortasem en plof op die verweerde gemakstoel langs Tanya se kamerdeur neer. Met die punt van haar geruite voorskoot vee sy oor haar natgeswete voorkop en kyk na Ilse met kommer in haar oë. “Sy pa. Ek kan dit nie glo nie! Die seun bly amper vyf jaar hier by my, en nog altyd was dit net sy ma of sy oupa wat gebel het. Gewoonlik maar sy oupa. En nou sy pa. Ilsetjie, die seun se ma het nie dalk …? Haai, kind!”
“Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, tant Truia. Henk sal nou terug wees, en dan sal hy ons vertel wat aangaan,” sê Ilse gerusstellend, maar sy voel ook die kommer in haar pluk.
Henk stap die voorportaal binne en tel die telefoon se gehoorstuk op. Die hand wat die gehoorstuk vashou, bewe liggies, en daar is ’n ligte trilling in sy stem toe hy sê: “Henk Retief. Goeiemiddag.”
“Dag … my seun,” hoor hy sy pa se stem in sy oor. “Jou ma is te ontsteld om te praat. Daarom bel ek. Pa … jou oupa … is ’n halfuur gelede na ’n skielike hartaanval oorlede. Ek … ons wil hê jy moet huis toe kom, boet.”
“Oupa … dood?” Hy sien die groot, sterk plaasboer voor sy oë, regop en fier ondanks sy grys hare, die alleenheerser op sy plaas, ondanks sy sewe-en-sewentig somers; en in sy grysblou oë die lig van die jeug, van die lewe self, van ’n man wat nie kan sterf nie, maar stil val aarde toe, soos ’n groot boom, Oupa … Die enigste man wat sy honger vir kennis, groter kennis, kon begryp; die man wat kant gekies het vir hom teen sy eie pa, wat hom universiteit toe gestuur het, wat sy jeugdrome werklikheid gemaak het. En nou? Niks