Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk
as sy hulp nodig het, wat altyd raad het …
“Haai, kom terug, dromer!” praat ’n diep manstem langs haar. Sy ruk om en haar oë is groot van die skrik. Kobus Krynauw lag openlik in haar gesig. “En toe skrik jy tog! Ek het amper ‘Boe!’ geskree, maar ek was bang jy breek in stukkies as ek dit doen. Jy lyk altyd asof jy sal verkrummel as ’n mens te hard na jou kyk.”
“Ek lyk net so klein omdat jy so skandelik groot is,” sê Ilse blosend. “Maar kom binne, Kobus. Sonja sal nou hier wees.”
Kobus gehoorsaam en vleg sy lang bene en arms oor die rusbank, sy donker oë nog tergend op haar. Dié regstudent in sy finale jaar staan byna twee meter in sy sokkies en het besonder groot hande en voete. Sy hare en oë is donker, sy mond groot, met ’n glimlag huiwerend om sy mondhoeke. Sy neus is groot en reguit en sy ken is breed. As hy glimlag, keep twee diep kuiltjies in sy wange en verleen ’n ruwe aantreklikheid aan sy gesig.
“Eet my meisie nog? Ek sal sowaar ons troue nog ’n jaar moet uitstel, want daardie meisiekind sal my bankrot eet,” terg hy.
“Nie die helfte wat jý kan eet nie,” terg Ilse hom. “Ek sal nooit vergeet toe ek en Sonja ’n vleisbraai gehou het en jy al ons tjops opgeëet het nie … al ses, en ons het nogal gedink daar sal twee vir elkeen van ons wees. As tant Truia nie vir ons ’n stukkie boerewors gegee het nie, het ek en Sonja daardie aand honger gaan slaap.”
Kobus gooi sy kop agteroor en lag hartlik. “Ses tjops op ’n vleisbraai! Mens, ek eet twaalf sonder om ’n oog te knip!”
“Dan beter jy maar julle troue nog ’n jaar uitstel, anders eet jy vir jou en Sonja bankrot!”
“Wie wil my troue uitstel?” vra Sonja van die deur af en gewaar Kobus op die rusbank. “Jy! Wat knoei jy agter my rug, jou yslike mansmens?”
“Ek betreur jou eetlus en Ilse betreur my vleislus,” grinnik hy en trek Sonja langs hom op die rusbank neer. “Nee wat, jy het nog nie ’n halwe kilogram swaarder geword vandat ek jou ken nie. Nie dat ek sal omgee nie. ’n Bietjie vet op die regte plekke pas enige vroumens.”
“Op die regte plekke, maar die vet vra nie jou mening nie,” sê Sonja en kyk byna verlig na haar lang, slanke bene. “Het jy my kom haal om saam stad toe te gaan?”
Kobus knik en vroetel sy kromsteelpyp uit sy sak. “Ek wil vir my ’n paar nuwe sporthemde koop, en ek weet al wat jy van my smaak dink. Ons sal nie lank wees nie, want ek weet jy wil kom swot. As jy jou boeke saambring, kan jy daar by my en Hannes kom leer, en dan kan ek jou net voor aandete terugbring.”
“Daardie storie het ek ook al gehoor,” glimlag Sonja en skud haar kop. “Nee, meneer Kobus, ons koop jou hemde en dan bring jy my dadelik terug. Ons gaan môreaand uit, en dis meer as genoeg. Ek wil net gou my hande was en my hare borsel. Gesels jy maar solank met Ilse.”
“Ons trou eers oor ’n jaar, maar sy sit al klaar op my kop!” kla Kobus en sy oë rus sag op die slanke meisie toe sy by die binnedeur van die kamer uitglip.
“Soms wonder ek waarom julle nie reeds die einde van hierdie jaar trou nie,” sê Ilse en gaan sit op die armleuning van ’n stoel oorkant Kobus.
Hy suig aan sy pyp en knik stadig. “Ek het ook so daaroor gevoel, maar Sonja kan ’n hardekop wees as sy wil. Sy sê as sy trou, wil sy ’n huisvrou en ’n moeder wees, nie ’n werkende getroude vrou nie. En dis waar. Ek sal self meer gerus voel as ek weet daar is genoeg geld wanneer die eerste klein Krynauwtjie sy verskyning maak. Ons raak in elk geval Desember verloof – maar jy weet daarvan, want jy is eerste uitgenooi na die groot geleentheid. Maar wat van jou, Ilse? Het jy nog nie trouplanne nie?”
“Ek soek nog steeds na die regte man om op verlief te raak,” antwoord Ilse ontwykend.
“Ek’s bly om dit te hoor. Ek was al ’n bietjie bekommerd dat jy dalk van plan is om ernstig met Bruce te raak.”
“Arme Bruce. Julle is almal so verskriklik gekant teen hom dat ek later uit pure jammerte met hom sal trou,” sê Ilse half geïrriteerd.
“Ons ken miskien net vir Bruce beter, en dis nie ’n mooi prentjie nie,” sê Kobus ernstig en staan op toe Sonja weer die kamer binnekom. “A, lyk my meisie nie nou pragtig nie?” Hy plaas sy arm besitlik om haar skouers. “Sien jou, Ilse. En luister maar vir jou oom. Bruce is die regte ou vir ’n dom meisie, maar jy is gelukkig nie dom nie.”
“Ek sal dit onthou,” sê Ilse met ’n teësinnige glimlaggie en kyk die twee agterna.
Arme Kobus, hy bedoel dit goed, mymer sy. Eintlik bedoel hulle dit almal goed: Sonja, tant Truia, Henk en nou Kobus. Sy self weet ook die waarheid, maar geld is tog belangrik … of is dit? Snaaks, gister was sy nog redelik seker, maar hoe meer sy daaroor dink, hoe minder aantreklik word so ’n huwelik. Vier jaar gelede het sy na die universiteit gekom met twee doelstellings voor oë: om haar graad te behaal, en om met ’n ryk man te trou sodat sy haar ouers kan help. En nou? Noudat die oomblik van waarheid aangebreek het, noudat sy met ’n ryk man of eerder met die seun van ’n ryk man kan trou, is dit skielik nie meer vir haar so ’n aanloklike moontlikheid nie.
Sy staan op en stap na die wye venster. Haar oë rus op die ou peperboom. “Want ek wíl eendag trou, maar ek wil trou omdat ek die man liefhet en respekteer. Ek wil voel soos Sonja oor Kobus voel, oor my man praat soos sy oor Kobus praat,” fluister sy vir die lowergroen takke wat liggies in die windjie roer.
En daardie man sal nie Bruce wees nie. Hy sal anders wees, meer soos Kobus … nee, soos Henk. Henk, vandag in die eetkamer … Sy kon die bewondering in sy oë lees, kon sien hy hou van wat sy vir hom van haar ma vertel het. Henk sal bitter teleurgesteld in haar wees as sy met Bruce trou, en sy sal al sy respek verloor. En dit is vir haar belangrik om sy respek te behou, want hy is ’n goeie vriend, die beste vriend wat sy nog gehad het. Nee, sy sal beslis nie met Bruce trou nie …
Sy voel skielik vreemd vry en lag verlig. Dit het haar meer gehinder as wat sy self besef het – haar vrees dat sy dalk met Bruce sou trou. Want hy het reeds ’n paar keer in daardie rigting gepraat, maar sy het hom elke keer ontwyk omdat sy nie seker was nie. Maar nou kan hy maar ’n duisend keer vra, want sy weet vir seker dat haar antwoord altyd nee sal wees.
Skuins voor vieruur staan Ilse op en skakel die ketel aan. Toe sy orent kom, gewaar sy Tanya in die kamerdeur.
“Swot jy?” vra Tanya onseker, bewus dat selfs die goedige Ilse nie kan verdra om in haar studies gesteur te word nie.
“Ek was van plan om ’n koppie koffie te maak voordat ek verder werk,” antwoord Ilse en wys na die leunstoel. “Kom sit, Tanya. Wil jy saam koffie drink?”
“Ek moet eintlik gaan regmaak om uit te gaan,” sê Tanya ongemaklik en kyk huiwerig na die boek in haar hand en dan na Ilse. “Dis net dat ek gewonder het of jy my nie kan help nie, Ilse. Ek weet jy wil geld verdien vir jou aandrok, en ek onthou jy het al in die verlede tikwerk gedoen. As … as jy al hierdie kunsgeskiedenis-aantekeninge vir my kan oortik … Jy vra mos dertig sent vir ’n bladsy?”
Ilse kyk met ’n hulpelose glimlag na Tanya en skud haar kop onbegrypend. “Hoekom is jy so bang om vir my te vra? Goeiste, dis mos jy wat vir mý ’n guns doen! Gee hier.” Sy neem die dik aantekeningboek by Tanya en skud haar kop weer. “Jy gaan betaal dat jy hik, Tanya. Het jy dan geen aantekeninge nie?”
’n Warm gloed verdonker haar gesig. “Nee, ek het my aantekeningboek verloor. Jy weet mos ek was verlede naweek by Petro, en ek het my boek saamgeneem om te swot. Ons het ’n groot partytjie gehad en alles was ’n bietjie deurmekaar. Toe ek Sondagaand inpak, was my aantekeningboek net skoonveld. Petro het weer gedurende die week daarna gesoek, maar sy kon dit nie kry nie.”
“Moes ’n lekker partytjie gewees het,” skerts Ilse goedig. Sy frons effens en vra onseker: “Jy het gesê Petro het stories oor Henk vertel. Wat het sy te vertel gehad?”
Tanya bloos dieper en lag selfbewus. “Niks besonders nie, net dat sy al gehoor het Henk is ’n gawe ou om mee uit te gaan. Hy neem glo altyd die asters na die beste plekke in die