1795. Dan Sleigh

1795 - Dan Sleigh


Скачать книгу
van warm lug. Dié sekerheid het die gehoor nie opgemerk nie; hy moes hulle daarop wys dat Engeland pas uit ’n oorlog teen Amerika opgestaan het, hul vloot- en leëroffisiere se bloed is heet maar hulle sit werkloos. Luister tog, en kyk: Hulle maak waaghalsige planne, ontdek en verower wêrelddele, dink in spronge vorentoe en skep probleme vir dié wat nie byhou nie.

      In die vorige oorlog het verpligte wagdiens Kring Athenaeum van vier vergaderings per maand tot twee laat krimp. In Van der Graaff se tyd het offisiere gekla die Kring gee onnodige opposisie aan Vrymesselary. Juis toe kry die dorp ’n komediehuis waar soldate flou klugte met ’n skootjie moord, bedrog of gerugte van owerspel vir die garnisoen en slawe se vermaak opvoer; hulle vreet die peule wat die varke nie wil hê nie. Op versoek, bowenal van vrome suster Machteld Schmidt wat Woensdagaand-bidure begin hou het en haar oorlede vriend dominee Van Lier, vergader Kring Athenaeum nou net op die tweede Donderdag van die maand.

      Suster Machteld het voor haar vyftigste jaardag twee mans, sewe kinders en ’n kleinkind begrawe; op die Pinksterdag daarna kom sy tot bekering. Wáárvan, bekeer? Dit is haar saak. Maar, die geprewel en hallelujakrete het nie by háár begin nie. Die behoefte om in die openbaar te bieg en om vergifnis te pleit het agter haar soos ’n heilige gekheid oor die Kaapse gemeente gedaal, die mense was mal daaroor. Woensdae het biduuraand geword; die kerk het die piëtistiese oplewing verwelkom, want meer eerlike silwer en minder oorgeblaasde koper val in die kollektesak. Vrouens het biduur toe gestroom agter dié nuwe gier. Tussen die stoele voor die preekstoel het hulle op die blou stene neergesink en geweekla: God, wees ons genadig. O God, hoor ons arme sondaars, red ons, ons gaan vir ewig verlore. God, hoor ons arme sondaars. Vreemd, ongekend was dit om nou so in die gemeentelike trop te bely. Was die Nuwe Jerusalem naby, die Opstanding op hande? Dan mag niemand tuis bly nie.

      Arme Geesje Kirsten het soos ander in ’n kring bely: ‘God, vergewe my. O God, begenadig, vergewe my. Wees ’n vervloekte sondaar genadig.’ Miskien het ’n voorvader geslagte gelede in ’n handelshuis of hoenderhok gesondig, maar wat het Geesje in haar hoepelrokke van ligblou en geel sy om te bely? Sy pleit roerend om vergifnis, bely skuld aan ’n misdaad wat sy nie gepleeg het nie, noem haarself onrein, skarlaken, bevlek en selfs ‘snood’ en ‘vuig’, twee outydse woorde, uit hul graf gespit en soos ’n banier van die hele beweging dikwels gebruik.

      Benewens bidure by suster Machteld in Langstraat het Geesje haar op Sondae twee keer kerk toe laat dra. En daar op haar blote knieë of lankuit op Saasveld se vloerplanke, wou sy vir onbekende sondes vergewe word. Die geweeklae en gekerm wat sy kinders ontstel, het hom aan die Middeleeuse geselaars herinner: Kyrie eleison! Kristi eleison! Slaapwandelaars in ’n histeriese droom, besete met selfkastyding, boetedoening en genadebede. Kyrie eleison! Kristi eleison! Geesje wou die doringtak, die haarrok, ashoop en potskerf hê; in haar verwarde gedagte was sy halfpad hemel toe en kon nie meer met hom of hul kinders praat nie.

      Die lopende slytasie aan die Kring se bywoning beskou hy as vervlakking, agteruitgang onder ’n kultuurarm volk wat in heillose donker wegsak. Almal hier is gestadig aan veronnosel; luister maar na hul taal. Amerika snel vooruit, bou stoomskepe, Engeland en Frankryk bou stoomtreine en stoomgedrewe weefmasjiene. Elke Europese stad het boekdrukkers en uitgewerye. Sy dorp het nie eens ’n koerant nie; die kerk se drukpersie druk handbiljette vir vendusies en begrafnisse vir ’n inkomste. “Begin weer met die Athenaeum wanneer jy tuis kom,” het sy pa hom aangemoedig, onderweg huis toe uit Europa. “Jy kan op die Kaap se voorste families staatmaak. Onthou om vrouens te nooi.”

      Saasveld staan gereed, helder verlig asof afwagtend en opgewonde oor die byeenkoms. William skink ’n glas rooi Constantia en proe daaraan. Vandat Colijn dié plaas in die twintigerjare gekoop het, hemel Here Direkteure sy wyn ongelooflik op. Dit het oorsee ’n wonderlike naam en ’n groot mark verwerf en hulle dring in elke brief met nadruk en selfs dreigemente aan op versendings van ‘de beste sortering, zeer delicieus van smaak, wat de naam van Constantia verdient. Uwlieden moeten wel begrijpen dat de wijnen hier te lande niet als een ordinaire drank maar enkel voor een liefhebberij gedronken worden, de particulaire smaak die zuijver en lieffelijk is.’

      Hy roer die wyn in sy glas om en ruik daaraan: Sonderling. Waarna ruik dié nooitvolprese wyn? Herfsblare, grond en bokbloed. Daar’s ’n emmer boerbokbloed in elke aam, dis Cloete se geheim. Raadslede koop dit teen ’n redelike prys uit die regering se pakhuis, die res is vir Europa bestem, waar konings en koopmanne dit by die bokaal wegslaan en dromers en digters glimlaggend met toe oë daaraan proe. Die gewone Kapenaar ken nie die smaak nie. Jan Kompanjie het die arme verskaffer lewenslank onhebbelik beet, sewentig jaar lank al hou die regering ’n monopolie op sy hele oes.

      Die kombuis is vol van die geur van vars koffie wat op ’n tes op die herd trek. William eet sy aandmaal van groenbonebredie met rys wat Flora in ’n hoek van die herd warm gehou het en klee hom daarna informeel. Vandat Geesje die kinders weggeneem het, woon hy alleen, eenvoudig soos ’n boer. Hy mis haar en die kinders nie. Sy werksklere oornag in die armoire by ’n swart kerkpak, ’n swart-en-blou uniformjas met goue epoulette van ’n majoor in die Korps Pennisten en die dik, diepblou deurstikte fluweelmantel met Nederlandse en Britse ridderordes geborduur, wat hom na sy pa se dood toegeval het. Dit dra hy nooit. ’n Groot silwerspeld van gekroonde jaghorings met diamante beset, hou die mantel voor die bors toe. Soos sy pa, steur hy hom weinig aan sy titels; hy het nie vir één van daardie silwersterre of rooi-en-blou skilde met goue kruise en klimmende leeus gewerk nie. Titels erf jy op papier. Wat tel is wat niemand sien nie: Die bloed in jou are, die rooi stroom wat jou meul laat draai, waarmee jy jou lewe lei en jou brood verdien.

      Saasveld se lig val buitetoe soos dié van ’n vuurtoring. Buite het dit donker geword. Hy skuif die rame af, hy verwag reën. Die staanhorlosie uit Gnephoek, sy groot wit wyserplaat versier met geverfde skepe wat op ’n kantelende blou-en-wit see wieg, slaan agt dowwe slae in die voorhuis. Die eerste gaste kom aan. Sekunde Rhenius sukkel sy lyf uit ’n drastoel by die stoeptrappe, dis moeilik met ’n swaard in ’n drastoel, hy hoor hom twee of drie ander groet wat onder die bome aangeloop kom. Rhenius se sinne eindig gewoonlik met ’n lag en ’n ratelende hoes. Hy moet die ou sekunde dophou; hy raak soms in sy stoel aan die slaap.

      3

      “Kyk al die swaarde, Will, en nie een uit ’n dosyn weet om dit gebruik nie. Dis ’n versiering soos ’n vrou se halssnoer.” Louis Thibault met sy ligte knoffelgeur, goeie vriend, slim ingenieur, effens romanties, het opgedaag. “Jou swaard moet verdien word. Al waarop jy in die lewe kan staatmaak is ’n swaard, silwermunte en goeie wyn.” Louis geniet die Athenaeum-aande; só moet die lewe wees, interessant, gesellig in goeie geselskap.

      William beskou sy gaste as gesinsmense, rustige bure wat nie intieme kontak op mekaar afdwing nie. Slawe met lanterns sal om tienuur kom om almal na welverligte, vroulik versorgde Vredehoek, Waterhof, Oranjezicht, Rheezicht en Schoonderzicht terug te lei en hom hier in Saasveld met sy verlange laat, maar tevrede dat hy goed aan medeburgers doen en lus vir ’n kelkie kersiebrandewyn en ’n uur van stilte om die notule van die vergadering uit te skryf. En, voor hy gaan slaap, miskien Bogaert se uiteensetting van die boere se stryd teen die onheilige Van der Stels, pa en seun, vroeg in hierdie eeu, te herlees.

      Dokter Van Riet, die genooide spreker, kom laat aan en skud hand. “Lelik van Matteas Behrens. Die meeste van sy skedel is by die skoorsteen uit. Ek het ’n flapkan skoon jenewer uit sy maag getap.”

      “Jou bevinding?”

      “Een met soveel drank in kan niks beplan nie. Tegnies, ’n ongeluk. Ek het dit aan die Fiskaal voorgestel. Dan, binne die muur, sê hy. Al was die vent ’n alkoholis.”

      “Ou Matteas lag julle almal vanaand uit. Ek kan hom hoor.” Die hemel help ons; wei die blinde wurm nie weerskante, onderdeur hul witgekalkte bousels nie?

      Van Riet sit ’n knypbril op en pak sy tas uit. “Die Fiskaal behoort skaggers te waarsku: Net sóveel drank per man. Maar solank daar silwer oor die toonbank kom, hou hulle nie op skink nie.” Die dokter, ná aan aftrede, is ’n uitgesproke dienaar. Hy weet hul Fiskaal eis ’n vol vyfde van elke tapper se lisensiegeld.

      William kyk oor die gehoor. Dis ’n goeie opkoms; dertig, vyf-en-dertig gaste staan in groepies in sy voorhuis versprei. ’n Paar


Скачать книгу