1795. Dan Sleigh
hul hande koester bokale, die gesigte snuif afwagtend daarin.
“Goeienaand, lede van Kring Athenaeum. Ons het vanaand ’n mediese onderwerp. Ek het die heer Van Riet genooi, u ken hom: Oppermeester van die hospitaal, om sy ondervinding en menings insake die Direkteure se voorgeskrewe noodhulp aan drenkelinge te verduidelik. Dis al veertig jaar of meer in gebruik. Hoe dit werk, of dit na sy mening effektief is, hoe daarop verbeter kan word, só voort. Meester Van Riet.” Hy gaan sit, kantel die halfuurglas en doop sy pluim om te skryf.
Van Riet sluk water, gril effens (in die droë seisoen kook Flora hul drinkwater dood en voeg sout en wit asyn by teen die maagkoors), vul weer sy glas en skuif dit byderhand. “Ja. Ek vermy gewoonlik uitlatings wat met voorgeskrewe beleid strydig is, maar ek glo ons het die afgelope veertig jaar meer drenkelinge verongeluk as gered. Ek weet nie watter pervert eerste dié metode uitgedink en aan Here Sewentien verkoop het nie, maar dit was waarskynlik ’n Engelsman, want ek hoor dit word so in die Britse vloot ook toegepas. Mense wat nie totaal stiksienig is nie, erken dat die Engelse ons nou in die wetenskap voor is. Dink aan kaptein Cook wat ons ’n paar jaar gelede hier toegespreek het. Gedrewe deur ’n drang na kennis, deur miljoenêrs en bankiers geborg, seil hy ’n skip vol wetenskaplikes met hul gereedskap om die aardbol. Soms beny ek die Engelse. Hulle berei vir die Nuwe Wêreld voor.”
Dit, dink William, is eers van onlangs af, vandat Hollanders begin pruike dra. Hy onthou die uitgesproke Cook, breed van bors in ’n donkerblou see-uniform, met sy rooi, gladgeskeerde gesig, sagte stem en amper onverstaanbare Yorkshire-uitspraak. Cook was teleurgesteld in die vlakheid van hul vrae, miskien kon hy die afkeer teenoor hom voel (‘Wat kom snuffel die dônnerse Engelse weer om die Kaap?’) en die Engelsman, openlik geskok omdat hier geen openbare hoërskool was nie, was ná aan beledigend: “Ek neem wetenskaplikes om die aarde, maar besef julle waarheen ons eintlik op reis is?” het hy hier in die voorhuis gevra. “Ons is op pad na die maan en na die sterre. Is julle nie bang om op hierdie vasteland se uithoek in afsondering, onkunde en korrupsie te vergaan terwyl ’n nuwe son van verligting oor die aardbol verrys nie? Ken jul regering geen ander god en wetenskap as dié van geld en hebsug nie?”
Dié wat hom kon verstaan het gebrom: Gaan huis toe, man. Verwaande rooibaadjie. Cook se wetenskaplikes, ses saggesproke jong Swede, Duitsers en Engelse, het hier in die voorste ry gesit en hy het hul die geleentheid beny, op pad na die sterre, op soek na God self. Hy was dankbaar dat Cook dít nie gesê het nie, anders was hier oproer; sommige glo nog die aarde is plat en staan op pilare; Europa maak klaar vir die Nuwe Wêreld en die Kaap vir die Wederkoms. Louis het na hom toe geleun en gefluister: “Die vrou van die Verligting, sy gaan heerlike geselskap wees, Will. Ek sien uit na haar.”
Dokter Van Riet neem ’n gestopte wit Delftse kleipyp wat hy gereed gesit het, bring die kersvlam by en suig sterk aan die steel tot die pypkop rooi gloei. Hy blaas ’n straal rook uit en hervat: “Ons het dié voorskrif in 1769 van Here Sewentien gekry. Dis amptelik, dit is as plakkaat gepubliseer. Persoonlik vind ek dit onsmaaklik om toe te pas. Stel u voor: My pasiënt, die drenkeling, word ontklee en gesig na onder op ’n plat oppervlak soos ’n tafel of bed neergelê. Stop ’n pyp met ’n standaard-agtienduimsteel soos dié, en steek dit aan.” Die dokter suig aan sy pypsteel en blaas rook uit. “Maak die mondstuk met spoeg nat, só, en stoot dit versigtig in die drenkeling se rektum, só. Maak nou jou hande bak om die pyp se kop en blaas egalig daarin.”
Baie het van 1769 af verander. Die Gamtoosrivier was toe die Kaap se oosgrens; burgers is op straf van konfiskasie van eiendom en verbanning verbied om daaroor te trek. Vandag is hulle myle en myle daar verby, die voorstes is al by die Visrivier. Van Riet blaas in sy bakhande om die gloeiende pypkop; met ’n wysvinger trek hy hul aandag na die straaltjie vaalblou rook wat by die steel uitkrul.
“Laat liewerste staan, meester,” vra ou vader Van Reenen van De Brouwerij uit die voorste ry, met twee harde handpalms afwerend omhoog. “Ek gaan van die skaamte al dood.”
“Nee. Ons plakkaat beveel my om die behandeling voort te sit tot my pasiënt vry asemhaal. Nou ja …” Hy spoeg ’n repie tabak in een handpalm, sit sy gereedskap neer en lê sy pyp in die blaker. “Die plakkaat verwag dat ons drenkeling nou sy oë gaan oopmaak, regop sit en my hand dankbaar skud omdat ek sy lewe gered het.” Hy ondersoek die gehoor deur sy ronde neusbril en skud sy kop na hulle. “Wat? Kaf, twak, bog en onsin. Amptelike bygeloof. Is dit ’n regering se taak? In geen geval waar ons dié metode toegepas het, kon ons iemand bybring nie. Hoe kon ons? Volgens watter beginsel bring warm rook in die dikderm ’n bewustelose tot sy sinne? Deur toordery? Probeer eerder vlugsout. Here Direkteure sê ook nie wat gaan gebeur as dié plan in jou gesig sou t’rugplof nie. Die spysverteringstelsel is glad nie betrokke nie.
“Nou, wat is die probleem hier? ’n Drenkeling se longe is vol water in plaas van lug. Voor sy hart gaan staan, moet ons die water uit die longe pers en met skoon lug vervang. Ek sal een of twee alternatiewe demonstreer, wat ek graag met die Politieke Raad se goedkeuring en hulp aan die Direkteure self wil voorlê.” Hy sê die laaste woorde met sy oë op die slapende sekunde Rhenius, en terwyl hy praat trek hy sy jas uit, hang dit oor die stoel en rol sy moue op. Hy staan weg van die tafel, knoop sy broek se knieë los, kniel styf en leun vooroor met sy kneukels op Saasveld se rooi vloerteëls.
“Eerste simptoom van verdrinking is dat are in die oë gebars het. Niks sal daarna help nie. As dit nie gebeur het nie, luister op die bors vir ’n hartklop, voel by die pols en die nek. As jy daar lewe voel, moenie na ’n bed of tafel soek nie maar draai die pasiënt op sy bors daar waar jy hom vind, draai sy kop en lê sy gesig op sy voorarm. Kniel oor hom, só. Voel met jou vinger in sy mond; verwyder braaksel. As hy sy tong ingesluk het, trek dit uit. Leun vooroor, druk met jou plathande agter sy blaaie en kyk of water uit sy mond vloei. Leun en druk weer, pomp soos ’n blaasbalk, dit suig lug in, dit stoot water uit. Hou aan so lank as daar ’n pols is.”
Hy sak ’n paar maal vorentoe en kom op, sak vorentoe en kom weer op, sukkel dan effens om op die been te kom. Hy hou aan die tafel vas, gevaarlik rooi in die gesig. Hy beduie staande, hy buk oor die tafel: “’n Ander gedagte, miskien die beste, is om jou eie asem direk in die pasiënt se luggange te blaas. Lê hom op sy rug, knyp sy neus toe en plaas jou mond oor syne. Blaas diep, dan leun jy met jou plathand op die pasiënt se sternum om die ou lug uit te pers, dan blaas jy weer in sy mond, só. Hou daarmee aan, kyk of dit werk. Dalk red jy ’n lewe.” Hy kyk sy gehoor aan oor sy bril wat effens skeef gesak het.
Ja, maar wag, wag, wag nou so ’n bietjie. Hulle kyk hom agterdogtig aan, en stel hulle ’n groot pers bloedklont in koue soutwater in die toegevalle donker long voor. Hoe dun is die lyn tussen lewe en dood tog, een aks van ’n duim, diékant toe of daaikant toe. Dokter Van-die-wieg-tot-die-graf gaan nou te ver. Vir ’n man om sy mond op dié van ’n ander te sit? Nee; die gedagte alleen is skrikwekkend. Daar’s ’n misdaad genaamd die stomme sonde, die straf daarvoor is dood deur verdrinking. Liewerste maar net één drenkeling dan.
“Hora est,” sê William toe die sandglas leegloop. “Enige vrae?”
Hulle vra nie waarom die dokter sê dat are in die oë bars of waarom die Direkteure dink tabakrook in die rektum kan ’n drenkeling se lewe red nie. Hul vrae is algemeen: Verdrink jy gouer in die koue Kaapse see of in die lou Oosterse water? Wat veroorsaak dood, gebrek aan asem of water in jou longe? Hoe lank moet jou kop onder wees voor die hart gaan staan? Hier was ’n Bengaalse pêrelduiker wat vyf minute lank onder kon bly, hy het Nieuw Rhoon se kiel op die buitereede onder water vir boorwurm ondersoek, ou stukke uitgesaag, nuwe ingekap. Vóór hulle begin om staaltjies te vertel, staan hy om die spreker te bedank. Hy doen dit uitgebreid, aanmoedigend.
“Skryf u voorstelle neer, meester Van Riet. Die Raad sal dit aanstuur, deur Kamer Delft aan die professore in Leiden. Met die moeilikheid in Nederland sal dit miskien nie dadelik die verdiende aandag kry nie, maar dis ten minste op rekord, met u naam by.”
Die applous vir oppermeester Van Riet is eg, waarderend. Sy bynaam is ‘Van-die-wieg-tot-die-graf’ omdat hy hul dosyne kinders in die wêreld en later deur hul kindersiektes gehelp het en ook weet om hul vrouens met versterkdruppels, aqua vie en rustige, simpatieke verduidelikings te troos.
“Nou,” sê William, met ’n gebaar