1795. Dan Sleigh
Roggeveldse son, leun met sy elmboog op die klavier en ondersoek die gehoor se rugkant met ’n halfoop mond, sy groot gesig is sonder veel uitdrukking, vier vingerpunte trommel sag op die donker doek. Gordon is nie heeltemal gemaklik tussen die dorpenaars nie, hy is eerstens amptenaar, ’n lid van die regering, en voel hom sosiaal miskien effens hoër as hulle. Hy het hier van sy bydraes tot Diderot se ensiklopedie van die wetenskap en kunste vertel; hulle het nie geweet waarvan hy praat nie. Aan die einde was hul applous beleefd maar kort. Miskien wil die kolonel graag vertel van die Afrika-rariteite wat hy vir die Prins van Oranje versamel, maar hulle ken almal kwaggas, kameelperde en verkleurmannetjies. Hy het beloof om vanaand iets te sing.
Die kolonel is nie gewild nie. Wat het Robert die Prins beloof in ruil vir ’n kolonel se rooi baadjie, die opperbevel, geborgde ekspedisies met totale vryheid van beweging, afwesigheid van sy werk en sonder ’n woord van verslag? Kaptein Thibault kan sy bevelvoerder skaars verdra en noem hom ’n bedrieër. “Die man wil bewonder word. Hy is dronk van verwaandheid en dubbeld gefrustreerd. Selfs as natuurkundige is hy gefrustreerd. Omdat hy nie ’n rooi akademiese jas het nie, troos hy hom met die militêre rooi, en die bataljon weet dit.”
’n Veteraansoldaat met twintig jaar diens kry nege gulden die maand, maar hier loop Klein-Robert, van sy negende jaar al ’n vaandrig teen veertig gulden. En Pietertjie, net sewe en waaragtig kadet in pa se bataljon teen twaalf gulden. Wat kry die Kompanjie uit die kolonel se kinders?
Naby die deur gesels Goetz, die Raad se sekretaris, met Hofmeyr van Welgemeend en De Wet van Waterhof oor die welkome weer. “Winter is ongetwyfeld voor die deur.” “Beslis; dis nou bepaald hy dié.” “Is nooit anders nie. Ons het darem ook lank genoeg gewag.” Die Kaapse weer bind almal, elke lewe, elke dag. Môre, miskien vannag nog, sal dit reën; hy gaan oor ’n dag of twee hoor dat die boere aan die ploeg is, aanstaande jaar se brood is eindelik verseker.
Jan van Reenen van Ganze Craal en sy pa van De Brouwerij is hier, eners soos ’n tweeling in hul outydse swart dorp toe gekom vir die verpagting van die vleiskontrak. Jan sit ’n linneslopie op sy tafel. “Johanna stuur dié. Bietjie beskuit wat sy gebak het.”
“Sê dankie, Jan. Hoe gaan dit met haar?”
“Goed. Sy verwag weer. Jy moet kom kuier, kom kyk laas jaar se skaap uit die Kamdebo. Dra klaar broek en reg vir die mark.”
Die Kapenaars rook die kamer blou. Party bewonder sy fyn olielampe. Van Reenen bied tabak aan uit ’n sakkie van gestreepte molvel met ’n riempie toegeryg. Ander stop uit leersakkies beklee met Oosterse salempoeri, niniqua en bontgeblomde chintza (‘sis,’ sê die Kapenaar), wat met fyn silwerknippies sluit. Party verkies gegeurde snuif uit wit porseleindosies met blou patrone en silwerskarniertjies, ander het silwerdosies, soms met ’n familiewapen gegraveer; Kapenaars, selfs hul Edel Heer, is gek oor die vertoon van familiewapens. Hulle neem snuif met duim en wysvinger of skud dit uit in die holte op die handrug waar duim en pols ontmoet en asem dit in. Op die wyse wat jy snuif gebruik sal jy geoordeel word.
“Stop van myne, messieurs. Uit Amerika,” nooi skipper Duminy. Hy is ’n voorbok van die Vrymesselaars en jy wonder oor die lê van sy vingers in ’n handdruk, of hy dalk iets te kenne wil gee? Sigare, die beste Havana, opium uit Agter-Indië vir die pyne van maagkanker, tering en rumatiek? Gee die teken met die middelvinger op my gewrig. Een ons renosterhoring vir die ouer man? Tik die duim op die wysvinger se kneukel. Vanaand het hy keurgraad Virginies, in fransbrandewyn verouder, onverkrygbaar op die ope mark. Selfs met ’n vet beurs aan jou gordel moet jy ’n fiskaal óf ekwipasiemeester ken om daarvan te bekom.
“Lekker plekkie wat jy hier het, William,” kom sê swaer Frederik Kirsten, met ’n vol glas in die hand. “Goed geleë, op die dorp se hoek, naby jou werk en die kerk.”
Freddie is ’n welgeklede kêrel, dra die hoë Engelse kraag en krawat, praat ook graag Engels, hy het dit jonk geleer toe sy pa poshouer in Simonsbaai was en in sy ma se naam ’n losieshuis vir skepelinge aangehou het. Daar het Freddie ook van privaathandel geleer. Vroeër was hy Skelm Frikkie; vandag is hy onderkoopman Kirsten, eienaar van Veldhuijzen langs die grootpad by Wynberg, en elke poswa met vrag vir Simons Baaij rol gerieflik voor sy voordeur verby. Terwyl sy eie werkgewer in die handel kwyn, bedien Freddie die Engelse Kompanjie se nuwe driedekskepe. Engelse is nou veel vrygewiger met geskenke as vroeër en word sy gunsteling-besoekers in die baai. Hy maak hom diensbaar, kweek benewens hul taal ook enige Hindi-frases aan: Europeërs is topiwallahs, hoededraers, wasvrouens is dhobiwallahs, die kok, chowwallah. Die kêrel klim klaar uit die Kompanjie se sinkende skuit en maak hom diensbaar vir ’n nuwe baas.
“Alles aan oorlede pa te danke.”
“Seker die meeste werd van hierdie tuine. Jou kinders sal goed versorg wees.”
“Ek verkoop nie. Sê dít aan jou pa en jou suster.”
“Nee, nee. Dis nie wat ek bedoel nie. Ons wil natuurlik nie ’n skandaal hê nie.” Só sê swaer Freddie terwyl hy breed glimlag asof Saasveld reeds in sy familie is, en draai weg om boekhouer Baumgardt te groet, wat na rose ruik.
Skandaal; wat sy arme ma aangedoen is, hou hulle nog teen hom. Die klavier in die hoek is dertien jaar lank stil. Sy ma was een-en-sestig jaar oud, tien jaar al ’n weduwee. In haar huis het sy die aandag geniet van luitenant Hippolyte de St. Maurice, as dit sy regte naam was, ’n snuiter van twintig uit die huurregiment Luxembourg, met die aantreklike voorkoms (sy sjokoladekleur krullebol was met blou lint in sy nek gebind), die elegante houdings, sjarmante maniere en duurste uniform algaar tesaam in een persoon verenig, soos waarvan jy in Perrault se stories lees. St. Maurice het in haar geselskap (miskien) ook plesier gevind, en sy ma het haar plooie met poeier gekalfaat, voorgegee asof sy veel jonger is, rooi gebloos oor totaal niks en soos ’n kind gegiggel tot selfs die slawe verleë was.
Een middernag, terwyl die Kaapse dorp in die donker droom, moes haar koetsier haar, in haar oorlede man se diepblou mantel toegedraai, na kolonel De Huguenet se losie langs die Heerengracht neem, waar St. Maurice wag met Champagne-wyn, ’n halfdosyn lang glase en getuies.
De Huguenet het sy regimentele kapelaan laat haal: “Bevestig dié paar in die huwelik,” beveel hy met sy hooghartige, passievolle gesig. Die priester het verskoning gemaak; dit was tog onwettig, hulle is van verskillende gelowe. Maar sy ma het haar hand opgesteek om te sweer sy gaan dié oomblik oor na die enigste ware kerk. Dan gaan haal ek my soutane, formulier en wywater, het die priester gesê, maar hy het weggebly en kon nie weer gevind word nie.
Later die nag roep die Ratelwag twee vreemdelinge aan wat hul perde langs die donker straat lei.“Wie is julle? Waarvandaan? Wat is jul sake hier?”
Hulle was ordonnanse van die Stellenbosse landdros. Seur landdros het hulle met ’n tas dokumente gestuur. Barones Van Oudshoorn het hom per brief versoek om al haar bates, kontant, verwerkte goud en silwer, grondbriewe, slaweaktes, skuldbriewe en wissels wat in sy bewaring was, Kaap toe te stuur, om aan haar persoonlik by De Huguenet se huurhuis oorhandig te word. Die ordonnanse het die vet pakket by De Huguenet se voordeur gebring, sy het geteken en hulle het oorhandig, maar die Franse se vingers was te vinnig en die ordonnanse te stadig om te volg wat voor hul oë gebeur.
Die Ratelwag neem die ordonnanse na die Burgerwaghuis op Groenteplein om verklarings af te lê, en vóór hanekraai was die Fiskaal met afgevaardigdes van die Raad van Justisie in St. Maurice se losie. Die goud, silwer en kontant was klaar verdeel, maar die kosbare dokumente kon herwin word.
William, die voorsitter, het hom aan die verhoor onttrek. Sy ma het voor die hof verklaar dat sy niemand ooit so lief gehad het nie en alles moontlik sou doen om met St. Maurice te trou. Die Raad het haar persoonlike sake lewenslank onder voogdyskap geplaas; haar oudste seun was voortaan waard van haar boedel. Die Politieke Raad het ook sekere streng voorstelle aan die Luxembourgse bevelvoerder gemaak, sodat De Huguenet en St. Maurice met verlies van rang en soldy gedeporteer is.
Die goewerneursvrou se skandaal het die dorpenaars lank vermaak, selfs meer as die vroeër nuus dat haar seun en Geesje Kirsten uitmekaar is, ‘van tafel en bed geskei,’ soos hulle hier sê, asof eet en slaap die wonde aan sy siel veroorsaak het. Sy ma was toe al sestien jaar lank alleen, ses daarvan terwyl haar man in Nederland was, en tien jaar ’n