1795. Dan Sleigh
boeke en beleë rooiwyn. Op die ou end het sy pa kasteel Drakenburg ook gekoop, en hulle het ses jaar daar gebly.
William draai weer sy horlosie na die kers toe. Miskien is sy verlamming vanoggend ’n vorm van diepbegrawe vrees. Hy moet dit oorwin; hy moet opstaan en gaan werk, want alles hier is in gevaar. Die luiaard sê: Wag, lê nog, buite is ’n leeu in die strate. Spreuke van Salomo. Wees gerus, Kasteel de Goede Hoop, die Seelinie, Franse Linie en die kusbatterye se mure sal sterk genoeg staan. Bowenal sal die mense se moed hoog en onbuigsaam wees, die vyand sal hulle verenig vind, bereid om te veg. Of nie? Die De Wits behoort geïnterneer te word; hul huis aan die Heerengracht, vlak teenoor die Kasteel, is ’n tuiste vir vreemdelinge, ’n uitkykpos van die vyand en ’n skuiling vir spioene.
6
Hy voel koud en rol hom weer toe in sy soldatemantel, opgestop en deurgestik, gemaak vir marse deur diep sneeu, ysige wind. Wanneer hy koud is verlang hy na sy Neeltje, die vriendin van sy jeug, nou ’n skim op die agtergrond in sy gedagtes. Van die beste op God se groen aarde was sy, warm, goed en mooi. Op die koudste reëndag van sy derde winter in Leiden het hy sy dakkamer met sy toga en sy boeke onder sy arm binnegegaan en haar, ’n nuwe kamerbediende, gesien, besig om sy bed op te maak.
“Goeiedag.” Sy het voortgegaan om sy kussings op te skud, die holtes en bulte van sy verematras gelyk te maak. Sy stryk met haar hande oor sy bed. Het sy hom nie op die trap gehoor nie? Sy is ingedagte. Waaraan dink sy? Toe hy sy goed neersit, kyk sy om. Twee appelrooi wange, blou oë, liggeel hare onder die rand van haar blou kappie. Wes-Fries, so eg soos botter, soos room. Sy het regop gestaan en hom aangestaar, haar hand teen haar mond.
“Goeiemiddag. Ek is William van Oudshoorn.”
Sy het met ’n kniebuiging geantwoord, met haar oë neergeslaan. “Ja, edel heer.”
Hy het gelag. “Niks daarvan nie. Wat is jou naam?”
“Neeltje, edel heer.”
“Van?”
“Nêrens nie, edel heer.” Waarskynlik ’n vondeling, uit die weeshuis gehuur.
“Moenie ‘edel heer’ sê nie, Neeltje. Ek is ’n student. Kyk daar deur die venster, buite loop nog honderde ander. Hoe oud is jy?”
“Hulle weet nie. So sestien, sewentien, seker.”
“Aangename kennis. Gaan aan met jou werk, en ek gaan met myne voort.” Hy het sy stoel reggeskuif en sy boeke op die tafel oopgemaak. “Môre moet ek aan professor Voorda verduidelik waarom, of waarom nie, ’n Hottentot voor die wet aan ’n Christen gelyk is.”
“Ek glo nie dit sal gebeur nie, heer student. ’n Hottentot is arm en kan nie ’n prokureur bekostig nie.”
“Professor Voorda sal redeneer dat prokureurs pro Deo beskikbaar is.”
Sy herinner hom: “Maar die Kaap het geen prokureurs nie, net ’n Fiskaal. En die vraag is ook nie hoe ryk of gelyk jou mense is nie, maar hoe onpartydig die hof. Ek het gehoor hoe genadeloos Kaapse fiskale kan wees, mense soos Boers en Van Lynden. Ek ken Van Lynden, hy woon nou in Den Haag. Ek het ses maande in sy huis probeer uithou.”
Hy kan hom die ou man se hande, die ou vrou se giftige jaloesie, voorstel. En sy weet dat hy van die Kaap af kom, sy weet goed wie hy is. “Daar is wel uitsonderings. Ek kan voorbeelde noem. Verskeie.”
“Dit mag so wees, maar die aangeklaagde ly vandag, of môre, of gister. En daar is nog die saak van eie taal, en waardigheid voor die hof, en vooroordeel.”
Hy het Huig de Groot, die Corpus Iuris Civilis en De Damhouder se Praxis Rerum probeer lees en aantekeninge gemaak en sy het die bed opgemaak, alles afgestof en die vloer gevee, maar haar teenwoordigheid, haar warmte, die blou van haar oë het sy aandag oorwin. Hy het meer en meer na haar omgekyk, hulle het met mekaar gepraat en hul asems het teen die koue ruite en sy spieël aangeslaan. Die volgende dag het hy haar gehelp om die bed op te maak, en na ’n paar dae het hulle dit nie meer opgemaak nie. Sy vensters was gedurig vaal verwasem, druppels het stadig teen die glas af na die vensterbank en die vloer geloop, en die bed het warm en onopgemaak gebly.
Die natuur het hulle vir mekaar gegee, nou wou hy vir hom en haar vryheid hê. Hy wou nie wag tot die waardin haar beskuldig of oor haar werk aanmaan nie, hy wou sy sieraad besit en saamneem Kaap toe. Hulle is voor die stadsklerk van Leiden getroud, in die stadhuis met die roepstoel, in Breestraat, en het aan die sonkant van Pieterskerk in ’n huurhuisie gewoon, armer as ander studente, want twee moes nou uit sy toelae leef. Hy het haar Kaneeltje genoem omdat sy lekker ruik en sy het hom Wil genoem.
“Ons gaan nog twee jaar lank swaar kry, Kaneeltje, want ek moet die graad behaal, dit is my lisensie om te werk. Ek wil nie op my pa se erfgoed bestaan nie, dat ek nie deur ander verwens of beny word nie. Ek wil vry wees daarvan. Ek sal jou nie in die steek laat nie, maar ons gaan vereers arm wees.”
“Waar ’n Wil is, is ’n weg,” sê sy. “Ek wil graag my werk by die losieshuis hou.”
Alles wat hy doen, gedoen het en nog wou doen was sodat sy makliker kan leef, en sy sê daarvoor dankie terwyl hulle met ’n mandjie langs die bevrore Raapenburg mark toe loop, dankie as portiers van die turfskip op die grag donkerbruin sooie met hul draagbaar by die deur indra en langs die herd pak, dankie terwyl hulle ’n gerookte paling uit Volendam eet. Haar vel was warm en sag, so soet soos room. Na ’n paar maande was sy swanger, nog ’n paar maande en sy en hul seun is in haar kraambed dood. Sy sal nooit oud word nie, het sy pa gesê, sy is die ouderdom gespaar. Die vroedvrou het gesê: Dis wat gebeur as groot mans klein vrouens trou. Hy het haar ring aan haar vinger gelaat en haar en hul kind in een kis in die herekelder op sy pa se landgoed Drakenburg weggelê. Twintig jaar gelede, nou.
Wat te skielik weggeneem is en weg gebly het, was die gloed van haar lyf, haar sysagte vel, die gelukkige sug, die glimlag, die klem van haar arms, die saamlag soos hane wat kraai, die fluweelsag slaap met haar in sy arm of met haar hand in syne. Wat ook weg is, was haar blomme in die sonlig agter die raam en in die stukkie aarde teen die Raapenburg; haar tuintjie, tulpe in erdepotte, het van skok versterf.
Hy weet nie hoe om kos te maak nie en wou nie eet nie. Hy het soos ’n matroos op brood, soutvis en bier geleef. Soms was daar ’n stuk kaas en ’n beker wyn, maar die herd het koud gebly, die huis muf met stof in die hoeke, ys teen die ruite, die tafel kaal, die mure klam en die kos soos as in sy mond. Saans het hy hom toegedraai en gaan stap, ver van sy huis af weg.
Soos ’n kind was hy bang om alleen te slaap. Hy loop met sy hande in diep jassakke langs die bevrore Raapenburgse grag, met die brug oor die Galgewater waar skaatsers op maanligaande laggend in pare draai. Klasmaats trek aan sy arm, roep en bied ’n fles aan. Daar is musiek, vrolike vure en geroosterde kastaiings, en ’n geel volmaan wat haas deur hoë wolke. Teen dié tyd loop sy trane. Hy vlug weg, in die maanskaduwee langs die stadsmuur, deur die Wittepoort, die donker in, weg uit die stad. Hy loop ver met die trekpad langs die wasemende Vliet, in Delft se rigting, myle en myle ver, tot Voorschoten se honde aan die regterhand blaf en hy die skout met sy lantern deur die mistigheid herken. Die koue laat hom omdraai. Die Galgewater is verlate en hy kruip soos die verlore seun terug deur die Singels, na Raapenburg en Pieterskerk toe. En hy sluit oop, loop die donker in. Hy stoot sy boeke weg en slaap by sy tafel met sy kop op sy arms tot hy van die koue wakker word.
Hy kan nie studeer nie, sy belangstelling daarin is dood. Waarom De Damhouder memoriseer? Sy was nie meer hier nie en weet nie waarmee hy besig is nie, daarom is niks wat hy doen nodig nie. Alles het doelloos geword. Waarom doen hy hier moeite, waarom daar ’n hoek van die eettafel dek? Hy weet nie. Sy is oorlede. Waarom trek hy dié skoon hemp aan? Hy weet nie. Hy het gehuil as hy aan die slaap raak, gehuil as hy wakker word. Hy glo hy hoor haar asemhaling langs hom en luister, maar dit is nie daar nie. Hy droom dat sy hom besoek en hulle sit langs mekaar; albei weet dat sy lank weg was maar noem dit nie, dis ’n stille ooreenkoms. Sy sê nie waar sy was nie en hy durf nie vra nie, want albei weet waar sy is. Sy is dood. As hy dit sou sê, moet hy erken dat hy droom en dan hou dit op en verdwyn sy. En hy weet hoe min oor is van die droom voor hy moet wakker word, daarom vertel hy haar liewer wat hy in die biblioteek gelees