1795. Dan Sleigh
Du Toits, Du Preezs en Du Plooys, hul slawe en hul agterkleinkinders. Hy ontmoet op papier elke gewese goewerneur, kommandeur, kaptein en kommissaris wat hier beleid kom neerlê het. Naas soet óf bloedige liefdesverhale kry jy staalharde beleidstukke: ‘Men moet dan de Caap de Goede Hoop considereeren als een frontier en het Casteel als een plaats dewelcke dagelijck in het gevaar van een vijandt staande, van niemandt dan van sijn eijgen hulpe en sterckte affhangt.’
Met dié woorde het sy oorgrootoom, kommissaris-generaal Hendrik van Reede, in 1685 die saak aan die ouer Van der Stel uitgelê. Om die Kaap te beskou as ’n aktiewe, vyandige grensgebied, ’n kookpot van pogings en onrus waarin alleen die Kompanjie se belange bedien en beskerm sal word, het tot vandag beleid gebly.
Hy leer uit die Dagregisters die Kaapse weer in verskillende seisoene, die groente en graan wat elke jaargety lewer, die tye van sonop en sononder deur die jaar. Hy leer die rykdom van die land en ontdek die oorsake van die inboorlinge se fatale agteruitgang. Hy ontdek ook die geboorte van sy dorp, hoe dit tot die kern van ’n nuwe kolonie ontwikkel en mettertyd blom. Op kaarte en planne in die sekretariaat volg hy die dorp se groei. Hy ken elke kaart se datum, elke tekenaar se handtekening, van Potter uit Van Riebeeck se tyd tot Jones en Thibault tans. Hy ken die uitleg, die aanlê van nuwe strate, die intensiewe ontwikkeling van die Kompanjiestuin voor nóg vier verdere tuine aangeplant moes word om die invloed van seisoene en afhanklikheid van goeie reën te oorkom. Hy weet waarom die strand verbreed en die kaai gereeld verleng moet word: Dis vandat die duine aan die suidoostekant vir brandhout gestroop is. Van tóé af waai sluiers wit sand somers deur die dorp en trek die hoogwaterlyn jaarliks een tree terug, sewentig tree in sewentig jaar.
Uit natuurlike behoefte, dalk oor sy herinnering aan Neeltje, trou hy hier in een van die welvarendste families, ’n geslag van regeringsamptenare wat uit privaathandel ryk geword het. Hy het nie vir geld getrou nie; dit is onwys, trou jy vir geld, trou jy in die skoonfamilie se noodlot in, en hulle lê vir jou ’n weg neer. Hy moes werk. Vrou en kinders is gyselaars en jy moet hulle daagliks loskoop, dié las en plig ken ’n enkelman nie.
Maar geen dag, geen nag daarna was soos met Neeltje nie. Het hy verwag dat dit dieselfde sou wees? Hy het ’n fout gemaak, daar. Miskien het sulke ervarings hom ouer as sy jare gemaak, met min vriende, kaste vol boeke, afwesige kinders, en stilte.
Hy het met verdrag ontdek dat sy vrou, Geesje Kirsten, nie met haar jare ook wysheid kry nie. Sy het nooit skoolgegaan nie en geen ander ambisie of kuns geken as om ’n man te soek nie. In sy geërfde titels was sy teleurgesteld, sy het dit met lakeie, drastoele en pantoffels van satyn verbind en hy het sulke dinge vermy. Op die sosiale leer het sy ook geen duim gevorder nie, sy het na status gestreef, vir hom was status onsin. Dít was nie soos sy haar die lewe in feëverhale voorgestel het nie, waar alles sorgloos, kwistig is. Toe voel sy mislei, gekrenk, te kort gedoen.
Geesje moes vóór in die mode wees, in kleding, meubels, onthaal, aanbidding. Sy het graag volgens die mode aangetrek, met hoë pruike, groot hoede en uitermate wye hoepelrokke, ’n gevangene van al haar klere, waarby sy elke ring gedra het wat sy besit.
Hy kon haar nie gelukkig maak nie. Sy hou aan om hom Van Oudshoorn te noem, selfs wanneer hulle intiem is. Sy besluit dat Van Oudshoorn lui en sonder ambisie is en sy stel ’n afstand tussen hulle. Haar geselskap, soos die Fiskaal s’n, was morbied: ‘Jy’s met jou Kompanjie getroud. Wat gaan hulle vir jou doen? Sorg liewer vir jouself.’ Omdat hy nie aspireer tot vennootskap in ’n smokkelmaatskappy soos Kirsten en Seuns of Cruywagen en Kie nie, noem sy hom ’n luiaard, sonder ambisie. Asseblief, Geesje, vra hy.
Sy huis is steeds nie in orde nie; hy was te besig om brood te vind vir die dorp en garnisoen wat op hom vertrou. Hy moet aandag aan sy kinders gee; hy sien hulle selde en ken hulle skaars. Hulle bly soms by grootvader Kirsten op Alphen, agter die Wynberg. Sy oudste, sy erfgenaam en opvolger, moet binnekort oorsee, hoërskool toe.
Skoonvader Kirsten het die hof gevra dat hy nie by die kinders toegelaat word nie, want hy is ’n slegte invloed. Die Raad het geweier. Kleindag was hulle al skril kinders. Pieter is nou twaalf en baklei graag met almal jonger as hy. Hendrik is tien, slim met syfers, hy huiwer nie om geld te vra nie. Die laaste Sondag van ’n maand kom laai Kirsten se koetsier hulle in Oranjestraat af. Teen hul sin gebring, of wou hulle kom kuier? Oor die eettafel word skaars gepraat. Hulle is erg oor kos, nuwe klere (Pa moet vir Ma die geld gee) en soek graag soetgoed. Hulle moet nog leer om nagereg en goedkoop wyn te weier. Flora bederf hulle maar Geduld wil nie maats maak nie, hulle wil nie saam met hom see toe loop nie. Hy probeer met hulle oor die Kaapse geskiedenis praat, en hulle wil hom by die eettafel vertel wat die voorleser sê, van hul oupa se slaaf gevang met ’n holgeslypte wingerdmes in die daklatte versteek en nou aan sy kruiwa geketting. Cupido sê dít, September sê dát. Maart het dagga gelos toe slaan sy longe toe. Nooit ’n oorspronklike gedagte nie. Vir hul vermaak sprinkel hy sout in die kersvlam, of maak skaduwees van ’n bok, ’n skoenlapper en ’n eend wat sy bek oop en toe maak teen die muur. Hy hou nie van die kinders se geselskap nie. Hulle groei te stadig. Hulle wil nie lees nie. Hul hare is te lank. Het sy pa van hóm gehou? Dit is van geen belang nie, sy pa het gebruik wat daar was. As daar enige murg in hulle is, sal hulle self regkom. Odusseus het twee seuns by Kalipso gehad en hulle by haar gelaat.
Die plase van Wynberg en Constantia se vlakte is ryk aan alles wat leërs benodig en soldate kan begeer. Alphen kan môre ’n rokende slagveld wees. Hy moet ’n boodskap stuur, dat die seuns op Stellenbosch bly.
Maar dié dorp eerste; hier loop ’n leeu in die strate. Hy sal dominee Serrurier vra waar in die Bybel dit staan, en die spreuk gebruik om die Pennisten te bemoedig. Wat ’n nag, wat ’n nagmerrie, en dit gaan aanhou, môre en die dae daarna. Nou moet hy lig maak, skeer en waswater kook, koffie maak, ’n eier kook, terwyl die nuwe winter buite teen sy ruite kom fluister van kort dae, muwwe graan en klam kruit. Geduld en Flora sal later die huis oopmaak, die koei melk, die nodige op die werf doen.
William staan op. Hy loop met sy lang nagjurk en kers kombuis toe; daar is lewende kole in die doofpot, Flora het tontelgoed langsaan reggesit. Hy blaas ’n vuur aan en hang water oor en geniet die vuur se warmte op dié koue, donker oggend. Terwyl hy ingedagte sy skeermes oor die strop slyp word sy ruite donker soos die kaal boomtakke buite in die vroeë lig beweeg. Donderweer dreun naby, soos swaargeskut. Met die oorgang van somer na winter hoor jy hier soms ’n paar harde slae, anders nooit. Maar die natuur is vanjaar verward; dis laat in die jaar vir donderweer.
Hy weet die garnisoen is gereed, die kanonne op die Linie lê lankal en wag om gebruik te word. Die vyand is voor die poort, die geveg om huis en haard begin vandag. Eerstens, ál sy aandag aan die verdediging van die dorp. Hy kyk, skeermes in die hand, in sy spieël.
8
Goue lig flits voor sy venster; hy skrik en ruk die gordyn toe. ’n Rammelende stem dreun soos drie hamerslae op die dak: Datta! Dayadhvam! Damyata!
Sonderling.
Soos die aand na sy pa se begrafnis; hy en hadji Sadulla het agter die huis, onder die prieel voor die stal gewag. In Saasveld se kersverligte voorkamer was ’n viering. Was hulle bly dat sy pa oorlede is? Hulle was soos vreemdelinge vir hom. Wens hulle mekaar geluk, bespreek hulle elkeen se erfporsie? Die geraas daar binne moet om middernag ophou wanneer die Sabbat begin; die Kerk verwag dit. Die hemel het ná sononder uit die ooste toegetrek, swart wolke het ingerol; wit weerlig kraak oor die dorp, donder ruk en skud die grond onder hulle. Dit was warm; groot druppels het geklap op die laaste van die herfsblare, rooi en swart in die werf se fakkellig.
“Hoor wat die swareweer sê, Willie,” sê Sadulla. “Datta. Dayadhvam. Damyata. Gee. Troos. Bestuur. God wil dit.”
Hy probeer dit memoriseer. “Watter taal?”
Die taal is Hindi. Sadulla herhaal met ontsag: “Gee aan die armes. Troos die bedroefde. Bestuur, sodat almal oorleef.”
Met die kers in een hand en sy sakhorlosie in die ander leun hy oor die pot op die herdvuur en hou twee ganseiers dop wat in kokende water dans. Orde en beheer neem skepe oorsee, hou die gesin bymekaar, bestuur die kantoor en laat die boeke klop, dit hou die gragte skoon en die dorp gesond.
William dink aan die dorp