1795. Dan Sleigh
hulle kan nie. Die Kaap behoort nie aan prins Willem nie, sy brief dra geen gesag hier nie. Verstaan die Prins wat hy verlang? Hulle het dit gisteraand met ’n meerderheid van stemme van die hand gewys. Sluysken het geglimlag en nie gestem nie.
Met die sekretaris terug agter sy pluim, stuur Sluysken die brief aan Goetz. “Kopieer dit in jou notule, George, en laat roep vir ons die matroos.”
Die blou offisier, blykbaar aan klein kajuitdeure gewoond, kom sywaarts gedraai en effens gebuk, met sy hoed onder die arm deur die wye opening binne. Hy trek hom op aandag binne die deur.
“Goeiemôre, here.”
William sê: “Goeiemôre, luitenant.” Twee of drie lede knik, Kaapsgewys. Gordon frons die offisier intimiderend toe, dis ’n saak van rang, van etiket. Hulle is albei in uniform; waarom salueer die man hom nie? Veegezak kyk twee maal, verwonderd. Wat pla hulle?
“Kom sit, meneer Veresak. Welkom hier by ons.”
“Veegezak, eerste luitenant van die fregat Medenblik.” Dis ’n Texelse stem, die familie Veegezak het geslagte lank ’n intieme verhouding met die Noordsee. Hy trek ’n swaar vierkantige kerkstoel van Birmese kiaat aan die onderpunt van die tafel uit, pas sy swaardskede langs sy been onder die tafel en sy blou hoed met goue omboorsel op die blad voor hom; hy draai dit dat die punt langs die tafel se middellyn wys.
Voorsitter Sluysken kyk af na sy papier. “Veegezak. Ja. Wat het daar gebeur?” Oor Veegezak se skouer sien William deur die venster die vrou met ’n donker mantel op die pui buite die deur. Haar gesig is weggedraai, sy loop die trappies af, die seun by haar se kop hang vooroor. Waarom word sy weggestuur?
Die luitenant sit regop, met sy arms gevou. “Die poshouer by Muysenburg het laatmiddag laat weet van skepe buite die baai: Sy uitkyker op die piek sien ver, die baai uit. Ons het gewag om te hoor of die vloot miskien sal verbyloop, Indië toe, maar toe sein die battery op die suidhoek en hys ’n Franse vlag. Dus, vyande, so ver as wat ons weet. Kaptein Dekker het gesê om gereed te maak. Ons het kanonspanne gemonster, geskut uitgerol en gelaai, met vuur en water gereed by elke stuk. Die uitkyker in ons voorbram is elke halfuur afgelos. Ons het gereed gebly tot eerste platvoetwag, toe kom hulle die baai in linie binne, op ’n loef van die oorkantse wal af, met ’n noordwestewind reg van voor. Nege oorlogskepe, met Franse vlae en wimpels. Pragtig om te sien.” Hulle hoor die spontane waardering in sy stem.
“Hou jou rede,” vra Sluysken. Hier is nou ’n probleem wat ook in die vaderland pla, dat sommige Hollanders vir die Fransman party trek. “Wat was pragtig om te sien? Weet jou skipper dat Brittanje ons bondgenoot is in die oorlog teen die Franse?”
“Ek praat van die aandson op die seile. Bloedrooi teen die berg anderkant die baai. Ek was in die voorbram om die uitkyker se verkyker te gebruik. Wat ’n gesig, sê ek vir die seun.”
“Ja,” knik Sluysken. “Vreemd rooi. Ja, vreemd. Ek moet jou vertel, Veresak: Ons het in Februarie ’n brief van die Kompanjie se advokaat gekry, dat die vaderland moontlik van alliansie kan verander. Met ander woorde, ’n nuwe regering kan dalk die Franse in Nederland verwelkom. Waarom? Oor wat die Franse gaan saambring, niks minder nie as ’n valbyl op ’n wa en hul leuse van Vryheid, Gelykheid en Broederskap. Weet jy wat dit beteken? Die einde van Oranjehuis, van ons land se onafhanklikheid, die Protestantse Kerk en ons eie regstelsel. Die slawe vrygestel. Alles wat in ’72 behou is, staan ons nou te verloor. ’n Werklike probleem. Advokaat Guepin waarsku ons teen ’n verrassing.”
Veegezak frons en sit twee bruin vuiste op die tafel, die breedte van sy hoed uitmekaar. “Kaptein Dekker weet daarvan. Maar jou verrassing, dié was skielik daar, as ek nie die seun se nekband gegryp het nie het hy uit die mas geval. Toe hulle bydraai om te anker, gaan waaragtig op elke skip ’n Engelse vlag in die grootbramtop oop, net soos ’n blom, en die Franse een gly dek toe.” Hy ruk een groot hand skielik na regs. “Net so.”
Goetz strooi uitdrukkingloos sand oor sy geskrif. Gordon grinnik, dit lyk of hy Veegezak se vertelling geniet. “Hoe sterk is die vloot?” Die probleem waarna Sluysken verwys het, is hier om hul tafel teenwoordig: Party ondersteun Oranje, die meeste gee nie om nie; Gordon is ’n Oranjeman, hy skuld die Prins diens vir gunste.
“Drie 74’s, drie 64’s, ’n fregat van 24 en twee sloepe, ’n 18 en ’n 16.”
“Daar het jy dit,” glimlag die kolonel en wys geel tande. “Ons kan gerus wees.” Hy bedoel dat die Engelse vyfhonderd kanonne gebring het; Simonsbaai het net twee batterye van vier twaalfponders elk en moet liewer stil-stil oorgee. Dié gedagte is veragtelik, luitenant Veegezak maak of hy dit nie hoor nie. Die tafel voor hom word ’n skip en hy seil weg; hy soek ontvlugting in beelde van hoë maste wat met die deining kantel, van ra’s nat en glad van die eerste aanddou, gebondelde seile wat in die wind ruk en klap sodat swaar talies rondvlieg en dreig om jou harsings uit te slaan, ’n wiegende dek onsigbaar ver onder sy voetsole en deur verdonkerende seile versluier, dít alles swem voor sy oë. A, dan is ’n offisier ver, ver van sy skipper se stem. Moenie ondertoe kyk nie, sê hy aan hooglopers, kyk vorentoe, laat jou voete die voelwerk doen.
“Skipper het my ondertoe geroep: ‘Veegezak,’ sê hy (die luitenant benadruk sy naam), ‘dis geen eenvoudige saak dié nie. Jy verstaan Engels. Neem die jol, gaan hoor wat hulle soek. Stel die gewone vrae, watter skepe, waarvandaan en waarheen, wie’s admiraal? Gebruik jou gesonde verstand. As hulle net verversing soek, dan’s dit in orde. Neem hierdie blou doek, dis nie rooi óf wit nie, verstaan? So gou as als eerlik lyk, loop na die lykant en waai daarmee in ons rigting. Ons seiner hou jou in die verkyker en ek sal antwoord met ’n landsvlag aan die besaanpiek.’”
“Die afloop?” vra Sluysken stil, sy sagte vingerpunte rus teenmekaar.
“Hulle is ’n lelike klomp moederskinders en ag ons nasie nie die minste nie. Om by hulle hoogstes te kom was moeilik. Ek moes antwoorde hê, en al wat ek had is dié uniform. Ek is van een na die ander gestuur op die vlagskip, niemand wil gesig laat sien nie. Van die kwartiermeester by die valreep na die wagoffisier met verkyker onder die arm, van daar na die skipper in sy kajuit, en terug na die wagoffisier. Die admiraal het nie verskyn nie.”
“So?” vra Sluysken.
“Wagskip, sê ek. Waarvandaan? Portsmouth en Southampton. Waarheen? Die Kaap. Jul admiraal? Elphinstone. Doel? Toe laat hy my na die kajuit neem. Daar sit sy skipper met ’n brief voor hom. ‘Teken hier en gee dit aan jou kaptein, dis vir die Kaapse goewerneur,’ sê hy.” Veegezak wys na die tafel voor sekretaris Goetz. “Ek sien hom lê, daar.”
“Weet jy wat hierin staan?”
“Kaptein Dekker het dit oopgemaak.”
“Hoe is jul offisiere in die politiek gesind?”
“Offisiere is meesal Oranje. Die volk is verdeel, Oranje en Patriots. Hulle vloek op mekaar en slaan vuis ook. Ons skipper laat dertig houe gee sonder om kant te kies. Gedra julle só dat die vyand nie ’n enkele maaltyd aan wal te eet kry nie, sê hy. Wie is ons vyand, vra hulle, die Fransman of die Engelse? (Veegezak trek sy skouers op.) In vredestyd die een wat eise aan jul gewete stel, maar as die skietery begin, doen jy jou plig en kyk waarheen jou offisier sy swaard wys; volg hom en skiet raak.”
William se hart word warm vir die luitenant.
“Nou, Veresak,” sê die Edel Heer. “Het jy met die doek gewaai?”
“Nee. Hulle was onder die indruk dat julle hier al van die nuwe bondgenootskap met Frankryk weet. Waarom anders vals vlae?”
“Is daar nou ’n Hollandse bondgenootskap met Frankryk?”
“Ek lei dit van hul gedrag af. Skipper Dekker sê ons moet Engelse as vyande beskou.”
“Dankie vir jou moeite, en bedank jou skipper.” Sluysken sien dat Veegezak, miskien in ongeduld, sy twee vuiste oopmaak en sy hande op hulle kante gekeer op die tafel plaas, duime na bo. Hy lig sy ooglede. “Ja, is daar nog wat?”
Die luitenant kap die tafel met sy regterhand. “My naam is Veegezak. Maar wat meer is: Pas op; hierdie mense is ver van die huis af en gee vir geen duiwel