1795. Dan Sleigh

1795 - Dan Sleigh


Скачать книгу
gebring. Hy sal nie met leë hande huis toe gaan nie. Die oorlog in Europa het gisteraand Kaap toe gekom en julle gaan kruit ruik. En nog iets: In Simonsbaai lê twee Kompanjieskepe vir die Ooste bestem. Maak klaar dat hulle môre sáám met ons uitloop, of jy gaan hulle kwyt wees.”

      “Dankie, meneer Veegezak. Die Raad sal daaroor besluit. Het jy vervoer terug?”

      “Luitenant Veegezak. Ek gaan met die poswa terug.” Hy kyk in die raadsaal rond voor hy opstaan en weer die skede langs sy been pas, en tel sy hoed op. “Dit lyk vir my na ’n skaflike kasteel, dié. As julle nie wil baklei nie, pak maar jul breekgoed weg, want die Engelsman moet die plek hê. En hoe kry julle dit weer teruggevat?” Hy wys oor die tafel. “Dit sê nie op daardie papiertjie nie.”

      “My komplimente aan jou skipper,” sê Sluysken.

      Om by die wye deur uit te gaan, draai Veegezak hom weer sywaarts, met sy swaard teen sy broekspyp gehou. Toe die droë slaaf die deur toemaak, keer Sluysken hom na links: “Nou, jou advies, Robert?”

      Gordon knik tevrede. “My plig is gelukkig duidelik. Die Prins se bevel is om ons Engelse vriende te ontvang soos ons in ’81 die Franse huurtroepe ontvang het. Ek glo hierdie matroos moes die sein met die doek gegee het. Ek beveel ’n onderhandelde skikking aan, dat ons met sir George Elphinstone skik dat hulle die Kaap vir die Prins sal bewaar, maar dat die Britte onder Edel Heer sal bly ressorteer en ons eie regering in beheer bly. Hulle sal tevrede wees.”

      “’n Sir, nè? Waar hoor jy? Jy noem drie eise, die verskil is dat die Prins nie die huurtroepe van ’81 gestuur het nie, maar ons eie Direkteure. Die Prins is die grootste aandeelhouer, die sogenaamde hoofpartisipant. Nogtans het hy geen uitvoerende mag gekry nie. Jy, Christoffel?”

      Poshouer Brand neem snuif, bedien met duim en wysvinger een harige neusgat na die ander, nies drie maal luidrugtig in ’n geruite sakdoek en vee sy neus af. “Ek stem, eenparig. Ek kon dit self nie beter gesê het nie.” Sluysken frons, De Wet frons, Van Ryneveld frons. Om te nies is swak fatsoen.

      William wag nie langer op ’n beurt nie; dis asof Hardy en Mackenzie van die middernagtelike vergadering self hier sit en onsin praat. “Heer voorsitter, die tyd vang ons onvoorbereid. Ons weet nie wat die toestand in Nederland is nie. Ek glo ons moet die allerbeste verdediging voorberei, en in beheer bly tot ons weet wat in Nederland aangaan en wat van ons hier verwag word. Tweedens: Die brief kom van ’n vlugteling in die buiteland. Het hy gevlug omdat sy volk die Franse verwelkom het? Sy brief, as die handtekening eg is, is nie deur die State-Generaal bekragtig nie en ons weet dat hulle, nie die Prins nie, ons vaste regering is. Hy het geen eis hier te stel nie en Engeland sal geen vloot stuur uit liefde vir prins Willem nie, hul saak is alleen eiebelang. Hul aanval kan oorland uit Simonsbaai kom óf hulle kan die vloot hier na Tafelbaai toe bring en ons dorp bombardeer. My gevoel is dat hulle ons sterk kusbatterye en die winterweer gaan ontsien, met ander woorde, dat kolonel Gordon se troepe op land getoets gaan word. Ons wagwoord moet ‘paraatheid’ wees. Laat ons vroegtydig moontlike slagvelde bepaal en vooruit ons aksie beplan.”

      “Die bevelvoerder en krygsraad sal dit doen,” sê Gordon. “Ons het nie hulp nodig nie.”

      “Wat is jou plan? Ek wil nie soos ’n skaap staan deur wolwe omring nie. Vertel ons jou plan van aanval.”

      Jong Bergh vra: “Hoe weet ons dat ’n meerderheid Nederlanders nie die Franse verwelkom het en dat die State-Generaal nie die stadhouersamp afgeskaf het nie? Met ander woorde, dat daar wel ’n wettige owerheid bestaan en dat die Engelse ons met opset belieg?”

      Die voorsitter ignoreer Bergh se onverwagte bydrae. “’n Voorstel van William. Dié daarvoor?” Die voorsitter kyk om die tafel. “Daarteen? Twee. Skryf dit dan, George. Ons stuur ’n kommissie so ver as Simonsbaai om die situasie te ondersoek en aan die Raad bekend te maak. Sal jy gaan, William?”

      “Graag. Getal skepe, bemanning en kanonne, getal soldate aan hulle kant en wat ons daarteen in die veld kan stoot. Die toestand van ons batterye en hul toerusting, die gereedheid van ons volk. Die beste plek, tyd en wyse vir ons aanval.”

      “Dit kan ek jou sê,” verdedig Gordon. “Een plek is so sleg soos die ander. Wat wil jy weet?”

      “Jy het ’n onderhandelde skikking voorgestel.” William glimlag stil na die voorsitter. “Ons het net huurtroepe en burgers; u weet dat Machiavelli bevelvoerders waarsku om nie net op huurtroepe te vertrou nie.”

      “Almal is huurtroepe,” kla Gordon, fronsend. “Dis wat ons is. Ek is ’n huurling.”

      Die Fiskaal sê, met snuif op sy duimnael: “Daar is veel in Machiavelli wat nie goed is om te weet nie. Vele slinkse sygange. Hy is berug daarvoor.” Machiavelli word dikwels aangehaal, dink William, en selde gelees.

      “Wie is dié waarvan hulle praat?” fluister Le Sueur aan De Wet.

      “’n Paapsgesinde van die outyd. Het ’n boek geskryf.”

      “William, die Kaap word al ’n eeu en ’n half deur huurtroepe verdedig.”

      “Daar is nooit geveg nie, heer voorsitter, behalwe teen inboorlinge. Dan was daar burgers vooraan.”

      “Kom na die hede. Ons moet aanwend wat ons het.”

      “Wat die Raad dadelik moet weet, kommissaris, is die houding van ons personeel en van ons twaalfduisend slawe, die toestand van ons fortifikasies, ons landingsbote, ons groentetuine, ons watervoorraad in Simonsbaai en die toestand van boerderye in daardie omgewing. Dan kan die Raad dáárvolgens besluite neem en optree.”

      “Dié kan ek jou ook vertel,” sê Brand. “Ek kan hom dit alles sê, Edel Heer.”

      “Ek betwyfel dit nie, Christoffel. Wat dink die invaller van ons situasie, kan jy dit sê?” Brand sal nie gou weer sy mond oopmaak nie. “William?”

      Hy tel op twee vingerpunte: “Die aard van die terrein van Simonsbaai tot Muysenburg, van daar tot Wynberg, van Wynberg af tot hier. Waar veg ons met veldkanonne, waar met voetsoldate, waar met ruitery, waar met skerpskutters, waar met houwitsers.” Dit is almal punte wat Machiavelli sterk beklemtoon.

      “Wat is hierdie houwitsers?” fluister Le Sueur aan De Wet. De Wet leun nader en fluister: “Bergkanonne, dink ek.”

      “My sake alleen,” sê Gordon, maar Sluysken lig sy ooglede.

      “Nee, vir my om te besluit. Wat sê Machiavelli, William?”

      “‘Vergeet van die weer, moeite en koste. Kom eerste daar met die meeste mense, skiet eerste, skiet die vinnigste, skiet laaste, skiet om te dood. Mislei en verras hulle, val aan, gee hulle geen kans om te herstel nie. Wis hulle uit voor hulle versterk word.’”

      “Wie wil jy saam hê, William?”

      “’n Aktiewe burgeroffisier soos kaptein Van Reenen. En ingenieur Thibault.”

      “Goed,” sê die voorsitter en krap sy naam onderaan nog ’n dokument. “Neem tog die liewe Taaibolt hier weg. Versamel vir ons die inligting.”

      “Nog iets: Veegezak het van die uitvarende skepe gepraat. Dit is Geertruida en Willemstad.”

      “Hulle sal voorsien word. Goed so, Olof, Johannes?” De Wet en Le Sueur knik sonder om na die voorsitter te kyk. Hul seebriewe lê wag al op sy tafel.

      “Ek sou graag twee posduiwe saamneem. Is posduiwe die pad geleer, van Simonsbaai tot hier?” Hy draai na Brand: “Hou jy duiwe aan?”

      “Waarom?”

      “Van Simonsbaai tot hier is sewe uur te voet vir ’n boodskapper. ’n Posduif neem ’n halfuur.”

      Almal kyk na Gordon, wat ’n ontevrede gesig van een na die ander draai.

      “Jy herinner my so aan jou oorlede vader, William,” droom raadslid Le Sueur aan sy linkerkant; dit is die ou man se totale bydrae tot die dringende verdediging van die Kaap. Le Sueur en De Wet, huisvriende en albei daarvoor lief om ge-edel-heer te word, stem al lank saam met wat die ander sê.


Скачать книгу