1795. Dan Sleigh

1795 - Dan Sleigh


Скачать книгу
geword?

      Die deurwag skuifel op klikkende kaparrings agter die stoele verby, buk by Sluysken met ’n brief op ’n skinkbord. Die voorsitter sit sy bril op om te lees. “Heer Ross van die Britse vloot vra oudiënsie. Dis generaal Craig se sekretaris. Ek en kolonel Gordon word na die vlagskip genooi, of Robert alleen as ek nie kan gaan nie. Hulle gaan nou te ver. Skryf so, George: Antwoord dat die Raad oudiënsie weier; sê ons word albei hier benodig. Skryf ’n pas vir ’n ligte rytuig aan die stalmeester, vir ’n tog Simonsbaai toe môre vroeg. Robert, stuur vir majoor De Lille met tweehonderd voetsoldate en honderd kanonniers daarheen. Christoffel, kyk dat hulle daar gehuisves en voorsien word.” En weer aan Gordon: “En kom asseblief ná die middag vir ’n bespreking van die dorp en baai se verdediging en bring jou majoor van artillerie en die ekwipasiemeester saam.”

      Oë draai na die kolonel. Gordon haat dit om beveel te word; dit is welbekend. Hy vind dit verkeerd en irriterend dat ’n ander hom insake sy soldate beveel. Hy het dié moeilike saak herhaaldelik aan die Raad probeer verduidelik: Die Prins het aan hóm bevel oor die garnisoen gegee, maar kommissaris Sluysken eien hom gedurig die opperbevel toe. Dit kan ’n onheil afgee as die twee teen mekaar begin werk. Gordon staan op, trek sy rooi baadjie reg, buig styf van die heupe af en gryns; die goue verf van sy epoulette glim en sy sabelkoppel rinkel toe hy van die lig wegdraai.

      “William, kom jy ook,” sê die kommissaris.

      Thibault en Van Reenen, twee eersteklas koppe. Hulle kan die perfekte aanvalsplan tafel toe bring. Vriend Robert staan voor die grootste oomblik van sy loopbaan, ’n veldslag wat hom lewenslange roem gaan wen. So ’n kans kom selde en hy beny die kolonel sy geluk. Majoor De Lille: Dit is die brawe offisier vooraan, die gesig van ons verset en die naam wat in skoolboeke gaan leef. Die oproep, een skoot elke twee minute, van die Imhoff-battery begin toe William na sy kantoor in die voorhof loop, die gedreun word uit een hoek van die binnehof na die ander gekaats, die swaar mure om hom ruk van die herhaalde slae en ’n klam noordewind druk bruin rook binnetoe, oor die seekanteel. Die voorhof ruik na oorlog. In die maskorf op Catzenellenbogen, net sigbaar bo die rollende rook, hang ’n matroos, sy arm om die paal, om met ’n lang verkyker na die vaderlandse vlag by Soutrivier te soek.

      10

      Die vyand se verkenning is skerp, doeltreffend; hulle weet wie op die Kaapse Raad sit en probeer individuele lojaliteite toets om die geheel te ondermyn. Van hom weet hulle reeds sy naam, hulle wou lord Hunsdon spreek. Wat wou hulle by hom hoor of van hom hê? Met kaarte en moontlik selfs die bouplanne van ons batterye in besit, ken hulle nou die Kaap se krag. Ken hulle die staat van gereedheid? Hulle ken waarskynlik die swakhede, hoe min soldate, hoe klein die reserwe. As die Engelsman se verklaarde doel – beskerming vir die duur van die oorlog – opreg was, was geen voorwendsels of agteraf gedrag nodig nie. Verwag dus voortgesette lis, ondergrawing van eensgesindheid, die saai van tweedrag in die gemeenskap. Verdink kollegas, verdink die hoë rang, status en amp, wantrou die gewone groet, die gelukwensing, die ete-uitnodiging. Luitenant Veegezak is reg, die vyand het te ver gekom om met leë hande terug te gaan.

      Henri Campagne, sy eerste klerk, groet en wys met sy pluim na die kantoordeur. “Madame de Rem’ny wag binne.” Henri is oor ’n tweegeveg met swaarde waarin ’n rektor se neef ’n oog verloor het, uit die Sorbonne geskors. Daarna was hy ’n ongewilde en ontevrede sersant van die Switserse huurregiment, maar is nou een van sy beste in die Korps Pennisten.

      “Wie? Stuur vanoggend meel aan die bakkery in Simonsbaai. Genoeg brood vir driehonderd man vir ’n week.”

      “Goed. Madame de Remony verlang meneer se hulp.”

      Sy is ’n lang vrou, amper so lank as hy, sy staan op toe hy binnekom; die seun bly vooroor geboë, sy elmboë op sy knieë. Haar gesig is ovaal, met die kalm statigheid van die Madonna wat Hans Memlinc drie eeue gelede geskilder het. Sy dra ’n donkergroen mantel om haar skouers, onder die mantel sien hy swart crêpe. Haar dik bruin hare onder ’n plat swart mus is agter haar nek gerol en gebind. Sy praat met hom en hy hou haar mond dop: Aan weerskante is ’n duidelike regaf keep soos van ’n vaste glimlag. Haar Nederlands word deur ’n Franse uitspraak versag en dit klink of sy soms effens hakkel, maar oor die donderende kanonne buite is dit moeilik om haar te volg. Sy raak aan die seun se skouer en wys hom om te staan en sy hoed te verwyder. Onder die hoed is ’n bos oranjerooi hare; daar is beserings aan sy gesig, pers kneusings onder sy oë, aan sy mond en sy neus. Sy oë bly neergeslaan.

      “William van Oudshoorn.” Hy beduie na sy ore. “Verskoon asseblief die geraas. Ons moet ’n alarm na die platteland deurkry, maar die weer is klam en dit mag ’n ruk duur. U naam?”

      “Francine-Marie de Remony.” Sy hou haar hand uit, sy het haar fyn swart handskoen uitgetrek. Sy dra ’n smal silwertrouring. Miskien dertig, vyf-en-dertig jaar oud. “My seun is André. My man was Pierre André de Remony van Moutier in Frankryk.”

      Hy vind die effense hakkel in haar spraak raar en interessant, sy oë rus op haar mond terwyl sy praat. Is sy gespanne, senuweeagtig oor die geluide van oorlog buite? Êrens in sy geheue klop iemand aan ’n deur: Francine de Remony, waar het hy dié naam gehoor? Sy hou haar kop regop. In die profiel is die ronde voorkop waaroor ’n donker kuif hang, ’n reguit neus, ’n vol warm mond, sterk ken en kakebeenlyn, twee groot ore soos seeskulpe.

      “Wil u sit?” Sy sak stadig neer op die stoel, met haar rug regop, die skouers netjies haaks. Sy lyk moeg, haar vel is bleek. Sy kyk in sy gesig; haar oë is donkerbruin. Hy vra: “Wil jy sit, André?” en beduie na sy eie stoel agter die skryftafel, maar die seun skuif stil agter sy ma in.

      “Ek is al ’n maand lank in die land, monsieur. Die resident in Simonsbaai het my werk aangebied as goewernante vir sy dogters. Met sy guns het ek met die waens boodskappe en briewe aan u gestuur, sonder om ’n antwoord te kry. Dit het te erg geword; die kinders van die resident het André daagliks aangerand. Franse hond, sê hulle, en noem hulself helde van Oranje. Ek kon nie verstaan dat ek nie van u hoor nie. Ons was soos gevangenes. Ek het onrustig geword: Ons is vreemdelinge, ons kom hier en hier is oorlog, twyfel, vyandskap selfs tussen kinders. Ek het ons kiste gepak en toegesluit. Ons het geloop, met net die sleutels in my hand. Ek het nie verwag dat dit so sal reën nie. Twee Engelse offisiere het ons naby Mont Souris opgelaai en tot hier gebring. In die losieshuis van monsieur De Wit is ons klere gedroog.”

      Hy luister na haar sinsbou: Die kinders van die resident … In die losieshuis van monsieur De Wit … Les enfants du Résident. Dans le pensionnat de monsieur De Wit. Mont Souris is ’n deel van Parys. Berg van muise? Muysenburg; twee ure lank te voet in die reën. Dit is waaragtig braaf van haar. En sy sal baie moeg wees.

      “Kan ek u van diens wees, madame? Ek kan vir u koffie aanbied.” Franse drink tee wanneer hulle siek is, as medisyne.

      “Ja, dankie. Pierre de Remony was die onderwyser wat u uit Nederland laat kom het.”

      Hy sê by die deur: “Henri, vra koffie by die kok. ’n Pot, met koppies en pierings, nie kommetjies nie. Op ’n skinkbord met ’n skoon kleed. Enige koek of suikerbrood wat hy beskikbaar het.” Dan kom hy teenoor haar sit.

      “Dit is so. Ek het my broer in Rotterdam gevra om ’n onderwyser vir my kinders te werf. Ek het nog niks van hom verneem nie. Pos is altyd stadiger en meer wisselvallig in oorlogstyd. Is u man nog in Simonsbaai?”

      “Pierre is op see vermoor.” Haar stem bewe. Daar is nie trane nie, maar woede in haar oë.

      “Ag, nee. Ek is spyt om dit te verneem. Op watter skip? Is die saak aan die skipper bekend gemaak, vir ondersoek?

      Sy swyg; sy kyk na die seun. “Ek moet die heer vertel.” Sy hou haar kind dop tot hy sy kop effens beweeg in instemming of miskien apatie, dan draai sy vorentoe. Haar stem en hande bewe.

      Hul skip was Verschil van die Rotterdamse kamer. Die skipper is Jacob Joppe de Jonge, sy eerste offisier Diederik Kikker, die tweede Och Ochse, die derde Nils Oskar Peterson, die vierde Albert Alfons Jansz. Hulle het by die ewenaar bygedraai en die seile opgegei en ingebind sodat die skip stil lê. Paasdag op die ewenaar, die dag van die Opstanding, ’n Sondag. Joppe was trots op sy navigasie en het dit van vroeg af gevier.


Скачать книгу