1795. Dan Sleigh
Van Kervel en Swellengrebel uit die Kompanjie se goue jare herinner, en het in sy leeftyd twee kommissarisse-generaal, ’n hoë kommissaris, twee kommissarisse en ses opeenvolgende goewerneurs deur dié deur sien gaan. Die sekundetjies van sy lewe reken hy nie; wanneer hy Rhenius groet, kyk hy oor sy kop. As hy Latyn magtig was, sou hy dink: ‘Res parvae.’
’n Middeljarige luitenant in Nederlandse see-uniform wag met gevoude arms, hoed op die knie, op ’n stoel langs die binnedeur om geroep te word. Son, weer en wind het sy skoongeskeerde gesig leerbruin gebrand. Oor sy regteroog is ’n swart klap.
Die raadsaal se mure is met oranje-en-wit gestreepte papier geplak; dit was mevrou Van Plettenberg se keuse. Die lang raadstafel het veertig stoele in ’n verskeidenheid van vorms. Maandagoggende word die saal gevee en al die stoele word in twee rye teen die muur geskuif, dan sien jy die verskeidenheid van houtsoorte en style, uit die ver hoeke van Jan Kompanjie se talassokrasie aangedra. As ’n retoervloot op die reede is met die Breë Raad in sitting, dreun dié saal van hul geraas in Duits, Deens en Sweeds. Dat jy jaarliks minder Hollands hier hoor, vertel veel oor die Kompanjie se omstandighede. Hollandse seevolk het amper totaal van die see verdwyn en driekwart van elke tuisvarende skip se bemanning is deesdae Chinees. Hoe lank kan die Kompanjie nog hou? Vanjaar se retoer was waarskynlik die laaste, is gesê.
Stoelpote sleep oor die diep rooi-en-bruin tapyt (‘alkatief,’ sê die Kapenaar). Kommissaris Sluysken sit al en praat na weerskante toe met sy kolonel Robert J. Gordon en dik poshouer Brand van Simonsbaai, wat hom graag ‘resident’ laat noem. Die eerste twee keer dat Robert in die Resolusies genoem word is hy Robert James, daarna word hy Jacob. Sluysken se stem is stil, koel en gelyk, dit styg of daal nie, dit is sielloos egalig en jy moet goed luister, want dit insinueer dikwels meer as wat dit sê. Sy vel, wit en fyn soos porselein, is die bewys van ’n lewe binnenshuis agter lessenaars en toonbanke geslyt, met grootboeke, kasboeke, joernale en lêers sonder tal. Sy kop is amper haarloos, ’n breë bles laat ’n sekelmaan wit hare agter elke oor. Waaroor praat hy met Brand? Die toevoer van vis uit Simonsbaai vóór die blokkade toeval, omdat slawe sonder hul vis opstandig sal word? Waarskynlik nie.
William beskou die ernstige gesigte om die bopunt van die tafel, asof opgestel vir ’n amptelike skildery: ‘Die Kaapse Beleidsraad, 1795.’ Moeg lyk almal, en gespanne. Wie onder hulle dra die kiem van twyfel? Sluysken, Gordon, De Wet ook, Rhenius moontlik. Omdat Rhenius min en stadig praat maak hy ’n indruk van domheid; hy is nie dom nie maar lui, hy het opgehou werk toe Hoë Kommissarisse hom vir die goewerneurskap oor die hoof gesien het. Die ander, Le Sueur, Van Ryneveld, Bergh, plaaslik uit gevestigde families gebore, het ook aangetroudes met eiendom en verliese en skade om te ly.
Rhenius leun oor die tafel om iets uit die Prins se brief van gisteraand aan die stokou, swaksiende raadslid Le Sueur, nou vlak voor aftrede, te verduidelik. Vir Le Sueur en sy gesin is passaat op ’n Delftse retoerskip goedgekeur; nou, tot nadeel van die Raad, is sy aftrede uitgestel. Swartgepruikte fiskaal Van Ryneveld, met die vaste uitdrukking van wantroue op sy smal gesig, fluister naby De Wet se oor. Van Ryneveld is die enigste ander raadslid wat kerkdienste bywoon, sy ander kollegas se status maak hulle daarbo verhewe. Soms wandel die Fiskaal in die Laan met ’n oop boek op sy hand en mense wonder of dit ’n liefde vir studie is of moontlik iets anders beteken. Hy het die vreemde belangstelling in obskure teologie, die metafisiese deel: Wie is diegene wat Weggeraap gaan word, wat is die naam van die Bose, die getal van die Dier, die datum van die Antichris, wat gaan by die Opstanding met gevierendeeldes gebeur? Hy praat lank oor sulke sake sonder om êrens uit te kom. Sulkes, sweer kaptein Thibault, vermoor soms hul eie gesinne.
De Wet het hom dwars gedraai by die tafel, hy neem snuif met sy pinkie omhoog en sy knieë ver uitmekaar. William glimlag en wonder of die man sulke styl in Franse boeke gesien het? Eiebelang lê De Wet na aan die hart; hy is heerssugtig oor ondergeskiktes (daaroor kom klagtes) en kruip voor sy meerderes. Bergh, die kassier, die jongste lid en nog net twee maande op die Raad, ken hy as ’n eerlike man wat goeie diens aan sy geboorteland wil gee.
Sy sitplek gee ’n uitsig oor die voorplein. Die Kasteel se ruitglas is horisontaal geriffel van dertien dekades se smelt en sak soos kerswas, dit is dalk van die oudste glas op hierdie vasteland. ’n Vrou met ’n donker mantel en ’n koponderstebo jongeling kom oor die voorplein na die pui toe, ook die seun is donker geklee. Hulle is nie van hierdie gemeente nie; sy dra nie die wye Kaapse hoepelrok nie. Haar houding is regop; ’n onverwagte sonstraal vang haar en haar skraal skadu val ver na regs oor die wit skulpgruis. ’n Gedagte kom by hom op: Is jy die een waarop ek gewag het? Johannes die Doper het dit gesê; die antwoord was: Wat dink julle is ek, ’n riet wat in die wind bewe?
Sekretaris Georg Goetz, stip en nougeset, bebril en al halfpad in Sluysken se agterste op gevorder, wag met vingerpunte teenmekaar om op sy baas se knik die silwerklokkie (’n afskeidsgeskenk van goewerneur Swellengrebel) te lui. Op die groen tafelkleed lê sy pluime langs sy kladboek en sandfles. Sy ink is vars aangemaak en deeglik geroer, daarop kan jy tienduisend ryksdalers verwed.
Sluysken se ronde gesig skyn vriendelik en onskuldig soos die opkomende maan, dan glimlag hy na Goetz, en Goetz lui die klok een, twee, drie keer, soos by ’n kerk. “Die Raad is in sitting.”
“Goeiemôre, kollegas. Nogeens hartlik welkom. Ek hoop julle kon effens rus? Ons hervat dan. George,” (altyd op die Engels uitgespreek; sou dit Goetz geval?) “jy kan maar een notule maak van gisteraand en vanmôre, onder vandag se datum. Robert, is die Engelse offisiere nog in die dorp?”
Momsen van die melkhok het gesê hy is oortuig Gordon was een van drie wat voordag op De Wit se platdak met ’n verkyker en kaart geloop en in verskillende rigtings gekyk en beduie het. Gordon se onderkaak sak effens. Gevang. Met albei wenkbroue gelig, sy mond half oop, die uitdrukking van verontwaardiging wat amper konstant daarop hang, draai hy sy gesig. “Ek weet nie, Edel Heer.”
Die voorsitter lig ’n hand, palm boontoe, hulpeloos. William antwoord behulpsaam: “Hulle het by De Wit oornag. Mense met ’n verkyker het vanoggend op De Wit se dak gestaan om die dorp se reede en verdediging te ondersoek. De Wit het hulle vroeg Simonsbaai toe weggeneem met sy kapkar, hy self op die kis.”
“Waar hoor jy?”
“Momsen, in die tuin.”
“Ek het hulle op pad teengekom, Edel Heer,” sê poshouer Brand. “Naby Nuweland.”
Sluysken sê kalm: “Ons het gisteraand besluit om die burgermag op te roep en al die pasgangers binne te kry. Ons hervat daar.” Die kommissaris se stem val koel op die naïewe oor, maar luister goed, dink William: Dit bly ’n hoflike, sluwe beleefdheid, want hy alleen doen hier al die dinkwerk. “Ek het iemand uit Simonsbaai laat kom om ons in te lig, maar die Raad moet self ondersoek.”
Almal stem saam; dít gebeur ook gedurig: Knik, mompel, knik nogmaals. “Pasgangers binnekry,” brom Brand. So, deur gedagteloos te brom, nooit te bevraagteken nie, niks voor te stel, nie te waarsku óf te bemoedig nie, self niks te doen of te sê nie, maar die mond dig te hou en die hande gevou met oë afgewend of neergeslaan, ís hoe verraad gebeur. Jou stilte word instemming, jou instemming ’n wapen in die teenstander se hand, ewe ondermynend as ’n landkaart of wagwoord aan die vyand gegee.
William begin: “Kommissaris, ek stel voor dat ten minste een volwasse burger, sê die oudste, van elke graanplaas tuis bly om die saadgraan in die grond te kry, noudat dit gereën het. Daarna kan hulle kom aanmeld.”
“Dankie, William. George, skryf so aan die landdros van Stellenbosch. Skryf eers my bevel aan die wagoffisier om die oproep te laat skiet, dat ek dit onderteken. Dan gee jy dit aan paai Absalom. Ons wag vir jou.”
Sluysken stuur die brief met die Prins se handtekening en seël van donkerpers lak van hand tot hand. Dié brief is vier maande oud, gedateer 7 Februarie in Kew. Gisternag het hulle tot twee-uur die inhoud met die Engelse offisiere bespreek. ‘Boustene van die geskiedenis,’ het professor Coolhaas sulke staatsdokumente genoem, maar hy verskil totaal daarvan; die geskiedenis lê in die ontleding en vertolking van die dokument. Kaptein Hardy het aan die Raad verduidelik dat Franse leërs Nederland binnegeval en oorrompel het, prins Willem het asiel in Engeland gevind. Hy, sekerlik hoogs verontwaardig, skryf nou die Kaapse gesagvoerder aan om