1795. Dan Sleigh
Sy perd, die Kompanjie se perd, het op Robbeneiland uitgespoel, dankbare bandiete het dit met klippe in stukke gekap en rou geëet. Die reën en wind het nog ’n week aangehou, die son het dae lank nooit verskyn nie.
Hy draai op sy sy, hou weer die swaar sakhorlosie langs die kers: Nog ’n uur. Buite, ver weg, hoor hy ’n dowwe gerammel soos van kanonne, dit laat sy vensterraam liggies skud. Donderweer, ’n bewys dat die seisoen eindelik verander, dat winter begin.
Hy besit geen portret van Neeltje nie. Aan amper elke Leidse grag woon ’n portretskilder, maar hulle twee was mos onsterflik. En nou het haar beeld oor die jare verdof, haar stem word baie sag, haar oë verloor kleur, sy word verder en kleiner, Neeltje van nêrens; dit is net die gloed van haar lyf wat hom soms nog uit ’n droom wakker ruk. Wat nie verminder nie, is die gevoel van skuld omdat hy leef en sy nie, dat hy vir haar dood verantwoordelik is.
7
Iemand moet gaan, iemand moet opstaan en die leiding op hom neem. Die gedagte aan vyfhonderd kanonne dwing hom tot aksie terwyl ’n naamlose magteloosheid hom vashou. Hy maak nie sy oë oop nie. Is hy siek, of is dit skok en ongeloof, dalk angs omdat vreemdelinge sy land eis en oor hom wil regeer? Miskien is dit vrees vir ’n toekoms wat sy eie dood kan insluit. Kort voor die dood gaan jou lewe voor jou oë verby, so asof jy uit ’n groot hoogte val; sy gedagte vermy hede en toekoms en stroom asof op vlug na die verlede, op soek na begrip van gebeure en ervarings wat sy lewe gevorm het én sy aanspraak op dié huis, dorp en stukkie land bevestig.
Hy het gekies om met die lewendes te lewe. Hy skaar hom by die dorpenaars en boere, bruikbare, gewillige arbeiders in die ryk land waarop hulle hul tuisgemaak het. Hy leer leisels hou en in- en uitspan, en ry sonder drywer of koetsier. Hy ry somers met ’n kapkar na plase in die Sandveld, Swartland, Koeberg en De Kuilen, die Bottelary, Vierentwintigriviere, Winterhoek en Waveren om skatting van hul verwagte oeste van graan en peulvrugte te maak. Hy leer hul paaie van plaas tot plaas, maak vriende met hulle, eet aan hul tafels, drink hul karringmelk, dikmelk en suur plaaswyn, leer om ’n boerbeskuit in koffie te doop, leer wat ‘kafhok’, ‘saaisak’ en ‘koringharp’ beteken, waarom ’n ooi haar lam weggooi en waarom boere met die regering ontevrede is. Hul algemene kennis leer jy nie op skool nie: As stukke roet uit die skoorsteen val of ’n bees se stertkwas aan sy lyf vassit, gaan dit reën. As ’n haan in die voornag kraai, kom daar ’n vreemdeling aan.
Moenie luister as hulle sing nie. Vra hulle ’n ander kuns, om ’n sweep te klap, velskoen te maak, bouklei te trap, ’n koei te laat sak, om jou sens te slyp en te gebruik op gelykte en teen skuinste, ’n mied te pak.
Hy praat saam oor ekonomie, boerdery en politiek. Dis mense van één boek; hy lees vir hulle uit Job en Eksodus en slaap snags in hul huise, in die vrykamer. Hy hou van hul selfstandigheid, eenvoud en aardse humor, hul talent om praktiese oplossings vir probleme te vind. (‘’n Boer maak ’n plan,’ sê die Kapenaar.) Hulle is met min tevrede; goeie spysvertering is ’n seëning en bron van geluk, met botter koop hulle ’n rol blou sis vir die vrou en dogters, met twee oskalwers ’n wapen, kruit en lood vir die seun. Hul vensterrame, sonder glas, is met wasbestrykte kaasdoek bedek, hul taal ontwikkel sy eie woordeskat en musiek, hul kinders groei sterk soos jong, geënte wingerdstok, maar is liggelowig, jammerlik ongeletterd, oningelig oor hul eie land.
In die sekretariaat hang ’n gekleurde kaart, drie el by twee, sonder opskrif, datum of naam van kartograaf, dis oud en verdor, die rante is gekraak en bruin van mensevingers se aanraking. As jy mooi kyk, sien jy die stories van die Kaapse skiereiland; eerste plase soos Libertas, Moddergat en Babylons Toren, ook die Franse Quartier en laaste Koina-krale sien jy daar. Die datum bepaal jy by benadering; by Hottentotsholland staan geskryf: ‘Comps. veewyde ende bouwery,’ en die buitepos by die brug oor die Lourensrivier is ‘de E. Comps. buitenpost Hottentots-Hollant’. Die kaart is dus geteken vóór die jonger Van der Stel, gierig én vermetel, daardie buitepos van vierhonderd morg mét geboue, personeel, slawe, vee, landerye en boorde verduister het, onder ’n nuwe naam, ‘Vergelegen’. Dié kaart wys hoe vlak die volk se geheue is, mense verseg vandag om die feit te aanvaar; dis tog ondenkbaar dat ’n Edel Heer ’n ganse buitepos sal verduister?
Maar elkeen, man en vrou, slaaf en vry in hierdie skindernes het iets aangaande Vergelegen in die fynste besonderhede geken. As voorsitter van die Huwelikshof het hy self die saak hanteer; David Malan, eienaar van spoggerige Vergelegen, se vrou het in Augustus 1788 met ’n swart sluier haar getuienis gelewer en dit daarna, bedags en snags tot haar sterfdag bly dra. Een maanlose nag het David Malan van sy plaas af verdwyn, met die jong slavin Sara, twee perde, twee saals, ’n geweer en kleinighede soos ’n pot en ’n pan. Wat ’n skandaal was dit, in dié dorpie. Skielik was ’n droogte, die uitbrand van Arethusa op die oop see met honderd-en-sewentig immigrante vir Nieu-Seeland, ’n kalf met twee koppe by Klapmuts gebore, voorlaas maand se aardbewing en die nuwe melaatses in Drakenstein vergete. Wat ’n opspraak, wat ’n ellende, die arme vrou, die arme vrou. David is drie jaar later oos van Graaff-Reinet opgemerk, oor Sara is geen woord meer bekend nie.
William stel belang in die Kapenaars, veral die plattelanders, wat anders as die dorpenaars ontwikkel. Hy is verwonderd oor hul eenvoud, rustige en geduldige onkunde. Is hulle opvoedbaar? Geweld sit vlak onder die vel, hy sien dit soms in oë flikker. Robert vertel van ’n dikbek Buys in die binneland met sy regterarm permanent in ’n draband van duikervel; hy het ’n magtige hou na ’n Hottentot geslaan, toe koes die Hottentot agter ’n aambeeld. Nog twee geslagte sonder skoling en hulle word stuurs en gewelddadig, bot wit barbare met ’n dolk agter die heup soos die Korsikaan en Siciliër en ’n woordeskat van negentig tot honderd woorde, amper onregeerbaar boefagtig en nutteloos vir ’n gemeenskap.
Maar hier ís potensiaal vir grootheid, wat gered moet word. Daar is tans ’n jong Kapenaar dosent by Leiden, hy heet Christiaan Persoon. Hy het swamme as studieveld gekies, die eerste student in gans Europa op dié gebied. Hy het so ver gevorder dat die nuwe vak ’n naam gekry het, die mikologie, en jong Persoon word as vader van die mikologie geroem. En dít is ’n kleremaker se seun uit Stellenbosch. Sonder hoër onderwys sal sulke potensiaal uitsterf soos graan in ’n dor streek.
Op die platteland ontmoet hy vir Jan Rap en sy maat en die maat se suster. Wanneer hy en die boere hoogsomer met opgerolde moue deur die ryp graan loop, word sy vel bruin soos hulle s’n. Hy leer hoe om gehalte en koopprys te bepaal deur aan ’n handvol graan uit die sak te ruik, hy leer hoe om ’n ryperd te kniehalter, hy leer die reuk van vars koffie geniet.
Toe hy later, eindelik, raadslid word, praat hy oor sake wat selde op die agenda verskyn, dinge wat die boere raak. Hy praat oor die Koina ook: Wat word van die grond waarvan hulle verdryf is, waarvan die weiding onder hul uit verkoop en die papiere aan vreemde intrekkers gegee is? ’n Eerlike regering sal die grond met die Koina deel. Dit is hul land, hulle was van die begin af onwillig om dit af te staan, gaan lees die Dagregisters. Waarom word nooit daaroor gepraat nie?
“Dit is nie op ons agenda nie. Weer stroomop, Van Oudshoorn?” verneem goewerneur Van der Graaff, ontevrede maar nie onvriendelik nie.
Nee, Edel Heer; dis geen onafhanklikheidsverklaring nie, net ’n uitdrukking van individualiteit. Maar neem asseblief kennis: Die Kompanjie se agenda is nie in my land se belang nie.
Een middag toe hy van die platteland terugkom het hy woedend teen Van der Graaff en sy Raad van skoothondjies opgestaan, omdat hulle ’n geskrewe onderneming met Sandveldse boere, dat ’n skip hul graan by die riviermond in St. Helenabaai sal haal, minagtend eensydig verbreek het. Ná daardie opstand, waartydens die goewerneur sy swaard uit die skede gehad het en Rhenius tussen hulle moes kom, het hy sterk genoeg gevoel en van toe af net volgens sy gewete opgetree.
‘Verneem by vergange tye,’ lees jy in die boek van Job, hoofstuk 8, vers 8: ‘Praat met die verlede, dáár sal jy leer.’ Hy lees die Kaapse dagregisters wat in die sekretariaat bewaar word, van 14 Desember 1651 af tot die hede, komende en gaande korrespondensie met Here Sewentien en Batavia oor personeel, skepe, wins en verlies, raadsbesluite oor grond, Koina en Sonkwa, beëdigde verklarings oor die dood van slawe en trekvee, oor geskatte oeste, die opdragte en memories van kommissarisse op besoek, die ekwipasiemeesters se verslae oor wrakgoed ná strandings. In die hofrekords en gronduitgifte