1795. Dan Sleigh
so duidelik en onder beheer, gisternag verloor.
Hy het die belangrikste werk in die kolonie, om brood op elke tafel te besorg en aan skepe hul skeepsbrood. ‘Twee bakken,’ bis cuit in die Frans, ‘beskuit,’ sê die Kapenaar en gooi ’n dubbele handvol soet rosyne uit die Hexrivier in die deeg. Gister was hy gelukkig omdat die pakhuise vol was. Graan is ’n stryd van nege maande; jy ploeg in Maartmaand of April en oes in Desember. Van Maart vanjaar af het hy die kolonie deurkruis en koring, rog, erte en bone opgekoop, want niemand weet hoe lank ’n droogte kan aanhou nie. Toe dit aan die einde van April steeds nie reën nie, het hy die Kommissaris oorreed om ’n ekstra twee gulden per mud vir broodkoring te betaal en met dié belofte die graanboere ’n tweede maal besoek, tot hulle net hul saadgraan oorgehou het. Maar toe was die pakhuise vol, en hy was tevrede.
Asof ’n vertroude horlosie gaan staan het, is sekerheid en gerustheid nou verlore. William hoor die geritsel van druppels teen sy ruite, soos ’n sagte wind tussen blare. Hy het gisteraand ontsteld en bekommerd in die reën van die Kasteel af huis toe geloop, hy het net sy nat jas aan die kapstok gehang, sy modderige skoene langs mekaar op sy grasmat geplaas, sy krawat en onderbaadjie losgeknoop, op sy bed gaan lê en hom met sy swaar mantel toegetrek. ’n Uur later was hy weer wakker, koud, met ’n naar gevoel op sy maag. Is hy aan siek word? By die afgematheid voel hy ’n gespannenheid van senuwees wat nie vroegaand met die Athenaeum daar was nie. Dit kan ’n ligte griep wees, maar hy kry nooit griep nie; dis iets erger, meer soos die verlammende skok van ’n doodstyding. Oor ’n paar ure moet hy die dag tegemoet gaan, met só ’n gevoel asof hy ’n kanker of ander ongeneeslike siekte vermoed.
“Oorlog beteken geweld, van die eerste dag af,” het hy teen middernag in die vergadering gesê. “Dan moet jou voorbereiding, jou inoefening, bevoorrading, jou papierwerk klaar wees. Wees verseker: Jou vyand het syne klaar, én versterkings én ’n tweede plan, alles gereed. Op dag een word die morele oorwinning behaal.” Dit het hy in die vergadering gesê, in Robert se afwesigheid. Die kolonel is laat roep, maar was nie tuis nie.
“Kalm eers, William. Daar was geen dreigement van oorlog nie.”
“Ek weet, heer kommissaris. Dit maak ons posisie soveel gevaarliker.” Dit moes op die kommissaris se hart gedruk word. Dis soos die storie van koning Dawid en die mooi vrou, die gelykenis van die ryk boer en die arm bywoner met één lam. Stuur skepe, skop deure oop, pleeg ongebreidelde geweld. ’n Oorlogsvloot is gestuur. Magtige vreemdelinge kom eis sy vaderland op.
Trek op ’n landkaart ’n potloodstreep van die Bergrivier se mond af suidoos na die Breederivier se mond, en daar het jy die vaderland. Dit is die repie grond, kleiner as Nederland, wat oor is ná Swellendam en Graaff-Reinet afgestig het. Dit beslaan twee distrikte met vyf kerke waarom dorpies groei, en ’n enkele taal. Twéé tale, moet nie die Koina vergeet nie. Daar is drie goeie hawens en die ingesetenes produseer graan, wingerd en vee. Die strook is nie Afrika nie; Kapenaars het lank en hard gewerk om dit anders as Afrika te maak. En dié klein landjie is hy; land, dorp, huis en hy is één. Dis sy lewe, dis sy bloed en asem in hom, waarsonder niemand kan leef nie. Verloor hy dit, word hy niks. Van gisteraand af is dit onder beleg. Hy moet dit vashou, aanhou om dit te besit.
William kyk by kerslig na sy plafon van geelhoutbalke en goeie breë planke uit afgeleë Houtenikwasland. Dié huis is sy skuiling, sy aardse skat, sy enigste. Hy, huis, boeke en kaarte woon lankal tevrede saam. Hier in sy gang, in kaste met loodglasdeure, staan Bogaert, Kolbe, Valentijn, Mentzel en La Caille se uitgebreide beskrywings van die vroeë Kaap, langs die nuwes deur Thunberg, Le Vaillant, Sparrman, De Jong en Stavorinus. Hier is sy landkaarte, die plaaslikes deur Jones, Barbier en Van der Graaff en ouer atlasse van Blaeu en Visscher, wat Jan Kompanjie se greep op die suidwestelike punt van die kontinent en kennis van sy vaarwaters bevestig. Wat nog, bind hom aan die land?
Hy besit hier twee karperde en ’n koei in ’n kampie. In sy waenhuis staan ’n karet en ’n kapkar. Winter en somer stroom die standhoudende meulsloot voor sy deur verby, sy tuinier lei water vir sy groente en wingerd daaruit. Hy het sy slawe van agtien tot twee verminder en beplan om hulle ook vry te stel, die ruim slawehuis gebruik hy as werkkamer en pakhuis vir graan, veevoer, hoendervoer, meel, gekapte brandhout. Dit is sy Saasveld. Nou kom onrus hier, met ’n dreigende oorlog deur sterk, vasbeslote invallers. Geen eerlike gees sal dit duld nie.
Sy maag ruk, hy dink dat hy gaan opgooi; moet hy opstaan en sy kamerpot soek? Die Engelse het vannag oor sy land neergesak soos die pokke van ’13. Gister sononder was hy gerus, vanoggend marsjeer die noodlot teen Saasveld, dit het laas nag op sy werf gekom en na hom geroep: ‘Lord Hunsdon, Lord Hunsdon!’ Dié tyding lê soos ’n klip op sy bors.
Gisteraand was sy huis warm, gesellig, vol lig, sy gaste was belangstellend en gemoedelik, geamuseer deur die dokter se relaas en bly oor die welkome reën. Alles was ordelik, bekend, deur lang gebruik gevestig. Daar was gerustheid vir nog ’n jaar; dié week nog word ploeë oral ingeslaan en saad in die grond gesit. Dit het hom plesier gegee, hy het geweet dat sy omstandighede gemaklik en aangenaam is, hy was in beheer van sy lewe, tevrede met sy vermoë. Waarom kon dit nie so bly nie?
William sluit sy oë. Hy is met ’n sterk verbeelding gebore, die honderde boeke wat hy gelees het, het dit verder ontwikkel. Geheue en verbeelding is een; herinneringe val hom binne soos helder ligte, hulle daag op in kleur, klank en besonderhede. Sy gaste, deeglik teen die winteraand bedek, kom in ’n welgevoede en glimlaggende stroom sy huis in, hul jasse is oopgestoot vir ’n groot vertoon van geborduurde onderbaadjies. Meesterbouer Schutte wat ’n oog en ’n hand in die klipkuil verloor het kom binne, die lang Van der Byls kom binne, die blonde Louws, die aantreklike Bergh-broers met hul donker oë en hare van ’n Bengaalse voormoeder geërf (die ouer een is koel, netjies en giftig, die jonger een vriendelik en informeel). Hul oudste broer, as landdros van Stellenbosch, was destyds die Patriotse boere goedgesind en is Nederland toe om hul petisie aan Here Sewentien te gaan gee. Hy is al vyftien jaar van huis en haard verban.
Fiskaal Van Ryneveld kom groet; hy stel in die okkulte en onverklaarbare belang. Hy het hier van Franz Mesmer se vreemde eksperiment vertel, hoe dié Duitse dokter mense, soms ’n saal vol, in ’n soort slaap laat val en in dié toestand bisarre bevele laat uitvoer: Eet dié rou ui, trek jou klere uit, kruip op die vloer en maak soos ’n hond, gee my jou horlosie, jou beurs, jou sleutels. Hy domineer hul wil en kan hulle in daardie toestand laat duiwels aanroep of moord pleeg, so het fiskaal Van Ryneveld hulle vertel. Hoe kla jy ’n oortreder onder sulke omstandighede aan? Wat sê die Corpus Iuris Civilis daaroor? Geen woord nie; die Corpus is deur rasionele denkers saamgestel. Dokter Mesmer het voor ’n gehoor van honderde water in wyn verander. Hieroor het die Kapenaars begin lag en een het ‘Aksyns betaal!’ geskreeu. Of, Van Ryneveld vra onverwags: ‘Had Johannes op Patmos glas in sy ruite? Weet jy, William?’ Erzy, die Lutherse koster, kom groet. De Wet, medelid van die Raad van Justisie, eienaar van Waterhof se soet pruimboorde en uitheemse turksvybos, kom groet saam met Bresler van Leeuwenhof, baas van veertig slawe. Kaptein Thibault beduie met albei hande aan kreupel dominee Serrurier van ’n vreeslike lot wat hom teister: Hy het ses folio’s met Mozart se musiek uit Parys gekry, en ’n duiwel van ’n prys moes hy daarvoor betaal. Hy wil die musiek hoor, maar hier is niemand wat dit kan lees nie! Mozart is al vier jaar dood, Europa is gaande gek oor sy musiek, gedenktekens en marmerbeelde gaan oral op. Wat as hy self môre sou sterf? Moet hy nie uit sy pos bedank en Europa toe reis nie, wat sou die eerwaarde predikant hom aanraai?
Serrurier glimlag vir die Fransman, spraaksaam van onverdunde brandewyn, en wonder of die intelligente kêrel met hom gekskeer. “Geloof, monsieur Thibault. Daar is groot krag in geloof.” Hy knik na regs: “Eendag hoor jy dit nog in hierdie kamer op dáárdie klavier gespeel.”
Herr Anreith, beeldhouer en kunsonderwyser, lig die kandelaar met drie kerse om sy pa se skildery te ondersoek, versigtig om nie was te stort nie. Hy is ’n jongman met ’n fyn gees, heel sag van aard. Wat maak Anton hier in die Kaap? Hier is geen studente, afgestudeerdes of digters as geselskap vir hom nie. Die dorp se moeders stuur hul dogters na sy skool toe, maar hy bly alleen. Hy het hier oor Europese skilders kom praat en gekleurde afdrukke van hul werk gewys; een daarvan was Brueghel se verskriklike Dood dans met die Lewe. Die grynsende geraamte was ’n kop langer as die dame, aan haar kleredrag duidelik ’n jong edelvrou, en jy kon sien