1795. Dan Sleigh

1795 - Dan Sleigh


Скачать книгу
liedere te vermaak. Dis die volksliedjie ‘The Road to Dundee’.” Gordon wou vier flesse rooi Constantia vir één lied hê, hy kon hom met moeite tot twee wit oorreed.

      Robert kom vorentoe, na die lig toe, hy het sy linkerhand se vingers weer tussen sy onderbaadjie se knope ingestoot. Die man het ’n goeie stem en sing met gevoel; dis die stem van ’n stadsmens wat lesse gehad het, nie ’n soldaat s’n wat op paradegronde verskreeu is nie.

      “Jou klavier al gestem, William? Nog nie? Ek voel in die steek gelaat. Ek sal maar my bes onder die omstandighede moet doen.”

      Robert het dié klaerigheid aan hom. Kaptein Thibault beskou die voorsitter uit die tweede ry met ’n siniese gryns; hy noem die kolonel ‘le soldat absent,’ en nog erger, ‘un imposteur’. ‘Hoe vra ’n Skotsman sy nooi om haar hand, William? Will ye share, bonny Mary, a grave with me in yonder stony vale where fourscore of my ancestors’ bones moulder in the frozen ground? Kyk, alles wys die Keltiese karakter, romanties, uiters sentimenteel. Uitbundigheid met diep neerslagtigheid afgewissel.’

      In burgerdrag lyk Robert ewe indrukwekkend as in uniform; Thibault ondersoek nou elke artikel vir styl en kwaliteit: Die swart driepunthoed is met goud omgeboor, die kort onderjas is van goue brokaat, die kraag is wit, hoog en styf, die hemp se wit kant steek onder die moue uit. Die jas is voor weggesny, die bors is met ’n onderbaadjie bedek, versier met geborduurde groen-en-ligroos blomtakkies en twee rye groot vergulde knope. ’n Geknoopte krawat steek bo die onderbaadjie uit. By die stywe roomwit kniebroek met goue gespes dra hy gestreepte sykouse en skoene met lang, stomp punte. Thibault maak somme in sy kop; hoe bekostig die kêrel sulke styl op ’n kolonel se soldy?

      Robert kom langs die tafel staan en stoot sy regtervoet vorentoe; hy lig sy oë na die skemer agtermuur waar kerslig-skaduwees heen en weer sluip, sprei sy arms en asem in. Daar is ’n frons van konsentrasie op sy gesig asof hy bid. Hy kyk ver oor sy gehoor, deur die muur, duisende en duisende koue myle nóórd. Hy is weer ’n Skot.

      “Cold winter was turnin’ o’er moor and o’er mountain

      And wild was the surge of the dark rollin’ sea

      When I met aboot daybreak a bonnie young lassie

      That asked me the road and the miles tae Dundee.”

      Die gehoor geniet dit; hulle verstaan nie die woorde nie, want die kolonel het ’n sware Skotse uitspraak aangesit, maar dis ’n soet en treurige wysie, baie mooi. Sy stem is donker, ryk en só kragtig dat dit die bruin drank in hul bokale laat bewe. Hy verander sy stem gemaklik van laag na hoog, en soms met ’n pleitende toon en soms met iets soos ’n snik. Hulle wag nou dat hy met die tweede vers begin, en hy span hom daarvoor in en staan soos ’n gekruisigde met wye arms, maar vóór hy sy mond oopmaak kraai ’n haan buite, hard, helder en dringend, tot drie maal toe.

      Die gaste knak hul koppe na die groot vensters van die agterwerf om te luister. Hulle weet wat hanekraai in die voornag beteken: Daar kom ’n man aan.

      Hulle sien hoe die kolonel sy vingers van bo na onder oor sy gesig trek asof hy ’n masker afskeur, maar hul gedagtes haak vas by die dissipel Petrus van ouds, en vir bevestiging kyk hulle na dominee Serrurier, wat sy oë sluit en sy kruk in ’n pouslike gebaar teen sy skouer lê. Hulle sien sy afkeer, kyk vloer toe en bely beskaamd hul bygeloof.

      Die sanger byt op sy tande, sy oë bly dig geknyp, hy buig sy kop en hou dit vas, dit laat die dokter aan ’n kopwond dink. Sy lied het soos ’n gety in sy bors gestyg en hy stik nou daaraan. Hy het net sy storie begin, hy het nog nie vertel van die lang wandeling daardie grys stormdag nie, die eerste aanraking van koue hande en ’n ontwakende liefde op die nat sandpad agter seeduine waar die winter aan taai, sproeinat helmgras en pers heide ruk, die uitruil van ’n ring en goue speld, van twee vreemdelinge se eerste en laaste soen op die dorp se rand, die vergeefse wag op ’n tweede ontmoeting en die lewenslange soektog op die lang en leë seepad. Dit wou hy aan hierdie Kapenaars oordra om die dom donders iets van sy emosie te laat voel, en dit is skielik kortgeknip; hy kan nie teruggaan of omdraai nie, hy kan nie weer vóór begin nie. Hy is beroof.

      Hierna, dink William, is die arme Gordon weer lank depressief en moet offisiere en onderoffisiere onder sy buie en uitbarstings ly. Hy kyk na sy donker vensterruite. Waarom loop daar nou trane?

      ’n Huiwerige klop aan die voordeur lei hul aandag weg van die kolonel. Wie, wat nie aanklop gewoond is nie, staan voor Saasveld se deur? Wie of wat wil binnekom? William behoort honde aan te hou.

      Hy maak sy bodeur oop. Winter het begin, met ligte motreën; water tap van die lae boomtakke, drup van sy kroonlys op sy stoep. Octavio, die mandoor van De Wit se slawe, kom uit die donker met ’n lantern aan ’n stok soos ’n Japannese visser. Onder die groot akkerboom, onder ’n perdekar se natgereënde kap, sien hy breë stroke gouddraad. Twee persone in Britse vlootuniform sit daar.

      “Dis kaptein Hardy en luitenant Mackenzie, edel heer. Hulle vra om met lord Hunsdon te praat.”

      “Beslis nie. Waar kom jy aan dié mense, Octavio?”

      Uit die kapkar word geroep: “My Lord Hunsdon!”

      “Hulle het ’n brief uit Simonsbaai vir my heer. Is kolonel Gordon te spreek?”

      “Lord Hunsdon, a word with you, if you please!”

      Gordon praat agter hom: “Ek is beskikbaar.” Robert draai self die onderdeur se werwel oop, stadig en bewend of hy die dood gesien het. “Octavio, na my huis toe. Ek ry saam. Jy skuld my vier flesse rooi, William.”

      William trek die deur toe. Wie is die mense? Hy gaan terug na sy gaste, wat nog ’n sopie vir die pad drink en mekaar ondervra: Hoekom vra die Engelse nie na kommissaris Sluysken nie? Wat kan so belangrik wees dat dit nie tot môre kan hou nie? Hoe weet die Engelse van De Wit, hoe ken hulle William se titel wat hy self nooit noem nie? Hoe weet hulle waar sy huis staan? De Wit kon hulle dít en nog veel meer vertel.

      William neem die karaaf uit sekunde Rhenius se hand, sit die prop in die nek en wink na Goetz, Van Ryneveld en Egbert Bergh. “Kom, vriende. As dít is hoe sake staan, stel ek voor dat ons die kommissaris laat weet.”

      Die Athenaeum gaan groetend uiteen; slawe stoot sambrele onder die kaal bome oop. Om halfelf begin ’n nagvergadering van die Politieke Raad, minus poshouer Brand, kolonel Gordon en raadslid De Wet, met koning George III se afgevaardigdes Hardy en Mackenzie. Dit duur tot eenuur, terwyl winter sy opgegaarde reën oor die dorp giet.

      4

      Saasveld is elegante argitektuur in wit steen. Hy lyk solied en sterk, maar ondersoek sy struktuur en jy vind ’n massa glas deur ’n paar granietblokke en geelhoutbalke bymekaar gehou. Hy het Louis daarom gevra, hy wou dit só hê. In die vier buitemure is twaalf groot vensters, met sestig ruite in elkeen, altesaam sewehonderd-en-twintig ruite, benewens dié in die versierde boligte oor die voor- en agterdeure. Stap jy by die deur in kom jy in die voorhuis met rooi Bataafse teëls bevloer, waar die stom swart klavier staan. Toe Louis die vooraansig verbou het, is dié groot voorkamer gevorm deur binnemure weg te breek, sodat meer mense hier kan vergader. ’n Portefisie met agt-en-veertig ruite lei uit die voorhuis na die gaandery (‘gang,’ sê Kapenaars) met sy ses deure, drie aan elke kant, van die slaapkamers. ‘Slaapkamer’ is sy pa se uitvindsel; hy was van die eerste om vertrekke vir individuele en spesifieke gebruik toe te wys. Die kombuis met sy koel spens is twee ruim vertrekke langs die agterdeur.

      “Dis mooi, Will,” het Louis gesê. “Maar jy gaan glas hoor breek wanneer ’n retoervloot sy afskeid vuur.”

      “Dit hang af hoe die wind waai. En dis maar een of twee ruite, een maal per jaar. Ek gee nie om nie.”

      “Jy sal omgee wanneer hier klippe gegooi word, soos in Parys se strate. Of as bomme oor ons dorp bars. Jy, meer as enigeen, gaan skade ly. Laat ek ’n derde van jou vensters met steen toebou. Een kwart.”

      “Nee. Bomme en klippe in dié deel van die dorp is onwaarskynlik. Die huis gee my plesier, soos hy nou is.”

      Nou is daar twyfel, en onrus. William lê wakker. ’n Verlamming


Скачать книгу