1795. Dan Sleigh

1795 - Dan Sleigh


Скачать книгу
die Korps, glo hy, so goed as enigiets wat Gordon se bataljon kan aanbied. In hul donkerblou en swart, met ’n reënkleed van rooi seil om die skouers, lyk hulle vir hom goed genoeg. Werk meer aan die harte, aan die verstand.

      Tot nou was hulle die enigste korps wat daagliks vóór werk oefen; hulle kla natuurlik daaroor: Waarom ons alleen, wat van die ander? Hy het hulle sy antwoord gegee: Omdat julle die laaste linie gaan wees, met die vyand tot vlak voor jul vesting gevorder. Dis vir jul werkgewer, jul soldy, vir jul eie brood. Tog vra hulle, kla hulle. Hulle moet gedril word tot dit end kry.

      Hy rol sy sambreel toe, laat sak die spyk tot op sy skoenpunt, en hou hul drilwerk dop met sy hande om die greep van liggeel elpebeen. Die handvatsel het ’n breë silwerband, in lopende skrif gegraveer: ‘Aan onze Edele Heer gebooden door de gemeente Ridderbuurt, 1772’. Kapenaars fluister oor die sambreel, hulle noem dit verwyf as ’n man met ’n sambreel loop. Drilwerk is nie die belangrikste nie; laai en skiet, laai, skiet tot jou loop so warm is dat jy moet gewere ruil, dis anders en veel meer. Maar die hart moet daarin wees, en dit is sy verantwoordelikheid. Hy lig sy sambreel om aan die luitenante te beduie: Ek wil met hulle praat. Sy sersant-majoor marsjeer die Korps tot voor hom.

      Op die paradeplein se rand knik hy hulle toe. Hy ondersoek die gesigte van links na regs. Almal geskeer? Goed. Hulle is burgers van sy dorp, meer as die helfte is getroud, met gesinne. Hulle is die eerste wat hy vandag wakker maak, en hy weet dat dit teen die gebruik is, dat hy behoort te wag tot kommissaris Sluysken self gepraat het, maar hy stel hom in dié klerke se plek. Verklaar openlik, dan is daar geen griewe of rede tot later verwyt nie.

      William lig sy stem: “Offisiere, onderoffisiere, manskappe. Nege Engelse oorlogskepe met omtrent drieduisend soldate en matrose het gisteraand in ons seewater geanker. Hulle toon geen respek aan ons vlag nie, en het mense met ’n brief gestuur. Kommissaris Sluysken het die Raad laat vergader om te hoor wat hulle verlang. Niks minder nie as dat hulle van ons verwag om ons vlag te stryk en ons land in hul beskerming te gee so lank as die oorlog in Europa duur. Hul brief dra die Prins se handtekening en seël. Die Raad het dit van die hand gewys. Julle gaan vanmôre kanonskote hoor wat die burgermag oproep. Gedra julle soos soldate, moet om jul naam onthalwe nie vingers in jul ore steek as dit afgaan nie. Sluit jul ore alleen teen gerugte. Ons grootste vyand is onkunde. Onthou die gesegde: Eerste wat in enige oorlog sneuwel, is die waarheid. Laat ons almal met ons werk voortgaan. Na die raadsvergadering vanoggend sal die kommissaris bekend maak wat gaan gebeur. Gedra julle altyd só dat die vyand vir julle respek het. Ons gaan oefen en daar moet geen verwarring of geskree wees nie. Van vanmiddag af dril julle ook vir ’n uur na werk, elke dag behalwe Sondae, tot julle al my bevele verstaan en vooraf kan verwag. Onderoffisiere: Deel aan elke manskap ses nuwe vuurstene uit. Offisiere, handig vanoggend jul degens by die swaardveër in om geslyp te word. Sersant-majoor, verdaag die parade.”

      Die sersant-majoor salueer met sy halfpiek en draai flink op hak en toon. William knik hulle sy dank, knyp sy sambreel onder sy arm en loop Kasteel toe terwyl ’n dun stem uit die middel van die korps kla: “Maar sa’majoor, namiddae oefen ek koor.”

      “Nie so voor op die paal nie, jong. Môre, oormôre sing ons almal by die engeltjies. Netjies nou, as ek die bevel gee … Korps, verdaag!”

      Roetines vir graanbou en skeepvaart, hofmakery, kooroefening, dis ou, ou heiligdomme wat nou bestorm word. Van die paradeplein af na die Kasteel toe, oor die bruggie, tussen twee oranje leeus op hoë wit pilare deur, is enkele tree. Kyk na regs en jy sien hoe Kasteel de Goede Hoop sy ouderdom wys: Onder elke waterspuit wat reën van die geteerde dakke lei is ’n modderstreep teen die muur waarin groen mos groei. Dis drie jaar laas, vir die Hoë Kommissarisse se besoek, skoongemaak.

      Toe begin die klok bo hul koppe sy vals gelui, agt sidderende slae wat die hele toring laat vibreer en sy eie lae gebrom voortbring. Kapenaars is met die onegte klank bekend. Dis ’n Amsterdamse klok, honderd jaar oud (‘Claude Fremy me fecit … 1697’), wat so vals hier gekom het. Mentzel het ’n halfeeu gelede gewaarsku: ‘Hüten Sie sich vor dem Land, wo die Glocke geschlagen wird mit der Hand.’

      9

      Hy wag met ander voor die swaar deure; sy goeie sambreel rus op sy skouer. Oor hul koppe, hoog oor die boog van die poort, is die driehoekige pediment met die State-Generaal se leeu in donkerblou Robbeneiland-lei gebeitel, en die skilde van die ses kamers tussen die Kompanjie se monogramme. Almal moet sien wie hier baas is. Dié Kasteel, sê Louis, is ’n buitepos van die hel. Jy kan natuurlik nie die gebou blameer nie, dis maar ’n stapel klippe, glas en hout, staande gehou deur skulpkalk, verf, vertrekke vol dokumente. Hy hou van die Kasteel, die ou plek het ’n eie karakter, vriendelik, solied, duursaam, betroubaar.

      Om hom wag gepruikte raadslede, geüniformde soldate, senior klerke te oud vir die Korps in hul tweedebeste, ambagsmanne met oorjurk en gereedskapsak, blinkvet slawe in die Edel Heer se groen livrei en ’n leë drastoel met ’n sittende hond op die deur geverf, ook kaalvoet slawe uit die Losie met bruin reënklere wat na robbetraan ruik. Agter hulle drom die Korps Pennisten, gewere aan die band oor die skouer. Mense groet hom, “Goeiemôre, Raadslid,” soos van hulle verwag word; hy groet elkeen met ’n glimlag terug. Raadslede Rhenius, Le Sueur en Bergh staan daar met rottang-wandelstokkies, dun lippe en somber gesigte; dié raadslede knik woordeloos na hóm, hul kollega, maar antwoord geen ander groet nie. Die statusbewuste Kapenaars noem dit ‘fatsoen’.

      Hy hoor in sy verbeelding ’n sterk stem naby hom skreeu: ‘Open in the King’s name, or we blow these damn’ doors down!’ Sy antwoord is gereed: ‘Pennisten, hoede af en hou jul koppe laag. Mik na die middellyf. Vrye vuur, kies jul teikens, gee vuur!’ Gereedheid, dit is alles.

      Die vals gelui uit die toring galm nog oor die paradeplein, windop oor die dorp, oor die onstuimige baai na die massiewe batterye, De Chavonnes, Amsterdam en Grote Moelje wat soos waghonde uit die hel voor hul dorp lê, hul rye swart ystertande ontbloot. Die geluid trek verder, oor die reede met die Kompanjie se bruin landsbote, waar nou op elkeen ’n Nederlandse vlag in die mas oopgaan. Agter die poort se massiewe deure klink ’n ketting skakel na skakel deur ringe, yster klap teen hout, ’n stram skuif gly en die poort kraak oop. Die fatale dag begin.

      Hy, ou Le Sueur en Bergh loop in onder die gewelf van geel ysselsteen met sy effense eggo en steek die voorhof in stilte oor, bedruk deur hul voorkennis van onheil. Sekunde Rhenius bly agter om met die wagoffisier oor die vorige nag se inskrywing vir die Dagregister te praat, dit is geen eenvoudige taak nie. Twee piekeniers, onderoffisiere, salueer aan die voet van die trap; Le Sueur gaan stadig en stram die pui se trappe op met sy hand op die reling, dan hy met jong Bergh langs hom. Met geboë hoofde loop hulle, roubeklaers in die lykstoet van hul moederstad, dink hy. Hy lig sy kop en glimlag; dáároor sal eers geveg word.

      Louis Thibault en jong Anreith het moeite gedoen om die pui se dak onder uit te hol om klank te versterk en vórentoe, die voorhof vol, te versprei. Wanneer hier toespraak gemaak word, soos by die verwelkoming van kommissarisse, ’n vonnis oor muiters voorgelees, veilings van die drank- of vleispag, hoor jy tot in die verste hoek van die voorhof elke woord wat gesê word. Voor, in die middel van die versierde koepel, het Anreith die State-Generaal se skild en leuse geplaas: Concordia res parvae crescunt. Harmonie laat klein dinge groei. Maar Louis, totaal sinies, het die lint met die leuse só gedraai dat net twee woorde, ‘klein dinge,’ tussen die pleistersluiers sigbaar bly: Deur dié poort loop kleinlike skepsels met klein verstandjies. Hy sal sy mond daaroor hou.

      Die dag toe dié pui in gebruik geneem is, het die Edel Heer argitek Thibault, beeldhouer Anreith en tekenaar Jones se name openbaar uitgespreek as Taaibolt, Enreeth en Djouns. Dié wat ore gehad het, kon hoor: Ons nuwe Edel Heer dink die wêreld is Engels, het ons op die oomblik so een nodig?

      Agter die dubbeldeur van djattihout neem ’n gepruikte Javaanse slaaf met ’n yl baard en haakneus, verouder en verdroog in lewenslange eiendom van Jan Kompanjie, hul sambrele, mantels en hoede om aan die kapstok te hang; sy klere ruik vaag na kaneel. William probeer al ’n dekade lank om paai Absalom se vriendskap te wen.

      “Salaam, mahaldar. Triema kassie.”

      “Goeiemôre, heer Raadslid.” Presies, berekend korrek, steeds sonder glimlag. Soos Vader Tyd kyk paai Absalom


Скачать книгу