1795. Dan Sleigh

1795 - Dan Sleigh


Скачать книгу
as ek dit aan haar voorlees en haar eed aanhoor. Skryf dat die waens wat die meel wegneem haar bagasie na my huis toe bring. Sy sal ’n lys maak vir die drywer. Sê ek wil hoor in watter toestand hulle die bagasie vind. Slotte mee gepeuter, kiste oopgebreek, so voort. Onthou om Brand in jou briewe ‘poshouer’ te noem, nie ‘resident’ nie.”

      Hulle loop onder William se groot sambreel huis toe. Die pad is vol modderpoele. Madame de Remony se swartgeklede hand rus op sy arm asof hulle in die koninklike tuin by Versailles wandel, met die linkerhand lig sy haar rok van die grond. Haar seun kyk nou belangstellend om hom na die huise, die swart slawe uit Madagaskar kaalvoet en sonder hoed, die Oosterlinge met toering, kabaja en kaparrings. Sy loop moedig die lang afstand langs hom. Al is sy uitgeput sal sy dit nie wys nie, want haar stil seun steun op haar soos ’n soldaat op sy offisier. Geen offisier laat ooit merk dat hy moeg is nie.

      William skud die water van sy sambreel af en terwyl hy sy skoene aan die voetskraper by die voordeur skoonmaak, bekyk sy Saasveld, die smalheid en diepte daarvan, die honderde ruite. Waaraan dink sy? Dan hou sy aan sy arm vas terwyl sy die sole van haar swart steweltjies met hul beskadigde punte een na die ander afskraap.

      Die stoele, tafels en kandelare van die vorige aand se vergadering is weggesit, maar die Athenaeum-reuk van tabakrook, sweet en brandewyn, dinge waarin ’n Kaapse lewe verberg lê, kleef aan die tafelkleed, aan die klavier se swart bekleedsel, aan gordyne en stoelkussings. Hy stoot vensterrame op en stel haar en die seun aan sy slavin voor.

      “Flora, dit is madame De Remony en André.” Die slavin groet met ’n kniebuiging en Francine-Marie steek haar hand in die swart handskoen uit.

      “Francine-Marie. Ek is bly om u te ontmoet.”

      Flora se ma van Java het haar dogter Florisina genoem, ter gedagtenis aan ’n Hollandse matroos van verbygaande betekenis. ‘Sapitahu,’ sê hulle, wie ken hom?

      William vertel kortliks soos hulle deur die ruim voorhuis loop: Flora is hier gebore; sy is ’n hoeksteen van sy huis. Sy is vir hom onmisbaar.

      Flora dek die tafel en sit vir hulle koue ham, jong uie in asyn gepekel, witbrood en rooi kweperkonfyt voor. “Wat’s dit met dié ene?” vra sy en wys na die seun met die bleek vel wat by die tafel se hoek staan en deur reëngespikkelde ruite staar na die kortgesnoeide pruimbome, asof hy voëlverskrikkers sien wat die huis omsingel.

      “Hy het sy pa verloor. Hulle bly hier tot ek raad weet met hulle. Sy ma sal vir hom kos na sy kamer toe neem. Maak die vensters oop dat hier lug inkom en hang water oor, as ons gaste wil was.”

      Hy lei madame De Remony deur die huis. Hy laat haar kies watter kamers sy wil gebruik en sy kies die een met twee enkelbeddens en ’n uitsig oor die reede en die vlakte tot by vaalgevlekte Tygerberg, twaalf myl ver. Sy eie seuns het in dié kamer geslaap, maar dit staan jare al in onbruik. Sy wil graag vereers vir André by haar hê, sê sy. Hy kyk dat alles daar is wat nodig is, ’n olielamp op die kleedtafel, ’n kom-en-beker op die wastafel, twee blakers met regop vaderlandse kerse en in die bedkas ’n sonderlinge kamerpot, buite en binne geblom met baksteenrooi en turksblou en helderblou krisante, die geskenk van ’n Persiese ambassadeur op pad na Den Haag. Hy maak die klerekas oop om in te kyk, alles is leeg en bruin, dit ruik na hout en kamfer. Maar eerstens, eerstens moet hy raad vind met daardie Engelse skepe in Simonsbaai. Hulle moet vóór in sy gedagte bly, sy kanonne moet op húlle rig, aksie moet volg.

      “’n Spieël, miskien?” Ses of agt groot spieëls in vergulde rame is saam met Geesje hier uit.

      “Asseblief, as dit moontlik is.”

      “Natuurlik. Flora sal dit bring. Ek kom vanaand teen sononder huis toe. Neem uit die spens wat julle verlang. Kyk buite rond; daar is ’n paar karperde en ’n koei in die kamp, hoenders, ganse en so. As u klere of iets nodig het, gaan gerus dorp toe en laat dit op my rekening maak; ek trek die koste later van u loon af. Hilletje Verwey is die beste, hoor ek. Flora sal u wys.”

      Flora sê: “Hilletje naai vir bediendes en vryswartes. Juffrou soek vir Sara van Sumbawa. Sy kyk alles af wat inkommers dra.”

      “So. Flora sal u wys.”

      “Dankie, maar ek maak self my klere. Wanneer kan ek u kinders ontmoet, monsieur Van Oudshoorn?”

      “Daar is twee seuns. Hulle woon nie by my nie. Maar ek het vriende wat jong kinders het. Of dalk wil u as assistent vir ’n ander werk, soos vir Herr Anreith. Sal dit goed wees?”

      “Dit sal goed wees.” Noudat sy meer sekerheid het en effens ontspan, sien hy diep moegheid in haar oë en voel hy verontwaardig oor die misdaad en onreg wat haar en haar kind met brutale geweld deur offisiere van ’n Kompanjieskip aangedoen is. Hy, onregstreeks, het haar in daardie gevaar laat kom. Sy sal wel later wil weet wat van Saasveld se huisvrou geword het.

      “En barones Van Oudshoorn?” vra sy.

      “Sy woon by haar ouers op hul plaas.”

      “Is sy gelukkig?”

      Sy bedoel, is Geesje tevrede? “Nee.”

      Sy vra nie meer inligting nie en hy gaan na sy voorhuis terug. Dit ruik hier soos enige taphuis, Joop op de Hoek, Le Coq d’Or of De Laaste Stuijver, behalwe dat die suur reuk van klam saagsels afwesig is. Mans alleen ken dié reuk, eensame mans wat goedkoop geselskap soek, ’n vrou sal sê dit stink. Sy huis was lank leeg, dit voel al vir hom of dit nie meer ’n hart het nie. Madame De Remony wou weet of sy hier oortree, of sy in veiligheid en rus mag bly. Hy sal dit aan haar stel dat dit van haar afhang, dat sy kan bly so lank as sy wil. Hoe sy huis stil geword het kan hy nie aan ’n vreemdeling vertel nie, maar Geesje is weg, hier is niks meer van haar nie, behalwe haar stem. Hy skink ’n glas rooi Constantia, ruik en proe daaraan, sluk twee monde vol.

      Trou, as jy eensaamheid wil ken. Suster Machteld en dominee Van Lier het Geesje laat verander, hulle het sy bestendige lewe aangeval en verander. Hy was twee maal ongelukkig en het nie meer op ’n derde kans gehoop nie. Nou is hier iemand anders wat ook van ’n huwelik se vriendelike toegeneentheid, ondersteuning en vastigheid beroof is.

      Onheil sluip jou huis ongesien binne, wanneer jou vrou vroom word en nie kan ophou bid nie. Vir Geesje het Suster Machteld se bidure belangriker as haar eie gesin geword. Sy kon nie soos ander mense met god en natuur tot ’n verstandhouding kom en eenvoudig met die lewe voortgaan nie, onbekend, moeilik en kort soos dit is. Wanneer Geesje met gevoude hande kniel, moes bediendes op hul tone loop terwyl hulle haar kinders grootmaak. Maar daaraan is niks te doen nie; ons word slawe van ons noodlot voor ons gebore is en dit vervolg ons tot ná ons dood om selfs ons nagedagtenis en nagelate naam te teister.

      Wat sy wou hê is kinders, dis haar reg, die agbare status van mater familias. Hoeveel? Miskien dertien of veertien, soos juffrou Baumgardt. Hy moes dit voorsien. Amper gelyktydig met haar vroomheid, en asof dit daaruit gevloei het, het Geesje binne maande stuurs en venynig geword, asof sy dink: Ek het godsdiens, ek het mag.

      Aan die begin het hy met haar gelag en gehoop dat humor haar sal genees. Hy sê: Jy lees my die leviete voor en gaan direk voort met fariseërs, samaritane en filistyne. Hy kon nie uitvind wat haar houding veroorsaak nie. Tussen haar voorsate was miskien skoolmeesters of sieketroosters, want haar teregwysings het nie opgehou nie. Dit was nie humeur alleen nie; haar hele geaardheid het na die negatiewe geneig. Vra haar iets eenvoudigs en sy begin met ’n weerspreking of ’n siniese teenvraag wat, as hy hom nie dadelik aan die gesprek onttrek nie, oploop tot ’n bitter tirade wat hom moedeloos en treurig laat. Asseblief, asseblief, Geesje.

      Hy het betaal vir die klere wat Geesje wou hê, en nuwe meubels, Franse styl, want Saasveld s’n was vir haar te ouderwets, en dik gordyne en spieëls met vergulde rame. Dit het nie gehelp nie. Hy het gewens dat sy met hom wil praat, kla soos ’n vrou wat afgeskeep word of huil soos een wat veronreg voel. Kom, praat met my, Geesje. Kom, kla. Kom, sê: ‘Jy het my bedrieg, William, waarom wou jy met my trou, ek kon iemand anders gekry het wat soos ek is en wat van my mooi huis hou en dink ek lyk mooi in my rokke. Jy het ’n óú gees, ek het nie geweet jy lewe soos ’n paap nie, jy wil nie eet nie, jy drink net. Ek het nooit so ’n lewe geken nie. Waarom eet jy nie my kos nie, ek het die hele dag voor


Скачать книгу