Eilande. Dan Sleigh
Hollander se gewoonte om jou te laat wag; dit maak jou nederig. Maar dit doen die Engelsman ook. Bo hulle koppe was die vlag soos ’n nat lap teen sy paal geplak. Die reën het sag teen die Fort se grondwalle gesif en slootjies daaruit ondertoe gespoel. ’n Nat wind het oor die bossietoppe gevee. Die kind het gerittel van die koue. Hy het haar belowe: “Binne sal dit warm wees.”
Toe kyk sy op na hom toe. Hulle oë hou aan mekaar vas, vir steun. Onder die punthoedjie is die gesiggie driehoekig, met twee groot swart oë, weggesak in hulle kasse bokant hoë wangbene. Haar twee beentjies onder die karos is soos stokkies. Sy is uitgeteer. As die Hollanders net vleis aan haar kan kry. “Jou ma was altyd blink in die gesig, blink arms en bene, hare blink van vet. Ek het nie ’n hoef of ’n horing om vir jou te gee nie, susterskind, maar hier binne gaan jy warm wees.”
“Ek wil nie gaan nie. Ek is bang.”
“Jy is so slim. Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie. Onthou jy die skip Haerlem? En jou mense is nie ver nie.” Hy wys deur die donker en reën. “Net daar by die Duintjies.”
Toe wag hulle weer in stilte.
Die swaar grendels is oopgeskuif, een onder naby die grond, ’n ander bokant hulle koppe. Toe die hek oopswaai, is dit Van Riebeeck self wat daar staan, toegedraai in sy swart oliekleed soos ’n nat vlermuis. Agter hom twee soldate met stukke seil om die skouers en verroeste ysterhoede op. Die water het getap van die rietdakke om die binnehof.
“Kom in.” Hy het vooruit geloop, na sy groot kliphuis teen die agterste muur. Die poort is agter hulle toegeswaai met ’n ruk van die wind en ’n slag, en gegrendel. En toe is hulle eindelik uit die reën. Maar met die toeklap van die woonhuis se deur, weer gehelp deur ’n vlaag wind, spring die skrik in Chief Harry op. Gevang. Heitse! Dan kyk hy rond: Daar is plankvloere, vensters hoog in die mure, gewere en pieke teen die muur. Deure aan die linkerhand en die regterhand, die wit tefie op ’n toumat voor ’n springende vuur.
Voor die herd was twee bankies. Van Riebeeck het een vir Chief Harry reggeskuif. Krotoa het op die mat gekniel met haar hande na die vlamme, en die hond het opgekyk en sag met haar stert teen die mat geslaan. Van Riebeeck het gesê: “Is jy die enetjie wat Hollands praat? Ek het van jou gehoor.” Uit ’n blou potjie op die herdrak het hy ’n blokkie bruin beetsuiker gehaal en in haar mond gesit, en geglimlag vir die plesier op haar gesig. Toe vra hy in Engels:
“Wel, Herrie, wat gaan van ons word?”
“Ek kan dit nie sê nie.”
“Julle is honger. Is dit waarom jy hiernatoe gekom het? Julle is almal honger. Jy het die kind gebring sodat ons vir haar kos gee.”
“Ja.”
“Ons is ook honger, Herrie. Glo jy dit nie? Vanoggend vroeg in hierdie weer het ek ’n skuit na die eiland toe gestuur om eiers en pikkewyne te soek. Hulle is nog nie terug nie. Hier het my mense gister ’n dooie bobbejaan, drie, vier dae dood, uit die berg aangedra om te eet. Ek het nie kos vir my eie mense nie.”
“Hoe eet julle dan?”
“Ons vang vis, eet robbe, pikkewyne.”
“Ja, daarvan kan jy gee.”
“Nee. Haerlem se wet: eers werk, dan eet. ’n Kind sal gevoer word, en ’n vrou kan gehelp word, maar ’n man moet werk. Is dit by julle ook so?”
“Ons is almal honger. Gogosoa het ons vee gevat. Wat daarvan as julle bobbejaan moet eet? Ons kom klaar met sprinkaan, muis, kraai, al die vullis van die veld.”
“Maar hierdie winter sal julle moet werk.”
Krotoa het ’n woordjie onthou, en hardop gesê: “Suiker.” Van Riebeeck het geluister of dit ’n versoek was, maar toe sy nie na hom kyk nie, het hy nog ’n blokkie in haar hand gesit.
“Wat is jou naam?”
Sy het haar ken op haar bors laat sak, en hy het vir Chief Harry gevra: “Evatjie?”
“Krotoa.”
“Watse kos het julle by Nieuw Haerlem gekry?”
“Brood en rys. Vleis. Arak, tabak.”
“Watter werk het die kind daar gedoen?”
“Met die kosmaak en by die potte.”
“Ek het so gehoor.” Van Riebeeck het by die deur gaan praat met iemand in die kamer langsaan, en Eva het woorde gehoor en uitgeroep: “Brood en kaas!” sodat Van Riebeeck omgekyk het.
“Jy het skerp ore, Evatjie. Wil jy nie hier by ons kom woon nie?” En aan Chief Harry: “Jy sal moet Hollands leer. Engels is nie hier nodig nie. Die Engelse kom nie, dit is klaar met hulle.” Die kind het ’n derde suikerklont uit sy hand geneem. Toe haal hy sy pyp van die rak bo die herd, stop dit sorgvuldig uit ’n vaatjie op die tafel, terwyl hy die hele tyd vir Chief Harry in die oog hou. Met sy rug teen die warm herdmuur lê hy ’n kool op die stop, suig dit tydsaam aan die brand, en laat die rook uit sy mond draal. “Engelse tabak, uit die nuwe kolonies in Amerika. Heerlik soet. Nie so erg branderig soos die swart Turkse grasse wat hulle hier aan ons probeer afsmeer nie. Smaak meer na steenkool.”
“Ek ken Engelse tabak.Virginie.”
“Juis. Seker lanklaas gerook? Die gewoonte is dat ons tabak ruil vir vleis. Dit maak nie vir my veel saak nie, maar ons het skape nodig vir vleis en ek het beeste nodig vir my transportwaens. Pakosse en trekosse. Maar jy sê jy het nie skape of beeste nie?”
Die soet ruik van pyptabak het in die kamer gehang. Chief Harry wou nog nie bedel nie. Hulle gewoonte van tabak vir vleis was nie sy gewoonte nie, hulle skepe het daardie gewoonte hiernatoe gebring. Wat erg was: behalwe sy Engels het hy niks gehad om te verruil nie. Daarom het hy stilgebly.
“Ons vaar op die oomblik sleg, Chief Harry, maar ons gaan herstel. ’n Skaaptrop, spanne werkbeeste, waens gaan jy hier sien. Ek sal daarvoor sorg, met die hulp van Bo. Graan, tuine, tabaklande. Die baai vol skepe. Baie soldate, jy sal sien.”
’n Kok het ’n skinkplank gebring met brood en kaas, en twee bekers warm, gegeurde wyn. Krotoa het teen die tafel kom staan.
“Sit eers neer,” het Van Riebeeck vir die kok gesê. “Ek wil klaar praat.” Toe tel hy op sy vingers af: “Eerstens, ’n tolk. As Evatjie wil, kan sy hier woon. Sy sal by ons tafel eet. Al wat ek vra, is dat sy my vrou help met die kinders, die wasgoed, so aan. Tweedens: loswerk soos water dra, potte skuur, brandhout. Dit kan die ou vrouens van jou werf doen. Derdens, die groot saak. Ek moet skaap en bees hê, vir skeepskos, vir ons garnisoen se spyse, maar bowenal vir my transportwaens. Al moet ek dit self gaan haal. Al moet ek daarvoor moor.”
Op Chief Harry se stil knik het Van Riebeeck die pypsteel soos ’n pistool op hom gerig.
“Dit is jou werk om vir my diere te kry.”
“Ek?”
“Ja, jy sorg daarvoor. Laat ek genoeg vee kry, en jy en jou ou vrouens en hierdie kind gaan kos hê. Kos en tabak, en brandewyn. Wat sê jy?”
Chief Harry het die aand met ’n skilpaddoppie vol snuif na die dowe vrou gegaan, en gesê Krotoa is by die Fort, maar sal dikwels kom met brood en tabak. Hy het sy boog en pylkoker omgehang, en toe in die reën uitgeloop na die Cochoqua toe, waar nog bloedverwante van Krotoa was. Hy was vaak van die middag se drink en eet, maar solank dit reën, was sy spoor veilig. In die noordweste was die lug klaar donker, en hy wou tussen sononder en daglig die stuk veld oorsteek waar die Grigriqua laat wei. Dit was nóg ’n nasie wat teenspoed vir hom beteken.
Die aand daarna het hy by die Cochoqua gekom, met twee vet wyfieskilpaaie in sy bladsak. Oedasoa het hom laat verstaan dat hy reg gedoen het deur versigtig te wees. ’n Paar nagte tevore het Grigriqua probeer om hulle huise af te brand. Die rietmatte was te nat om vuur te vat, maar hulle het weggekom met twee of drie beeste. En dit was omtrent al wat Oedasoa gesê het, want hierdie hoofman van een helfte van die Cochoqua was ’n stil man. Chief Harry het twee dae daar vertoef en gepraat met Oedasoa en met sy vrou, maar die antwoorde en die vrae het net deur die vrou gekom. Sy