Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman


Скачать книгу
“’n Sportmotor het ’n direkte stuur. As jy aan hom ruk en pluk, gaan jy die kar omgooi.”

      “Die sandwal het my eerste gegooi. Dit sal help as julle die pad meer gereeld skraap.”

      “Hartjie …” Margo tik haar waarskuwend op die arm.

      Deneys lyk uit die veld geslaan. “Dis nie só lanklaas geskraap nie. Dis omdat dit lanklaas gereën het.”

      “Jy het my ontsenu,” hou sy vol.

      Deneys wil verder stoom afblaas, maar die groen toppie wat sy dra, het ’n V-vormige halslyn en aan die onderpunt daarvan wys ’n twee sentimeter lange verleidelike gleufie. ’n Halwe sentimeter sou genoeg gewees het om hom van koers af te bring. Skielik is hy ook ontsenu.

      Hy maak keel skoon en dwing sy oë tot bokant haar sleutelbene. “Onthou: dis ’n direkte kragstuur. En bly in die middel van die pad – daar’s minder sand.”

      “Goed, ek sal onthou,” gee Carmia ook ’n bietjie toe.

      Deneys tree terug. “Sien julle elfuur.” Hy draai om en loop na die viertrek.

      Langs Carmia blaas Margo stadig haar asem uit. “Jy speel op die treinspoor, kind,” waarsku sy.

      Carmia gee haar ’n sonnige glimlag. “Niemand kan stry nie: hierdie rondte is myne!”

      “Deneys is nie gewoond om tweede te kom nie.”

      Carmia se nuutgevonde selfvertroue is terug. “Ek ook nie. Nie meer nie.”

      Die res van die pad is die viertrek net ’n respektabele stippel in haar truspieël, en toe hulle die dorp binnery, swiep Deneys met ’n kopknik en ’n kortaf wuif verby, koöperasie toe.

      Carmia kyk verskonend na Margo. “Jy dink seker ek was lelik met jou kleinseun. Ek het dit nie so bedoel nie. Deneys is ’n oulike ou en ek hou van hom. Maar ek moet myself laat geld, anders gaan hy bo-oor my loop.”

      “Ek stem saam,” antwoord Margo. “Die moderne vrou moet weet én wys sy is ’n man se gelyke, nie sy vloerlap nie.”

      Carmia is verlig dat Margo dit so aanvaar. “Jou heldinne is ook nie die soort wat in ’n hoekie sit en huil nie – hulle is allesbehalwe die askies-dat-ek-leef-soort.”

      “Ja, ek verkies ’n meisie met woema.”

      “Maar sy moet ook nie ’n feeks wees nie. Al weet ek Deneys bedoel dit goed, kom hy te sterk oor. Dis dan dat my hare rys en my naels ’n bietjie uitkom.”

      Margo is verras. Sy kyk met nuwe oë na haar assistent. Nie so ’n ja-en-amen-valetjie soos sy die eerste dag gedink het nie. Carmia Basson het vele fasette …

      Deneys maak nie maklik oop nie, en sy verstaan nie aldag wat in sy kop aangaan nie, tog het sy agtergekom hy is nie onbewus van die nuwe toevoeging tot die huishouding nie. Inteendeel: daar is allerhande onderstrominge tussen die twee jong mense. Dit sal insiggewend wees om die kragmeting dop te hou. Haar kleinseun is gewoond daaraan om sy sin te kry, maar wie weet, hy gaan dalk meer as net ’n rondte teen hierdie blondekop verloor.

      Margo beduie vir Carmia waar om te parkeer. Daarna gaan wys sy vir haar die groentemark en snuisterywinkeltjies, en laaste haar gunsteling: ’n antiekwinkel wat in porselein en geelkoper spesialiseer.

      Sy koop twee kandelare vir die eetkamertafel. “Lastig hier by die see, waar koper so maklik aanslaan, maar dink hoe mooi gaan hulle lyk met rooi kerse in! Daar oorkant is Suzanne’s, waar ek nou die dag die mooiste mooi sjaal gekoop het – so ’n Meksikaanse affêre.”

      “Ek onthou: dramatiese pers, oranje en rooi. Jy het dit met ons onderhoud gedra. ”

      “Kom ons gaan soek vir jou ook een.”

      Margo kan met sjaals en serpe toor. Sy wys Carmia hoe om hulle te knoop, te bind, te drapeer en te gebruik as ’n hoed, ’n mus, ’n sprei oor ’n bank of selfs ’n gordyn.

      “Daar’s my volgende boek,” spot sy. “As ek moeg raak vir reis en romanses.”

      Carmia lag. “Margo Vermeulen: Die Nutsvrou!”

      “En nou, oor wat giggle julle?” vra ’n vreemde stem met ’n Engelse aksent.

      Carmia kyk om. Die stem behoort aan ’n smeulende donkerkopmeisie in ’n ontwerpersrybroek en stewels. Sy is heel duidelik deel van Ballito se eksklusiewe rykmanskliek.

      Margo se gesig versober. “Hallo, Tasha.”

      “Hi! Hoe gaan dit, aunt M?”

      “Goed, en met jou?”

      “Okay. Ek het afgevlieg vir ’n paar dae, vir die dressage-kampioenskappe. Daddy wil hê ek moet vir Desert Queen ry, sy’s bietjie frisky van te min oefening. En jy? Wat doen jy op die dorp, aunt M?”

      “Ons het kom inkopies doen.”

      “Ons?” Tot dusver het Tasha Margo se metgesel geïgnoreer, maar nou kyk sy nuuskierig na Carmia.

      “Tasha Alexander, Carmia Basson,” stel Margo hulle aan mekaar voor. Sy wag ’n oomblik voor sy byvoeg: “My nuwe persoonlike assistent.”

      Carmia is seker daar was leedvermaak in die laaste stukkie inligting. Afgesien van haar opmerking oor Tasha se taalvermoë, was Margo neutraal oor die meisie. Nou skemer daar egter ’n ondertoon van vyandigheid deur. Hoekom? wonder sy.

      “Corlia Basson?” Tasha se oë vernou en sy beskou Carmia soos ’n lastige insek wat onder die hak van haar elegante rystewel hoort.

      “Carmia,” korrigeer Margo.

      “Whatever … Familie van Vita Basson?”

      Margo huiwer en dis Carmia wat antwoord: “My suster.”

      Tasha kyk haar vreemd aan. Dit lyk of sy iets wil sê, maar dan van plan verander. Sy ignoreer Carmia en draai na Margo.

      “Ek het nie geweet jy het ’n PA nie, aunt M. Wat sê Deneys daarvan?”

      Margo se gesig is stroef. “Deneys het niks te sê nie. Ek is nog nie so seniel dat ek nie my eie besluite kan neem nie.”

      “Hy wil net hê Granny moet relax, dis al.”

      “Ek sal ontspan die dag as ek honderd is.”

      “En dis nog báie ver,” gooi Carmia haar stuiwer in.

      Tasha kyk teen haar neus af na haar. “Wat is jy: ’n tikster?”

      Carmia hou nie van die meisie nie en wil nie met haar in ’n gesprek betrokke raak nie. Sy knik kortaf.

      “Sy skryf ook,” las Margo by.

      ’n Neerhalende glimlag speel om Tasha se kersierooi lippe. “Wat? Briewe?”

      “Koerantberigte, kortverhale, dele van my boek …”

      “Hoe nice,” maak Tasha dit ligweg af en kyk op haar horlosie. “Ek sal graag nog wil chat, maar ek moet waai. Ek het ’n afspraak en ek is laat.”

      Margo wag tot Tasha heupswaaiend by die deur uit is, dan trek sy ’n suur gesig. “Nou weet ons hoekom Deneys vanmôre so dringend op die dorp wou wees. En ook met wie Tasha se afspraak is.”

      Sy maak die donkerkopmeisie se geaffekteerde stem na: “Hoe naais. Sorrie as ek naastie is. Maar mý nekhare rys as sy my ‘Aunt M’ en ‘Granny’ noem. Tasha voel vere vir my – sy’s net agter Deneys aan. Sy het Skamanga se drumpel deurgetrap onder die voorwendsel dat sy kastig met my tikwerk wil help. Deneys het my omgepraat om haar ’n kans te gee, maar sy het afgeskeep en geknoei. Wat hy in haar sien, weet nugter. En hy klap soos ’n oester toe as ek hom daaroor pols. Maar die dag as hy met Tasha Alexander trou, pak ek my goed.”

      “Trou?” herhaal Carmia met ’n skielike beklemming in haar binneste. “Is daar dan sprake van trou?”

      Margo maak ’n afwerende gebaar met haar hand. “Vergeet


Скачать книгу