Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
se emosies is nog in ’n warboel en sy wil nie daaroor praat nie. “Niks belangriks nie,” ontken sy. “Dis sommer ek wat te liggeraak was.”
Margo kyk na haar afgewende gesig en is nie tevrede nie. “Hy het nie susters nie, en sy ma is vroeg dood. Al vroulike invloed was ek, uit ’n veel ouer geslag en te verdiep in my eie hartseer en my skryfwerk om te weet hoe om ’n tienerseun te hanteer. Hy was maar op homself aangewese. Miskien daarom dat hy met verhoudings sukkel en nie altyd weet hoe om meisies te hanteer nie. Al bedoel hy dit goed, kom hy soms kras oor en kan jy dalk dink dat hy jou te na gekom het.”
Margo ken hom beter as ek, besef Carmia. Hy hét dit goed bedoel. Hy het gesê hy is besorg oor haar welstand; hy gee vir haar om, want sy is een van die twee vroumense in sy lewe. Sy behoort gevlei te voel en moes haar nie gewip het nie.
Hy was in elk geval reg oor die sjokolade: sy moes die vervlakste goed in die eerste plek nie aanvaar het nie, dan was daar nie ’n probleem nie. En dit kan inderdaad gebeur dat Arno du Plessis dit as ’n opening beskou om weer te probeer. Sy ego is so groot dat hy dit nie kan verwerk as ’n meisie nie vir sy attensies val nie.
Sy draai na Margo. “Vertel my van Deneys se ouers?”
Die ouer vrou sug. Sy vertel hoe ’n ontsettende skok die motorongeluk was waarin albei gesterf het. Dis amper twintig jaar gelede, maar dit voel soos gister … Sy was verpletter. Al wat sy wou doen, was haar kamerdeur sluit en nooit weer uitkom nie. Vriende en bure het dit goed bedoel, maar elke besoek, elke oproep en medelydende gebaar het die wonde opnuut oopgekrap en haar aan haar verpletterende verlies herinner.
Al wat gehelp het, was om haar hart en siel in ’n nuwe boek te verdiep – in fiktiewe karakters wat geleef en gelag en haar weggevoer het na ’n wêreld sonder seerkry. Dit het gehelp, maar ten koste van Deneys, wat net so diep getreur het as sy.
“Ek sal altyd voel ek het hom gefaal,” sug sy vol weemoed. “Ons is nou baie na aan mekaar, maar ek moes destyds minder egosentries gewees het en meer uitgereik het.”
Sy soek ’n sakdoek in haar mou en druk haar oë droog. Dan kyk sy op haar horlosie. “Genoeg oor myself … Dis bedtyd! Vandag was drukkend warm, en veral jy was heeldag op jou voete. Slaap môre laat as jy wil. Ek sal my intussen konstruktief besig hou. Daar is ’n lys korreksies wat ek op die band wil aanbring, en dan moet ek my held en heldin uit ’n klipskeur bo in die Drakensberg red. Dit sneeu en die temperatuur is minus 5 °C. Hulle is al sedert eergister daar vasgekeer en die heldin het boonop haar enkel gebreek. Hulle is sonder kos en dis so koud, ek is bang sy kry longontsteking.”
Carmia, wat van jongs af ’n swakte vir liefdesverhale het, wil meer weet, maar Margo weet self nog nie wat volgende gaan gebeur nie: of die man en meisie in mekaar se arms sal beland, of ’n luiperd hulle aanval, en of ’n helikopter hulle sal red nie.
Sy beplan nie die intrige ver vooruit nie, vertel sy. Dit neem die spontaneïteit en die lekker van die skryf weg. Soms neem haar karakters self oor en verbaas haar met wat hulle aanvang. Dit het selfs al gebeur dat die meisie op die laaste bladsy met die nare, bakleierige ou trou en nie met die goeie ou nie.
6
Dis omdat bakleierige ouens interessanter is as die goeie ouens, mymer Carmia terwyl sy haar bed oopmaak en tussen die lakens inkruip. Sy voel nog steeds sy mond teen hare; herroep die sensasie van sy hand daardie eerste dag toe Margo hulle aan mekaar voorgestel het. Sien in haar geheue die lyn van sy skouers, die fris, bruingebrande voorarms onder die opgerolde hempsmoue, sy oë wat telkens ’n ander skakering blou is …
Op laerskool was sy dolverlief op die buurseun; sy sou voor ’n bus ingeloop het as dit beteken het dat hy haar sal raaksien. Op hoërskool was daar die heldeverering vir hul Afrikaans-onderwyser, sodat sy haar in ’n koma in studeer het om hom te beïndruk. En by die technikon die bleeksiel-dramastudent saam met wie sy in die Sahara sou gaan bly het as hy haar sou vra. Maar nie een van hulle het naastenby soveel emosie in haar wakker gemaak soos Deneys Vermeulen nie. Vir hom sal sy van die dak af spring, of haar bloedgroep verander as hy sy vingers klap, haar kamersleutel gee en sê doen met my wat jy wil …
Dit moet liefde wees, al het hy hier buite op die balkon gesuggereer sy ken hom nie. Al het Vita gesê hy het haar ’n week lank migraine gegee …
Die volgende oggend is Carmia vroeg wakker. Al het Margo gesê sy moet laat slaap en uitrus, is sy te opgewonde. Sy staan op die balkon en kyk hoe die son oor die see opkom, adem die stilte in. Ná ’n vinnige stort trek sy een van haar nuwe broekpakke aan. Dan gaan soek sy na Margo se kantoor of werksplek of wat sy dit ook al noem.
“Eet eers,” nooi Dorie. “Mevrou begin eers negeuur werk.”
“Moenie moeite doen nie, net ’n skyf papaja is genoeg,” keer Carmia toe Dorie spek en eier wil maak.
Sy gaan sit met haar ontbyt op die stoep om te kyk of daar weer ’n walvis is. Die eerste dag van die res van haar lewe … Sy kan nie glo sy was gister hierdie tyd nog in daardie bedompige woonstel nie. En sy het aan Deneys gedink as ’n bedorwe rykmanseun wat nie ’n goeie eerste indruk op haar gemaak het nie.
Waar sou hy wees? Nog in Maputo, of op die lughawe, op pad Beira toe? Dis nog so lank tot Vrydag … Miskien as sy hom weer sien, besluit sy sy het te gou geoordeel en hy is nie regtig so waffers nie. Dié skielike verliefdheid is dalk sommer deel van die pakket: van haar opwindende nuwe werk, luukse omgewing en nuwe beeld.
Margo is vol ywer toe sy Carmia haar werksplek gaan wys –
’n ruim vertrek op die boonste verdieping, met ’n kompakte kombuisalkoof en ’n kleiner kantoor waar Carmia sal werk.
“Ek sal my lessenaar moet swaai,” merk Carmia op. “As ek nie met my rug na daardie hemelse uitsig sit nie, sal ek nie ’n enkele letter getik kry nie.”
Met elkeen ’n beker koffie in die hand, skets Margo kortliks vir Carmia die tema van die manuskrip waarmee sy besig is. Tien deelnemers – vyf mans, vyf vroue – ding mee in ’n Survivor-kompetisie in die Drakensberg. Elkeen wil die miljoenrand-prysgeld wen. Mettertyd word hulle een-een uitgeskakel, tot net vier oorbly: twee mans, twee vroue. Die heldin is aangetrokke tot albei: die een gaaf, die ander skoorsoekerig. Tydens ’n sneeustorm het die heldin verdwaal, van ’n rotslys afgeval en haar enkel gebreek. Die nare ou het haar gered en hulle skuil nou in ’n klipskeur, maar sy hunker na die ander ou.
“’n Luiperd is te bloeddorstig, en hulle kom ook nie dikwels voor so hoog in die berge nie,” dink Margo hardop. “Hulle moet liewer in mekaar se arms beland as in sy kake, anders is daar nie meer ’n storie nie. As die helikopter hulle te gou kom red, loop ’n potensieel bruikbare situasie ook dood.”
Sy kou aan die agterkant van haar pen en kyk dan op na Carmia. “Jy is jonk en mooi en het seker al dosyne kêrels gehad. As jy besig was om die boek te lees, wat sou jy wou hê moet gebeur?”
“Dit moet aanhou sneeu,” antwoord Carmia sonder aarseling.
Margo lyk geïnteresseerd. “Hoekom? Dis alreeds ysig koud.”
“Presies! Het hulle vuurhoutjies en brandhout?”
“Nee, alles is nat.”
“Komberse?”
“Nee, niks.”
“Gaaf! Al raad is dan dat die ou haar styf teen hom moet vashou en sy liggaamshitte met haar deel. Dis lekker romanties en kan geleidelik tot allerhande gewaarwordinge tussen hulle twee lei.”
“Al pyn haar enkel en het hulle twee dae laas kos gehad?”
Carmia lag. “As dit ék was in die arms van so ’n spierpaleis, sou kos die laaste ding wees waaraan ek sou dink. Het hulle darem water?”
“Ja, gesmelte sneeu.”
“Perfek. Liefde en koue water.”
“En haar seer enkel?”
“Net ’n soentjie op die regte plek en die seer is weg.”
“En