Ena Murray Keur 18. Ena Murray
p>
ENA MURRAY
KEUR 18
Eiland in die son • Señor die seerower • Sluiers van wierook
Jasmyn
1
Dit wemel op die groot internasionale lughawe van Madrid. ’n Bedrywige atmosfeer hang oor die mense wat óf pas van die een of ander uithoek van die aardbol aangekom het, óf reg is om na die een of ander uithoek van die aardbol te vertrek. Dis ’n kosmopolitiese versameling van tale en gesigte by een van die grootste lughawens op die vasteland van Europa. Hier, soos op alle groot internasionale lughawens, kom die wêreld se nasies bymekaar, en dis seker een van die min plekke op aarde waar hulle in so ’n ontspanne atmosfeer dieselfde lug inasem.
Die groot vliegtuie op die aanloopbane spog met die name van ’n stuk of twaalf verskillende groot lugrederye van oral oor die wêreld.
Willemien Heyns voel die opgewondenheid in haar opstoot. Hoewel dit nie die eerste keer is dat sy ook deel van hierdie prentjie uitmaak nie, is en bly die atmosfeer op ’n lughawe vir haar iets unieks, iets so anders as die gewone, dat sy haarself moet dwing om wêreldwys en ervare te lyk.
Maar die blink in haar oë kan sy nie wegsteek nie, en sy is onbewus daarvan dat ’n paar oë haar al ’n hele tydjie ongemerk dophou en geamuseerd elke wisselende gelaatsuitdrukking reg vertolk.
Sy merk eers die fyn waarnemer op toe haar blik terloops op hom val en sy ’n oomblik vas in die donker oë kyk. Verwarring flits oor haar gesig toe sy sien hoe geamuseerd hy lyk. Die bruin oë skiet ’n verergde vonkie na hom en met die pikante neusie effens in die lug, kyk sy vinnig weg. Maar dis of haar opgewondenheid skielik gedemp is, en sy is nou intens bewus van die oë wat haar bestudeer.
Sy draai na die man langs haar. “O, Ian, is dit nie wonderlik om te dink dat ons oor ’n paar uur, oor ’n enkele paar uur, terug in Suid-Afrika sal wees nie? Ek het die tydjie by die ambassade baie geniet en ek sal dit vir niks op aarde verruil nie, maar …” Sy lag effens verleë. “Ek is nou eenmaal ’n Suid-Afrikaner in murg en been en ek het ontsettend huis toe verlang. En hoe nader ons aan vertrek kom, hoe meer verlang ek! Foei! Arme Pappa en oom Martin sit seker al op die lughawe!”
Ian glimlag en druk haar terloops teen hom vas, iets wat die oë van die waarnemer nie ontgaan nie.
“’n Mens sou sê jy is ’n baba, Willemien, en nie al negentien nie!” terg hy en laat dan ernstig hoor: “Maar ek moet erken, ek is nou self haastig dat ons moet vertrek. Ek was nog nooit op hierdie roete nie.”
“Ja, ek is self nuuskierig om die vasteland van Afrika uit ’n ander hoek te sien. Ek is nou bly jy het daaraan gedink dat ons met ’n ander roete terugkeer Suid-Afrika toe. Om eerlik te wees, ek het nie eens geweet dat die Iberiese lugdiens ’n regstreekse vlug van Madrid na Johannesburg het nie.”
“Een van die landingsplekke is op die tropiese eiland Fernando Poo. Dis naby die kus van Nigerië en die Kameroen. Santa Isabel is die hoofstad van die eiland en is glo ’n paradysie op sigself. Met dié vlug sal ons dit alles sien.”
“O, en daaroor is ek baie bly,” lag Willemien, en weer sien die vreemdeling hoe haar oë skitter van opgewondenheid. “Jy weet mos dat ek ’n manie oor tropiese eilande het!”
“H’m.” Ian Crebbin kyk sy nooientjie glimlaggend aan. “Wel, Fernando Poo is die eerste wat jy gaan sien, maar dalk nie die laaste nie. Wie weet wat die toekoms alles inhou? Miskien wys ek jou nog eendag hoe lyk Hawaii en Tahiti.”
Sy skud haar kop laggend en lê dit in ’n teer gebaar teen sy skouer. Natuurlik is dit maar net drome, en drome sal dit bly. Ian is maar ’n junior in die diplomatieke diens en om veraf droomeilande te besoek, sal seker net ’n droom bly. Maar dit doen nie kwaad om te droom nie …
“Ek gaan gou ’n pakkie sigarette koop. Verskoon my,” sê hy en haar blik volg hom tot hy by die groot restaurant instap.
Vir die vreemdeling is dit duidelik dat die meisie baie verlief is, en sy oë vernou effens. Sy lyk ’n bietjie jonk vir haar vriend. Met die eerste oogopslag lyk die man byna haar ouderdom, maar vir die skerp oë wat hom ongemerk bestudeer het, is dit duidelik dat hy al ouer as dertig moet wees. En die meisie met die geesdriftige oë lyk nog soos ’n kind.
Daar is geen ringe aan haar vingers nie, maar as sy sý dogter was, sou hy haar beslis nie toegelaat het om alleen met hierdie man rond te flenter nie.
Die vreemdeling glimlag effens in sy enigheid. Waarom sal hy hom moeg maak oor ander mense se doen en late? Maar dis nogal ’n interessante manier om die tyd te verwyl terwyl hy wag vir die aankondiging dat sy vlug gereed is.
Sy blik dwaal oor die res van die mense om hom. Meteens verstyf hy en hy staar met strak oë na die twee mense skuins oorkant hom. Verbeel hy hom, of … ken hy daardie gesigte? Sy oë trek peinsend saam. Daar is soveel honderde gesigte in sy verstand ingeprent … Is die twee na wie hy nou kyk onder hulle? Hy wil net in sy gedagtes begin delf toe hy weer glimlag en doelbewus ontspan. Daardie tyd is verby, vriend, spreek hy homself stilswyend aan.
Onwillekeurig gaan sy blik terug na die meisie voor hom. Weer ontmoet sy oë dié van Willemien vlugtig, en weer kyk sy eerste weg. Op daardie oomblik kom die aankondiging dat die passasiers vir die vlug na Johannesburg oor Fernando Poo hulle by uitgang drie moet aanmeld.
Die vreemdeling staan op en begin langsaam aanstap. Toe hy agter Willemien is, sluit Ian hom weer by haar aan.
Hulle gaan staan in die ry, Ian voor Willemien. Reg agter Willemien neem die vreemdeling sy plek in. Hulle beweeg vorentoe en eindelik is al die formaliteite afgehandel en kan hulle aanstap na die groot staalvoël wat reeds met suisende motore op die aanloopbaan wag.
’n Sjarmante Spaanse lugwaardin wag hulle in en wys hul sitplekke aan.
Sonder dat Willemien dit doelbewus doen, merk sy op dat die vreemdeling twee rye agter hulle gaan sit. Maar onmiddellik vergeet sy van hom toe al die motore van die kragtige vliegtuig die een na die ander versnel word. Die waarskuwing kom dat alle veiligheidsgordels vasgemaak moet word. Die vliegtuig begin beweeg …
Die donker vreemdeling ontspan en begin weer met sy ou tydverdryf. Weer rus sy oë op die swartblink hare. Haar naam is Willemien, het hy gehoor … Pas nogal. Weer glimlag hy effens. Sy blik dwaal na ’n blonde vrou. Sy is mooi, nog jonk; baie duur en deftig aangetrek. Maar die mond is ietwat sinies. En die blou oë wat stip voor haar uitstaar, is hard. Peinsend trek die vreemdeling se oë saam …
Waar Lucia Cane stip by die venster uitstaar, is haar gedagtes bitter, haar bewegings senuweeagtig. Die paar weke van verposing is verby. Nou weer terug na daardie grafkelder, terug na daardie slaapkamer wat sy met ’n lyk deel … Hoe lank sal sy dit nog kan uithou? Hoe lank sal sy nog haar siel en haar jeug aan ’n ou man verkoop? Is dit die geld werd?
Toe sy twee jaar gelede met Julius getroud is, was hy reeds ’n man wat baie jare lank al vergeet het dat hy ook eenmaal jonk was; dat daar ook eenmaal lewenskragtige bloed deur sy are gebruis het. Maar sy het met hom getrou, want Julius Cane het geld gehad. Daarom kon hy haar mooi liggaam koop. Sy het toegelaat dat hy haar met harde munt koop, want hy was oud, sieklik, en so te sê sterwend. En wanneer hy dood is …
Maar dis nou al twee jaar … twee jaar dat sy wag dat hy moet sterf … en hy sterf nie. Een keer ’n jaar laat hy haar toe om oorsee te gaan, gee hy haar ses weke van vryheid, van grasie … wat sy ten volle benut. Dan lewe sy al die opgekropte hartstog in haar jong liggaam uit … want dit moet ’n volle jaar lank hou. Maar aan die einde van die ses weke moet sy terugkeer. Soos nou …
Die vreemdeling se donker oë rus weer op Willemien. Haar vriend het hom reggeskuif en is blykbaar besig om ’n uiltjie te knip. Tog is daar ’n ligte beweging in die vingerpunte teen sy voorkop wat verraai dat hy nie werklik slaap nie. Waaraan sou hy dink? Aan die voorgenome huwelik met Willemien? Maar waarom dan so senuweeagtig? Bang vir die toekoms en die ontmoeting met die aanstaande skoonfamilie miskien? Die vreemdeling tuit sy mond.
Ook Willemien rus teen die nekstut en hy kan sien dat haar oë toe is, maar aan haar asemhaling kan hy sien dat ook sy nie slaap nie.
Nee.