Ena Murray Keur 18. Ena Murray
is Julius Cane se vrou.” Sy sê dit smalend, lag weer bitter. “En terwyl ons nou almal saam in hierdie avontuur is, wie is julle?”
“Ek is Ian Crebbin, en dis my verloofde, Willemien Heyns.”
Die geld glip uit die vreemdeling se hande en val op die vloer.
Die stem van die kaper kom waarskuwend: “Moet niks waag nie, vreemdeling!”
Die donker man tel die geld op en gooi dit terug in die sak, sy oë skielik so hard soos staal. “Daar is jou geld. Dis alles … ’n pragtige sommetjie.”
Die kaper knik, glimlag vir die eerste keer ook met sy oë. “Pragtig! Maak dit behoorlik toe.”
Willemien verbaas haar vir Ian wat met die blonde miljoenêrsvrou sit en ginnegaap terwyl alles in háár op breekpunt is. Sonder dat sy registreer, sien sy hoe die vreemdeling se lang vingers die sak weer netjies toerits, haar gedagtes by haar pa en oom Martin.
Teen dié tyd moet hulle al gek van bekommernis en angs wees. O, hoekom het sy en Ian juis hierdie vlug gekies? Hoekom het hulle nie maar op die gewone roete teruggekeer soos oorspronklik beplan is nie?
Sy kyk na die leier voor haar. ’n Man wat wanhopig is, wat tot elke prys die geld sal probeer behou. Solank hulle vir hom en sy maat tot nut is, is hulle veilig. Maar watter waarborg is daar dat hy hulle nie soos honde sal plat skiet sodra die twee kapers dink hulle is veilig nie?
Sy wil nie nou al sterf nie. Sy wil nog lewe. Sy is jonk. Sy wil nog liefhê. Onwillekeurig dwaal haar blik na Ian. Sy het so baie mooi drome oor die toekoms … so baie planne … so baie verrassings … Maar Ian se blik is op die sak tussen hulle gerig en sy gesig is onpeilbaar, sy oë nou getrek asof hy die note deur die leeromhulsel kan sien …
“Goed. Kom. Die twee vrouens eerste. Dan Crebbin en dan jy, vreemdeling. Ons sal volg. Reguit na die vliegtuig. En ek waarsku weer: Ek sal nie huiwer om te skiet nie.” Hy kyk na die vreemdeling. “Om jou ontwil hoop ek jy het nie gebluf toe jy gesê het jy kan die vliegtuig vlieg nie, vriend. Want as jy gelieg het …”
“Ek het nie gelieg nie.” Hy kyk vlugtig deur die venster na buite. “Maar ek sal jou nie aanraai om nou te vertrek nie. Die storm is nie meer ver nie. Ek weet nie of jy iets van daardie soort vliegtuig in ’n tropiese storm weet nie, maar ék weet waarvan ek praat.”
“Spaar jou asem. Voor die storm losbars, moet ons in die lug wees. Komaan! Uit!”
Die gyselaars kyk mekaar magteloos aan. Solank hulle nog in die groot Boeing op die aarde is, is alles nog nie verlore nie.
Ian probeer weer. “Luister, hoekom moet die vroumense saam? Hoekom moet Willemien saamgaan? Haar pa het tog die losprys help betaal. Laat haar asseblief nou vry. Ek sal gewillig met julle saamgaan …”
“Jy het geen keuse nie, ou vriend,” lag die kaper smalend. Dan kyk hy af in Willemien se kinderlike gesiggie en skielik, tot almal se verbasing, sê hy: “Nou goed. Ek sal haar laat gaan. Maar señora Cane gaan saam. Nou toe. Klim af en maak dat jy wegkom,” beveel hy kortaf.
Willemien se blik gaan beangs na Ian en dan na die leier. “Maar wat van Ian? Waarheen neem julle hom? Sal julle hom werklik laat terugkom? Hoekom kan hy nie ook …?”
’n Hand sluit soos ’n staalband om haar elmboog en sy hoor die vreemdeling sissend by haar oor sê: “Jou klein dwaas! Gaan voordat hy weer van plan verander! Komaan! Spring en hardloop!”
“Maar Ian … Ek gaan nie sonder hom nie!”
“Dan kom jy verduiwels saam! Jy mors ons tyd! Kom, spring!”
’n Ruwe hand stamp Ian byna met geweld uit die vliegtuig en dan is die ander verplig om hom te volg. Ian Crebbin is besig om sy klere af te stof toe Willemien langs hom land en bekommerd vra: “Het jy seergekry?”
“Nee. Ek …”
’n Hand trek haar orent en weer hoor sy die vreemdeling se stem digby haar oor. “Sentimentele idioot! Kom!”
Terwyl die pistole van die kapers dodelik op hulle gerig bly en hulle sorg dat die gyselaars tussen hulle en die lughawegebou is, voel Willemien hoe sy na die wagtende vliegtuig getrek word.
“Klim in!” ’n Sekonde lank hou hy haar terug en sy donker oë gloei in hare. “Ek hoop net die wonderlike Ian Crebbin is dit werd – maar ek twyfel. Toe, roer jou! Ek kan nie opstyg nadat die storm losgebars het nie.”
“Maar hoekom vertraag ons nie die opstyging nie?” vra Ian hoopvol.
Die donker oë blits. “Moenie onnosel wees nie! Hulle sal ons dwing om op te styg en dit sal selfmoord wees.”
Die deure klap toe en met ’n kennersoog bestudeer die donker man die paneelbord voor hom. Langs hom hou die kaper hom noulettend dop.
“’n Vriendelike waarskuwing, vriend. Ek sal nie huiwer om jou soos ’n hond dood te skiet as jy enigiets waag nie.”
Die twee mans se oë ontmoet toe die motore reeds begin dreun.
“Dit sal baie dwaas wees, Diego. Wat van jouself … en die losprys?”
Die kaper verstyf merkbaar. ‘Wie sê vir jou ek is Diego?”
Die vreemdeling glimlag fyn.”Ek het sommer net ’n naam gekies. Dis al. Ek kan maar ’n ander een kies, as … Diego jou nie aanstaan nie.”
Die kaper kyk hom priemend aan en die pistool se loop word meer sekuur op sy hart gerig.
“Jy hou jou slim, vreemdeling. En jy praat te veel. Doen net jou werk en hou jou mond.”
Die vreemdeling knik, maar hy lyk nie afgehaal nie. Inteendeel. Die fyn glimlaggie bly om sy lippe toe hy na agter kyk. Reg agter hom sit Willemien, en hy kan die skok in haar oë lees dat hy op so ’n oomblik nog kan glimlag. Sy glimlag word breër. Hy kyk na Ian Crebbin en byna goedig kyk hy in die koel, bestuderende blik wat strak op hom gerig is. Agter Ian sit Lucia Cane, die enigste wat sy glimlag beantwoord. Langs haar sit kaper nommer twee, sy pistool waarskuwend omhoog sodat almal kan sien.
“Is julle gereed? Ek gaan opstyg … as ons vriendelike gasheer net sal sê waarheen ek moet vlieg.”
“Suidwes,” sê die kaper stug.
Die vreemdeling knik en die dreuning van die motore word harder toe hy hulle vol ooptrek.
“Alles reg?” wil die kaper weet.
Die vreemdeling glimlag weer skrams. “Ja. Hier gaan ons.”
Willemien sien hoe die grond skielik onder hulle wegraak, hoe die blou hemel al nader kruip, en haar hand soek na dié van Ian. Hy neem dit en gee dit ’n bemoedigende drukkie, maar sy oë hou die lughawegebou dop namate dit al kleiner en kleiner word.
Ook Lucia Cane sien hoe die toneel onder hulle verander en meteens oorslaan na groen boomtoppe, so dig opmekaar dat daar nie ’n stukkie grond sigbaar is nie. Die plantasies van Fernando Poo sorg vir die eiland se belangrikste uitvoerproduk, maar ook vir ’n groot deel van sy skoonheid. As ’n mens vergeet waarom jy in dié besondere vliegtuig is, kan die toneel onder jou jou na asem laat snak, dink sy ietwat geamuseer, en onwillekeurig kyk sy weer vorentoe.
Wonderlik hoe die lewe skielik wegswenk van die gebaande pad af, dink sy. ’n Paar uur gelede was sy spyt dat sy nie tyd sal hê om die interessante vreemdeling van nader te leer ken nie. Nou is dit so beskik dat hulle saam op pad is na ’n onbekende bestemming … Wie weet … miskien leer hulle nog meer as net mekaar se name ken.
Weer glimlag Lucia Cane. Vreemd, maar sy voel nie juis bang nie. Miskien omdat sy nie meer op pad is na haar stokou man nie …
Willemien probeer positief ontspan. Ondanks haar angs en die wete dat sy op pad is na ’n onbekende bestemming, is dit of die ergste vrees haar meteens verlaat. Solank Ian net by haar is …
Haar blik rus op die vreemdeling se donker agterkop. Vreemde man, dink sy verward. ’n Man wat jou verbaas, soms selfs skok, onseker laat voel, vrees inboesem