Ena Murray Keur 18. Ena Murray

Ena Murray Keur 18 - Ena Murray


Скачать книгу

      2

      ’n Stilte wat heeltemal onbeskryflik is, heers in die groot passasierskajuit van die Boeing.

      ’n Ademlose spanning wat die senuwees tot die uiterste beproef, hang om die wagtende passasiers. Daar is niks om te doen nie, niks om te sê nie. Al wat hulle kan doen, is om mekaar se oë te ontwyk, bevrees dat hulle hul eie vrees weerkaats sal sien en sodoende die spanningsdraad net nog stywer sal trek.

      Dis vrees – koue, naakte vrees – wat die histerie in toom hou, wat die passasiers oënskynlik kalm laat sit en wag dat die slepende minute moet verbygaan. Tog verraai die gespanne spiere, die geklemde kake, bewende lippe en die fyn pêrels sweet teen die slape die werklike omvang van die drama wat hom so in die grafstilte afspeel.

      Dan, meteens, kom die seine oor die radio. Terselfdertyd klink ’n ligte dreuning op. Terwyl die beangste oë sien hoe ’n tweemotorige vliegtuig die aanloopbaan nader, kom die boodskap van die beheertoring af: die bedrag wat die kapers geëis het, is beskikbaar. Dit is in die lughawegebou.

      Nuwe hoop vlam in die bevreesde oë op, en almal kyk na die twee mans wat nog roerloos, met hul vuurwapens gereed, hul blik berekenend oor die rye laat dwaal.

      “Ek sal die geld gaan haal,” sê die kaptein.

      “Nee!” Die een kaper se lippe krul. “Moenie dink ons is gekke nie. Ek sien deur jou plan, señor. As jy weg is, sit ons gestrand. Nee. Iemand anders gaan die geld haal.” Weer dwaal sy blik oor die rye, rus op die vreemdeling, draai weer weg en besluit dan op Ian Crebbin. “Señor, gaan haal jý die geld, en ek waarsku jou, geen speletjies nie! Ons hou die señorita agter.”

      Ian kyk hom strak aan. “Die lugdiens sal nie die losprys oorhandig as julle nie die passasiers vrylaat nie, señor,” sê hy logies. “Hulle sal julle nie ’n klomp geld betaal vir niks nie. Die voorwaarde was …”

      “Niemand stel hier voorwaardes nie behalwe ek, señor! Die voorwaarde is dat die passasiers vrygelaat sal word sodra ons die geld ontvang het.”

      Ian se kake is so sterk opmekaar geklem dat hy die woorde moeilik uitkry. “En watter waarborg het ons dat julle ons sal vrylaat sodra julle die geld ontvang het?”

      Die kaper glimlag vermakerig. “Geen waarborg nie, señor – behalwe dat al hierdie mense nie in die vliegtuigie sal inkom nie. Vyf van julle gaan saam met ons as gyselaars. Die res sal vry wees.”

      “En wat word van die vyf wat saam met julle moet vertrek?” Die vreemdeling se stem klink so doodgewoon nuuskierig op dat almal half verbaas na hom kyk. Hy sit ontspanne agteroor in sy stoel en dit lyk asof hy maar net geamuseer is met alles.

      Die kaper beskou hom met vernoude oë. Dan antwoord hy: “Sodra ons afgeklim het waar ons wil wees, sal julle toegelaat word om terug te keer. Ons stel nie belang in moord nie, señor – net in geld.”

      “Maar julle sal ook moor as dit nie anders kan nie.”

      “Si, señor. Jy begryp vinnig.”

      Weer is dit asof die vreemdeling wil glimlag. Dan kyk hy na Ian. “Goed, ou vriend. Gaan haal daardie geld.” Hy sien die vrees in Willemien se oë en vervolg: “Ek sal na haar kyk solank jy weg is.”

      Ian het geen keuse nie. Met ’n laaste blik na Willemien staan hy op en stap in die paadjie af. Die deur word oopgeskuif. Met ’n akrobatiese sprong beland hy op die grond en hy is ’n pateties eensame gestalte toe hy oor die teerblad begin aanstap in die rigting van die lughawegebou.

      Hy bly nie lank weg nie. Met ’n leersak waarin die losprys is, kom hy ná enkele minute terug. Alle oë is op die sak toe dit hard in die middel van die paadjie neerplof.

      Die kaper kyk die inhoud deur en sê dan: “U is nou vry om te gaan. Maar vyf van julle moet agterbly. Señor …”

      ’n Uitroep van die lugwaardin klief skielik deur die gespanne stilte: “Kaptein! Die kaptein! Hy … is dood!”

      “Sit stil! Almal!” klap die kaper se stem. Sy makker loer deur die deur wat na die stuurkajuit lei en knik.

      “Hy lê vooroor. Dit kan ’n set wees …”

      “Ek sal gaan kyk,” bied die vreemdeling aan en sonder om op toestemming te wag, staan hy op en stap na die stuurkajuit. Dan klink sy stem op: “Hy is nie dood nie. Lyk na ’n hartaanval.” Hy kom staan in die deur en sê kalm: “Hy is in elk geval nie daartoe in staat om ’n vliegtuig te hanteer nie.”

      Die kaper se oë is peinsend. “Die medevlieënier kan.”

      Kalm kyk die vreemdeling terug. “Ek kan ook.”

      “Jy is baie behulpsaam, señor,” sê die kaper sarkasties.

      Strak staar die twee mans mekaar aan. Dan glimlag die vreemdeling weer effens. “Ja, nogal.”

      Willemien se bruin oë rus fronsend op hom. Daar is iets eienaardigs aan hierdie man se optrede. Ook Ian Crebbin se blik is stip op hom gerig.

      “Wie is die vyf wat moet agterbly?” vra die vreemdeling.

      Die kaper se oë spring van die een gesig na die ander. “Ek dink ons hou señor Crebbin agter saam met sy señorita. Ook señora Cane. Dan een van die lugwaardinne en die medevlieënier.”

      “Ek het jou gesê ek kan die vliegtuig hanteer. Hoekom los jy nie die medevlieënier en die vroumense nie? Ek en señor Crebbin is genoeg …”

      “O nee, señor. Die señora en señorita gaan saam. Hulle is die belangrikste. Die mans kan eerder agterbly …”

      Ian kan dit nie meer uithou nie. Hoewel die pistool se loop waarskuwend op sy bors gerig word, spring hy op. “En hoe de duiwel dink jy kom hulle terug? Jy het gesê …”

      “Ons mors tyd,” val die vreemdeling hom in die rede. “As die vroumense dan moet saamgaan, vat hulle saam. Vir my en Crebbin ook. Dan is ons ses saam met julle twee. Vir meer is daar op daardie vliegtuig nie plek nie, en as jy uitkyk, sal jy sien ’n tropiese storm is aan die broei.”

      As die vreemdeling miskien gehoop het dat hy die kapers met hierdie nuus vir ’n sekonde van hul waaksaamheid sal laat afsien, word hy teleurgestel.

      Daar is net die flikkering van ooglede en dan knik die leier. “Goed. Die res van die passasiers kan nou die vliegtuig verlaat. En terwyl jy so behulpsaam is, señor, kan jy en señor Crebbin begin om die geld te tel en te kyk of alles daar is. Die twee vrouens kan julle help. Maar onthou … moenie dat daar ’n enkele noot verdwyn nie. My vriend hier sal summier skiet as daar die geringste verdagte beweging is.”

      Terwyl die medevlieënier en ’n passasier die bewustelose kaptein afhelp en die res van die passasiers met duidelik hoorbare snikke van verligting na die veiligheid van die lughawegebou hardloop, trek die donker vreemdeling die sak nader terwyl Lucia Cane en Willemien ook nader staan.

      Kalm, asof hy daaraan gewoond is om elke dag so ’n aardige hoeveelheid note te hanteer, haal hy die bondels uit en oorhandig aan elkeen ’n deel. ’n Oomblik ontmoet sy oë dié van Willemien toe dit lyk asof sy onwillig is om die geld by hom te neem.

      “Gou tel, en versigtig.” Dan draai hy hom na Ian. “Ek sal hierdie klomp tel. Daar is joune.”

      Weer raak dit stil in die groot vliegtuig. Ook die ander kaper het bygekom en nou kan net die geritsel van note gehoor word terwyl die leier met sy pistool agter hulle staan. Onwillig begin Willemien tel. Toe sy haar deel klaar het en aan die vreemdeling wil teruggee, sien sy dat hy ’n oomblik opgehou het met tel en stip na Ian staar. Maar op daardie oomblik is Ian ook net klaar en kyk op.

      “Dis die meeste geld wat ek in my lewe bymekaar gesien het. Nooit gedink ek sal ooit soveel harde kontant hanteer nie,” lag hy kortaf.

      Die blonde vrou gooi haar getelde geld neer en sê met ’n siniese stem: “En dit is in werklikheid niks werd nie.” Haar oë gaan van die een na die ander, rus dan op die vreemdeling. “Eenmaal het ek ook gedink dis waaroor


Скачать книгу