Ena Murray Keur 18. Ena Murray
Willemien wil opstaan, hou ’n hand om haar pols haar terug en ’n sagte stem sê: “Net ’n oomblik. Ek wil met jou praat.” Toe sê hy hardop vir die ander twee: “Sy sê sy kom ’n bietjie later.”
Ian kyk hulle onseker aan, maar besluit om liewer niks te sê nie en hy en Lucia verdwyn uit sig. Versteen sit Willemien langs Mark.
“Willemien …” Toe sy nie reageer nie, vat hy haar ken vas en draai haar gesig na hom. Lank kyk hy in die bevreesde oë voordat hy vra: “Wat is dit? Hoekom is jy skielik bang vir my?”
“Ek … ek is nie … bang vir jou nie. Hoekom sal ek … bang wees?” protesteer sy flou, maar sy kan sien hy glo haar nie. Meteens lê sy ander hand teen haar bors waar haar hart onstuimig bons.
“Jy ís bang,” verklaar hy onomwonde en glimlag stadig. “Jy is bang vir my, kleintjie … bang vir wat ek in jou wakker maak, nie waar nie? Maar jy is eintlik banger vir jouself. Jy besef nou Ian Crebbin is nie die man vir jou nie.”
“Jy …” Sy sluk swaar, dwing haar bewende liggaam tot kalmte. Sy mag nie, durf hom nie iets laat agterkom nie. “Jy praat in raaisels. Natuurlik is Ian nog …”
“Willemien!” Sy gesig word meteens weer streng. “Wanneer sal jy dit erken? Hoe lank gaan jy nog met hierdie klug volhou, jou klein gek? Wie dink jy bedrieg jy?”
“Ek weet nie … waarvan jy praat nie,” roep sy uit en wil van hom wegruk, maar sy greep verstewig en hy druk haar op die gras agteroor, sy donker gesig skaars ’n sentimeter van hare af.
“Jy weet baie goed waarvan ek praat, Willemien. Jy weet so goed soos ek dat hier in die oerwoud iets tussen ons ontkiem het, iets waarvan jy nooit weer sal kan wegkom nie. Erken dit!”
“Nee! Dis nie waar nie! Dis nie …”
Die uitroep op haar lippe word gesmoor toe sy mond meteens op hare is. Ook hierdie keer is daar min teerheid in sy aanraking. Hy soen haar weer driftig, wreed soos daardie dag … maar weer is daar iets in sy soen wat tot diep in haar wese indring en die vrou in haar aanraak en laat lewe.
“Willemien! Willemien! Hoekom wil jy dit nie erken nie?” fluister hy skor teen haar kuiltjie waar haar hartklop haar onstuimige emosies verraai. “Jy was netnou soos ’n dooie pop in Ian se arms. Ek het julle dopgehou. Maar nou … jy is nou ’n polsende vrou, my kleinding … of jy dit wil weet of nie.” Sy lippe beweeg teen haar nek op, soek weer na haar mond. “Die bewing van jou liggaam is genoeg erkenning. Dit vertel my dat dit so is, dat jy nou dieselfde vuur in jou het as wat jy in my aangesteek het.”
“Nee!” fluister sy skor terwyl sy haar lam liggaam tevergeefs probeer aanpor tot weerstand; terwyl sy vergeefs probeer om haar gretige mond van die soekende lippe weg te trek; vergeefs probeer stry teen die toenemende hunkering in haar.
Skielik kom daar uit ’n onverwagte oord redding. Mark lig sy kop onmiddellik op en sy voel hoe sy liggaam teen hare verstyf. ’n Oomblik versteen albei. Dan is dit of daar weer krag in haar liggaam terugvloei en die volgende oomblik breek sy van hom af weg.
“Dis ’n vliegtuig! Hulle soek na ons! Ian! Ian, waar is jy? Kom help! Ons moet ’n vuur aan die gang kry. Ian! Lucia!”
Terwyl sy half histeries na hulle roep, begin sy takke bymekaar sleep en bondel met bewende hande halfverrotte blare daaroor. Dit behoort genoeg rook te maak sodat die mense in die vliegtuig kan sien dat daar êrens in die groen oerwoud onder hulle ’n rokie trek.
Die ander twee hoor haar geroep en ongelowig kyk hulle na die blaredak bokant hul koppe. Dit is ’n vliegtuig en dit is een wat iets soek, want hy vlieg besonder laag en stadig.
Toe Willemien se wilde geroep weer eens opklink, wil Ian werktuiglik reageer, maar ’n hand gryp sy pols vas.
“Ek wonder of dit nou die aangewese tyd is om gered te word, my vriend.”
Hy kyk vinnig af na die blonde vrou. Hulle glimlag stadig vir mekaar.
“Ja. Miskien sal dit vir ons voordeliger wees as ons nie nou gered word nie,” beaam hy en hulle lag soos twee samesweerders.
Nat van die sweet en met sukkelende hande trek Willemien die vuurhoutjie.
Die volgende oomblik word die vuurhoutjiedosie uit haar hand geklap. “Maak dood daardie vlam – onmiddellik!”
Verwese staar sy na hom.
“Maak dood daardie vlam!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.