Ena Murray Keur 18. Ena Murray
daarenteen, gooi sy kop agteroor en lag asof hy haar woorde vreeslik amusant vind.
“Soos alle boewe het jy ’n verwronge humorsin, meneer Mark.” Toe sy vonkelende oë net na haar kyk, vervolg sy sissend: “Maar ons sal sien wie laaste lag!” Die bruin oë skiet vuur na hom.
Hy buig spottend. “Ek sien uit na daardie dag, kleintjie.”
Ian kyk haar aan asof ook hy nie kan glo dat hy reg gehoor het nie. Hy kry haar stewig aan die skouer beet. “Is jy van jou sinne af? Wat de duiwel wil jý met die geld maak? Jou pa sal nie armer wees sonder daardie paar rand nie. Hy het nog hope …”
“So? En waar kom jy daaraan? Ek het dit nie vir jou vertel nie.”
Hy kyk haar verslae aan en dis duidelik dat hy liewer lus voel om haar ’n slag deeglik te skud as om met haar te redeneer. Maar die koel oë wat na hom kyk, laat hom aarsel. Hy ken Willemien nie so nie. Sy was nog altyd so inskiklik, so tevrede met sy leiding, so verlief op hom. Wat het met haar gebeur?
“Hy móét nog hope hê as hy sonder meer help om vir sy dogter ’n losprys te betaal. Dis logies.”
“Is dit? Nie vir my nie. Hoeveel sou jý betaal het as die losprys van jóú geëis is, Ian? Sou jy betaal het selfs al was dit die laaste sent wat jy besit?”
“O, in hemelsnaam, julle staan en twis soos twee kinders en mors ons tyd,” sê Lucia vererg. “As julle dan wil loop, loop. Ons sal julle beslis nie soebat om te bly nie.”
Die nuwe, vreemde Willemien draai haar direk na die blonde vrou. “Ja, ek sal glo jy sal graag die laaste van my wil sien, nè, mevrou Cane? Maar jy gaan nie. As Ian wil gaan, kan hy dit doen. Ek bly!”
Dis asof sy in ’n yskelder staar toe sy in Lucia se oë kyk. “Baie onverstandig van jou, Willemientjie. Dit sal miskien vir jou veiliger wees om liewer saam met jou aanstaande man te gaan.”
“Is dit ’n dreigement, mevrou Cane?”
“Natuurlik nie. Ek meen maar net … Jy was al ’n paar keer amper dood. Die oerwoud is vol gevare …”
“Ja. Ek is heeltemal bewus van die … gevare van die oerwoud. Ek is bereid om te waag. Jammer om jou teleur te stel.”
Mark luister met genoegdoening na die kragmeting. Nou kom hy orent van waar hy arms gevou, ontspanne, teen ’n boom geleun het en sê kortaf, asof hulle hom meteens verveel: “Hou nou asseblief op met twak praat en laat ons aangaan. Niemand verlaat die geselskap nie. Kom.” Toe dit lyk asof Ian nie van plan is om sy bevel te gehoorsaam nie, draai hy om en hierdie keer het die glimlag verdwyn. “Ons stap almal saam volgens die pas wat ék aangee. Ek is jammer dat jy skielik so haastig is, Crebbin, maar jy sal jou maar moet aanpas by die res van ons. Nie een van ons drie is só gretig om weer in die beskawing te wees nie.”
“Jy kan my nie dwing nie …”
“Nie?” Blitsig beweeg hy en die volgende oomblik sluit ’n staalhand voor Ian se bors saam. “Moet my nie dwing om jou te wys watter groot skurk ek werklik kan wees nie, Crebbin. Tot dusver het ek my goed gedra, besonder goed, maar moenie die oerwoudinstink om selfbehoud in my te ver dryf nie. Jy het ’n skatryk skoonpa na wie jy kan teruggaan. Lucia is geholpe. Maar ek …” Hy los hom en sluk. “Ons stap en jy stap saam, Crebbin. Ek praat nie weer nie.”
Daar is ’n dodelike onverbiddelikheid in die sagte stem wat die verwoede Ian nie durf ignoreer nie. Maar daar is haat in sy oë toe hy teësinnig op die agterhoede begin aanstap.
Die twee vroue is vol verwarring. Hoekom is Mark so beslis daaromtrent dat almal in die geselskap moet bly? Dit sal haar pas as Ian en Willemien wil padgee, dink Lucia. Dan kan sy en Mark op hul tyd na die geld soek en daarmee verdwyn.
Onwillekeurig verskyn ’n sekere toneeltjie voor haar geestesoog en die blou oë word kliphard. Daar is ook meteens ’n ongerustheid in haar. ’n Paar minute gelede het Willemien gewys dat sy nie werklik so onvolwasse is soos hulle gedink het nie. En toe sy in Mark se arms was, was dit glad nie ’n jong, onervare kind wat hom teruggesoen het nie. Willemien het die afgelope paar dae grootgeword.
Is dit miskien die rede hoekom Mark so vasbeslote is dat Ian en sy verloofde nie vooruit mag gaan nie? Het die geheimsinnige vreemdeling hier voor haar lankal agtergekom dat Willemien nie meer so jonk is as wat sy was toe die vliegtuig geval het nie?
As dit die rede is … Haar lippe is ’n wit lyn. As dít die rede is, gaan hulle albei jammer wees.
Willemien wonder ook wat die rede vir Mark se vreemde optrede kan wees. Dis nou ’n voldonge feit dat hy in die geld belangstel. Die klein bietjie hoop wat daar nog in haar hart gehuiwer het dat Mark tog nie ’n skurk is nie, het gesterf. Namate die dae in die oerwoud verbygegaan het, het sy lagie vernis al dunner geword en netnou heeltemal afgedop. Die dreigende woorde aan Ian het Mark eindelik heeltemal verraai. Hy het selfs openlik erken dat hy ’n skurk is …
Maar hoekom weier hy dat Ian gaan? Sy wonder of hy al daaraan gedink het dat sy en Ian hom maklik kan verraai wanneer hulle in die beskawing kom. Hy moes tog al daaraan gedink het dat hulle dadelik hul verhaal aan die regte mense sal vertel. Of het hy sy planne agtermekaar oor hoe hy dit gaan voorkom? Koue vrees trek om haar hart saam en dis meer as die tropiese hitte wat die sweet op haar voorkop en handpalms laat uitslaan.
Maar hoekom wag tot die geld opgespoor is voordat hy haar en Ian se monde snoer? Sal hy dit doen? Is hierdie man werklik in staat tot koelbloedige moord? By haar bestaan daar geen twyfel dat Lucia Cane sal moor as sy dit nodig ag nie. Maar Mark …
Dieselfde toneeltjie wat Lucia se oë ’n oomblik gelede in kille haat laat saamtrek het, doem ook in Willemien se gedagtes op en sy voel hoe ’n blos opnuut oor haar gesig sprei. Sal die man wat haar só gesoen het, haar doodskiet? Sal hy, nadat hy haar soveel keer uit die kloue van die dood gered het, haar net so kan doodmaak? Is hierdie vreemdeling benewens ’n skurk en ’n dief ook … ’n moordenaar?
Alles in haar kom in opstand teen dié vraag. En tog … Sy onthou die onverbiddelikheid in sy oë en stem, in sy hele houding toe hy Ian voor die bors gegryp het … Sy het opgemerk dat Ian verbleek. Hy het besef hy moet liewer die bevel gehoorsaam; hierdie man moenie te ver gedryf word nie.
’n Rukkie later roep Mark halt en sê kortaf: “Ons kan hier eet en ’n rukkie rus. Daar is nie haas nie.” Sy blik gaan waarskuwend van die een na die ander. “Niemand dwaal te ver weg nie.”
Ian kyk hom net moorddadig aan en stap toe in die rigting van die rivier.
Willemien volg hom haastig. “Ian! Wag vir my.” Toe sy by hom kom, kyk hy haar stroef aan.
“Sal jou held nie ontevrede wees as jy alleen saam met my kom nie?”
Sy kyk hom pleitend aan. Sy is reeds so verward en nou maak Ian dit nog moeiliker. “Asseblief, Ian, ek wil met jou praat. Ons móét praat!”
“Waaroor?”
Sy byt haar onderlip vas en antwoord dan stil: “Oor ons twee … en ons toekoms. Stel jy nie meer daarin belang nie?”
Sy oë is skerp, ondersoekend. “Ja, maar ek het nie gedink …”
Met ’n snik gooi sy haar teen hom aan en weer klou sy hom krampagtig vas soos gisteraand. Diep in haar hart weet sy dit is ’n desperate ontvlugting van haarself, dat sy aan ’n strooihalmpie vasklou terwyl ’n meedoënlose stroom haar wil wegvoer. Sy gee haar oor aan sy omhelsing, maar toe hy haar eindelik laat gaan, weet sy dat sy met ’n verlore stryd besig is. Tog hou sy moedig vol om teen haarself te stry en teen dit wat haar hart haar vertel.
“Hierdie Mark …” begin hy fronsend, maar sy keer hom vinnig, oorhaastig.
“Kom ons praat oor aangenamer dinge. Daar is so baie wat ek jou wil vertel, waaroor ek wil gesels. Jy was natuurlik netnou reg. Paps is ’n redelike ryk man. Daar is mense wat hom skatryk noem. Ek het jou dit nooit vertel nie …” Daar is ’n gejaagdheid in haar stem, ’n onnatuurlike glimlaggie om haar lippe.
“Nee, jy het nie. Was jy bang