Ena Murray Keur 18. Ena Murray
Koel draai sy haar oë na hom. “O? Waarvan praat jy dan?”
Lank hou hy haar blik gevange en sy weet nie waar sy die krag vandaan haal om hom in die oë te bly kyk nie.
Dan sug hy meteens, sy fluisterstem koud: “Ek sien. As jy sit en wag dat ek jou om verskoning moet vra vir my … gedrag, gaan jy lank wag, Willemien.”
“Ek …”
“En as jy my nog een keer bedank dat ek jou lewe gered het, of ooit weer vir my ’n beloning daarvoor aanbied, breek ek jou nek! Ek stel nie in jou óf jou pa se geld belang nie.”
“Nee, natuurlik nie. Jy sal mos binnekort genoeg van jou eie hê, nie waar nie?”
Eers toe sy sy oë sien, besef sy wat sy gesê het, besef sy dat sy haarself in ’n oomblik van woede en teleurstelling verraai het. En wat sy nou in die gloed van die vuur in sy oë lees, laat alles in haar versteen van vrees, want nog nooit, nie eens in sy grootste woede, het sy sy oë so boosaardig sien blink, daardie mond so wreed sien inkeep nie.
6
Lank, baie lank, kyk hy net na haar. Toe staan hy op en onwillekeurig gaan haar hand uit om hom te keer. Ondanks al haar goeie voornemens, is dit nou vir haar dringend noodsaaklik dat hy vir haar sê hy is nie van plan om aan Lucia se plan deel te hê nie.
“Mark …”
“Ja?” Sy stem en sy gesig is ongenaakbaar.
Die bruin oë kyk pleitend na hom, maar eindelik laat sy haar blik sak en skud haar kop woordeloos. Sy het gedink hy het lankal weer gaan lê toe hy naby haar praat. Dié keer kyk hy nie na haar nie. Hy kyk na die sterwende vuur; die ligte skemering verraai dat nog ’n nuwe dag in aantog is.
“Gistermiddag het ek gedink jy het eindelik grootgeword. Maar jy het nie. Jy ken jouself nog nie.” Skielik kyk hy weer na haar. “Jy is nog ’n kind, ’n kind wat verdwaal is in ’n vreemde oerwoud.” Sy stem verander skielik, klink byna teer. “Antwoord my op net een vraag, sal jy?”
Die bruin oë kyk hom openlik bevrees aan, tog knik sy stom.
“Hoeveel beteken Ian Crebbin werklik vir jou?” Toe sy hom net sit en aankyk, skiet hy die volgende vraag op haar af: “Is dit nog ’n dringende behoefte by jou dat ons hom moet raakloop, dat hy nog moet lewe?”
Sy kyk vinnig weg, want sy weet sy sal hom nie kan antwoord solank sy in daardie deurdringende oë kyk nie. “Ek … natuurlik! Ons is verloof. Hy is die man … die man met wie ek gaan trou … as hy nog lewe.”
“Wíl jy nog met hom trou?”
Haar asem ruk in haar keel vas. Sy sit verlam voor dié reguit vraag. Wil sy nog met Ian trou? Maar natuurlik wil sy, maak sy haarself heftig wys. Daar het mos niks verander sedert die vliegtuig in die oerwoud geval het nie. Wat kon dan in die bestek van ’n paar dae gebeur het wat haar nou laat aarsel om hierdie vraag te beantwoord? Hoe kan sy wegskram van ’n antwoord? Daar kan mos net een antwoord wees.
Moedig lig sy haar kop op. “Natuurlik wil ek.”
’n Vreemde glimlag lê om sy een mondhoek. “Willemien, as hy op hierdie oomblik, nou hier, tussen die bosse aangestap kom … As hy in lewende lywe en gesond hier voor jou in die skemer verskyn … sal hy nog die enigste man vir jou wees?”
Dis meteens baie stil om die vuur. Is Ian Crebbin nog die man van haar hart of … sal daar in die toekoms tye aanbreek dat sy in sy arms sal wees en iemand anders … ’n vreemdeling … se beeld tussen hulle sal inskuif?
“Jy antwoord nie. Hoekom? Is jy nie meer seker nie?”
Sy kyk byna verwilderd op en haar stem is uitdagend: “Natuurlik is ek seker. Ek het Ian Crebbin lief en ek gaan met hom trou! Tevrede?”
“Nee.” Sy gesig is meteens weer dié van die vreemdeling van wie sy niks weet nie. “Want jy is oneerlik … met my, maar veral met jouself. Maar as jy jouself vir die res van jou lewe wil bedrieg, is dit jou saak. Dan het ek ook geen simpatie met jou as die toekoms jou op ’n harder manier as wat ek nou wou doen, gaan dwing om die waarheid in te sien nie. Dan verdien jy elke traan wat dalk op jou wag, en moenie dán na my toe kom en verwag dat ek hulle sal afdroog nie. Ek het nie tyd vir mense wat van hul harte moordkuile maak nie.
“In daardie opsig kan jy gerus by Lucia Cane leer. Sy is wat sy is, en sy gee nie voor sy is beter as wat sy is nie. Ek sien honderd keer liewer kans om met haar oor die weg te kom as met jou. Sy is miskien ’n goedkoop vrou, maar ek weet waar ek met haar staan. Maar met iemand soos jy, iemand so vals … so lafhartig soos jy …”
Sy sagte fluisterstem tref haar soos hamerhoue; sy oë is magneties, vol kille veroordeling. ’n Rukkie kan sy hom net verbyster aanstaar. En juis omdat daar so ’n verskriklike moontlikheid van waarheid in sy aantygings skuil, laat dit haar dinge sê wat sy andersins nie sou gedroom het om te sê nie.
“Jy is ’n mooi een om van ’n ander se valsheid te praat! Jy, Mark, is die laaste mens wat kan sê dat ’n ander ’n moordkuil van sy hart maak! Wie is jy? Wat is jy? ’n Skurk en ’n … dief! Gewetenloos! Beginselloos!”
Knellend sluit sy hand om haar pols. “Bly stil! Jy weet nie waarvan jy praat nie!”
“O, nie? Dan is jy nie van plan om saam met Lucia Cane, die vrou wat jy vir my as voorbeeld voorhou, geld te steel wat nie aan jou behoort nie? Dan is jy nie van plan om …”
“Willemien, bly stil!”
“Hoekom? Omdat ek die waarheid praat?”
“Jy weet nie wat die waarheid is nie, jou snobistiese, bedorwe brokkie!”
“Ek is liewer snobisties en bederf as sleg … deur en deur sleg soos …”
“As jy een woord verder sê, sal jy jammer wees!”
“So? Gaan jy my weer klap? Dis mos wat jy gewoonlik doen, nie waar nie?”
“Nee.” Haar pols is nog pynlik tussen sy vingers vasgeknel. Hy los dit skielik, staan op, kyk af na haar en sê verdoemend: “Jy is nie ’n klap werd nie!” Toe draai hy om en stap die bosse in.
Willemien bly wesenloos voor haar in die dooie vuur staar. Bokant haar kop hang die eerste strale van die son oor die boomtoppe. En oorkant die vuur, oënskynlik nog vas aan die slaap, glimlag Lucia Cane.
Dis ’n martelende dag wat verbygaan.
Soos Mark gewaarsku het, versnel hy die pas aansienlik, en die dag word vir Willemien ’n louter pyniging wat sy moet deurworstel. Die afmatting, stromende sweet en senutergende spanning van die vorige dag is kinderspeletjies teen vandag, en boonop het sy die vorige nag niks geslaap nie. Maar vandag is sy ook geestelik uitgeput.
Dis asof sy meteens nie meer moed het nie, nie meer geloof het dat hulle Ian sal raakloop, dat hulle self ooit lewend uit hierdie oerwoud sal kom, dat daar nog ’n toekoms op haar wag nie. ’n Morbiede neerslagtigheid het van haar besit geneem en sy probeer nie eens daarteen stry nie.
Somber kyk sy na die groot man voor haar, maar vandag wag sy vergeefs dat hy telkens moet omkyk, dat hy bemoedigend moet glimlag. Die enkele kere dat hy wel omkyk, is dit net vlugtig en is sy oë onpersoonlik, traak-my-nieagtig, asof dit hom nie sal raak as sy nie meer kan byhou nie. Sy oë soek gedurig, nes dié van Lucia, en Willemien weet dat hulle nie vandag na dreigende gevaar soek nie.
Maar dit kan haar nie meer skeel as hulle die geld kry en dit vir hulself toe-eien nie. ’n Gevoellose onverskilligheid het oor die wanorde in haar hart neergesak, maar tog weet sy dat dit onder daardie onverskilligheid seer is.
Sy ignoreer dit, sluit haar gedagtes met haar laaste bietjie wilskrag daarvan af … want sy is nie van plan om daardie seer te ontleed nie. Sy durf nie! Iets waarsku haar dat sy liewer nie te diep moet delf nie, liewer nie die bron van daardie kloppende pyn moet probeer ontleed nie.
Lucia, daarenteen, het nog nooit so op en wakker en lus vir die lewe gevoel soos juis