Ena Murray Keur 18. Ena Murray
oë asof deur ’n magneet vasgevang na hom staar.
“Willemien, in hemelsnaam, sal jy nie …?” Dan is dit asof daar iets in die groot man knak, asof ’n staalveer wat nie langer deur die ysere wilskrag vasgehou kan word nie, in hom losspring en hy soen haar. Wild, roekeloos, byna bruut. Sy arms trek die bewende lyfie styf teen hom vas.
Net ’n oomblik lê sy passief in sy arms. Dan, asof ’n vreemde mag groter as sy self van haar besit neem, sirkel haar arms om hom en soen sy hom soos sy nooit geweet het sy ’n man kan soen nie.
Dis asof selfs die natuur op hierdie oomblik van oorgawe sy asem ophou, want om hulle is dit stil, baie stil …
Die volgende oomblik klink Lucia se roepende stem tussen die struikgewasse op. Toe Willemien haar oë oopmaak, lê sy alleen op die gras. Sy sien hoe Mark vinnig in die rigting van Lucia se geroep verdwyn.
“O, hier is jy,” hoor sy Lucia duidelik sê. “Wat het gebeur? Ek het ’n skoot gehoor?”
“Daar was ’n krokodil …” antwoord Mark gedemp, asof hy nog nie heeltemal homself is nie.
Lucia laat ’n ontstelde uitroep hoor: “’n Krokodil! Jy wil tog nie sê … Willemien is … hy het …”
“Nee, ek was net betyds. Sy trek net gou aan.”
Willemien is besig om haar rok haastig oor haar kop te trek, toe sy Mark hoor sê: “Ek gaan kos soek. Bly julle twee bymekaar. En bly wég van die rivier af!”
Terwyl sy met bewende vingers die reeds vertoiingde rok toeknoop, is Willemien intens bewus daarvan dat Lucia haar doodstil staan en betrag. Toe sy eindelik verplig is om op te kyk, snak sy na asem. Soveel haat het sy nog nie tevore in ’n mens se oë gesien nie.
Tog glimlag die lippe, maar Willemien word nie om die bos gelei nie. Dis naakte haat wat uit die vrou straal. Sou Lucia gesien het wat gebeur het? ’n Verraderlike blos spoel oor die jong gesig.
Die blou oë sien dit en verkil nog verder, hoewel die glimlag breër word. “Jy is met ’n interessante speletjie besig, Willemientjie, maar ek dink nie jy besef hoe gevaarlik dit is nie.”
Spontaan trek die skraal skouers agteroor en sy dwing haar oë om kalm in die bloues terug te kyk. “Lucia, as jy dink ek wou met ’n krokodil speel, maak jy ’n fout.”
“Jy is besig om met iets gevaarlikers as ’n krokodil te speel, my liewe kind. Jy is besig om te speel met die hartstog van ’n volwasse man. Jy is te jonk daarvoor, Willemientjie. Jy gaan seerkry …”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie. En hou op om my Willemientjie te noem. Ek is nie twaalf jaar oud nie,” sê sy geïrriteerd. Haar selfversekerde woorde is net bravade. Sy ís bang, erken sy aan haarself. Sy is sedert ’n paar minute gelede ontsettend bang vir haarself, vir Mark … en nou ook vir hierdie vrou voor haar …
“Jy gedrá jou soos ’n kind van twaalf,” sê Lucia en die onheilspellende ondertoon in haar stem verraai dat sy verteer word deur jaloesie. Sy het beslis gesien wat tussen haar en Mark gebeur het, besluit Willemien. Wat het my makeer, vra sy haarself af. Wat het my makeer om myself so te vergeet in ’n vreemde man se arms?
Lucia beskou haar op en af en die jaloesie sied deur haar. Sy sien nog die pragtige liggaam styf teen dié van Mark; sien die bewende hande wat haar vasgehou het, die lippe wat honger oor die jong mond beweeg het …
Sy het versteen gestaan. Sy kon nie beweeg nie. Sy was vasgenael teen die aarde terwyl sy aanskou het waarna haar eie liggaam, haar hele wese gesmag het. En dit was besig om met ’n ander vrou te gebeur … met Willemien!
Sy was op daardie oomblik in staat tot koelbloedige moord. Maar gelukkig het ervaring haar beweeg om stadig te retireer, om te maak asof sy na hulle soek, hulle nie gesien het nie …
En nou kyk sy na die jong liggaam voor haar, en in ’n waansinnige oomblik kan sy vorentoe storm en daardie mooi liggaam vir die krokodille voer. Maar met ’n selfbeheersing wat bewonderenswaardig is, bly sy roerloos staan, bly die glimlag om haar lippe, bly die haat ingehoue in haar oë smeul.
“Moenie kwaad word nie, Willemien. Ek bedoel dit goed. Maar die feit bly dat jy jou werklik soos ’n verspotte bakvissie gedra. Ek moet erken, ek is teleurgesteld in jou. Jy is veronderstel om ’n verloofde meisie te wees, nie waar nie? Jy is veronderstel om mal van bekommernis oor jou verloofde te wees.”
Willemien kan haar net staan en aankyk. Sy het geen verweer nie. Maar vir die eerste keer in haar lewe kom sy agter dat aanval die beste verweer is en dat sy ook katterig kan wees. “Ja, Lucia … net soos jy veronderstel is om ’n getroude vrou te wees, nie waar nie?”
Roerloos gluur hulle mekaar aan, en met verbystering vra Willemien haarself af: is dit werklik waar dat ons besig is om oor ’n man te baklei? Ek is verloof en Lucia getroud. En ons twee is besig om te baklei oor ’n onbekende vreemdeling sonder van, oor ’n man van wie ons niks weet nie, ’n man wat ons ’n week gelede nie geken het nie. Het ’n oerwoudwaansin ons beetgepak?
“Moenie jou naeltjies vir my wys nie, Willemien. Jy is te onervare daarvoor. Ek is jammer dat jy my woorde in so ’n verkeerde lig sien, want eintlik wil ek net keer dat jy seerkry. Ek ag dit my plig om jou te waarsku.”
“Teen wát?”
“Sal ons maar die toneelspel staak, Willemien? Ons weet albei waarvan ek praat. Ek is jammer as ek nou wreed gaan klink, maar as jy dink dat jy die enigste vrou in hierdie oerwoud is wat Mark al geliefkoos het, maak jy ’n fout. Om die waarheid te sê, ons … hoe sal ek dit stel? … was ook besig toe hy skielik ongerus begin word en besluit het om eers te kom kyk of alles veilig is.”
Sy sien die skok en ongeloof in die bruin oë en vervolg, haar stem nou amper moederlik: “Mark is ’n man, Willemien, en as ’n meisie nakend in sy arms lê, sou elke man gedoen het wat hy gedoen het. Solank jy net besef dat dít die beweegrede agter sy soen was, is jy veilig. Moet net nie meer daarin sien as wat daar was nie … om jou eie onthalwe.”
Willemien besef dat sy heeltemal weerloos voor Lucia is. Dit kan sy nie ontken nie. Sy kan nie sê dat Lucia ’n spul leuens aan haar opdis nie, want Lucia en Mark was alleen.
“Dan wil ek jou ook sê dat ek en Mark in die toekoms gaan saamstap sodra ek van Julius geskei is. Mark behoort aan my, Willemien. Jy moet dit baie goed verstaan.” Sy glimlag nou goedig, klop die jongmeisie selfs liggies op die arm. “Konsentreer jy maar liewer op Ian Crebbin, kindjie. Julle pas beter by mekaar. Moenie jou hart in die oerwoud verloor nie, want jy sal dit nie saam met jou terug beskawing toe kan neem nie. Dit sal hier agterbly … en dit sal baie dwaas wees, nie waar nie?”
Verwese kyk Willemien hoe sy verdwyn, en in haar bars ’n storm los wat haar bewend op die gras laat neersak en haar gesig in haar hande laat verberg. Wanhopig trag sy om orde uit die chaos in haar te skep, probeer sy al die vreemde, tot nou toe onbekende emosies in haar uitsorteer. Hoe kon sy, hoe kón sy haarself so in die vreemdeling se arms vergeet het? Dit was ’n duiwelse betowering wat skielik oor haar verstand en sinne neergedaal het toe sy lippe oor hare sluit. Sy het alles vergeet behalwe dat elke spier in haar liggaam eensklaps intens van hom bewus was. Iets in haar het vir die eerste keer met soveel ontembare vuur geroer en gespartel om uit te bars dat sy selfs nou nog bewus is van ’n eggo daarvan in haar liggaam. Selfs nou, terwyl sy eerlik probeer verstaan en ontleed wat met haar gebeur het, deins sy terug om daaraan ’n naam te gee. Iets wat tot dusver nog net vir haar ’n woord was, het ’n lewende, werklike ding in haar geword met Mark se bewende liggaam teen hare …
Sy kreun soos iemand wat pyn het toe sy moet erken dat sy nie eens in die teerste oomblikke tussen haar en Ian naastenby iets ervaar het soos netnou nie. Sy was nog nooit in haar lewe so bewus van ’n man nie; so bewus daarvan dat hy ’n man en sy ’n vrou is … dat daar ’n rede vir die verskil is …
In die hart van dié groen, ontembare oerwoud het sy vir die eerste keer ervaar dat daar in elke mens, diep in sy wese, óók ’n ontembare oerwoud skuil. ’n Oerwoud wat deur min ontdek word; ’n oerwoud waarin die primitiewe loerend lê en wag; ’n oerwoud wat