Ena Murray Keur 18. Ena Murray

Ena Murray Keur 18 - Ena Murray


Скачать книгу
heen eintlik nie verander het nie – dat mense nog maar net man en vrou is … niks meer … en niks minder nie …

      Met ’n sidderende sug lig sy haar kop op en kyk na die plek waar die gras nog platgedruk lê. Maar dit was die verkeerde man wat die vrou in haar wakker gemaak het, wat die oerwoud in haar binnegedring het. Dit moes Ian gewees het, die man wat sy liefhet. Want sy het hóm lief. Natuurlik het sy Ian Crebbin lief! ’n Paar dae gelede nog was haar hele toekoms om hóm gebou. Sy weet wie hy is, wát hy is. Sy ken hom. Sy is veilig by hom.

      Hierdie … ander man behoort aan Lucia Cane. Sy moet dit nie vergeet nie. Sy mag dit nooit weer vergeet nie!

      Uiterlik lyk Willemien maar net soos altyd toe sy haar by die ander aansluit. Behalwe miskien dat sy bleek is, wat te verstane is. Was dit nie vir Mark se vinnige optrede nie, sou sy nie nou hier gewees het nie.

      Maar innerlik, daar waar die speurende oë nie kan sien nie, is dit ’n vreemde Willemien wat werktuiglik hout begin nader sleep vir die nagvuur. As die man en die vrou wat haar ongemerk dophou, tot in haar wese kon sien, sou hulle nie die jong, onervare meisie van ’n paar uur gelede herken het nie.

      Want hoe vreemd ook al, word ’n vrou dikwels binne ’n paar minute gebore; vind die rypwordingsproses by menige jong meisie binne enkele sekondes plaas; word die onervare tiener ’n volwasse vrou met die enkele swaai van die pendule van die tyd.

      Soos die onbekende Mark gewaarsku het – die oerwoud leer jou jouself baie gou ken, wat jy is, wie jy is … waartoe jy in staat is. Binne ’n paar sekondes het Willemien meer emosies ervaar as in die hele negentien jaar wat verby is; het sy meer gelewe as al die jare van haar bestaan, en het sy meer ervaar.

      Hoekom het sy juis op dáárdie betrokke vlug beland en hoekom is sy gedwing om na hierdie eiland in die son te vlieg?

      Doelbewus dwing sy haarself om van die tropiese vrugte te eet, dwing sy haarself om haar kop op te lig en in die donker oë te kyk wat haar so stip dophou. Sy sê selfs met ’n glimlaggie: “Ek het jou nie bedank nie. Jy het weer ’n keer my lewe gered. Baie dankie.” Sy glimlag selfs teenoor Lucia. “Ek begin met jou saamstem. Ek is darem baie onverantwoordelik en kinderagtig, maar ek belowe ek sal van nou af my bes doen om minder ergernis te veroorsaak.” Weer kyk sy moedig na die man oorkant die vuur. “Nogmaals baie dankie, Mark.”

      Haar glimlag word nie beantwoord nie. Inteendeel, die uitdrukking op sy gesig laat Willemien se glimlag verstyf.

      Lucia trek haar oë op ’n skrefie.

      Mark antwoord nie, knik nie eens sy kop in erkenning nie. Sê net kortaf: “Julle moet sommer dadelik gaan slaap. Van môre af gaan ek die pas versnel. Ons moet uit hierdie verbrande oerwoud kom.”

      Nie een van die twee vroue sê iets nie.

      Mark is natuurlik haastig omdat hy so gou moontlik met sy en Lucia se toekomsplanne wil begin. Hy is haastig om uit hierdie oerwoud te kom, want hy en die jong miljoenêrsvrou het planne van hul eie, planne wat nie háár of die arme ou Julius Cane insluit nie.

      Sy slaap nie. Uur ná uur lê sy met toe oë en doen haar bes om egalig asem te haal sodat die stil gestalte aan die oorkant van die vuur nie moet agterkom dat sy wakker is nie. Teen middernag, soos dit die reëling die afgelope nagte was, maak hy Lucia wakker. Sy sal nou drie uur lank waghou en dan kom Willemien aan die beurt tot dit lig word.

      Willemien bly roerloos lê. Sy hoor hoe Lucia opstaan, hoor duidelik hul fluisterstemme.

      “Mark, ek wou nog gistermiddag met jou praat …”

      Sy stem klink moeg. “Ons kan môre praat, Lucia.”

      “Nee, Mark. Nóú. Wat ek wil sê, sal nie lank duur nie. Asseblief! Dis van die uiterste belang.”

      “So? Vir wie?”

      “Vir my … en vir jou.”

      “O?”

      “Ons kom nader aan die plek waar die geld afgegooi is, nie waar nie? Soos ek bereken het, moet ons min of meer van môre af in daardie gebied wees, of hoe?”

      Daar is ’n kort verposing voordat hy antwoord, en nou klink sy stem meer belangstellend. “Ja. Wat daarvan?”

      “Ek het gedink …” Haar stem klink nie so seker soos altyd nie. “As ons twee daardie geld in die hande kan kry … Dis baie geld.”

      “Dis kleingeld vir ’n vrou wat getroud is met Julius Cane.”

      “Maar ek gaan nie terug na Julius toe nie, Mark. Ek het vandag finaal besluit. Ek gaan nie terug na hom toe nie.”

      Haar aankondiging hang swaar in die stilte om hulle.

      “Jy moet baie goed dink, Lucia. Jou man is miljoene sterk, sover ek weet.”

      “Ek het klaar gedink, Mark. Julius kan sy miljoene hou. Ek sal heeltemal tevrede wees met wat hier wag om opgetel te word. Selfs as dit gedeel word, is dit nog baie geld,” vervolg sy betekenisvol en weer lê die stilte smorend om die vuur.

      “Ja. Selfs die helfte is ook nog baie geld.”

      “Tog … as dit die volle bedrag bly, nie nodig is om gedeel te word nie, kan ’n mens soveel meer daarmee uitrig, nie waar nie?”

      “Ja, dis logies.”

      Sy lag saggies, seëvierend. “Ek het ook so gedink.”

      Willemien hoor hoe hy hom uitstrek op die grond. “Ons praat maar weer wanneer ons die sak optel … as iemand anders nie voor ons daar was nie. Nag, Lucia.”

      Willemien dwing die bewing in haar liggaam onder beheer. Skok, ongeloof en ’n gevoel van diepe teleurstelling oorweldig haar. Dan is hy nog ’n skurk ook!

      Teen wil en dank kan sy die gevoel van teleurstelling in haar nie ignoreer nie. Sy weet hy kan roekeloos word, selfs genadeloos. Sy weet hy het ’n harde streep in hom, maar dat hy oneerlik sal wees, geld vir homself sal toe-eien wat nie aan hom behoort nie …

      Nog meer as tevore verag sy haarself vir dit wat só ’n man in haar wakker gemaak het; dat sy hom selfs toegelaat het om haar te soen. Lucia het heeltemal reg gehad. Sy en Mark pas honderd persent bymekaar. Hulle is ewe beginselloos, ewe gewetenloos. Koel en kalm kan hulle planne beraam om bloedgeld wat nie aan hulle behoort nie, te deel en daarmee te verdwyn.

      Om te dink Julius Cane het ’n groot som bygedra om die lewe en vrylating van sy jong vrou te verseker. En nou is daardie selfde vrou besig om planne te beraam om die geld te steel om met ’n ander man weg te loop. Wat meer is, Dirk Heyns het ook onmiddellik en vrywillig betaal vir sy dogter se lewe. Dis ook van háár geld wat hulle wil steel, háár geld waarmee hulle saam wil gaan lewe!

      So iets sou sy van Lucia verwag het, maar … Sy byt hard op haar bewende onderlip en ’n kille vasbeslotenheid neem van haar besit. Sy weet nie hoe nie, maar Lucia en Mark gaan nie met daardie geld wegkom nie, dit sweer sy. Sy het op hierdie oomblik nie die vaagste benul van wat sy gaan doen om hulle te keer nie, maar dis ’n stille eed wat sy in hierdie middernagtelike uur teenoor haarself aflê: wat ook al gebeur, Mark gaan beslis nie vir die res van sy lewe met háár pa se geld in weelde leef nie. En dit nogal saam met Lucia!

      As Ian net hier was … Nog nooit het Willemien so ernstig en opreg gebid dat Ian Crebbin nie dood moet wees nie, maar dat hulle hom nog sal raakloop.

      Toe dit haar beurt is om wag te hou, staar sy met somber oë in die vuur, onbewus daarvan dat sy stip dopgehou word en dat haar wisselende gesigsuitdrukkings fyn bestudeer word. Toe Willemien opkyk, staan hy voor haar.

      “Willemien …” Toe sy nie antwoord nie, maar in die vuur bly staar, praat hy verder. Sy probeer so hard om uiterlik kalm te lyk dat sy nie die onseker toon in sy stem hoor nie. “In verband met gister …”

      Pynlik skiet die rooi gloed in haar wange op. “Jy bedoel die krokodil?” Hemel, kan ’n mens werklik so kalm klink as alles in jou kolk en kook, wonder sy half verslae. “Ek verseker jou ek sal dit nooit vergeet nie. Jy kan daarvan seker wees dat my pa jou


Скачать книгу