Ena Murray Keur 18. Ena Murray
nie.” Hy los haar en staan ’n tree terug, sy oë ondersoekend. “Beteken dit dat ek jou nie weer mag soen voordat ons in die beskawing is nie? Is dit werklik my baard wat jou hinder of … soek jy maar net verskonings, Willemien?”
Sy kyk hom verslae aan. “Ian! Wat makeer jou vanmôre? Hoekom sou ek verskonings soek?”
“Dis wat ek myself afvra.” Hy kyk haar priemend aan. “Jy het verander, Willemien.”
“Jy is verspot. Hoe kon ek verander het? Hoekom sou ek? Dis net … jou baard is lank en … ek het nog nooit kaal saam met ’n man geswem nie. Ek … ek is nie daardie soort meisie nie.”
Hy stap sonder ’n verdere woord weg. Sy kyk hom bekommerd agterna. Sy het netnou, toe sy wakker geword het, na hom gesoek en toe by Lucia gehoor dat hy by die rivier is. Sy kon nie gou genoeg by hom kom nie, want sy het vas geglo as sy hom vanoggend sien, alles weer sal wees soos ’n week gelede. Sy sou na hom hardloop en hy sou haar in sy arms opraap. Wanneer hulle lippe mekaar ontmoet, sou die ou vreugde, die ou wete van hulle liefde weer helder in haar opvlam.
Maar dit het nie. Sy baard het haar gekrap. Maar Mark het ook baard op sy gesig, en toe hy jou gesoen het, het jy dit nie eens agtergekom nie, vertel ’n stemmetjie haar. Sy roer haar skouers onrustig. Ian kon tog nie regtig verwag het dat sy, al is die water troebel, saam met hom moes swem nie! Tog het jy naak in Mark se arms gelê en jy het dit nie eens agtergekom nie, sê die stemmetjie weer.
Jy het verander, het Ian gesê. Sy het dit heftig ontken, maar diep in haar weet sy dit is so. Iets het verander, onherkenbaar verander. Hoe sy ook al probeer, dit maak haar nie opgewonde dat Ian weer by haar is nie. Toe sy lippe hare netnou geraak het, het iets in haar teruggedeins. Dit was nie net preutsheid, soos hy dit genoem het, wat haar daarvan weerhou het om saam met hom te swem nie. Dit was meer as dit. Dit was ’n openlike weersin om so intiem met haar verloofde te verkeer.
Maar as die uitnodiging van Mark gekom het …
Sy sidder en begin haar klere byna gewelddadig afstroop. Een ding staan soos ’n paal bo water en sy kan dit net sowel aan haarself erken: Ian se teenwoordigheid het geen verandering in die storm van emosies in haar gebring nie. Dit het die storm eerder laat aangroei, want nou is sy nog meer as ooit tevore daarin verdwaal. Die man wat sy geglo het haar tot nugterheid en tot die werklikheid sal terugbring, laat haar meteens koud, roer nie ’n enkele snaar in haar hart nie; kan nie die geringste gevoel in haar optower nie.
Waar Lucia smaaklik aan die tropiese vrugte sit en eet wat Mark vir ontbyt gebring het, sien sy hoe Ian nader kom, en sy glimlag toe sy die onstuimigheid in sy oë gewaar. Peinsend kyk sy na hom. Sy kan sweer sy het daardie gesig al êrens gesien …
7
Daar heers ’n gespanne stilte aan die “ontbyttafel”, soos Mark droogweg na die kringetjie mense om die hopie vrugte verwys.
Ongemerk bestudeer sy donker oë die ander drie. Soos altyd is sy gesig onpeilbaar.
Die twee vroue het begin voel dat daar ’n soort kameraadskap tussen hulle en Mark ontstaan het. Maar vreemd, sedert Ian Crebbin gisteraand onverwags in die vuurgloed verskyn het, is dit of die bietjie vriendskap wat tussen hulle ontplooi het, verdwyn het. Mark is weer net so geslote soos die dag toe hulle geval het.
Die donker oë merk alles op. Mark sien Lucia se blou oë telkens op Ian se bebaarde gesig rus, met ’n verwarde, half peinsende uitdrukking daarin, soos wanneer ’n mens na ’n vaagweg bekende gesig kyk en dit nie kan plaas nie.
Dit is presies wat Lucia hinder. Hoe langer sy na Ian se skraal gesig kyk, hoe sekerder word sy dat sy daardie gesig al tevore gesien het. Daar bly iets hinderlik bekends aan hom, en tog weet sy dat sy hom nog nie voorheen ontmoet het nie.
Die donker oë sien ook hoe Lucia telkens glimlag wanneer sy tersluiks na die twee jongmense kyk en hul stroewe gesigte sien. Hy het vanuit sy skuiling gesien Ian laat hom nie twee keer nooi om langs Lucia in die rivier te spring nie. Hy het ook die ernstige gesprek tussen hulle met sy oë gevolg. Die donker oë vernou verder hoe langer hy Lucia dophou. As Lucia Cane met ’n dubbele rol besig is, gaan dit haar berou …
Die donker oë dwaal na Ian se gesig. Sy stroefheid is nie vir hom so ’n groot raaisel as wat dit vir die verwarde Willemien is nie. Die gif wat ’n vrou kan saai, kan gevaarliker wees as ’n adder s’n. En Lucia Cane is vol gif … en vol planne …
Vlugtig kyk hy na Willemien se strak gesig, na die neergeslane, ontwykende oë. Tussen Ian en Lucia gaan sy fyngemaal word, maar daar is geen jammerte in sy oë nie. Willemien sal maar op die harde manier moet leer.
Dis ’n stil groepie wat later weer in die pad val. Vandag is Mark se pas redeliker. Hoewel niemand dit nog hardop gesê het nie, weet almal waarom. Sonder dat Mark dit hoef te sê, soek hulle intensiewer as voorheen om hulle en bokant hulle.
Dis net Ian wat nie juis veel moeite doen nie. Op die agterhoede is sy blik somber op die drie mense voor hom, asof dit vir hom belangriker is om hulle in die oog te hou as om die bruin sak eerste raak te sien.
Die somber, bedompige hitte is vandag erger, maar hulle is nie so bewus van die sweet wat hul klere soos ’n tweede vel aan hulle laat vaskleef nie. ’n Belangriker ding hou hul gedagtes besig. Ongeduldig vee hulle die sweet uit hul oë en soek dan maar weer strak rond. Selfs Willemien kan vandag aan niks anders as ’n bruin leersak dink nie.
Nie dat sy om dieselfde rede as die twee voor haar soek nie. Sy hoop hulle kyk dit mis en kry dit nie. As sy net met Ian kon praat, maar hy het skielik vir haar byna net so ’n vreemdeling geword soos Mark. Dis of sy geen kontak met Ian kan vind nie; asof sy geen vrymoedigheid het om haar vrese en vermoedens vir hom te vertel nie.
Dis twak! maak sy haarself wys. Ian is haar verloofde. Hy is die man wat sy liefhet. Wat makeer ons dat ons soos twee vreemdelinge teenoor mekaar is? Sy het hom juis nou so nodig, maar dis of sy nog nooit so alleen gevoel het soos sedert hy verskyn het nie.
Hoe verder hulle stap, hoe stadiger word die pas, tot Ian later ongeduldig van agter laat hoor: “As jy só voortgaan, sal ons nog maande in die oerwoud wees.”
Mark draai om en die donker oë flits. “Ék gee die pas aan, vriend.”
Die twee mans meet mekaar met die oë.
Ian se stem is koel, selfs vyandig: “Maar ek is nie daarmee tevrede nie.”
Ewe kil kom die antwoord: “Dit kan mý nie skeel nie. Ek lei en jy volg.”
“So? Hoekom? Ons is nie kinders nie. As jy die res van jou lewe in hierdie groen gemors wil omluier, is dit jou saak. Ek wil hier uitkom. Ek en Willemien stap alleen verder …”
Sy kyk hom ontsteld aan. “Ian! Maar …”
Koud kyk hy na haar. “Of verkies jy om by jou … held te bly? Dan kan jy bly. Ek dwing jou nie.”
Sy kyk verslae op in sy oë. Wat makeer hom? Sy ken hom nie as ’n skoorsoekerige en jaloerse mens nie. Haar oë begin ook blits. “Moenie kinderagtig wees nie, Ian. Ons is in ’n oerwoud, as jy dit vergeet het. Om elke bos is gevare …”
“Waarteen ek jou natuurlik nie so goed soos Mark sal kan beskerm nie.” Hy glimlag wrang. “Dis jý wat kinderagtig geword het, Willemien.” Sy oë flits na die ander twee, wat hulle swygend staan en betrag. “Sal ons openlik praat? Ons weet almal wat aan die gang is, hoekom ons vandag soos skilpaaie aankruie. Wel, wat my betref, is julle welkom om die geld te kry en dit te hou. Ek stel nie in die verduiwelse geld belang nie. Ek wil net uit hierdie oerwoud kom. Julle twee kan maar soek so lank julle wil, maar ek en Willemien stap aan …”
“Nee, Ian.” Willemien is meteens so kwaad dat sy nie omgee wat sy sê nie. “Praat namens jouself; wat my betref …” Sy lig haar ken uitdagend op. “Ek stel ook belang in die geld.” Dapper kyk sy na die ander twee. “Daar is van my pa se geld by en ek gaan nie toelaat dat skurke daarmee wegkom nie.” Onverskrokke trek sy haar skouers agteroor. “En as dit enigsins in my vermoë is, sal ek sorg dat die res van die geld aan hul base terugbesorg word. Nou weet julle dit.