Ena Murray Keur 18. Ena Murray
nie!” Sy sug en sprei haar hande oop. “Ek het jou nie vertel nie omdat ek dit as ’n verrassing wou hou. Jy sien, ek is die enigste kind. Dit weet jy. Ek is dus die enigste erfgenaam. Dan is daar ook nog Paps se vennoot, oom Martin Kampfer. Ek is sy peetkind en ook sý enigste erfgenaam. Dit is vanselfsprekend dat die man met wie ek trou, eendag die baas van Kampfer en Heyns sal wees. Jy was so bekommerd dat jy nie werk sal hê noudat jy nie meer in die diplomatieke diens is nie. Ek wou jou heerlik verras wanneer ons daar aankom. Jy gaan sommer net by Paps en oom Martin instap. As my man sal jy eendag saam met my die hele besigheid erf, maar eintlik sal dit joune wees, want ek weet tog niks van besigheid af nie en stel nie daarin belang nie.” Sy kyk versigtig op. “Is jy … nou kwaad vir my?”
Hy lag meteens en trek haar weer stywer teen hom vas. “Jou klein klits, natuurlik nie! Jy word vir my by die minuut dierbaarder. Ek het vir ’n kort rukkie gedink ek het jou verloor, maar … Willemien, ek het jou lief!”
Sy maak haar oë toe en wag … maar sy woorde bring geen gevoel in haar nie. Dit bly dood. Asseblief? Ek móét hom nog liefhê! pleit sy byna hardop en klou hom weer vas.
Bokant haar kop glimlag Ian Crebbin ingenome. Hy was verniet bekommerd. Dan frons hy liggies. “Daardie peetoom van wie jy praat … Is hy ’n oujongkêrel dat jy sê jy is ook sy enigste erfgenaam?”
“Nee, hy was getroud, maar sy vrou is dood en sy seun …”
“Ja? Wat van sy seun?” Hy kyk skerp af na haar.
Maar Willemien sien dit nie raak nie. Sy kyk na die verbyvloeiende stroom. “Hy en sy seun het jare gelede ’n uitval gehad en sy seun het toe sommer verdwyn. Hulle het al jare lank geen kontak met mekaar nie. Vir oom Martin is sy seun dood. Hy praat nooit van hom nie en hy hou nie daarvan dat ons eens sy naam noem nie.”
Ian se oë is strak. “Het hy hom heeltemal onterf? As die seun dalk terugkeer …”
“Maar hy sal nie. Hoekom sal hy? Hy is al soveel jare weg en hy het nog nooit weer iets van hom laat hoor nie. Oom Martin het my al dikwels geterg en gesê ek moet ’n goeie man soek wat eendag sy en Paps se plekke sal kan vol staan. Ek wonder of sy seun nog lewe.”
“O?” Ian se oë trek peinsend saam, maar sy stem is egalig: “Maar veronderstel sy seun lewe nog en hy kom tog eendag terug … Sal sy pa hom aanvaar en terugverwelkom? Sal ek dan nie miskien uitgeskop word nie?” Toe sy vinnig na hom opkyk, verduidelik hy haastig: “Dis tog moontlik, Willemien, is dit nie? Hy is en bly die wettige erfgenaam. Ek dink maar net as dit moet gebeur …”
“Dan word julle vennote soos wat Paps en oom Martin al die jare vennote was, natuurlik. Maar ek dink nie daar is so ’n moontlikheid nie, Ian. Hy en sy pa was baie bitter teenoor mekaar toe hulle toentertyd uitmekaar is. As hy ná al die jare nog geen toenadering gesoek het nie, is daar nie juis veel hoop dat dit nóú sal gebeur nie. Die helfte van die besigheid sal eendag myne wees, en outomaties joune ook. Dit op sigself is al oorgenoeg vir ons twee, my skat.”
“Ja, natuurlik,” sê hy vinnig en druk haar vas, die peinsende lig nog in sy oë. Hy glimlag skielik fyn. Die toekoms sal maar moet leer, as hulle net eers uit die oerwoud is. Miskien is dit nie net Willemien wat verrassings gehou het nie … Hy kyk na haar af. “Jy weet, liefling, ek dink jou houding van netnou was heeltemal reg. Dit is van jou pa se geld wat hierdie skurk van ’n Mark wil steel. Ons moet dit voorkom. Dis net jammer jy het so reguit jou mening gelug. Nou weet hy dat hy moeilikheid van jou kant kan verwag, hoewel hy jou nie baie ernstig opgeneem het nie. Hy is baie seker dat hy ons heeltemal in sy mag het, die boef! Dit sal my nie verbaas as Lucia heeltemal gelyk gehad het nie. Ja, dit begin vir my al meer lyk sy is heeltemal reg.”
Willemien kyk hom fronsend aan. “Lucia?”
“Ja. Sy het teenoor my laat val sy vermoed hierdie Mark sit ook agter die kaping. Dit begin vir my ook nou so lyk. As jy twee en twee bymekaartel …”
Willemien voel hoe haar hart ’n slag oorslaan. Weer is alles in haar in opstand, maar met alle mag dwing sy dit terug en vra bedees: “Wat bedoel jy?”
Hy kyk fronsend voor hom uit. “Kom ons dink ’n bietjie terug. Sy houding tydens die kaping was … wel, te kalm om eg te wees. Almal was ontsteld, net nie meneer Mark nie. Onthou jy dat hy selfs geamuseer gelyk het?”
Sy kan nie anders as om haar kop te knik nie.
“Dan was hy gans te oorgretig om die werkie as vlieënier oor te neem, onthou jy? Hy het selfs aangedring om dit te doen!”
Willemien kyk Ian met groot oë aan. Ook dít kan sy nie ontken nie. Teësinnig vul sy aan. “En nou is hy so vreeslik geheimsinnig. Ons weet net hy is Mark … maar Mark wie?”
“Presies. En daardie twee kapers … Is hulle werklik dood, of …?”
Met afgryse kyk sy hom aan. “Die een was bepaald. Sy kop … was heeltemal van sy lyf afgeruk. Ek het dit self gesien.”
“Maar die ander een?”
“Ek het hom nooit gesien nie. Mark het net gesê hy is ook dood. Hy het hulle …”
“Ja?”
Weer moet sy haarself dwing om eerlik te antwoord: “Hy het die lyke in die rivier gaan gooi.”
“So? Hoekom het hy hulle in die rivier gaan gooi?” wil Ian dadelik weet, en sy het geen ander keuse as om hom te vertel nie. Daar is ’n eienaardige lig in sy oë, ’n vreemde, ingenome glimlaggie om sy lippe. “Hy het hulle vir die krokodille gaan voer omdat hulle kwansuis insekte sou aanlok! Dis twak daardie, Willemien. Ek sê vir jou die ander kaper was net bewusteloos en hy het hom lewend vir die krokodille gaan gooi!”
“O, Ian, nee!” Weer is die bruin oë donker van afgryse. “Hoekom sou hy … so iets doen?”
“Maar kan jy dan nie sien nie? Hy en daardie twee mans was kop in een mus. Toe die vliegtuig val, het hy klaar besluit dat hy die enigste sal wees wat die losprys kry. Hy wou dit nie deel nie.” Hy sien die ongeloof in haar oë en vervolg driftig: “Dit pas alles so pragtig inmekaar dat dit nie anders kán wees nie! Jy het self netnou gehoor hy het gesê hy wil daardie geld hê!”
Willemien se bruin oë staar verwese na die stroom aan hul voete. Dit klink so logies dat haar verstand dit moet aanvaar. Hoe kan sy in opstand kom teen objektiewe logika? Hoe kan sy nog wil skerm vir ’n man wat tot sulke uiterstes in staat is? Hoe kan sy selfs op hierdie oomblik nog onthou wat tussen hulle gebeur het?
“Ons sal versigtig moet wees, Willemien. Daardie man …” Hy swyg dadelik toe daar ’n takkie agter hulle kraak, maar die volgende oomblik voeg Lucia haar by hulle en hy vervolg: “Ek en Willemien het nou net die saak hier sit en uitpluis, Lucia. Ek stem saam met jou. Hierdie Mark sit beslis agter die hele kaping.”
“So?” Sy klink belangstellend, maar nie juis ontsteld nie en luister doodstil terwyl Ian weer sy teorie uiteensit.
Haar oë is kliphard toe hy klaar is. “Ek dink jy is reg, Ian. Dit móét so wees. Dit pas alles so mooi inmekaar. Die vuilgoed! Dan gee hy voor ek en hy kan die geld deel, saam daarmee verdwyn! Hy is natuurlik van plan om ons van die gras te maak sodra hy die geld gekry het.” Sy kyk hulle beurtelings aan. “Ons moet sorg dat hy dit nie kry nie, en as een van ons dit kry, mag ons hom dit nie laat agterkom nie. Dis natuurlik hoekom hy nie wil toelaat dat julle vooruit gaan nie. Hy is bang julle kry die geld en kom daarmee weg en dis neusie verby vir hom.”
Willemien sit en luister woordeloos. Die vrees vreet soos ’n kanker aan haar. As hulle reg is …
“Maar hy mag nie die vaagste vermoede kry dat ons weet nie,” sê Ian. “Ons het nog geen bewyse teen hom nie. Ons moet hom nie laat agterkom dat ons sy hele plannetjie ontrafel het nie. Ons moet wag dat hy homself nog meer verklap en ons meer bewyse kan hê om hom te laat vastrek wanneer ons eendag hier uitkom.”
Lucia staan vinnig op. “Goed. Ek wil nie te lank hier by julle sit nie. Dit kan hom dalk agterdogtig maak. Ons praat later weer,” sê sy gespanne. Mark kom op daardie oomblik aangestap en Lucia sê glimlaggend: “O, ek sien jy