Ena Murray Keur 18. Ena Murray
in Londen het skielik siek geword en ’n plaasvervanger moes gestuur word. Wonder bo wonder het sý die pos as tikster by Suid-Afrika Huis gekry. Haar pa het ingestem dat sy kan gaan omdat dit ’n tydelike pos was. En dit was natuurlik ook die rede waarom oom Martin ingestem het.
Die vreemdeling sien haar glimlag.
Liewe oom Martin! Vandat sy maar kan onthou, was Paps en oom Martin daar, die middelpunt van haar lewe, soos sy die middelpunt van hul lewens is. Haar pa was al bejaard toe hy getroud is. Haar ma is met haar geboorte dood. Tant Ellie, oom Martin se vrou, het haar as baba versorg. Maar toe sy haar verstand begin kry het, het tant Ellie verongeluk. Toe was dit net hulle drie – sy, Paps en sy vennoot en boesemvriend, oom Martin.
Die vreemdeling merk nou ’n ligte fronsie op die voorkop.
Nee, dis nie heeltemal reg nie. Hulle was vier … Markus was ook daar … oom Martin se seun. Hoe kon sy van Markus vergeet het? Maar dis nou al soveel jare dat hy uit hul lewens verdwyn het, dat niemand oor hom praat nie, durf praat nie … Maar dit is so dat Markus ’n baie belangrike persoon in haar kinderlewe was. Hy moes haar oppas – tot sy grootste ergernis!
Deur half geslote ooglede sien die donker oë weer eens ’n glimlaggie in die een mondhoek huiwer.
Ja, oom Martin se opgeskote seun het dit verpes om die dogtertjie op te pas, om haar oral met hom saam te sleep, al haar nuuskierige vrae te beantwoord en haar snipperige verklikkery te verduur.
En tog was sy baie lief vir hom. Hy het tyd gehad om met haar speelperdjie te ry en hy het baiekeer met ’n vuil seunshand ’n bietjie spuug oor ’n stukkende plek gesmeer en êrens vandaan ’n lekker opgetower om die trane verder mee te verdryf.
Want Paps en oom Martin, hoewel hartstogtelik lief vir haar en hoewel hulle haar tot in die afgrond bederf het, het selde týd gehad. Hulle was besige sakemanne, in beheer van ’n bloeiende maatskappy, Kampfer en Heyns.
Die man sien dat sy effens verskuif en haar kop gemakliker laat lê.
Vreemd dat sy nou aan daardie tyd dink. Dis so lank verby, voel dit vir haar. Só lank dat sy nie eens meer die skraal seunsgesig kan onthou nie. Wat sy wel op hierdie oomblik goed onthou, is hoe verskriklik sy gehuil het toe daardie seunsgesig skielik op ’n dag verdwyn het, sommer net weg was … Sy was in standerd een en Markus aan die begin van sy jongmansjare. Maar op ’n dag was Markus net nie meer daar nie …
Weer is daar ’n fyn fronsie tussen die donker wenkbroue. Haar botande byt effens op die onderlip.
Maar ’n kind vergeet gou. Markus se beeld het vervaag en later heeltemal verdwyn. In haar matriekjaar het sy haar pa eendag oor Markus gepols. Hy was ongeneë om op haar vrae te antwoord.
“Maar wat het van hom geword, Paps?” het sy aangedring, verward oor die geheimsinnigheid wat Markus en sy verdwyning omhul.
Sy onthou nog so goed haar pa se ontwykende blik; die peinsende, onpeilbare lig in sy oë toe hy eindelik geantwoord het: “Pa en seun het ’n geweldige rusie gehad, my kind. Oom Martin wou gehad het Markus moet by ons kom werk as die aangewese persoon wat eendag die leisels sou oorneem. Markus het net eenvoudig verseg en oom Martin het hom uit die huis gejaag. Markus het net … verdwyn. Soos jy weet, mag sy naam nie eens genoem word nie.”
“Maar wat het van hom gewórd?” Sy móés net ’n antwoord kry.
Haar pa het geaarsel, toe kortaf gesê: “Markus Kampfer bestaan nie meer wat oom Martin, my én jou betref nie, Willemien. Vergeet dat daar so ’n mens was, soos wat ek en oom Martin vergeet het dat ons ooit drome gedroom het …”
“Drome? Watse drome?”
Die ou man het wrang geglimlag en toe eerlik erken: “Soos so baie ouers maar droom, my kind. As my dogter nou eendag met jou seun trou … Jy weet, daardie soort ding. Dit sou so ideaal gewees het … jy en Markus …” Toe het hy hom ferm reggeruk. “Waarom praat ons tog oor hierdie goed? Dis tog so futiel. En wat laat jou juis vandag ou koeie uit die sloot grawe? Hy was al so te sê vergete …”
Sy het haar skouers opgetrek, half verleë erken: “Ek weet self nie. Seker maar … nuuskierigheid …”
Die vreemdeling sien hoe sy meteens onrustig roer.
Wat laat haar skielik nóú aan Markus Kampfer dink … duisende meters in die lug, op pad terug na haar vaderland, met haar aanstaande man langs haar? Haar aanstaande man …
Haar lippe versag in ’n mooi glimlag.
Ian … Hoe wonderlik het die lewe en die hele wêreld nie geword die dag toe sy Ian Crebbin ontmoet het nie! Sy het hom op ’n partytjie in Londen ontmoet. Dit was liefde by die eerste aanskoue vir haar. Dat almal wat die wêreldwyse Ian Crebbin geken het, ietwat verbaas was dat hy aan so ’n jong meisietjie aandag gee, het sy besef.
Vir die eerste keer in sy lewe het Ian Crebbin meer as net verbygaande belangstelling in ’n meisie getoon, het sy in die verbygaan gehoor toe twee kollegas haar eenkeer bespreek het. Dat dit haar ongekunstelde kinderlikheid is wat hom aantrek. Dat sy net ’n verfrissende verandering is. Aan dié praatjies het sy haar nie veel gesteur nie – dit was amper asof sy half gevlei wou voel.
Selfs op hierdie oomblik weet Willemien eintlik nie veel van haar aanstaande man af nie. Maar dit is nie belangrik nie. Sy is verlief, vir die eerste en die enigste keer, en dit is genoeg.
Toe haar ses maande in Londen byna verstreke was, was sy uitbundig van vreugde toe sy hoor dat Ian besluit het om saam met haar na Suid-Afrika terug te keer.
Haar drome het groter afmetings aangeneem. Ian is nog nie seker wat hy gaan doen wanneer hy in Suid-Afrika aankom nie, maar sy weet dat hy die man is wat die leisels uit haar pa en oom Martin se hande gaan neem. Sy weet hulle sal van hom hou en sy weet Ian sal eendag die bestuur van Kampfer en Heyns kan oorneem.
Droomverlore kyk sy voor haar uit. Die toekoms lyk rooskleurig, volmaak. Die feit dat Ian so ontwykend is oor sy verlede, is nie van belang nie. Wat maak dit saak wanneer hy uit Suid-Afrika weg is en wat hy al die jare gedoen het voordat hy in die diplomatieke diens begin belangstel het? Daardie dinge is die verlede. Dis die toekoms wat belangrik is.
Onwillekeurig kyk sy na die man langs haar, en sy frons liggies. Tog … tog is daar soms iets wat haar hinder. Verbeel sy haar dit of is Ian die laaste paar dae gespanne? Sy kyk hom stip aan. Ook nou, op hierdie oomblik, is sy kake opmekaar geklem, voel sy die spanning in sy arm aan wat teen haar druk. Is dit maar net haar verbeelding dat Ian onseker voel oor sy terugkeer na die land wat hy jare gelede verlaat het? Hy het geen familie meer in Suid-Afrika nie, het hy haar vertel. Sy ouers is intussen dood, en hy is eintlik heeltemal alleen op die aarde. Voel hy onseker oor sy ontvangs, bevrees dat haar pa en oom Martin hom nie sal goedkeur nie?
Sy glimlag en steek haar arm deur syne. “Ian …”
“H’m?”
Die vreemdeling sien hoe sy oorleun, hoe die man ook sy kop oorbuig … Die donker oë wat hul agterkoppe ongemerk dophou, vernou ’n bietjie … Dit sal ’n sonde wees …
Dan kry hy sy gedagtes onder beheer. ’n Gewete op so ’n laat uur van die dag? Wie is hy om … Weer keer hy sy gedagtes. Sy breë skouers roer onrustig en hy verskuif, kyk vinnig na agter, vas in ’n paar oë, kyk weg, laat sy blik ’n oomblik op ’n ander gesig rus, draai hom dan terug in sy sitplek.
Vir almal wat terloops na hom kyk, lyk hy ontspanne en rustig. Dit sal ’n fyn waarnemer soos hy self kos om die spanning in sy lenige liggaam raak te sien – in die spiertjie wat teen sy slaap spring, in die fyn trekkies om sy mond en oë.
Dis die gesig van ’n ervare man, ’n man wat in die bestek van ’n paar jaar ’n lang pad afgelê het. Nie ’n man wat sy innerlike op die mou dra soos die jong Willemien nie. ’n Man wat daarin geskool is om sy innerlike vir homself te hou, om nie eens onder die grootste druk, selfs op die oomblik van breekpunt, emosie te verraai nie … ’n Man wat die lewe ken, die harde lewe.
Lucia Cane het hom reeds in die lughawelokaal gewaar. Sy is ook ’n vrou wat die wêreld ken … Sy het