Ena Murray Keur 18. Ena Murray
Dis te veel moeite om te konsentreer, en haar blik dwaal verder.
Sonder herkenning kom haar blik tot rus op die gebukkende gestalte ’n paar meter verder. Dis ’n man … Wat sou hy doen? Daar is ’n fyn fronsie tussen haar oë soos sy haar verstand probeer dwing om te konsentreer. Hy is besig om iemand te deursoek. Hy dop elke sak uit. Sy sien die lang, skraal vingers se vlugtige bewegings en dis al asof hulle bekend wil voorkom. Daardie hande … Ook dit het sy al vantevore gesien … Vlugtig maar deeglik stryk die hande al langs die liggaam af, beweeg dan weer op, en soos iemand wat na ’n rolprent kyk, volg haar oë die bewegings. Sonder veel belangstelling. Sy kyk maar net daarna.
Dan is dit asof daar iets tot haar verstand deurdring en die lewe vloei in volle sterkte terug in haar verlamde liggaam; sy voel hoe elke senuwee wat tot dusver reaksieloos in haar gelê het, meteens saamtrek … in afgryse. Sy sien dit duidelik voor haar … die hande op die skouers waar die liggaam skielik stomp eindig …
Die man kyk om asof hy aanvoel dat iemand na hom kyk, betrap dan die bruin oë vol afsku op hom. Hy spring op en kom vinnig nader, sien hoe die skraal gestalte wegkrimp van hom af. Hy hurk voor haar sodat sy groot liggaam tussen haar en die toneel voor haar kom.
“Moenie kyk nie …”
Soos een wat nog steeds in ’n halwe koma van skok verkeer, dwing sy haar kop terug, kyk na hom op en protesteer flou: “Maar sy kop …”
“Willemien!” Met brute teerheid dwing hy haar gesig teen sy bors vas asof hy deur hierdie gebaar haar verstand wil afsluit van die grusame toneel wat sy moes aanskou. Hy dwing sy stem tot kalmte. “Ons het met die vliegtuig geval, onthou jy? Daar was ’n storm. Ek moes ’n noodlanding tussen die bome doen. Daardie man … is dood … Hy was een van die kapers. Onthou jy dat ons vliegtuig gekaap is?” Die donker oë brand in hare, soek na tekens wat hom sal gerusstel dat hier nie ’n tweede tragedie voor hom sit nie. “Willemien, onthou jy?”
Sy knip haar oë en hy sien hoe iets vaag deur die verstardheid begin deurskemer. “Ja, ek … onthou … Jy het my geklap ook …”
Sy bedaarde stem laat die newels oor haar verstand stadig wyk. “Ja, ek moes jou klap. Jy het histeries geword, nes Lucia Cane. Onthou jy haar?”
Sy knik fronsend. “Ja. Die blonde vrou. Sy het aan die lag gegaan en toe het Ian …” Haar asem ruk vas in haar keel en dis of die noem van sy naam haar meteens tot volle besef skok. “Ian! Waar is … Ian?”
Sy arms span stywer om die skraal skouers, maar sy stem bly kalm. “Hy is maar hier rond. Ons sal hom nou soek. Ons moet eers seker maak dat alles met jou reg is. Kom, staan op.”
Hy trek haar orent en sy staan wankelend in die halfsirkel van sy arm. Die bruin oë is nou onstuimig en vol lewe. Die werklikheid is op haar. Sy onthou alles.
“Bly kalm, Willemien. Dis nie nou die tyd of plek vir histerie nie. Bly asseblief kalm! Hy kan nie ver wees nie. Ek sal nou na hom begin soek.” Hy kyk half onseker na die verwronge stuk metaal wat eers ’n vliegtuig was.
Die volgende oomblik kom ’n gehawende gestalte te voorskyn. Net aan die blonde hare en die geskeurde klere kan hulle Lucia Cane eien. Verder is dit net bloed.
Weer snak Willemien na asem en weer span die vreemdeling se vingers stywer om haar skouers.
“Dis nie so erg nie. Sy bloei net baie. Ek het haar reeds ondersoek. Sy het gelukkig lig daarvan afgekom. Kom help haar om haar te was. Daar’s ’n stroompie hier naby.”
Willemien sien hoe hy vinnig na Lucia stap, hoe die blonde vrou haar arms om hom gooi, hom krampagtig vasklou en hom in die proses ook met bloed besmeer. Sy huil en lag deurmekaar en dis duidelik dat sy op die punt van histerie is.
Die vreemdeling se stem is rustig en vertroostend en hy praat met haar tot daar ’n mate van kalmte by haar intree. Hy wink na Willemien en hy lei hulle ’n entjie die struikgewasse in waar ’n stroompie verbymurmel.
“Hier. Dis ’n stuk van jou rok wat afgeskeur het. Was en maak julle skoon.”
Willemien neem onwillekeurig die stuk lap by hom en herken dit as die stuk waarna sy lê en staar het toe sy bygekom het. Dan eers sien sy hoe gehawend hulle al drie daar uitsien. Sy lyk nog die beste van die drie. Haar rok het ’n paar skeure, maar dis eintlik Lucia wat heeltemal vertoiing daar uitsien. Ook die vreemdeling se hemp is aan repe en sy een broekspyp is heeltemal afgeskeur.
Willemien laat Lucia sommer in die stroompie sit en die blonde vrou herwin haar kalmte toe die koel water oor haar stroom.
“Kyk hoe lyk ons! Maar ek veronderstel ons kan ons sterre dank dat ons nog lewe. Dit was darem amper,” en sy sidder. “Waar is die ander?”
Willemien se stem is gedemp. “Die een kaper is … dood. Ek weet nie van die ander nie. En Ian … my verloofde … is weg.”
Lucia kyk haar fronsend aan. “Weg? Maar hoe?”
“Hy is nie hier rond nie. Die vreemdeling vermoed dat hy uit die vliegtuig geval het. Ons moet nog na hom gaan soek.”
Toe die twee vroue terugkeer van die stroompie, maak die vreemdeling sy verskyning uit die bosse.
“Ek het oral gesoek. Ian Crebbin is nie hier nie,” sê hy ontevrede.
Willemien kyk hom wasbleek aan.
“Maar hoe is dit moontlik? Hy moet hier iewers wees!” sê Lucia ontsteld.
Sy blik rus op Willemien se bleek gesig en hy antwoord vinnig: “Dit is natuurlik moontlik dat ek hom kon miskyk. In die oerwoud kan jy twee tree van ’n persoon verbystap sonder om hom raak te sien. Ek sal weer môreoggend soek, maar nou sal ons eers gou ’n vuur aan die gang moet kry …”
“Teen môreoggend kan hy al dood wees as hy ernstig beseer is!” roep Willemien ontsteld uit. “Ons moet hom nóú soek, vanaand nog kry – voordat dit heeltemal donker is.”
“Dis buite die kwessie, Willemien. Dis al sterk skemer. Jy sal op hom trap en hom nie raaksien nie. Ons sal net verdwaal, dis al. Die oerwoud is nie ’n plek om snags in rond te dwaal nie. En die eiland krioel van slange en ander ongediertes. Dis te gevaarlik …”
“Ék gaan hom soek as julle my dan nie wil help nie.” Sy kyk die vreemdeling waterpas in die oë. “Ek gaan nie toelaat dat Ian aan sy beserings beswyk of vannag deur ’n wilde dier aangeval en opgevreet word net omdat ek te lafhartig was om na hom te gaan soek nie.”
Die oë wat na haar kyk, het alle vriendelikheid verloor. “Dit klink bewonderenswaardig, maar dis ’n dwaas wat so praat. Daar word nie vanaand verder na Ian Crebbin gesoek nie. Kom help dat ons genoeg hout bymekaarkry om ’n groot vuur aan die gang te hou.”
Willemien kyk hom met geskokte ongeloof aan. Verwag hy werklik dat sy moet help hout bymekaarmaak terwyl Ian onbeskerm hier êrens lê, miskien besig is om hom dood te bloei, besig is om te sterf, met al die gevare van die oerwoud om hom?
Lucia sien hier gaan moeilikheid kom en probeer ook van haar kant: “Willemien, dis te gevaarlik …”
Met ’n vernietigende blik draai Willemien om. Terwyl sy voel hoe die vrees soos ’n koue band om haar hart span, hoe die trane branderig in haar oë opstu, hardloop sy blindelings ’n rigting in. Sy vorder nie ver nie. Met geweld word sy gegryp en omgeruk. Vir die tweede keer klap hy haar genadeloos op die wang.
“Kom tot jou sinne, meisiekind! As jy dink ek gaan jou toelaat om nou in die oerwoud na daardie kêreltjie van jou te gaan soek, het jy dit mis. Verstaan my goed! En daar is nog iets wat jy goed moet verstaan. Ek neem van hierdie oomblik af die besluite en jy maak soos ék sê … as jy lewend uit hierdie groen hel wil kom. En jy gáán lewend hier uitkom as dit van mý afhang. Ek gee jou daardie versekering. Maar dan doen jy wat ek sê, verstaan?” Sy oë is op skrefies. “En as jy nie wil luister nie … daar is maniere om gehoorsaamheid af te dwing …”
Blind van woede kyk sy na hom. Hoe durf hy, hoe dúrf hierdie vreemdeling wie se naam sy nog nie eens ken