Die boek van Ester. Wilna Adriaanse
wil ek eers hê jy moet luister en konsentreer.”
Sy skuif tot in die hoekie van die rusbank en vou haar arms voor haar bors.
“Ek het gereël dat twee gidse elke dag saam met julle gaan. Hulle ken die veld en die diere, maar dis belangrik dat julle sal luister as hulle praat. Dis op daardie voorwaarde alleen dat ek sal toelaat dat julle foto’s in die veld neem. Anders moet julle hier in die kamp bly en alles hier skiet. Ek soek nie die publisiteit as een van julle hier iets oorkom nie. Hierdie is nie ’n dieretuin nie. Die diere loop los rond en is gevaarlik.”
“Ons is nie kinders nie.”
“Ek is nie so seker daarvan nie, maar in elk geval, ek wil net hê jy moet besef dis ’n guns wat ek enige tyd sal opskort as julle nie by die reëls bly nie. Een insident soos met die renoster vandag en julle gaan nie weer veld toe nie.”
“As ek iemand se lewe in gevaar gestel het, was dit my eie en ek is bereid om die verantwoordelikheid vir myself te dra.”
“Solank jy op my grond is, is jy my verantwoordelikheid en ek maak die reëls. Ek gee nie om of jy daarvan hou of nie.” Hy tel ’n droë blaar van die vloer af op, gooi dit in die vuur en kyk na Henry. “Dit klink dalk onnodig streng, maar ek moet julle woord hê dat julle na die veldwagters sal luister. Ek weet nie wie van julle in beheer is nie, maar sorg asseblief dat die groep weet wat die reëls is.”
“Ek sal toesien dat almal weet wat aangaan.”
“Het Elias ál vier plekke vir jou gaan wys?” Hy kyk na Ester en sy knik.
“En?”
“En wat?”
“Wat dink jy van die plekke wat ek vir jou uitgesoek het?”
“Dit kan dalk werk.”
“As dit nie werk nie, moet jy vir jou ’n ander fotograaf kry.” Hy glimlag ligweg in Henry se rigting, terwyl hy opstaan en nag sê.
Toe hy van hulle af wegstap, rek Henry sy nek lankuit terwyl hy Samuel agterna kyk en Ester sien dat ’n hele paar van die ander mense hom ook agterna kyk.
“Wat dink jy sal dit kos om hom op ’n foto te kry? Ek is bereid om my siel aan die bestuur te verkoop vir daai geld.”
“Ek weet nie.”
“Lyk alle mans in Suid-Afrika so?”
“Wat bedoel jy? Lyk almal so goed of so sleg?” Ester wil vir haar koffie inskink, maar bedink haar.
“Laat ons eerlik wees. Hy kan doen met ’n goeie vogroom en ’n sonblok, maar ek het lanklaas iemand gesien wat so gemaklik in sy eie lyf is. Dit moet hemels bevrydend wees. Dink jy hy besit ’n spieël?”
“Ek het nie ’n idee nie.”
Henry se oë trek weer op skrefies toe hy met meer aandag na Ester kyk. “Bespeur ek lyftaal tussen julle?”
“Ons het gisteraand tot wie weet hoe laat in sy boomhuis gekuier en ek het vanoggend met ’n helse kopseer daar wakker geword. Ek kan nie juis onthou waaroor ons alles gepraat het nie. So as daar lyftaal is, is dit waarskynlik braille, want ek kan baie min onthou. Ek dink ek het hom dom genoem en in ’n stadium vir hom gevra of hy ’n vrou het.”
Henry pruil sy mond. “ ’n Boomhuis? Jy het die nag saam met hóm in ’n boomhuis deurgebring en jy vertel my nie? En nou pleit jy kastig geheueverlies! Moenie my weer enigiets vra nie.”
Ester soen laggend sy wang. “Ek kan dalk nie onthou wat ek alles gesê het nie, maar ek onthou beslis dat ek alleen in ’n bed geslaap het. Daar is sekere dinge wat ’n mens beslis nie sal vergeet nie, en om met Tarzan in ’n boomhuis te slaap, is sekerlik een daarvan. Ek kan nie onthou dat enigiemand aan toue geswaai of uit volle bors geskreeu het nie.”
“Is daar toue?” Henry se oë rek verbaas en Ester lag hardop.
“Nie wat ek kon sien nie, maar ek was nie in sy kamer nie. ’n Mens weet nooit.”
6
Ester is reeds wakker toe haar wekkertjie vieruur die volgende oggend lui. Ná ’n vinnige stortbad en ’n ligte ontbyt in die lapa, vertrek sy en Henry saam met twee gidse. Dis nog donker onder die groot wildevybome, maar daar is twee tente opgeslaan en gaslampe brand oral. Marja en Heidi is reeds gegrimeer en hulle hare is gestileer. Assistente is besig om hulle te help aantrek en ander is besig om ligskerms op te slaan. ’n Paar ape spring verskrik hoër in die bome op, maar loer tog nuuskierig tussen die blare uit.
Toe die eerste model klaar aangetrek is, begin Ester werk en dis eers toe sy ’n sweetdruppel teen haar nek voel afloop dat sy daarvan bewus word dat die son al warm geword het. Die lig onder die bome is egter sag en sy werk nog ’n uur of wat voordat sy begin oppak. Hier en daar klap ’n paar hande en oral word sweet afgevee.
“Ons sien julle weer vieruur hier,” demp sy egter die opgewondenheid voordat almal na hulle onderskeie lodges toe verdwyn.
Terug by die kamp besluit sy en Henry om iets op die stoep te gaan drink. Sy bêre haar kameras in die tent en stap weer saam met die gids terug.
Henry sit reeds daar, druk in gesprek met twee jong mans. Hy klop langs hom op die rusbank toe hy haar gewaar. “Kom sit, ek is besig om so slim te word. Ester, dis Ian Wessels en Percy Nkuna. Hulle werk albei hier, en as jy ooit iets wil weet oor ’n boom of ’n bobbejaan, is hulle die mense om te vra.” Hy beduie na Ester. “Hierdie een het ook Afrika-bloed in haar are.” Ester skud hand met die twee mans.
“Jy is Ira se suster,” merk Ian op toe hulle weer gaan sit.
“Dit lyk my almal ken hom.”
“Hy was al ’n paar keer hier.”
“Ek het nou net vir hulle gevra of hulle dink Samuel Mcgreggor sal toelaat dat ons foto’s in sy huis neem.”
“Dink julle hy sal?” Ester kyk hoopvol van Ian na Percy. Sy het toevallig vandag oor dieselfde ding gewonder.
“Julle kan hom vra, maar hy is baie heilig op sy privaatheid,” sê Ian.
“Sal jy hom vra?” Henry kyk na Ester, maar sy skud haar kop.
“Hy sal makliker vir jou ja sê as vir my.”
“Ek het nog nie eens die huis gesien nie. Jy was ten minste al daar. Al wat ek vir hom kan sê, is dat ek hoor hy het ’n interessante huis. Wat maak ek as hy sê ek het verkeerd gehoor?”
“Ek sal hom vra.” Ester neem dankbaar die koeldrank wat een van die personeel vir haar gee.
Hulle gesels nog ’n rukkie voordat Ian en Percy verskoning maak dat hulle nog moet gaan werk.
“Waarom het jy my nog nooit genooi om saam met jou huis toe te kom nie?” wil Henry weet toe hulle alleen is.
“Hierdie land is nie meer my huis nie.”
“Jy kon dit nog steeds vir my kom wys het.”
“Ek het nooit gedink dis ’n plek wat jy sal wil sien nie.”
“Ek ook nie, maar noudat ek hier is, sal ek graag die res ook wil sien. Die plek het ’n vreemde energie. Ek weet ook nie of dit die plek of die mense is nie. Al wat ek weet, is hulle lyk nie soos mense wat ek ken nie. Miskien het dit iets met hulle rustigheid te doen of dalk die feit dat almal so gemaklik in hulle eie velle lyk.” Hy neem ’n sluk koeldrank en skud liggies sy kop. “Dis vreemd om te dink jy kom hiervandaan en dat dieselfde oergene in jou is.”
Ester kyk stil hoe ’n troppie sebras in ’n ry met ’n voetpad afgestap kom rivier toe. Die lug agter en voor hulle maak dynserige lugspieëlings in die hitte. Sy het Henry een aand, kort nadat sy in Londen aangekom het, op ’n partytjie ontmoet en dit was hy wat haar die eerste keer gehuur het om ’n bylaag vir hom te skiet. Sedertdien werk sy baie dikwels vir hom.
Hy is waarskynlik die enigste mens wat weet hoe swaar sy soms kry en beslis die enigste een in haar nuwe vriendekring wat