Die boek van Ester. Wilna Adriaanse
en gaan slaap. Of eenkant alleen wil sit en soos Job haar sere krap.
“Ek dink ek gaan ’n bietjie lê voordat ons weer moet gaan.” Sy stap weg sonder om terug te kyk en is bly toe sy op haar bed kan neerval. Hulle behoort haar vir hierdie projek dubbel haar gewone fooi te betaal om te probeer vergoed vir die stryd wat sy het om te sien, maar ook nie te sien nie. Nie die lug, die grond, die mense nie, niks. En die stryd om te hoor, maar ook nie te hoor nie. Nie die vreemde, aardse deuntjies wat geneurie word, of die ritmiese stemvalle nie, ook nie die stilte wat nie stil is nie. Sy onthou ’n aanhaling wat sy eenkeer gelees het: Tonight at the magic theatre, for madmen only, price of admittance: your mind. Dit kon netsowel gelui het, ’n week in die teater van die absurde, vir die malles onder julle, toegang: jou hart. Ja, hulle behoort haar baie meer te betaal.
Laatmiddag pak die wolke donker saam, maar sy kry ’n goeie twee uur se goeie lig om by te werk en is dankbaar toe hulle ’n ruk ná sononder by die kamp aankom. Sy gee nie om om hard te werk nie, maar sy haat dit om alles oor te doen. En soms gebeur dit dat niks uitwerk soos dit beplan is nie. Haar Afrikaanse ouma sou gesê het dis asof die duiwel in alles ingevaar het. Dis sulke dae dat sy haarself streng moet aanpraat om nie op almal te skreeu nie. Maar vandag was die duiwel blykbaar met ander dinge besig, want dit was asof elkeen besluit het perfeksie is nie ’n onmoontlike droom nie. Selfs die ape in die bome was soos afgerigte sirkusape wat presies geweet het wanneer en waar hulle hul verskyning mag maak.
Sy en Henry gaan eet later saam, maar albei is moeg en hulle klim vroeg in die bed.
Toe hulle die volgende oggend by die stukkie vleiland aankom, is die kamp reeds weer opgeslaan en almal is soos die vorige oggend besig om alles in gereedheid te bring. ’n Tafel met koffie en toebroodjies staan eenkant en Ester skink vir haar ’n beker koffie terwyl sy stadig die terrein deurstap. Sy kom agter ’n veldwagter is nooit ver van haar af nie. Sy wonder of hulle werklik sulke streng opdragte gekry het en of hy dalk net sy werk baie ernstig opneem.
“Die man het ’n goeie oog. Hy het interessante plekke uitgesoek.” Henry staan hande op die heupe toe sy omdraai.
Ester antwoord hom nie, maar gaan haal ’n kamera en begin foto’s uit verskillende hoeke neem. Soos dit begin lig word, is dit asof ’n byna onsigbare lagie mis oor die stukkie vlei tussen die palms sigbaar is en sy roep die modelle nader.
Net voor die son agter die horison uitkom, sit sy in die middel van die stukkie vleiland. Sy sien hoe ’n veldwagter woes vir haar beduie. Toe sy opkyk, besef sy ’n groot olifantbul is besig om stadig tussen haar en die res van die groep in te stap. Sy bly doodstil sit en bid dat Heidi nie sal skrik en weghardloop nie, want van waar sy sit, kan sy die ongelooflikste foto’s neem. Asof die meisie haar stil wens gehoor het, bly staan sy op die plek en Ester se kamera klink soos ’n masjiengeweer. Sy verskuif elke keer net effens van posisie. Van die foto’s neem sy onder die olifant se maag deur en op ander lyk dit of die model langs die olifant staan en aan sy slurp kan raak. Ester maak of sy nie weet dat een van die veldwagters omgestap het en agter haar kom staan het nie. Sy maak ook of sy nie hoor toe hy vra dat sy moet ophou foto’s neem nie. Sy kyk net vinnig oor haar skouer en glimlag breed. Ná omtrent twintig minute begin die olifant weer stadig terugstap op die pad waarmee hy gekom het. Die jong model gaan sit op die grond en gee ’n hoë laggie.
“Niemand gaan glo ons het nie die foto’s gedokter nie.”
Ester laat sak die kamera en vee oor haar voorkop. “Baie dankie.” Sy glimlag vir die veldwagter.
Hy skud sy kop en mompel ’n paar woorde in sy taal, waarvan sy net Samuel se naam en die woord “doodmaak” verstaan, maar dan glimlag hy ook terwyl hy oor sy voorkop vee.
“Jy moet dit nie doen nie. Dis gevaarlik en Samuel gaan ons moeilikheid gee as hy weet,” slaan hy na Afrikaans oor toe hy sien sy verstaan hom nie.
“Miskien moet hy dan liewer nie weet nie.”
“Hy weet alles.”
Ester kan haar indink dat min dinge ongesiens by hom verbygaan. Dis een van sy eienskappe wat haar effens ontsenu of eerder ongemaklik laat voel. Dis ’n gewaarwording wat sy van hulle eerste ontmoeting af gehad het. Miskien is dit ook maar net ’n truuk om mense te laat glo hy sien en weet alles.
“Ek sal hom sê hy moet vir my kwaad wees en nie vir julle nie. Jy het my gewaarsku, maar ek wou nie hoor nie.”
“Hy gaan baie kwaad wees.”
“Ek is jammer dat ek julle in die moeilikheid laat beland het. Ek sal regtig met hom praat.”
Hy glimlag ’n wit glimlag terwyl hy sy kop skud. “Miskien moet ons maar niks sê nie. Miskien is sy ore en oë nie op die oomblik so goed nie.”
“As ons vanaand uitgeskop word en môre die res van die foto’s in ’n dieretuin moet gaan skiet, gaan ek jou in die leeuhok gooi,” laat Henry hoor toe hulle later die oggend oppak. “Wil jy my ’n hartaanval gee?”
“Wag tot jy daai foto’s sien. Jy gaan diep in die skuld wees by my. Groet maar solank daai klomp Hermes-serpe van jou.”
“En as hy jou uitskop, gaan ek maak of ek jou nie ken nie.”
“Hy oorreageer. Het dit vir jou gelyk of enige van ons ooit vandag in gevaar was?”
“Moenie my probeer oortuig nie. Hou maar jou verskonings vir die groot man.”
Ian staan by die parkeerplek toe hulle stilhou en help hulle om van die Jeep af te klim.
“Het julle ’n suksesvolle dag gehad?” Hy vra die vraag so in ’n algemene rigting, maar kyk tog na Ester.
“Baie suksesvol.” Ester gee haar kameratasse vir hom aan sodat sy van die voertuig kan afklim. “Was dit Samuel se Jeep wat ek sien wegry het?”
“Ja. Hy is op pad na die rehabilitasiesentrum toe.”
“Kom hy later weer terug? Ek moet met hom praat.” Ian skud sy kop. “Nie so ver ek weet nie.”
“Kiki het vanoggend gesê daar is vanaand ’n nagrit. Hoe laat vertrek julle? Ek sal graag wil saamgaan,” onderbreek Henry hulle.
“Net ná aandete. Gaan sê net by die kantoor jy wil graag saamry.”
Henry draai om en stap kantoor toe, maar roep oor sy skouer: “Wil jy ook saamgaan?”
Ester skud haar kop. “Ek dink nie so nie.”
Sy val op haar bed neer toe sy in die kamer kom. Sy het vandag vergeet om sonroom aan te smeer en sy kan voel sy het gebrand. Haar vel voel stram en warm. Sy begin lê-lê uittrek en stap kaal badkamer toe. Toe sy in die spieël kyk, sien sy waarom haar gesigvel voel of dit gekrimp het. Haar skouerknoppe is ook rooi en sy verwens haarself vir haar agterlosigheid. Dit gaan ’n rukkie duur om van die wit strepe ontslae te raak.
Toe sy uit die stort kom, gaan lê sy met die effens klam handdoek om haar gedraai op die bed. Sy moes aan die slaap geraak het, want toe sy wakker word, is dit net ná drie-uur. Sy trek aan en tel haar kamera op voordat sy buitentoe stap. Miskien moet sy die vlakvark gaan soek en kyk of hy nie vir haar wil poseer nie. Sy stap om ’n groot struik en skielik voel dit of haar voete in nat sement beland het. Reg voor haar in die paadjie sit ’n yslike bobbejaanmannetjie. Sy oë is effens skeelgetrek soos hy na iets in sy hand staar. Ester probeer retireer, maar dit duur ’n paar sekondes voordat haar voete haar brein wil gehoorsaam. Sy kry dit egter reg om ’n paar treë terug te gee, maar dan gee sy ’n gilletjie toe sy skielik in iets vasloop. Die bobbejaan is skielik weer voor haar en sy swaai verskrik om. Een van die gidse lig sy hand waarin hy ’n stok vashou en die bobbejaan spring skuinsweg eenkant toe en in ’n boom.
“Jy moenie alleen loop nie,” kom die droë vermaning en Ester knik.
“Ek is jammer. Ek het vergeet om te bel. Dankie.”
Hy knik en wag dat sy voor hom uitstap. Toe hulle by die ontvangs verbystap, gewaar sy vir Elias en sy stap nader. Hy groet stram terug.
“Is jy op pad terug huis toe?”
“Ja.”