Tryna du Toit-omnibus 6. Tryna du Toit

Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit


Скачать книгу
sal weer regkom,” troos Lydia.

      Maar tant Susie hoor nie. Daar is ’n veraf glans in haar oë en na ’n rukkie neem sy Lydia se hand en sê vertroulik: “Ek het ook so ’n mooi groot huis met ’n pragtige groot tuin gehad. My man was so lief vir rose, en die mense het almal gesê ons tuin is die mooiste in die hele dorp. Rose en angeliere en josefslelies. Ek het elke dag arms vol gepluk en vir die bure en vriende gestuur. En in die lente het die katjiepieringboom naby die somerhuisie geblom, en dan het die hele wêreld na katjiepiering geruik. En die eerste blom het my man altyd afgepluk en vir my gebring. Toe my man nog geleef het …”

      “Toe my man nog geleef het …” Lydia ken die verhaal. Sy het al meermale daarna geluister. Dis soos die refrein van ’n lied wat oor en oor herhaal word. Toe my man nog geleef het, toe was die lewe so anders as wat dit vandag is. Toe het sy elke dag arms vol blomme weggegee … Maar nou is sy oud en moeg en gedaan, en party dae so ’n bietjie kinds, en al wat sy nog oorhet, is die herinneringe aan die goeie ou dae. Nou is sy net in almal se pad; niemand het haar meer nodig nie. En haar groot vrees in die lewe is dat hulle haar na ’n ouetehuis sal stuur waar sy haar laaste dae tussen vreemdes sal moet deurbring.

      Sy neem tant Susie se arm en stap terug huis toe met haar. “Kom, ons moet gaan eet,” gesels sy opgewek in ’n poging om tant Susie uit haar mymeringe te wek. “Daar is lewer en niertjies en vars karringmelk …”

      Sonder teëstribbeling het tant Susie haar na die huis laat teruglei.

      Na ontbyt het Mercia ’n bietjie opgestaan, maar voor die dag halfpad om was, het die pyn tant Bettie weer vasgevat. Frans was vroeg die middag verplig om die dokter na Poortjie te ontbied. Later die middag, toe daar nog geen tekens van verbetering was nie, het Frans vir Sam ook gebel, en binne ’n halfuur was hy op die plaas. Daardie aand het tant Bettie nog ’n kwaai hartaanval gehad, en Lydia en Frans en die dokter, met tant Susie soos ’n bleek skaduwee op die agtergrond, het byna die hele nag langs haar bed gewaak. Sam het in die voornag probeer help, maar hy was so lomp en onbeholpe en klaarblyklik uit sy element dat Lydia hom jammer gekry en uit die kamer gestuur het.

      By tye was tant Bettie se pols so swak dat Lydia getwyfel het of sy ooit die oggend sal sien, maar teen dagbreek het die ergste pyn bedaar en het sy in ’n rustelose slaap geval.

      Geluidloos glip Lydia by die kamer uit om vir hulle koffie te gaan maak, maar in die eetkamer steek sy skielik vas. Op die rusbank lê Sam sonder baadjie en sonder sy skoene, vas aan die slaap, met ’n berg sigaretstompies in die asbakkie wat op die vloer voor die rusbank staan. ’n Oomblik kyk sy af na die slapende man met die blonde krul wat oor sy voorkop val. Jammerte wel in haar op – nie net vir hom nie, maar vir almal wat betrokke is in hierdie vreemde drama van lewe en dood. En sy wonder of hulle almal so getrou by tant Bettie se bed sou gewaak het as sy net ’n arm, eenvoudige ou vrou was – as Poortjie nie by die saak betrokke was nie.

      In die kombuis sit sy water op en steek die primus aan. Dan gaan sit sy by die tafel en laat haar kop ’n paar oomblikke moeg op haar arms rus. Verskrik spring sy op toe iemand onverwags aan haar skouer raak, en sy glimlag half verleë toe sy agterkom dat dit net tant Susie is. Sy het gedink – wat het sy gedink? Dat dit ’n spook is wat haar hier in die halfskemer kombuis bekruip?

      Tant Susie kom tot naby haar. Sy kyk vinnig om, asof sy bang is iemand het haar agtervolg, dan vra sy fluisterend: “Is sy beter? Gaan sy gesond word?”

      “Sy is baie beter,” sê Lydia gerusstellend. “Dokter het haar ’n inspuiting gegee en sy slaap nou. Dokter gaan nou huis toe en tante kan gerus ook maar gaan slaap.”

      Tant Susie skud haar kop.

      “Ek is bang om te gaan slaap. My kind, hier gaan snaakse dinge aan op Poortjie, dinge waarvan jy niks weet nie …”

      Lydia kyk na die klein, verkrimpte ou vroutjie, en ’n koue rilling gaan langs haar rug af.

      “Watse dinge?” vra sy en sy fluister ook sonder dat sy dit bedoel.

      “Snaakse dinge …”

      Haastige voetstappe klink in die gang en die volgende oomblik staan Frans in die deur. ’n Oomblik rus sy blik op die twee vrouens, dan sê hy koel maar nie onvriendelik nie: “Tant Susie, dis tyd dat tante bed toe gaan. Gaan trek solank uit, dan bring ek vir tante ’n koppie koffie.”

      Sonder ’n woord draai tant Susie om en stap kamer toe. Al skuifelend in haar rooi pantoffeltjies stap sy die gang af, en eers toe dit stil word, draai Frans na Lydia.

      “Dokter soek na jou.”

      Kritiseer hy haar omdat sy weggeloop het? wonder sy. Haar stem is koel en gelyk toe sy antwoord: “Ek het net kom koffie maak.”

      “Ek sal die koffie maak,” sê hy. Sy draai om, maar hy roep haar terug. “Net ’n oomblik, daar is iets wat ek aan jou wil sê. Ek moes al eerder met jou gepraat het, maar dit het so druk gegaan … Dis oor tant Susie. Haar dogter het gebel om te sê hulle sal haar kom haal as sy lastig is. Ek besef dat jy jou hande vol het en dat dit onredelik is om te verwag dat jy nog met tant Susie ook opgeskeep moet sit. Ek dink dit sal die beste wees as sy maar so gou moontlik teruggaan.”

      Lydia kyk hom onseker aan. “Gaan hulle haar wegstuur – na ’n tehuis toe, bedoel ek?”

      “Ek weet nie – ek glo nie,” sê hy effens ongeduldig. “Hulle het in elk geval niks gesê nie.”

      Nog aarsel Lydia. Dan hoor sy weer tant Susie fluisterend sê: “Hier gaan snaakse dinge aan,” en in die vroeë oggendlug ril sy weer soos een wat koud kry.

      Dan sê sy beslis: “Laat haar maar gerus nog ’n rukkie bly. Sy hinder my nie.”

      Hoofstuk 5

      Tant Bettie het geleidelik herstel. Sowat ’n week nadat sy die nag die hartaanval gehad het, was sy soveel beter dat sy vir die eerste keer sedert Lydia gekom het, ’n halfuur in die groot stoel voor die venster kon sit. Daarna het sy elke oggend ’n rukkie in die stoel gesit en oor Poortjie se groen bulte en vlaktes gekyk, maar sy het gou moeg geword en was gewoonlik weer verlig om terug in die bed te kom.

      “Dink jy dis die storm wat die hartaanval veroorsaak het?” het Mercia vir Lydia gevra. “Dit was mos dieselfde nag.”

      Maar Lydia het net haar kop geskud.

      “Ek weet nie, Mercia – niemand weet nie. Dis moontlik dat die skok van die storm aanleiding daartoe kon gegee het. Aan die ander kant kon sy ’n hartaanval gekry het, al was daar nie ’n storm nie. Met ’n hartpasiënt weet ’n mens nooit nie – jy moet altyd op jou hoede wees.”

      Tant Susie het ook taamlik gou oor die skok van die storm gekom, en sy was weer die sagte, liewe tant Susie wat heeldag in Sabina se potte geloer het en tog so graag in die huis en siekekamer wou help. Die blou oë was weer helder en vol belangstelling in alles wat om haar aangaan en Lydia het aanvaar dat die “snaakse dinge” waarvan sy daardie nag gepraat het, maar net ’n skim van haar verbeelding was. Tant Susie het dit in elk geval nie weer opgehaal nie en Lydia het gedink dis veiliger om nie eerste die onderwerp aan te roer nie. Dalk sal tant Susie nie eens weet waarvan sy praat nie.

      Sondag het Sam weer vir die dag kom kuier. Nadat hulle tee gedrink het, het hy aangebied om ’n rukkie by tant Bettie te sit en Lydia het die aanbod glimlaggend aanvaar. Sam dink seker dis vanoggend sy kans om tant Bettie te pols.

      “Tant Bettie lyk baie beter vanoggend – sommer piekfyn,” sê hy hartlik terwyl Lydia nog in die kamer besig is. “Ons het nou die aand gedink …” Hy breek effens verleë af en tant Bettie glimlag suur.

      “… dat julle uiteindelik van my ontslae is,” voltooi sy die sin wat hy nie klaargemaak het nie. “Nee, Sam, julle sal nog ’n rukkie moet wag. Ek is nog nie gereed om te gaan nie.”

      Sam lag, maar die laggie klink ’n bietjie te hard en geforseerd.

      “Ek is bly tant Bettie voel al weer lus vir grappies. Daar is juis ’n sakie wat ek wil bespreek sodra tante sterk genoeg voel …”

      “Jy


Скачать книгу