Tryna du Toit-omnibus 6. Tryna du Toit
enigste oorblywende Serfontein en ek voel dis my plig om tant Bettie met raad en hulp by te staan. Ek verwag dat tant Bettie nog baie jare sal lewe. Maar dis net goed om voorbereid te wees. En dis soveel makliker as die testament en alles in orde is.”
“Dink jy my sake is nie in orde nie, Sam?” vra sy stil. ’n Oomblik kyk hy haar stilswyend aan.
“Maar tant Bettie het dan altyd gesê …”
“Dat ek nie haastig is nie. Maar ek besef dat daar miskien nie meer so baie tyd is nie. Ek het jou raad aanvaar en onlangs ’n splinternuwe testament laat opstel.”
Sam kyk haar onseker aan.
“Wil tante dit met my bespreek?”
Daar is ’n flikkering in tant Bettie se donker oë.
“Nee. Ek het alles baie goed oorweeg en ek dink dis ’n baie regverdige testament.”
Sam sluk ’n paar keer.
“Waar is die testament? Ek bedoel …”
“Ek het dit veilig weggebêre,” antwoord sy en weer is daar die flikkering in die donker oë.
Lydia kom nader.
“Tyd vir die bruin pilletjie, tant Bettie.”
Gehoorsaam sluk tant Bettie die pil met ’n bietjie water. Lydia stoot die kussing gemakliker agter haar skouers in, trek die ligte wolkomberse oor haar bene reg en draai dan na Sam. Met ’n glimlag om haar woorde te versag sê sy: “Moet my pasiënt asseblief nie te veel vermoei nie. Ek sal buite in die tuin wees as julle my nodig het. Roep my asseblief dadelik as tant Bettie wil teruggaan bed toe.”
“Ek sal oppas,” belowe hy en sy dink hy lyk ’n bietjie bedruk.
Terwyl sy wegstap, hoor sy tant Bettie sê: “Om weer tot die testament terug te kom, jy ken die hele ou geskiedenis net so goed soos ek. Wat sou jy gedoen het as jy vandag in my skoene gestaan het?”
Sy is ’n gruwelike ou vrou, dink Lydia terwyl sy die deur saggies agter haar toetrek. Gister het sy gehoor hoe sy dieselfde vraag in feitlik dieselfde woorde vir Mercia vra, tot groot verleentheid van die jong meisie, wat haar slegs stamelend kon verseker dat as sy Poortjie erf, sy self op die plaas sal kom woon en net so goed daarna sal kyk as wat tant Bettie dit self gedoen het. Lydia wens nou dat sy Sam se antwoord kan hoor, maar sy raai dat dit in dieselfde trant sal wees.
Mercia sit buite op die grasperk onder die groot denneboom langs die huis en teken, en Lydia stap na haar toe. Mercia teken en skilder graag en sy het al ’n paar mooi waterverfskilderye gemaak in die twee maande wat sy op die plaas is. Sy het gelukkig gou van haar griepaanval herstel, maar sy was nog buierig en kon by die geringste provokasie in trane uitbars.
Mercia is besig om die toneel voor haar op papier te probeer vaslê: die ronde dammetjie met die weerspieëling van die eende wat daaroor gly en die groen vyebome wat koel daaroor hang. Aan die een kant staan ’n ou wilger en droom en verder regs staan ’n windpomp en kreun soos hy sporadiese pogings aanwend om water uit die aarde te haal en in die dam te stort. Spierwit wolke wieg saggies in die blou lug verby, aangedryf deur ’n onsigbare windjie. Oor alles hang die rus en vreedsaamheid van ’n stil Sondagoggend. Met ’n behaaglike suggie vly Lydia haar op die reisdeken langs Mercia neer.
“Waar is Sam?” vra Mercia dadelik.
“Hy sit by tant Bettie.”
“Dink jy dit is verstandig? Hy krap haar net om. Nes hy haar sien, begin hy oor die testament lol.”
Lydia lê met toe oë.
“Tant Bettie geniet dit. Buitendien moet Sam darem ook ’n kans kry om sy saak te stel.”
Mercia kyk haar agterdogtig aan.
“Ek verstaan jou nie.”
“Jy en Frans kry heeldag kans om met tant Bettie te gesels. Sam kom net af en toe hier en dan is sy meestal te siek om te gesels.”
“Dit klink of jy aan Sam se kant is,” sê Mercia.
“Ek sê maar net hy moet ook ’n kans kry.”
“Sam stel glad nie belang in die plaas nie! Hy wil net die geld hê. Hy maak of hy baie van my hou en dra heeldag vir my sjokolade en parfuum aan, maar ek weet baie goed dit gaan nie oor my nie.”
“Dit het nie vir my gelyk of sy belangstelling onwelkom is nie,” sê Lydia half skertsend, half ernstig.
Mercia haal haar skouers op.
“Dis van pure verveling en ’n mens wil tog ook nie onvriendelik wees nie. En ek het gedink … miskien …” Sy bly stil, dan sê sy: “Sam is my neef.” Sy bly weer ’n rukkie stil en vervolg: “Buitendien wil ek ook niks met ’n getroude man te doen hê nie.”
Lydia se oë vlieg oop en verras lig sy haar op haar elmboog.
“Sam ’n getroude man? En waar is sy vrou?”
“Sy het hom laat staan kort nadat hulle getroud is, maar ek weet nie of hulle geskei is nie.”
“Nou toe nou,” sê Lydia en sak weer stadig terug op die reisdeken.
’n Rukkie is dit stil tussen hulle. Dan sê Mercia: “Tant Bettie is ’n regverdige mens – ek is seker sy sal doen wat reg is – maar ek hoop nie sy sal Poortjie aan Sam nalaat nie. Hy sal dit binne ’n jaar deur sy vingers laat glip.”
Lydia glimlag. Mercia het iets van haar tant Bettie se nugter, saaklike uitkyk op die lewe en sy het blykbaar geen illusies wat haar neef betref nie. Sy tel van Mercia se sketse op en kyk daarna. Selfs haar ongeoefende oog kan sien dat die tekeninge belofte inhou.
“By wie het jy les geneem?” vra sy.
“Ek was drie jaar op kunsskool in die Kaap. Ek het ook al heelwat illustrasiewerk vir tydskrifte gedoen.”
“Ek hou van jou tekeninge. Jou benadering is vars en … anders. Selfs ’n gewone verpleegster soos ek kan hulle verstaan.”
“Ek teken graag,” sê Mercia glimlaggend.
“Jy het beslis talent. As jy nou Parys en Italië toe kon gaan om verder te studeer …”
Mercia se hele gesig verhelder.
“O, ek wil dolgraag gaan, maar Ma-hulle lag my uit as ek net in daardie rigting praat. Hulle dink dis maar net speletjies, ’n stokperdjie tot ek eendag trou. Maar ek sal hulle wys. Ek gaan eendag ’n beroemde kunstenares word.”
“As jy Poortjie erf, sal jy jou drome moet vergeet. ’n Boervrou sal seker nie veel tyd hê om te skilder nie.”
Mercia kyk agterdogtig na haar, maar Lydia is besig om deur haar een sketsboek te blaai.
“Poortjie kom natuurlik eerste,” sê sy beslis.
“En die donderweer?” vra Lydia ondeund.
“Ek sal daaraan ook gewoond word.”
Belangstellend blaai Lydia deur die sketsboek. Tussen die tekeninge is daar ’n paar sketse van Sabina en een van tant Bettie wat baie goed is.
“Jou portrette is uitstekend, Mercia. Dit is seker lekker om dit te kan doen.”
“Ook baie lonend.” Sy blaai vlugtig deur die boek waarin sy besig is om te teken en haal ’n skets daaruit wat sy aan Lydia oorhandig. “Wat dink jy hiervan? Frans wou nie vir my poseer nie en ek het die tekening uit my kop gedoen.”
Stil bestudeer Lydia die skets. Dit ís Frans Naudé, sonder enige twyfel. Die mooi gevormde voorkop, die sterk gelaatstrekke – sy het alles getrou weergegee. Maar sy het ook iets van die man se siel in die skets, ’n sagtheid en teerheid van uitdrukking wat hy nie dikwels in sy daaglikse optrede verraai nie. Sy het al gesien dat hy so na tant Bettie kyk as hy besig is om haar te help.
Mercia is verlief op hom, dink sy skielik, en sy is bewus van ’n vreemde gewaarwording, half pyn, half jaloesie,