Tryna du Toit-omnibus 1. Tryna du Toit
op die pad moet verbygaan nie. Nie omdat ek hulle dit nie gun nie, maar omdat dit sal beteken dat ’n veelbelowende seun weer eens nie sy belofte gestand gedoen het nie. Want jy weet, Andries, dit is ’n voldonge feit dat teenspoed en ontberings en teleurstellings ’n man staal, verhard, ’n man maak van hom, terwyl daar baie briljante manne is wat met al die kanse in die wêreld tog nooit presteer het nie omdat daardie staal ontbreek. Jy het baie voorregte, moenie dat dit ’n meulsteen om jou nek word nie. Gebruik dit as ’n swaard om vir jou ’n weg deur die lewe te baan, miskien in ’n rigting waar daar nog geen voetspore lê nie.”
Hy kom na Andries, sit sy hand op sy skouer en sê: “Nou toe, loop na jou klaskamer. Ek preek nie dikwels nie, maar terwyl ek dit nou gedoen het, probeer onthou wat ek gesê het.”
In Andries se mooi blou oë, gewoonlik so lewenslustig, is ’n vreemde uitdrukking asof daar onverwags ’n visioen aan hom openbaar is wat hom geen genoeë verskaf nie.
“Dankie, Meneer,” sê hy bedees, “ek sal dit nooit vergeet nie.”
Toe Andries weg is, gaan Johan by sy lessenaar sit, sy gedagtes nog by die jong seun wat nou net daar weg is. Het hy nie miskien verkeerd gedoen nie? Is dit geregverdig om enigiemand, en veral ’n jong man aan die begin van sy loopbaan, een greintjie van sy selfvertroue te ontneem terwyl dié selfvertroue miskien gebruik kan word as ’n staf en ’n stut op die moeilike weë wat voorlê? En tog, die gevaar is werklik daar. Hy het dit menigmaal self gesien. Is dit dan nie beter om hom te waarsku dat die staf wat hy in sy hand het nie onfeilbaar is nie? Dat hy liewer saggies moet leun?
Nie dat hy vir Andries vrees nie. Hy is oortuig daarvan dat die seun standvastigheid van karakter het en dink ook nie dat hy werklik sy jeugdige selfvertroue geskaad het nie. Hy sal hom in elk geval maar ’n bietjie dophou.
En nou om sy nat, verkluimde kuikens te gaan opsoek, en in die besonder dié een wie se gesig hom hinder vandat hy sy nat, verflenterde hoedjie van sy kop geruk en opsy gestaan het dat juffrou Celliers moet instap.
Hy gaan dan ook eerste na die standerd agt-kamer waar hy weet hy hom sal kry en vind juffrou Celliers daar besig.
“Enige eerstehulp of tuisverpleging nodig hier?” groet hy glimlaggend en die spontane groet van die kinders laat Annie weer eens besef hoe hoog hy by hulle aangeskryf staan.
“Ons het alles gedoen wat ons kon,” antwoord sy, “maar ongelukkig was dit nie veel nie.”
Sy skerp grys oë gaan stadig deur die kamer, vertoef vir ’n oomblik op Ernst Marais se skraal, bleek gesiggie voor dit weer verder gaan, toe draai hy om na Annie.
“Juffrou,” sê hy sag, sodat net sy kan hoor, “ek dink hier is ’n paar kinders wat te nat is om te bly sit. Gebruik tog maar jou eie oordeel en stuur hulle huis toe. En stuur Ernst Marais so oor vyf minute na my studeerkamer sonder om dit opvallend te maak, asseblief.”
“Hy is veral baie nat, meneer De Kock.”
“Ja,” sê hy instemmend, “maar hy is meer as dit.”
Toe hy die kamer uit is, sê sy die kinders wat sy dink te nat is om te bly sit, aan om huis toe te gaan. Sy stem saam met Johan. Liewer nog ’n keer die ongunstige weer daar buite trotseer om gou daarna droog en warm te wees as om ure lank in die trekkerige klaskamers in nat klere rond te sit.
Ernst laat sy vir laaste staan om sodoende die nodige vyf minute om te kry.
“Jy ook, Ernst,” sê sy vriendelik. “Droog gaan aantrek by die huis, hoor. En sal jy asseblief as jy loop dié boek vir meneer De Kock in sy studeerkamer neem?”
“Goed, Juffrou,” sê hy gewillig, ’n flou glimlaggie op sy bleek gesig, en meteens, diep ontsteld, weet sy wat Johan in sy gesiggie gesien het. Dit is honger!
Johan sit voor sy lessenaar toe Ernst lusteloos en sleepvoet die studeerkamer binnekom en die boek voor hom neerlê. Medelydend kyk hy na die seun voor hom, onseker wat om vir hom te sê.
Dit is sy eerste kennismaking met kinders wat waarlik gebrek ly. In die Bolandse skool waar hy vandaan kom, was daar ook minderbevoorregte seuns, seuns wat gehelp moes word om verder te studeer, maar nooit ’n seun soos hierdie, by wie gebrek naak en onbeskaamd sy wese deurstraal nie. Sy hele klein persoon soos hy daar staan, kaal voete, verslete hempie en broekie wat oor en oor gelap is, blougrys oë te groot vir die smal wit gesiggie, is ’n stomme verwyt teen die ontoereikendheid en wanbestuur van die beskawing.
“Ernst,” sê hy sag, “het jy vanmôre geëet?”
’n Beskaamde blos verkleur meteens die bleek wange en die blougrys oë soek verleë die vloer.
“Nee, Meneer,” fluister hy skaam.
“En gister, Ernst?”
“Gistermôre het ons pap gehad.”
“Niks anders nie?”
“Nee, Meneer.”
“Wat makeer dan, Ernst? Dit het mos nie altyd so gegaan nie, het dit?”
“Nee, Meneer. My pa is siek en hy is al vyf weke uit die werk.”
Die berusting in die jong stem sny soos ’n mes deur Johan se hart.
“Hoeveel kinders is julle, Ernst?”
“Vyf, Meneer.”
“En jy is die oudste?”
“Ja, Meneer.”
Johan neem ’n stukkie papier uit sy laai, skryf iets daarop en neem tien sjielings uit sy beursie.
“Neem dit, Ernst,” sê hy, “en loop gou by die winkel langs voor jy huis toe gaan en koop dié goed vir jou mammie. Sê sy moet vir julle kos maak. En ek sal haar vanmiddag ná skool kom besoek.”
Ongelowig, sonder begrip, kyk hy Johan aan en toe, stadig, dring die besef tot sy dowwe verstand deur. Gretig sluit sy vingers om die geld en met ’n haastige dankie is hy by die deur uit.
Teen elfuur reën dit nog steeds, ’n sagte, deurdringende reën wat ’n goeie winter vir die skaapboere voorspel, maar die wêreld daar buite is oortrek van ’n groue, gryse mistigheid.
“As ek darem nie so lus was vir daardie koppie tee nie, het julle my nie met stokke en swaarde nou buite gekry nie,” brom Abie Greef toe hy die personeelkamer binnekom. “Dis tyd dat die teedrinkery nou weer hier by ons gehou word.”
“Ag, jy’s maar te bly om die teedrink-ekskuus te hê,” terg meneer Du Pré. Almal weet dat Abie baie van die gawe onderwyseressie hou en dit begin nogal lyk of hy so stadig veld wen. Abie lag maar goedig saam met hulle en trek sy jas aan.
Annie is nog besig om haar oorskoene aan te trek toe Johan inkom, sy jas wat net langs hare hang van sy kapstok neem en dit aantrek.
“Kry jy hulle aan, Juffrou?” vra hy.
“Ja, dankie,” antwoord sy, en toe, sonder dat sy bedoel het om dit te doen, vra sy: “Wat het jy toe in verband met Ernst uitgevind?”
“Wie? Ernst Marais?” vra meneer Kriek wat net langs hulle staan. “Die mannetjie se werk is darem die laaste tyd so hopeloos.”
“Ja,” sê Johan. “Ek het dit ook agtergekom. Ek was juis van plan om ’n bietjie ondersoek in te stel. En vanmôre vind ek uit dat dit ellendig by sy huis gaan; sy pa is al weke lank siek en daar is broodgebrek by die huis. Hy het gisteroggend laas ’n bietjie pap geëet.”
Hy neem Annie se jas by haar en hou dit reg vir haar om aan te trek. Onberispelik hoflik was die Bolander nog altyd teenoor haar gewees, dink sy met ’n deel van haar brein, die ander deel besig om na te dink oor wat hy gesê het, toe meneer Nieuwenhuys se smalende woorde meteens soos ’n emmer koue water oor haar val.
“Jy is nog jonk, meneer De Kock. Moenie dat hulle vir jou enigiets wysmaak nie. Ons werk al lankal met dié soort kind en hulle is slegter as sleg. Ek dink hy is ’n lui, onnosele skepsel en ek het hom Vrydag nog ’n deftige loesing gegee.”
Dit