Ena Murray Omnibus 36. Ena Murray
wreed vertoon. Sy kakebeen is te vierkantig, sodat dit ongenaakbaarheid weerspieël.
Sy besef op hierdie oomblik dat sy nog nooit tevore so ’n man ontmoet het nie. Hy behoort tot ’n kategorie met wie sy nog nooit te doen gekry het nie. Daar is iets in hom wat haar vertel dat hy heeltemal genadeloos en selfs roekeloos kan wees as hy te ver gedryf word. Maar terselfdertyd weet sy, het sy reeds gesien hoe hy teenoor sy ma optree, dat hy ook tot tere emosies in staat is. Daar is ’n vae rusteloosheid in hom en ’n gloed in sy oë wat haar vertel dat hy geen halwe maat ken nie. Sy was van die eerste oomblik af in sy slegte boekies, maar sy wonder meteens hoe dit moet voel om in sy goeie boekies te wees ...
Sy ruk haar gedagtes weer tot die hede terug en toe sy in sy oë vaskyk, voel sy ’n gloed teen haar hals opstoot.
Sy stem is op ’n lae toonhoogte – soos dit meestal is. “Ek sal liewer nie waag om jou bevinding te verneem nie. Ek kan in jou oë sien dat dit geensins vleiend is nie.” Toe sy hom net sit en aankyk, glimlag hy skielik en om ’n onverklaarbare rede mis haar hart ’n slag of wat. “Toe maar. Ek het jou ook beskou. Wil jy nie my opinie hoor nie?”
Sy kyk hom vererg aan, maar sy glimlag bly en skielik voel sy nie meer lus om haar man teen hom te staan nie. Nog altyd het sy dit geniet om haar kragte teen dié van ’n man te meet, maar met hierdie een is dit vermoeiend, vind sy ná net ’n paar uur uit. En as Zak glimlag, gebeur daar iets met hom wat die wind onwillekeurig uit jou seile neem. Jou woede en verontwaardiging word soos ’n koek wat platgeval het. Sy kyk op haar hande af en frons weer, haar ergernis nou teen haarself gemik. Van wanneer af word sy deur ’n man se glimlag beïndruk?
“Ons het op ’n slegte voet begin, rooikop. Ons was albei bevooroordeeld toe ons vanoggend ontmoet het. Kom ons begin van voor af. Ek is bereid om alles te vergeet en te vergewe, selfs die verkeerde opinie wat jy van my gevorm het.” Sy kyk vinnig na hom op en hy trek sy wenkbroue omhoog. “Jy hét ’n verkeerde opinie van my, weet jy? Jy sien my as ’n soort diktator wat net wil maak en breek, en dit terwyl Ma jou tog die versekering gegee het dat ek ’n groot man met ’n ou klein hartjie is.”
Voordat sy kan keer, plooi haar lippe. Klein ou hartjie, inderdaad! Maar die spanning is meteens gebreek en sy knik styf. Dit sal beter wees om liewer ’n wapenstilstand met hierdie man aan te gaan, al is dit dan ook net tydelik. Oor drie weke gaan sy tog weg. Hoekom nou hierdie paar dae vir haarself moeilik maak?
“Nou goed. Kom ons begin van voor af,” stem sy in en hy gee haar ’n mooi glimlag wat weer ’n vreemde reaksie in haar veroorsaak, maar sy weier om aandag daaraan te gee. Sy weet tog die glimlag kom nie uit sy hart nie, en dat hy dit maar net doen ter wille van sy ma en Kobus. Maar ter wille van die vrede sal sy hom maar tegemoetkom.
“Gaaf. Dan begin ons van hierdie minuut af. Jy weet, Martina, ek kan net nie begryp hoekom jy met Kobus wil trou nie.”
Dadelik is haar oë weer waaksaam. “Hoekom? Wat is verkeerd daarmee?”
“Baie. Jy is nie die vrou vir hom nie, so min as wat hy die man vir jou is. Julle pas glad nie by mekaar nie.”
Sy beteuel haar humeur en onrus. Hy het so pas kastig ’n wapenstilstand tussen hulle uitgeroep en daar begin hy al weer! Verder het hy natuurlik gelyk. Sy en Kobus pas beslis nie by mekaar nie, maar Martina en Kobus pas honderd persent. Maar natuurlik weet hy nie sy is nie Martina nie en sy durf hom nie laat agterkom dat hy gelyk het nie. O, dis ’n gekompliseerde besigheid! As hy net minder opmerksaam wil wees. Vir haar gemoedsrus is hy gans te skerpsinnig. As sy nie ligloop nie, gaan hy haar binne vier en twintig uur ontmasker.
Haar stem het weer sy effense gemoedelikheid verloor. “Jy kan dit natuurlik sê nadat jy my nog nie eens ’n volle dag ken nie.”
Sy stem bly egter vriendelik. “Natuurlik. Ek ken my broer, en ek weet presies watter soort vrou by hom sal pas, en dis nie jy nie. Jy sal pens en pootjies bo-op sy kop sit.”
Sy is weer so styf en kil soos voorheen. “Dankie. Jy sê die mooiste dinge.”
Hy lag skielik met ’n diep, geamuseerde lag wat haar laat lus voel om hom met die koffiefles te gooi. “Kom nou, rooikop. Jy weet dit is so. Jy het ’n man nodig wat jou kan kortvat en beheer.”
“Werklik?”
“Ja. Want as jy nie so iemand kry nie, sal jy dit binne die eerste huweliksweek uitgil van verveling. Jy sal nooit regkom met ’n man wat jy kan domineer nie.”
Haar groen oë flits weer gevaarlik, maar sy kry dit wonderbaarlik reg om haar stemtoon egalig te hou. “Dis uiters interessant. Gaan gerus voort.”
Hy sit haar deur sy pyprook en betrag, ’n fyn glimlaggie om sy mondhoeke. “Jy is volkome vrou, maar as jy nie die regte man kry nie, gaan jy onuitstaanbaar mannetjiesagtig word, hartjie.”
Sy sluk swaar, en nou bewe haar stem. “My naam is ... Martina.”
Hy haal die pyp uit sy mond en leun effens vooroor. “My ma noem jou hartjie.”
“Jy is nie jou ma nie.” Haar stem is bot en waarsku hom dat die vredesooreenkoms van ’n paar sekondes gelede ’n vinnige dood gaan sterf as hy nie nou ophou nie. Sy gesig versober ook, maar die blou oë bly skerp.
“Goed, rooikop. Ek sal nie weer vir jou hartjie sê nie.”
Sy kyk vinnig weg. Die man moenie dink dat hy haar met lang blikke van daardie blou kykers sal week maak nie. Sy is al ses en twintig. Sy word nie meer so maklik deur blou kyke beïndruk nie.
Tog besluit sy dat sy liewer nou hier moet padgee. Dis genoeg vir een aand. Sy druk haar stoel terug en staan op. “Nou gaan ek regtig slaap. Nag, meneer Zak.”
Hy staan ook op. “Bang om verder te luister?”
Sy trek haar kop agteroor om hom vas in die oë te kyk. “Is daar dan nog? Laat ek hoor dat dit kan klaarkom. Ek is vaak en moeg.”
“Toe maar. Gaan slaap maar. Netnou is jy weer van voor af kwaad vir my. Maar dit was nie iets onvleiends wat ek wou byvoeg nie.”
Sy knip haar oë vererg. Werklik, hy speel kat-en-muis met haar. “Wat wou jy nog byvoeg?” hoor sy haarself vra en kan haarself skop toe sy sy glimlaggie sien. Nou dink hy sy wil graag hoor wat hy nog te sê het!
“Net dit.” Skielik is sy vingers weer in haar hare en weer voel sy die vreemde tinteling oor haar kopvel gaan. “Jy is ’n vrou wat streng beheer sal moet word.”
“Jy het dit reeds gesê.”
“Maar in dieselfde maat ook bemin moet word.”
Sy is reeds halfpad die gang af toe sy hom agter haar hoor aanroep: “En dit sit nie in my kleinboet se klere nie.”
Toe Isolde die volgende oggend wakker word, lê sy en luister na die plaasgeluide wat van buite af haar kamer insypel. Dis so ’n ander atmosfeer as naby die stad, waar sy woon. Daar word sy soggens wakker met die geluid van die motorverkeer in haar ore. Maar hier ...
Hier digby haar kamervenster kan sy ’n tortelduifie na sy maat hoor roep. Op die agtergrond is die gekwetter van vinke en mossies en kwikstertjies hoorbaar. Daar ver hoor sy ’n trekker raas en van die ander kant af kan sy die koeie na hul kalwers hoor bulk. Tussendeur is daar die geblêr van ’n lammetjie wat na sy ma soek.
Sy hoor ’n stem ’n entjie van haar kamervenster af bevele uitdeel en sy voel haar hart weer daardie vreemde skop gee. Sy spring uit die bed en trek die gordyn effens weg. Hy staan met sy rug na haar en beduie aan ’n werker wat hy vandag in die tuin gedoen wil hê.
Toe kyk hy onverwags om en betrap haar waar sy hom staan en beloer. Sy laat die gordyn vinnig terugval, maar nie voordat sy die glinstering in sy oë gesien het nie. Vinnig spring sy tussen die lakens in en trek dit oor haar kop, maar sy bluf niemand nie, beslis nie die man wat sonder seremonie die gordyn van buite af met ’n bruingebrande arm ooptrek nie.
“Slaap die Johannesburger dan nog?”
Sy draai haar om en kyk hom kwaai aan. “’n Mens trek nie sommer ’n dame se