'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo
het toe die stryd tussen die twee hooffigure beskryf – en in die Griekse mitologie en drama was dit gewoonlik tot die dood toe. Later is dit oorgedra op die geestelike en morele stryd van die mens, die fisieke en geestelike angs, benoudheid wat ’n mens moontlik kan verduur. Dit was wat Christus in die tuin van Getsémané moes deurmaak, sy agonie.
agorafobie — vrees vir oop ruimtes
Hoe ongelooflik dit ook al mag lyk: waar ’n skare is, is gewoonlik nie oop ruimtes nie. Hierdie oënskynlike teenstelling lê daarin dat die Griekse oop ruimte tipies die markplek was. Die oorspronklike woord ageirein het “versamel” beteken en dit is op die markplein waar die kopers en verkopers versamel het. Die vrees vir die markplein se verlatenheid was die eerste betekenis, maar later sou sommige mense die vrees beleef, selfs al was daar ’n gedrang. Dit het dus eintlik skarevrees beteken.
Dié vindingryke verklaring word voldoende weerlê deur die Griekse woord agros wat “veld” beteken het (en wat ons vandag nog sien in die woord agronomie, dit wil sê “veldkunde, teorie van die landbou”). Agorafobie was dus ’n samestelling van agora “veld” + phobia “vrees”. ’n Veld is per slot van rekening ’n groter oop ruimte as ’n markplek (en bied ook meer ruimte as jy wil weghardloop).
akademie — opleidingsinstansie, vereniging vir bevordering van wetenskappe en die kunste
Die benaming akademie slaan terug op die olyfboord op die eiendom naby Athene van ’n legendariese boer met die naam Akademos. Hy was bekend as ’n held van die Trojaanse Oorlog (al beteken sy naam kalmweg “van ’n stil buurt”). Die tuin was so bietjie meer as ’n kilometer van Athene af geleë waar Plato (c. 427–347 v.C.) sy volgelinge onderrig het. Akademos se naam is om ’n besondere rede in die tuin met bome verewig: ’n Ongelukkige jong dame, Helena, is in haar jeug van Sparta af deur die held Theseus ontvoer. Haar broers, Kastor en Polluks (die huidige Tweelingsterre Gemini), het haar gaan soek en die boer, Akademos, het hulle in die regte rigting kon stuur. Daarna is die boord op sy plaas beskerm, die stad het daaromheen gegroei en Plato het die stilte benut om daar sy leerlinge voor te gaan. Ongelukkig was hy net in staat tot Platoniese liefde, sodat die stil, skaduryke hoekies van die tuin geen wilde tonele aanskou het nie.
akker1 — verafrikaanste vorm van ’n Engelse grondmaat effens kleiner as ’n halwe hektaar
Hoe sou ons oerouers geweet het hoe groot ’n hektaar was? Nee, hulle het ’n baie praktieser manier gehad as dié skelm moderne beskrywing. ’n Akker was ’n stuk ploegland, die oppervlakte wat twee (flukse) osse in ’n dag kon ploeg Nederlands het akker verbind met Latyn ago wat “dryf” beteken het. Die grond sou dan die plek wees waarheen die vee gedryf is om te gaan wei.
Dié woord het ’n besondere verband met die geskiedenis van Judas Iskariot. In Matteus 27:5 en verder lees ons hoedat Judas die silwerlinge in die tempel gaan neergooi en hom buite aan ’n boom gaan ophang het. Die priesters het besluit dat hulle nie die geld kon aanvaar nie, want dit was bloedgeld. Hulle het toe daarmee ’n stuk veld buite Jerusalem van ’n pottebakker gekoop as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Die naam daarvan was toe Bloedgrond. Dié soort begraafplaas het later die naam godsakker of akker van die Here gekry – en die besondere betekenis is veralgemeen sodat dit enige kerkhof of begraafplaas beteken het; → AKKER2.
terug na → akker2
akker2 — vrug van die akkerboom
Die benaming kom uit die oeroumagrootjie van Afrikaans, naamlik Goties (wat tussen die 4de en die 9de eeu n.C. in Wes-Europa gebruik is). Daar was dit akr en die betekenis was “vrug van die oop veld”; → AKKER1.
terug na → akker1
akkolade — toekenning, aanprysing
Die oorspronklike betekenis was baie lekkerder as die huidige. Dit was “omhelsing om die nek” en is gebruik wanneer iemand tot ridder geslaan is. Hy kon ook deur die koning of (verkieslik) koningin gesoen of liggies met ’n swaard teen die nek getik word. Om ’n bloedbad deur ’n onbehendige monarg te voorkom, is die skouer in plaas van die nek later getik. In sekere gevalle is die nek ook net met die hand aangeraak. Oorspronklik uit Frans van Vulgêrlatyn accolare uit ad “aan, tot” + collum “nek”. Deur collum is die woord ook familie van décolletage, die ontbloting van die nek (en deesdae die melkweg tussen die boesems) deur ’n dame met ’n laehalsrok.
akkommodeer — geskik vir gebruik maak, aanpas, vir iemand krediet beskikbaar stel
Die woord het oorspronklik niks met verblyf (soos in akkommodasie) te make gehad nie. Die Latyn accommodatus het “geskik” beteken, met die gedagte dat iets by iets anders gevoeg is om dit vir gebruik aan te pas en reg te maak. In antieke tye het modus beteken “maat” – om ’n toonleer in Griekse musiek aan te dui; daarna “deuntjie”, toe “manier om te sing” en uiteindelik “manier om enigiets te doen”. Accommodatus het dus bestaan uit ad “aan, met” + com “saam” + modus “maat”. As dinge dus goed bymekaargekom het, kon die gaste maar kom. Om iemand te akkommodeer, het ook beteken om in ’n behoefte te voorsien, soos om geld te leen.
akkoord — ooreenstemming
Die oorspronklike Latynse en Franse woorde (accordare, accorder) het letterlik “harte klop met dieselfde ritme saam” beteken. As twee mense van dieselfde dinge hou of nie hou nie, was hulle hart tot hart eens oor sake. Die -cor- in die oorspronklike woorde het “hart” beteken. Dit is waarskynlik beïnvloed deur concord wat in musiek ook “saamklink” en figuurlik “hart saam met hart” was. Op dié gebied is die koord waarskynlik ontleen aan cord (uit Grieks chordon) wat “katderm” beteken het – wat die snare tot die verdriet van die DBV vir ou musiekinstrumente verskaf het.
akkumulasie — versamel
In Latyn was cumulare “’n klein hopie maak” en cumulus “’n hopie”. As iemand dus ’n fortuin geakkumuleer het, het hy letterlik ’n hoop geld versamel. Die cumulus-wolk is inderdaad ook familie: dit is die naam van die donderwolk wat tot op groot hoogte ’n hoop wolke is.
akkuraat — noukeurig, korrek
As ’n mens iets akkuraat doen, ly jy pyn. So altans het die Romeine dit gesien, want Latyn accurare het “sorg vir, pyn ly” beteken (cura het “pyn” beteken). Iemand wat vir iets sorg, se benaming is familie hiervan, naamlik kurator (Latyn ad “to” + curare “take care of”)
akrobaat — koorddanser, tuimelaar in sirkus
Eintlik beteken die woord oorspronklik “iemand wat op sy tone loop of net die punte van sy tone en vingers gebruik om te beweeg”. Die twee Griekse woorde waaruit dit saamgestel is, is akros “punt (van die tone)” + bainein “loop, gaan”. Die akrobaat moet sy kunsies ook op groot hoogte (akros) uitvoer (sonder enige platvloersheid).
Familie hiervan is akrofobie “morbiede vrees vir hoogtes” en akropolis (veral die een in Athene) wat uit akros “hoogste, boonste punt” + polis “stad” saamgestel is.
aksent — klemtoon
Die woord het sy ontstaan gehad in die Romeine se vertaling van die Griekse prosodie (pros “byvoeg” + ode “lied”) as ad “aan” + cantus “sang”. In Grieks het dit die toonhoogte van ’n spraakklank in gedigte beskryf. Lettergrepe met ’n gravisaksent gemerk is met ’n diep stem gesing; die akuut het ’n musikale vyfde hoër aangedui; ’n kappie het beteken dat hoog begin en dan ’n vyfde laer gesing word. In taal het die klem later