'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo

'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo


Скачать книгу
smeer nie. Maar eeue gelede was die Arabiese woord vir fyn oogpoeier al-kuhl. Die kuhl is in Afrikaans kohl “fyn donker poeier van die element antimoon gemaak” en dié is ter verfraaiing en verleiding om die oë gebruik; → antimoon. Omdat dit so suiwer was, is die woord alkohol later deur die alchemiste aan enigiets gegee wat gesuiwer is, veral deur distillasie – en vandaar ons verbasende moderne betekenis (wat ’n mens soms dronkslaan).

      allegorie — ’n simboliese vertelling of voorstelling met ’n dieper betekenis van iets wat werklik plaasgevind het of bestaan

      Dié deftige definisie beteken eintlik maar net “vergaderingspraatjies”. In die meeste vergaderings word warm lug heen en weer gebesig – wat met die koelte van die volgende oggend verdwyn. Byvoorbeeld: Die minister van landbou sal jou met ’n mooi storietjie probeer oortuig dat die rioolsloot oor jou grond drinkwater na jou vee vervoer. Dit omvat die betekenis van allegorie: ’n gepraat oor een ding terwyl ’n ander bedoel word. In Grieks het allos onder meer “ander” beteken en daarby is agora “vergaderplek, veral die markplek” gevoeg. Maar hoekom juis die mark? In vervloë dae was die mark die plek waar die skinderpraatjies uitgeruil is. Sommige van dié stories kon ’n mens in die moeilikheid laat raak — en daarom het jy liewer jou sappige nuus indirek oorgedra. Die mense wat hierdie agterbakshede verkondig het, het eintlik oor “ander dinge” gepraat. Later is die woord met agora verenig.

      Die vorm en grootte van ’n akkedis het die Romeine aan die vorm van die boarm laat dink en hulle het wat vandag die Engelse lizard is, lacertus “boarm” genoem. In Spaans was dit el lagarto wat later die wisselvorm alligarter gekry het.

      In die VSA word die avokadopeer dikwels alligatorpeer genoem. Die oorspronklike Asteekse naam daarvoor was ahuacatl met die wisselvorm aouacate wat die Spaanse veroweraars se swaar tonge as avocado uitgespreek het; → AVOKADO. Die Engelse matrose kon dit nie namaak nie en het dit toe alligator genoem.

      allure — aantrekking

      As jy die meisies laat omdraai van bewondering, is jy niks meer as ’n stuk aas wat vir ’n jagvalk uitgehou word nie. Die woord kom uit Oudfrans aleurer wat bestaan het uit à “na, toe” + loirre (Latyn luere) “aas vir ’n jagvalk”. In latere Frans beteken dit “manier van loop, houding” – en dit is jou gepronk wat die dames so aantrek. In Nederlands het dit ook verwys na die gang van ’n perd.

      almanak — lys met dae, maande en ander inligting vir die jaar

      Die Spanjaarde en die Arabiere het glo saamgesweer om dié woord te maak: dit lyk soos al + manakh – maar ongelukkig is daar nie ’n woord soos manakh in een van die twee tale nie. ’n Moontlike herkoms is uit Angel-Saksies al-mon-aght wat ­beteken het “maan­kyker” na aanleiding van die rekords van die nuwe en volmaan wat deur die Saksers gehou is.

      altaar — plat vlak om op te offer

      Die Romeine reeds het gode by plekke aanbid wat verhoog was sodat die gebede makliker na die hemel daarbo kon weerklink. Altus beteken “hoog” in Latyn en altaar het dus “verhoog” beteken.

      amalgaam — verbinding van ’n metaal met kwik

      Die Middeleeuse dokters het dalk in hul mediese onkunde ook die Griekse taal verkrag. Vir hulle was amalgaam ’n ­strelende, helende pleister. Hulle het die naam moontlik van malagma “sagmaak” gekry en ’n a- vooraan gesit om nie net die woord nie, maar ook hul rekeninge bietjie te laai. Soos gewoonlik is die ander herkomste so droog soos ’n seer keel: dalk kom dit uit Arabies al-jamsa “ver­eniging” of Grieks ama “saam” + gamos “huwelik”.

      amandel — pitvrug met eetbare pit

      Dié kliere in ons keel word in Nederlands amandels genoem, dieselfde woord as vir die neut, en volgens hulle herkomsboeke kom dit van die Franse amygdale wat “mangel” beteken. (Die Frans vir amandel is amande, en het dus niks met die mangel te doen nie; die Italianers het ook twee woorde daarvoor, naamlik amigdala vir die klier en mandorla vir die vrug. In Duits is albei Mandel.) Dié Nederlandse naam amandel vir die mangel kom klaarblyklik van die amandelvorm van die klier.

      Die sogenaamde Jordaan-amandel het niks met die Bybelse rivier te make nie: die Jordaan is ’n verbrouing van die Franse jardin “tuin”, dit wil sê die gekweekte plant en nie die wildeamandel nie.

      terug na → MANGEL

      amarant — sierplant met persrooi blomme

      Die amarant se naam het “onsterflikheid” beteken. Die ­romantiese digters (wat niks van tuinbou geweet het nie) het geglo dat die blom die groot liefde simboliseer: dit verwelk nie soos ander blomme nie, maar behou die kleur tot op die laaste. In die klassieke gebruik was dié blom die simbool van onsterflikheid (uit Grieks amarantos, van a- “nie” + stam van marainein “wegsterf”).

      In 1653 het koningin Kristina van Swede (1626–1689) die Orde van die Ridders van die Amarant ingestel, maar dit het in teenstelling met die blom na haar dood ophou bestaan.

      amasone — heldhaftige, mitiese vrouevolk

      Amasone: die borslose. Die legendes oor dié antieke vroue wat erger as mans kon baklei, is lank reeds bekend. Hulle het in Midde-Europa naby die Kaukasusberge (of in Afrika) gewoon en het mans as die laagste vorm van lewe beskou. Maar so af en toe het hulle ’n deel van die mans nodig gehad om seker te maak dat hulle nie uitsterf nie. Daar word vertel dat hulle hul buurvolk, die Gargariërs, jaarliks besoek het – tot dié se groot opwinding, want hulle was nou weer ’n volk wat net uit mans bestaan het. Volgens sommige oorlewerings het die amasone die mans ontvoer, verkrag en vermoor (meestal sonder klagtes van die slagoffers). Dit is meer waarskynlik dat die vroue die dogters uit hierdie fornikasies behou en die seuns aan die mans gegee het. Hulle baklei soos ­manlike spierpaleise met pyl en boog en die dubbele byl. Volgens ­oorlewering het hulle juis die regterbors afgebrand om die boog makliker te kan span – vandaar hulle naam: die Grieks a mazos beteken “sonder bors”. (Geen lid is skynbaar toegelaat om links te skiet nie.)

      Nie almal stem met hierdie algemeen aanvaarde herkoms saam nie. Miskien was die naam ’n verbrouing van die naam van die Oosterse maangod Mazu wat deur maagde as hulle beskermheilige beskou is.

      amateur — iemand wat minder bedrewe as ’n beroepspeler of -vakman is

      Die oorspronklike betekenis van amateur was gewoon liefhebber. Almal ken die Franse woord amour vir die liefde: amateur is duidelik familie daarvan en beteken dan ook iemand wat ’n liefde vir iets het — sonder om na die moontlike wins daaruit te kyk.

      ambidekster — iemand wat albei hande ewe goed kan gebruik

      Om links te wees, was vir eeue ’n skande. As ’n mens ambidekster was, was dit nie heeltemal so goed as om net regshandig te wees nie. Jy was regshandig aan albei kante en vandaar dat selfs so ’n vuige daad as om omkoopgeld met albei hande te vat aan diegene toegeskryf is wat met sulke vaardigheid in albei hande geseën was (Latyn ambi “albei” + dexter “regshandig”).

      ambiguïteit — dubbelsinnigheid

      As iets jou gedagtes in twee rigtings laat tol sodat jy naderhand nie weet of jy Andries of Adriana is nie, is jy die slagoffer van ambi­guïteit. Latyn het die herkoms, ­naamlik ambi “rondom” + iguus uit agere “dryf”. Jy kon iemand dus met jou redenasie al in die rondte dryf. Die ambi is gelyk aan die Grieks amphi (Afrikaans amfi-) soos in amfiteater, letterlik “toeskouers rondom”.

      Ja, maar nie die oorspronklike betekenis nie: toe was iemand met ambisie ’n wandelaar van huis tot huis.


Скачать книгу