Eilande. Dan Sleigh
Jansz, weeskind, het hy nou geken. Hy is hier van ’n skip af gegooi. Die kind weet min van die wêreld. Sy pa was ’n matroos, sy ma was van Java, hulle kind lyk daarna. Sy werk is om met die sekel die groenvoer uit die vleie te haal. Hy slaap in die skaaphok en gaan haal sy ontbyt by die skafplek se luik. Die melkboer skel hom met dieselfde stem waarmee ’n hond geskel word. Maar die seun is ook nie skaam nie en praat teë met dieselfde stem in daardie deurmekaar taal, en laat nie die melkboer oor hom regeer nie. Hy ken die kind, het Chief Harry gedink. Hy is min werd.
Hy sien Krotoa met die Hollander se vrou bo-op die muur na haar man toe loop. Hy ken haar ook, dink hy. Sy is ’n mooi vrou, skaars twintig, skraal en met ’n sagte stem. Sy dra haar kind asof sy voor die hele kraal vol beeste kom spog met die kind wat sy verwag. Maar waar is haar twee seuntjies? Êrens in die huis is hulle nou alleen.
Chief Harry het sy kop weggedraai toe hy sien dat Van Riebeeck se vrou na hom beduie, en dopgehou uit die hoek van sy oog. Toe praat sy weer met die Hollander, en hy wink na die soldaat wat op die muur loop. Na ’n paar woorde draf die soldaat met die houttrap af grond toe. Wat nou? Chief Harry het sy oë stip op die beeste gevestig, al die melkkoeie getel, daarna die droë koeie, die kalwers, die ossies, toe die skape: ramme, jong ooie, ou ooie, lammers.
Die wêreld onder die Fortmuur het stil, bedruk geword toe die wind gaan lê. Die melkboer het nog ’n maal sy emmer in die groot kan gaan omkeer, sy koei se spanriem losgetrek, koptou losgemaak, die melkkoei uitgejaag, vlug en vinnig die volgende koei gespan. Die emmer was amper vol, dit was ’n goeie jongbees. Die soldaat wat op die muur loop, het met ’n pakkie in die hand aangekom. “Vir Chief Harry, van die edelheer se huisvrou. Trek dit vir aandete aan. Opper se bevel.” Hy het sy stem laag gehou: “Jy sal jou voete moet was.” In die pakkie was ’n wye wit seilbroek, ’n blou matrooshemp en ’n onderbaadjie van leer. Chief Harry het die klere oopgeskud en bekyk. Dit was goeie klere; hy sou dit graag teen die koue nagte aantrek. Bo van die muur af het Van Riebeeck en sy spioene hom dopgehou. Hy het sy dank aan die Hollander geknik, die bondel gevat, en geloop.
Op ’n mooi aand toe die maan vol was en daar nie ruilvee by die drif te wagte was nie, het hy die nuwe klere aangetrek, ’n volle rol tabak uit sy wegsteekplek gehaal, en na Oedasoa toe geloop. Sy bladsak was vol kanna en boegoe. Hy het dit vir Oedasoa se vrou aangebied, en sy storie aan haar uitgelê: “Met jou susterskind gaan dit goed. Ons woonhuise staan by die wyebroek, en hy kyk na ons. Ek is nou weer ’n man, en ek het ’n vrou in my huis nodig. Ek het geen beeste nie. Ek wil hê dat jy dit vir Oedasoa sê.”
“Wat wil jy van hom hê?”
“Dat Oedasoa vir my van Krotoa se troubeeste gee, om vir my ’n vrou te soek.”
“Hy sal dit nie doen nie. Hy sal daardie beeste nie eens vir haar gee nie. Kyk, Autshumao, dit is goed dat jy ’n vrou wil vat, maar wat het jy om aan haar te gee? Moet sy mossels pluk om van te lewe?”
Hy het haar in die oë gekyk, en beslis gesê: “Nee. Daardie dinge is nou klaar. Ons gaan beeste hê. Eers min, maar later word ons sterker.”
Die vreemde opgewondenheid was weer op sy gesig. Vir die eerste keer vandat Autshumao sy beeste verloor het, het dit gelyk asof hy wil lag, en sy was bly daaroor.
Sy het hom kalm in die oë gekyk. “Het jy dan met ’n vrou gepraat oor trou?”
“Nee. Ek ken niemand hier nie.”
Sy het onderneem om namens hom te praat, en hy het daarvoor bedank met ’n stuk tabak. Vir die vrou van haar keuse het hy ook tabak afgesny en aangegee. Die volgende dag het sy hom vertel wat Oedasoa besluit het: hy gee geen vee aan hierdie man vir ’n andersmaak nie, hy is te oud om deur ander geabba te word. Maar sy was gewillig om hom te help, sy sou uit haar eie trop vir hom gee. Chief Harry het die oorblywende tabak in haar hande gedruk.
Wanneer sy ’n vrou bring, het sy gebly om te help praat. “Autshumao is hoofman van die Goringhaicona. Hy werk vir die Hollander, en hulle gee hom tabak en rys en krale daarvoor. Hy is die Hollander se mond. Hy ken hulle taal. Hy gee twee koeie aan die vrou met wie hy trou, en een aan haar pa. Dan gee hy nog twee skape, om te slag vir die andersmaak.”
Eendag het sy kom sê daar is een vrou wat sy wil aanbeveel. Sy was nie jonk nie, maar gesond, stewig gebou, met ’n vol vierkantige gesig soos ’n Hollander. Sy het twee seuns gehad en ’n dogter, al drie was al getroud. Haar beeste het saam met haar seuns s’n geloop.
Hy het na haar huis toe gegaan. Dit was skoon, die grond was gevee. Daar was kalbasse met dikmelk en met heuningbier, rolle nuwe harubis-matte, en erdepotte met patrone soos bokspoortjies versier asof ’n trop steenbokkies om die rand gestaan en drink het. Hulle het sonder ’n tussenganger gepraat. Sy was gewillig om by die Fort te gaan woon. Hy het gevoel soos ’n jong man toe hy haar jawoord na Oedasoa toe neem.
Die stil man het hom binnegenooi, langs hom op ’n mat laat sit, en dikmelk aangebied. Chief Harry het ’n skilpaddoppie met snuiftabak aan Oedasoa gegee om die gesprek oop te maak. Oedasoa het gesnuif, die dikmelk gedrink, en vir Chief Harry gesê: “Dit is ’n slegte ding wat nou hier gebeur. Jy moet ophou daarmee, Autshumao. Gaan soek vir jou beeste. As jy nie beeste het nie, moet jy nie wil vrou vat nie. Jy het by my vrou gaan bees vra vir andersmaak toe ek nie wil gee nie. Dit is haar saak, maar dit is verkeerd gedoen. Jy het verkeerd gedoen deur my vrou se suster Krotoa vir die Hollander te gee.”
“Sy werk vir die Hollander. Sy kry kos, drank, tabak. Hulle eet drie maal ’n dag, en daar is elke keer wyn op die tafel. Dit is swaar om van koue te verkluim.”
“Is sy dan ’n roker?”
“Sy verdien vir my. Die tabak wat sy kry, is vir my, en ek gebruik dit vir al my mense. Die rys en brood is myne. Sy kry haar deel by die Hollander se tafel. Die drank is ook myne.”
“Wat kry daardie kind vir haar moeite?”
“Ek het gesê: sy kry kos en klere en sy slaap in ’n sterk huis. Dit het sy nie gehad voor die Hollander gekom het nie. Sy het daar meer as enigeen van jou vrouens.”
Oedasoa het geduldig gebly en sy dikmelk nader aan Chief Harry geskuif. Sy mense leef goed. Hulle is ’n sterk groep. Sover hy weet, is hulle tevrede met hulle lewe. Sy gedagte was steeds by die saak van sy vrou se beeste. “Jy het my vrou se suster agter die wit man se lekkergoed gestuur. Sy het dit nie nodig nie. As jy haar tabak gerook en haar wyn gedrink het, bly vir daardie kind niks oor nie. Jy lieg vir haar. Sy kan hier kom werk saam met die ander van haar ouderdom, dat sy ’n aandeel verdien in die Cochoqua se welvaart.” Sy asem het effens gejaag, hy het met sy hande op sy dye gesit en sy bors gelig om asem te kry, maar Chief Harry in die gesig bly kyk. “As sy daar bly, gaan sy nie van my andersmaak kry nie. Die saak is eenvoudig. Ek hoop jy verstaan.”
“Jy is reg,” het Chief Harry gesê. “Maar destyds was dit winter en daar was niks te eet nie.” Hy het nie genoem dat die kind ’n ander naam dra nie, en Hollandse klere, en dat hy oortuig was dat Eva in haar lewe nooit weer haar lyf met skaapvet sou smeer nie.
Oedasoa het stil geknik. Hy het gevoel dat hierdie gesprek nou genoeg oopgemaak was; hy kon die saak van beeste nou noem. “Jy help nou die Hollander aan beeste, Autshumao. Wat gebeur as hy die dag die hele weiding vir homself nodig het? Hy stuur soldate om die Koina uit die weiding uit te jaag. Eers die Cochoqua, die Gorachoqua, die Goringhaiqua, die Grigriqua. Daarna kry hulle Ngonnemoa se veld nodig, en vat dit. Dan Ankaisoa s’n, tot teen die berg. En dan sal die Hollander oor die berg gaan en die Chainouqua en die Hessequa uit hulle weidings uitjaag, dat sy diere daar kan loop. Waar moet ons Koina wei?”
“Dit sal nog lank wees voor hy so sterk is.”
“Maar jy, Autshumao, jy help hom vooruit. Jy is nie ’n Hollander nie, waarom werk jy teen jou mense? En nou wil ek vir jou sê oor my vrou se beeste. Dit is verkeerd dat sy iemand help wat haar eie mense probeer kwaad aandoen. Sy help jou nie solank as jy by die Hollander woon nie, dit moet jy weet. En bring die kind hiernatoe, voor daar ’n ongeluk oor haar kom.”
Chief Harry het geweet wat hy bedoel. Die kind word groot, en sy is mooi. By die Fort loop sy tussen meer as ’n honderd Hollanders wat nie een ’n vrou van sy eie het nie.